Скачать книгу

van pyn.

      “Gee jy oor?” vra Jarad en druk sy dolk se punt teen sy teenstander se keel. “Sal jy teruggaan en vir Khidr sê dat jy verloor het en dat die meisie nog myne is?”

      “Ek kan nie teruggaan nie!” hyg Ibrahim. “Maak my dan liewer dood!”

      Jarad skop Ibrahim se dolk eenkant toe en laat die Arabier los.

      “Om jou dood te maak, sal te goed vir jou wees. ’n Bietjie vernedering sal jou dalk ’n juister perspektief gee.”

      Ibrahim se oë gloei van haat toe hy na Jarad kyk. “Daar sal ’n dag kom dat ek jou keel sal oopkloof en jou vir die aasvoëls sal los, Xavier Jarad! Ek sal wraak neem!”

      Hy draai om en stap weg na sy manne.

      Isabelle se hart klop wild in haar keel. Sal hulle werklik sommerso die aftog blaas? Tog lyk dit asof die veglus uit die groep is. Een vir een volg hulle Ibrahim na die rotslys terwyl Jarad se groep hulle agternakyk.

      Toe die laaste een buite sig verdwyn, kom Jarad na Isabelle. Hy kyk af na die bebloede swaard in haar hand en dan op in haar oë. ’n Fyn glimlag speel om sy mondhoeke. Hy lewer egter nie kommentaar op haar swaardkuns nie.

      “Ons sal eers na Al Jesab gaan. Ons sal Harib nie voor môreaand kan bereik nie.”

      Hy draai weg voor sy hom kan antwoord, maar hy het slegs ’n paar treë geloop voordat hy vassteek en terugdraai na haar. “As jy ons nie gewaarsku het nie, was ons almal vannag dood. Dankie … En die swaard kan jy maar hier los. Jy sal dit nie weer nodig kry nie.”

      Dan stap hy weg om die rasjids nuwe opdragte te gee.

      Sy aarsel. Miskien moet sy hom gehoorsaam, maar dan haal sy haar skouers op en steek die swaard in haar gordel. As ’n nagedagte tel sy ook Ibrahim Khidr se dolk op. Toe sy omkyk, sien sy hoe die rasjids swyend na haar staan en kyk. Hulle sê niks en dit laat haar ongemaklik voel.

      ’n Rukkie later is hulle almal weer in die saal en pak hulle die lang tog na onder aan.

      Isabelle kan maar nie vergeet wat daar bo in die berg gebeur het nie. Twee van Jarad se manne is gewond en dis duidelik dat hulle pyn verduur. Die sjeik self weier dat enige aandag aan sy wond gegee word.

      In die maanlig kan sy hom voor haar sien ry, en dit word geleidelik duidelik dat sy wond dieper is as wat hy hulle wil laat agterkom. Wanneer die ligte wind sy mantel laat wapper, kan sy die groter wordende bloedkol op sy hemp sien en dit bekommer haar. Hy is besig om baie bloed te verloor en dit sal hom verswak.

      Eindelik kan sy dit nie meer uithou nie en sy ry tot langs hom.

      “Ons stop nou,” sê sy.

      Hy kyk vinnig na haar. “Jy kan nie die leiding neem nie!” sis hy.

      “Ek gee nie ’n duiwel om wat jy sê nie,” kap sy terug. “My lewe hang van joune af, en op die oomblik is jy besig om soveel bloed te verloor dat jou lewe in die sand gaan verdwyn voordat ons Helu bereik!”

      Hulle het tot stilstand gekom terwyl hulle argumenteer, en die rasjids bly op ’n kort afstand staan.

      “Ek makeer niks!”

      “Kyk hoe lyk jou klere!” Sy trek sy mantel weg. “As ons by Al Jesab aankom, wag daar dalk meer as net palmbome en water en sand op ons! Trek jou kleed uit dat ek die wond kan verbind.”

      Hy wil teëstribbel, maar hy weet dat sy gelyk het. Dan gly hy uit die saal en gaan sit teen die duin. Daar trek sy sy mou van die wond af weg. Dit bloei steeds en sy moet so vinnig moontlik die vloei stop. Sonder om te aarsel, skeur sy ’n strook van haar eie jurk af. Een van die rasjids bring water sodat sy die wond kan skoonmaak.

      Sy verbind die wond so goed as wat sy kan, en met ’n kopdoek maak sy ’n draverband vir sy arm. So sal dit ten minste ’n mate van rus kry. Dis hopeloos te min, maar as hulle gelukkig is, sal hulle binne ’n dag of twee in Al Jesab wees, waar die wond behoorlik versorg kan word.

      Eindelik is sy klaar en help sy en ’n rasjid Jarad weer op sy perd.

      Teen die oggend moet hulle ’n tent opslaan as beskerming teen die bloedige son, want Jarad lyk nie so goed nie. Die rasjids keer haar nie toe sy langs hom kniel om na die wond te kyk nie. Sy het geen salf wat sy op die wond kan sit om infeksie teë te werk nie en ook geen medisyne wat hom sal help nie. Nog twee dae op die pad … sy weet nie of hy dan nog gehelp sal kan word nie.

      ’n Rasjid verskyn langs haar. Hy hou ’n sakkie na haar uit.

      “Dis goed vir wonde,” sê hy op Arabies.

      Sy knik en antwoord hom terug in sy eie taal: “Dankie … en gebede sal ook help.”

      Sy tande flits wit in sy songebruinde gesig toe hy vir haar glimlag. Dan verlaat hy die tent om saam met die ander in hulle eie tent te skuil.

      Isabelle probeer die wond skoonmaak, want daar het sand in gekom. Jarad kners op sy tande, maar maak nie ’n geluid nie. Eindelik is sy klaar en strooi sy van die groen poeier uit die sakkie op die gapende steekwond voordat sy dit weer verbind. Hierdie keer skeur sy ’n stuk van sy eie jurk af omdat dit nie weer gebruik sal kan word nie.

      “Dankie,” sê hy toe sy klaar is.

      Sy gaan in die een hoek van die tent sit met die gedagte om te bly waak, maar spoedig oorval die vaak haar.

      Laatmiddag maak die rasjids haar wakker en hulle begin opsaal. Die perde is moeg en dors en sy besef dat hulle teen tyd stry. Jarad se besering hou hulle terug en hulle vorder stadiger as wat hulle behoort te reis.

      Hulle bereik Al Jesab eers twee dae later in die middel van die dag. Die laaste ent het hulle geloop om die uitgeputte perde te spaar. Jarad hang vooroor op sy perd en dis met moeite dat hy nog in die saal bly. Reeds van vroeg af is dit skroeiend warm en daar was geen lafenis langs die pad nie.

      Al Jesab is ’n groot dorp. Dis omring deur groen lappies bewerkte grond en dis ’n welkome gesig ná die droë hitte van die woestyn.

      Jarad gly uit die saal voor ’n huis naby die fontein van die oase. Sy rasjids hardloop nader om hom te hulp te snel. ’n Paar mense kom uit die huis en te oordeel na die manier waarop hulle hom verwelkom, lei Isabelle af dat dit ou vriende van die sjeik is. Hulle neem hom haastig die huis in en sy weet dat hy nou in goeie hande is. Die rasjids ken die groot huis klaarblyklik, want hulle verdwyn met die perde om die hoek na die stalle.

      Twee meisies kom uit om Isabelle te kom haal. Tot haar verbasing word sy nie na die slawekwartiere geneem nie, maar sy word soos ’n gas behandel. Die vrou van sjeik Nimur Tukran, in wie se huis hulle is, behandel haar soos ’n gelyke.

      Myrrha is ’n lang vrou met ’n baie mooi vel en groot, donker oë. Wanneer sy lag, is daar diep kuiltjies in haar wange en vir een pynlike oomblik word Isabelle herinner aan Jeanne. Myrrha is net so opgewek en vrolik en lief vir leef.

      “Kyk hoe lyk jy! Vol stof! En jy het skoon klere ook nodig,” sê sy toe hulle alleen in haar slaapkamer is. “Ek glo nie Xavier het daaraan gedink nie.”

      Sy draai weg en gaan na die aangrensende vertrek. ’n Paar minute later kom sy terug en sit ’n hoop klere op die stoel by die deur neer. “Hier sal wel iets wees wat jou sal pas. Maar eers gaan ons iets eet – jy lyk gedaan.”

      Sy klap haar hande en die deur gaan onmiddellik oop. “Bring vir ons iets te ete en te drinke hierheen, Ali.”

      Die slaaf verdwyn. Dan draai Myrrha met vonkelende oë vol afwagting na Isabelle.

      “Wat het in die woestyn gebeur? Is dit waar wat die rasjids sê?”

      “Wat sê hulle?” terg Isabelle haar.

      “Dat sjeik Khidr julle in die berge vasgekeer het. Is dit regtig so?”

      “Dis waar … en dis my skuld dat ons deur hulle ingehaal is.”

      Myrrha se oë rek. “Jou skuld?”

      Isabelle vertel haar van die man wat oor die afgrond