verdrink ons ’n vrou wat byt!”
Hulle skater dit uit van die lag, maar dompel haar nie weer onder nie. Sy bly bewend van skok teen die klipwand van die dammetjie sit terwyl haar tande onbeheers opmekaar klapper. Water loop uit haar neus en mond. Die rasjids staan nog om haar en lag en grappe maak, en op die stoep staan Khidr uitdrukkingloos na hulle en kyk, asof hy geen erg het aan wat die mans met haar aanvang nie.
Op die boonste balkon kan sy ’n donker figuur in wit uitmaak en pyn en vernedering spoel deur haar. Dis Jarad – die man wat sy wou gaan waarsku en die rede waarom sy hier sonder klere tussen die jillende mans sit.
Hulle pluk haar weer orent en sy moet vinnig haar asem intrek voordat sy onder die water gedruk word. Sy wens dat sy moet sterf. Sy wens die dood wil haar hier onder die water kom haal sodat sy nie weer moet opkom en weet dat hy alles gesien het nie. Die verskriklike vernedering is te veel vir haar.
Haar kop word weer uit die water gelig. Die wêreld draai om haar en daar is ’n brandpyn in haar bors. Die duisternis spoel in golwe oor haar brein, maar sy verloor nie haar bewussyn nie. Op hierdie oomblik dink sy aan niks, want sy veg om haar asem terug te kry en om te bly leef. Niemand sien die trane wat oor haar wange loop en met die damwater meng nie.
Khidr knik tevrede. “Haal haar uit.”
Hulle sleep haar uit die bad en laat haar op die klipplaveisel lê. ’n Rasjid kom haastig uit die huis en drafstap na Khidr.
“Sjeik Xavier Jarad is gereed om te vertrek.” Khidr stap vinnig weg.
Isabelle herwin haar bewussyn baie stadig. Water loop nog uit haar mond waar sy op haar maag langs die dammetjie lê. Sy hoes water uit en sukkel om van die newels oor haar verstand ontslae te raak. Dis oral stil om haar. Die Arabiere is weg, maar sy weet dat hulle haar nie sommerso alleen sal laat nie. Hulle sal wag tot sy weer op die been is en dan sal hulle haar hier wegneem en verder straf. Sy weet nie hoeveel waarde Khidr aan haar lewe heg nie; miskien sal dit hom nie eens skeel of sy doodgemaak word vir haar onvergeeflike oortreding nie.
Sy weet nie hoe lank sy daar gelê het nie voordat sy voetstappe hoor nader kom. Sy staal haar teen ’n nuwe aanslag, maar ’n kleed word oor haar gegooi en vir dié klein bedagsaamheid is sy innig dankbaar. Sy trek dit om haar skouers saam. Dan kyk sy bang om om te sien wie by haar is.
Hy dra dieselfde goue agal om sy hooftooisel waarmee hy gekom het. In die plek van die lang kleed dra hy ’n wye broek wat om die enkels vasmaak. Sy wit mantel ontbreek en Isabelle weet dat dit Jarad se mantel is wat sy om haar skouers vashou.
Sy neem sy hand toe hy dit na haar uitsteek en hy trek haar orent.
“Sodra jy aangetrek is, sal ons vertrek,” sê hy sag.
“Waarheen?”
“Na my huis.”
Sy word toegelaat om alleen te wees terwyl sy aantrek. Dis nie dieselfde uitlokkende klere wat sy tot dusver moes dra nie, en die donkerblou pofbroek is vir haar ’n welkome afwisseling van die deursigtige goed van vroeër. Bo-oor dra sy ’n langmoujurk van dieselfde materiaal, wat met ’n koord om die middel vasgemaak word. Die moue is wyd en gerieflik.
Eindelik is sy gereed en sy gaan na buite. Xavier Jarad knik goedkeurend en neem sy mantel by haar. Hy maak dit om sy skouers vas. Plek-plek is dit klam, maar dit lyk nie asof dit hom hinder nie.
“Monsieur, ek moet u waarsku. As u my met u saamneem, sal sjeik Khidr u aanval.”
Hy kyk ondersoekend na haar. “As hy dit doen, is daar oorlog.”
“Dis wat hy wil hê.”
Hy antwoord nie, maar staan vir ’n oomblik diep en nadink. Dan draai hy op sy hakke om en stap sonder ’n verdere woord weg na die perde wat reeds opgesaal is.
Sy volg hom onseker. Dan kyk sy terug na die huis waar die lig nog in die vensters skyn en sy wonder waar Jeanne is. Sy is nie eens die geleentheid gegun om die meisie te groet met wie sy so ’n moeilike en lang pad saamgekom het nie. Enigeen van die silhoeëtte in die vensters kan Jeanne wees.
Khidr staan op die stoep omring deur sy vriende toe Jarad met Isabelle daar opdaag. In die donker kan sy nie sy uitdrukking sien nie, maar sy weet dat daar net bose gedagtes in sy kop kan wees.
Sy draai die abaya om haar kop en oor haar neus en mond soos ’n sluier. Dit sal die stof uit haar gesig hou wanneer hulle deur die poeierdroë woestyn ry. Sy kyk op na Khidr en hul oë ontmoet. Sy merk die duiwelse laggie om sy mondhoeke en byt op haar tande. Sy selfvoldaanheid maak haar siek, maar sy swyg, want iewers in die woestyn sal sy die geleentheid kry om met Jarad te praat. Dalk sal hy dan luister.
“Ek sal weer kom, Salem Khidr!” roep Xavier waar hy by sy perd staan. “Insj’ Allah!”
“Jy is ’n nasrani, Jarad!” roep Khidr terug.
Xavier lag spottend en klim op sy perd. “Tot wederom!” Hy lig sy hand in ’n groet en ry op volle vaart weg.
Isabelle klim ook haastig op haar perd en kap haar hakke in sy lieste. Agter haar volg die res van Jarad se rasjids.
Die maan skyn bleek oor die wadi, met die jebels swart getand teen die sterbesaaide hemel. Om hulle lê die sandvlakte tot waar die duine in inkswart skaduwees begin. Noudat hulle uit die beskutting van Khidr se huis is, kan sy die dorheid en vyandigheid van die uitgestrekte woestyn selfs in die nag aanvoel. Sy kan verstaan waarom die vroue in die harem mekaar so maklik bang maak met verhale van bose djins en geeste wat tussen die duine ronddwaal.
Voor haar in die blouwit maanlig sien sy Xavier Jarad op sy hings. Sy wit mantel bol in die wind en sy sien die goue agal om sy kop glim in die maanlig. Goddank, hy neem haar weg van Khidr.
Vir die eerste keer in ’n lang tyd dink sy aan Etienne le Riche. Teen hierdie tyd behoort hy al te weet wat met haar gebeur het en tog wonder sy of hy enigiets sal doen om haar te probeer red. Sy het hom agt jaar gelede laas gesien, maar toe was sy reeds vrou genoeg om te weet of ’n man daardie besondere gevoel in haar wakker maak. Etienne het nie. Sy het amper afsydig aan hom gedink wanneer sy beeld in haar gedagtes opgekom het. Miskien voel hy dieselfde oor haar en was dít die rede waarom hy vir so ’n lang tyd nie briewe geskryf het nie.
Jarad trek sy perd plotseling in. Die dier steier op sy agterpote en kap vurig met sy hoewe in die sand. Isabelle hou haar perd ook in. Sy is dankbaar vir die feit dat sy in Frankryk leer perdry het. Daar het sy nooit gejaag soos sy hier moet doen nie, maar nood laat ’n mens vreemde dinge vermag.
Die sjeik ry nader, tot langs haar.
“Wat weet jy van Khidr se planne? Hoekom het jy my probeer waarsku?” vra hy en wag dat die res van sy geselskap by hulle moet aansluit. “Hy het ons te maklik en sonder teenspraak laat gaan.”
“Ek weet wat hy beplan,” antwoord sy kalm. “Sheik Khidr was bereid om my aan u as geskenk te gee as u om my sou vra.”
“Ek het jou nie as geskenk gevra nie,” sê hy gelykmatig terwyl sy blik stip op haar gerig is. “Ek het jou van hom gekoop.”
Isabelle antwoord nie dadelik nie. Dit bly vir haar ’n ontstellende gedagte dat sy van die een man na die ander aangestuur kan word as die prys reg is. Dit dien egter as ’n waarskuwing van hoe min haar lewe hier werd is en dat alles gedurig kan verander.
Eindelik knik sy stadig, maar sy kan die ontsteltenis in haar nie verberg nie.
“Nou goed … dan is ek nou u slavin. Khidr het sy rasjids opdrag gegee om u geselskap hier in die wadi voor te lê.”
“Het hy gesê waar dit sal gebeur?”
Sy skud haar kop. “Ek ken nie die woestyn nie en hulle het nie ’n spesifieke plek genoem nie, net dat dit ’n paar uur se ry van Khidr se paleis af is. Ook dat hulle nie glo dat u so waansinnig sal wees om oor die kranse te gaan nie.”
Die rasjids vorm ’n kring om Jarad en Isabelle. “Khidr wil ons met ’n hinderlaag verras,” sê hy aan die ander.
Daar is ’n ligte