nie regtig weet waarheen hulle op pad is nie. Sy raak heeltemal gedisoriënteer van die hitte. Wanneer Jarad met haar praat, brabbel sy deurmekaar en sê enigiets wat in haar kop kom.
Toe hulle die laaste keer tent opslaan teen die hitte van die dag, gaan Jarad na Isabelle se tent. Sy lê vas aan die slaap, maar hy vou ’n groot, ronde waaier oop en probeer haar daarmee afkoel. Toe haar asemhaling rustiger word, verlaat hy geluidloos die tent.
Jarad hou haar onderlangs dop toe sy uiteindelik uitkom en begin help om die tente af te slaan. Tevrede dat sy niks makeer nie, jaag hy die rasjids aan om vinniger te werk. Isabelle skep nie moed nie, want om hulle lê die woestyn steeds uitgestrek. Daar is geen verandering wat sy kan sien nie, net harde sandvlaktes tot aan die horison.
Maar iewers in die godverlate woestyn hou Jarad sy hand omhoog as teken dat hulle moet stilhou.
“Oor ’n bietjie meer as ’n uur sal dit dagbreek wees, en sal ons naby Helu wees. Ek verwag dat sjeik Khidr se magte ons daar sal inwag. Hou julle gereed en bly op die uitkyk. Ek wil nie hê dat ons onverhoeds betrap word nie.”
Die rasjids knik om te wys hulle verstaan. “Gaan die meisie uitgelewer word?” wil een weet.
Jarad aarsel. “Nie een van ons kan sê wat gaan gebeur nie. As sjeik Khidr ’n oorlog wil hê, sal hy dit kry met of sonder haar,” antwoord hy.
Hy swyg ’n paar oomblikke en sê dan: “Daar is geen versekering dat die oorlog afgeweer sal kan word deur haar aan Khidr te gee nie. Julle kan kies of julle wil veg of nie.”
Daar is ’n beroering onder die rasjids en dan sê een: “Ons sal veg, sjeik Jarad. Sjeik Khidr sal nie ’n goeie meester wees nie.”
Die ander knik bevestigend en Jarad lyk verlig. “Dan sal dit wees soos wat dit bepaal is.”
Toe hulle na hul perde teruggaan, draai hy na Isabelle. “As jy wil teruggaan na Khidr, sal dit uit vrye keuse wees. Met of sonder jou sal daar steeds oorlog wees.”
Sy kyk na hom. “Ek het nie die reg om te bly nie. Dit sal die sultan kwaad maak, en hy is jou vriend.”
“Dis ’n stamoorlog, Shahira, en die sultan sal nie inmeng nie. Miskien sal ek sy vriendskap verloor, maar ek sal die respek van my rasjids behou.”
“Moet dit nie doen ter wille van my nie.”
Sy gesig is strak in die flou lig van die maan. Sy kan haar hart wild in haar bors hoor klop. In Harib wag ’n meisie wat soos Leila lyk. Sou hy haar dalk as die verwesenliking van ’n droom beskou?
“Ek luister na die hart van my rasjids. Dis die mense wat lojaal is teenoor my, en hulle het dit duidelik gemaak dat hulle sou verkies dat jy tussen ons bly en nie na Khidr gaan nie.”
“Ek is baie aan jou verskuldig en jy is belangrik vir jou mense … Ek sal dit nie in gevaar stel nie.”
Hy frons diep. “Wat bedoel jy?”
“Dat ek liewer na Khidr moet teruggaan.”
“Vrywillig?” vra hy ongelowig.
“As ek self gaan, het Khidr nie nodig om oorlog te maak nie,” sê sy sag en haar blou oë is vol van die wroeging wat sy voel. “Dan kan al die bloedvergieting vermy word. Beryl is self ’n Bedoeïen, en jy kan haar buitendien nie weier nie. Daar is te veel vir jou op die spel.”
’n Lang ruk staar hy net na haar terwyl hy nadink oor wat sy gesê het. Haar hart is met pyn gevul, want haar uiteinde sal dieselfde wees, al doen sy wat.
Hy tree skielik nader en sy hand sluit om haar gewrig.
“Jy is Shahira,” sê hy sag. “In jou hart behoort jy aan hierdie land. Kyk na die sterre – hulle is vannag ons enigste getuies. Leila behoort aan die verlede; ’n namaaksel kan nie die plek van die egte inneem nie.” Sy gesig is baie naby hare. “Ek was soos klip, maar jy het my weer sag gemaak, Shahira. Jy is vir my meer werd as al die goud van die sultan.”
Dis asof Isabelle die woestyn kan hoor sing. Die tyd staan stil toe Jarad haar in sy arms toevou. Dis ’n oomblik van soveel brandende geluk dat dit vir haar voel of die wêreld om haar kantel. Sy lippe soek hare en vind dit. Sy liefkosing is teer en intens. Die wal wat haar emosies in toom gehou het, breek op hierdie kosbare oomblik. In sy arms voel sy veilig; sy omhelsing is die einde van haar verlange.
“Vir jou sal ek oorlog maak selfs teen die sultan,” fluister hy toe hy haar vir ’n oomblik laat los. “Jy sal Arabië nie weer verlaat nie. Jemen sal jou tuiste wees, want jy het die harte van die mense verower, Shahira.” Hy wys na die swart jebels in die verte. “Tot ver anderkant daardie kranse sal die mense van jou praat. My sjeikdom sal ook joune wees, al kos dit my laaste asem.”
Sy plaas haar vingers liggies op sy lippe. “Jou laaste asem sal ook myne wees,” sê sy sag.
Hy soen haar met ’n vurigheid wat haar lam laat. Sy hartstog is ’n skroeiende vlam wat alle weerstand in haar vernietig, en hulle word een onder die fluweelswart nag met die sterre wat soos kosbare diamante vonkel.
Dis ’n onvergeetlike nag vir Isabelle, ’n nag waarin sy alles vergeet van Ninon en Frankryk en Etienne le Riche. Sy het duisende myle gereis om hierdie liefde te vind. Haar hele wese behoort aan ’n Arabiese sjeik, ’n man van wie se bestaan sy ses maande gelede nie eens bewus was nie.
Ses maande? Dit voel asof haar verlange na Xavier Jarad haar al jare lank verteer. Nou is die verlange weg en het net ’n groot, allesoorheersende geluk gebly.
Met ’n ligte hart vertrek hulle op die laaste skof na Helu, sjeik Xavier Jarad se tuiste. Hy het vir haar ’n swaard gegee, wat sy summier in haar gordel gesteek het. Dit het hom laat glimlag, en agter hom het sy ook die goedkeuring in die oë van sy rasjids gesien.
Met dagbreek kan hulle die donker koelte van die oase sien. In die grouheid van die vroeë oggend lyk dit verlate en rustig, maar hoe nader hulle kom, hoe meer kan hulle onderskei wat daar aangaan. Wat hulle eerste opmerk, is die vure tussen die duine, maar dis nog te ver om te kan sien of dit veewagters is.
Toe hulle weer oor die kruin van ’n duin gaan, besef hulle Helu is omsingel deur Khidr se rasjids. Hy het sy hele mag daar saamgetrek. Die woestyn om die oase bewe van honderde vegters wat gereed staan vir enige gebeurlikheid.
Hulle hou hul kamele in, net ’n paar honderd tree weg van die naaste rasjids. Jarad laat sy blik oor die oormag gly, sy gelaat strak. Sy mense is in die oase vasgekeer. Hy kan hulle nie bereik tensy hy tussen die vyandelike magte deurgaan nie en dít, weet hy, sal Khidr nie toelaat nie.
“Wat gaan ons doen?” vra Isabelle. “Hier is te veel om teen te baklei.”
“Khidr sal hier wees,” sê hy. “Ons sal eers praat – dis die gebruik.” Hy beduie na die oase. “Kyk, daar is die afvaardiging reeds op pad na ons. Hulle weet ons is hier.”
Sy kyk hom bekommerd agterna toe hy van haar af wegry. As hy iets moet oorkom, sal sy na Khidr teruggeneem word.
Die ou sjeik kom op sy tyd na Jarad aangery. In die dowwe maanlig sien sy hoe hulle groet, maar hulle is te ver om enigiets meer te kan onderskei. Dit duur ’n hele ruk voordat hy uiteindelik na hulle terugkeer.
“Die sjeik wil oorlog hê,” sê hy sodat hulle almal kan hoor. “Dit gaan oor ons grondgebied, ons water, alles wat aan ons behoort, nie oor Shahira nie.” Hy kyk af na Isabelle. “My rasjids sal jou na veiligheid neem tot die geveg verby is.”
Sy swyg. Haar eie lewe is vir haar belangrik, maar wie weet hoeveel vandag hier in die sand gaan sterf bloot omdat sy in Jemen is?
“Ek kan dit nie toelaat nie,” sê sy eindelik. “Vergewe my, maar ek wil nie deel hê aan jou mense se dood nie.”
Hy kyk skerp na haar. “Jy sal geen aandeel daarin hê nie. Jy is net die verskoning.”
Sy klim van haar kameel af en kyk op na hom. Sy weet sy moet hierdie opoffering maak, maar sy weet ook dat hy nie sal verstaan nie.
“Ek