Annelize Morgan

Annelize Morgan Omnibus 7


Скачать книгу

jy weet dat jy die rede vir die dreigende oorlog is?”

      Sy kyk vinnig op na hom, die skrik vlak in haar oë. “Ja, my heer.”

      “Is jy dit nie aan my vriend Xavier verskuldig om ten minste te bly tot die oorlogsgevaar verby is nie?”

      Sy het nie só daaraan gedink nie. “Ek sal bly as u dit van my verwag.”

      “Ja, ek dink jy moet bly, want om die oorlog te verhoed, sal jy teruggegee moet word aan sjeik Khidr.”

      Haar maag ruk op ’n knop van skok. Net nie dit nie!

      Jarad tree tussenbeide. “Ek kan dit nie toelaat nie. Khidr sal haar om die lewe bring met die eerste kans wat hy kry!”

      ’n Oomblik dink die sultan diep na en dan sê hy: “Jou lewe is belangriker as dié van ’n infidel, my vriend. Jou veiligheid moet bo alles gestel word. As sy die oorsaak van ’n oorlog gaan wees, moet jy haar aan Khidr teruggee. Neem haar terug, Xavier, sodat ons ’n einde kan maak aan die oorlog.”

      Vir Isabelle is die opdrag soos ’n doodsvonnis. Xavier sal moet gehoorsaam … en sy sal na Khidr moet teruggaan!

      6

      Jarad antwoord nie dadelik nie. Isabelle sien hoe ’n spiertjie in sy wang aanhoudend spring en sy besef dat hy onder geweldige spanning is. Wat gaan hy doen? Hy kan die opdrag van die sultan nie veronagsaam nie.

      Ná ’n lang stilte sê hy: “Ek het Shahira haar vryheid gegee.”

      Die sultan kom nader en gaan staan voor Jarad. “Jy was maar nog altyd ’n koppige man, my vriend. Ek het dit geweet, en daarom het ek iets vir jou saamgebring wat jou dalk tot ander insigte sal bring.”

      Hy klap sy vingers en oomblikke later kom ’n rasjid met ’n gesluierde vrou na die balkon. Die sultan beduie aan die rasjid om hulle alleen te laat. Dan kyk hy na Jarad.

      “Beryl is ’n geskenk aan jou. Sy is nie ’n slavin nie, maar die dogter van ’n sjeik van Oman.”

      Isabelle word yskoud. Xavier mag Beryl nie weier nie. Hy moet die meisie aanvaar en sy, Isabelle, sal aan Khidr teruggegee word.

      “Ek dank u vir u goedhartigheid,” sê Xavier gelykmatig. “Miskien het u vergeet dat ek nie wil trou nie … nie ná Leila nie.”

      “Ek weet,” sê die sultan met ’n skelm laggie. “Haal jou sluier af, Beryl,” beveel hy die vrou, wat nog swyend eenkant staan.

      Stadig maak sy die sluier los. ’n Pragtige gesig verskyn, ’n fyn glimlaggie om die vrou se mondhoeke. Isabelle kyk vinnig na Jarad en sien dat hy verbleek.

      “Leila?” sê-vra hy hees.

      Die sultan lag. “Die ooreenkoms is verstommend, nie waar nie? Dit kon net sowel Leila gewees het. Sal jy haar kan verruil vir ’n slavin en ’n infidel?”

      Die spiertjie trek steeds in Jarad se wang. “Maar sy is nie Leila nie,” sê hy hees.

      “Jy sal haar kan liefkry, Xavier,” sê die sultan. “Beryl het grootgeword in die huis van die sultan van Oman. Sy sal vir jou mag en rykdom bring. Khidr sal dit nie meer waag om jou aan te val nie.”

      Isabelle kyk na die beeldskone meisie. Haar donker oë word versluier deur dik, swart wimpers. Haar vel is vlekloos. Haar ovaalvormige gesig word omraam deur haar raafswart hare. Aan elkeen van haar slanke, goedversorgde hande dra sy vier ringe, wat met ornamentele kettinkies aan ’n armband om haar pols vas is.

      Die skerp pyn in haar hart laat Isabelle hard op haar tande byt. Hoe kan enige man hierdie skoonheid weier? Sy gaan Xavier Jarad verloor as die enigste vriend wat sy in hierdie vyandige land het. Alles was tevergeefs.

      “Ek sal môre na Helu vertrek,” sê Jarad uiteindelik. “Ek sal Shahira met my saamneem.”

      Die sultan frons liggies. “Ek hoef nie vir jou die erns van die situasie met Khidr uit te spel nie, Xavier. Miskien sal jy selfs eendag nog sultan van Jemen word. Met die mag wat ’n huwelik met Beryl jou sal gee, is dit nie onmoontlik nie. Dit sal ook die vete tussen Jemen en Oman beëindig. Ek hoop jy besef die belangrikheid van so ’n huwelik?”

      Jarad haal diep asem. “Ek besef dit.”

      “Mooi. Die twee vroue sal nou na die vrouekwartiere geneem word. Jou Shahira sal nie soos ’n slavin behandel word nie omdat jy haar haar vryheid gegee het. Ek sal daardie besluit van jou respekteer.”

      Dit lyk nie of Jarad gehoor het wat die sultan sê nie. Hy vermy oogkontak met die twee vroue en kyk nie eens op toe hulle deur ’n rasjid weggeneem word nie.

      Isabelle voel siek. Sy peusel net aan die geurige kos wat aan haar voorgesit word, ten spyte daarvan dat sy die vorige middag laas ordentlik geëet het.

      Khidr is ’n duiwel, dink sy paniekerig. Sy onthou haar vernedering in die binnehof van sy huis en sy sidder. Hoe kan sy na hom terugkeer? Dis die laaste plek op aarde waarheen sy wil gaan en as sy gedwing word, sal sy weghardloop. ’n Dood tussen die duine is meer aanvaarbaar as ’n lewe in Khidr se harem.

      Beryl, daarenteen, is hoogs in haar skik. Sy praat opgewonde met die ander vroue oor haar toekoms. Sy is onder die beskerming van die sultan van Oman en ook die sultan van Jemen s’n. Sy het niks te vrees nie en het net die goeie om na uit te sien.

      Isabelle gaan staan by ’n klein venster en uitkyk oor die binnehof. Dis verlate in die hitte van die dag. Iewers hoor sy ’n man lag en dan is dit weer stil. Sou die mans dalk bymekaar wees en hasjisj rook? Jarad rook nie hasjisj nie.

      Nie een van die vroue keer haar toe sy opgaan na die daktuin nie. Net ’n mal mens gaan in dié hitte na die dak. Van die infidel kan ’n mens enigiets verwag.

      Die daktuin is soos ’n bakoond, maar dit kan Isabelle nie skeel nie. Sy wil net ’n rukkie alleen wees. Sy dink aan Myrrha, die vrou van sjeik Nimur Turan van Al Jesab. Nou eers besef sy hoe min sulke vriendskappe in Jemen werd is. Myrrha sal niks kan doen om haar te help nie. Dis haar man wie se besluite van belang is, en Isabelle het hom nie eens van aangesig tot aangesig ontmoet nie.

      ’n Beweging in die aangrensende daktuin trek haar aandag. Sy herken sjeik Jarad met ’n skok toe hy omdraai en na haar kyk. Isabelle laat haar blik eerste sak. Binne ’n dag of twee sal hulle na Helu vertrek. Dit sal die laaste keer wees wat sy saam met Xavier Jarad sal wees.

      Die trane swem in haar oë toe sy omdraai en met die trap afgaan binnetoe. Net nog een nag van relatiewe vryheid vir haar … net een nag van vryheid onder die Arabiese sterrehemel.

      Vroegaand word die kamele opgesaal vir die tog na Helu. As alles goed gaan, behoort hulle teen die vroeë oggendure van die derde dag die oase te bereik. Isabelle is die enigste vrou in die groep wat voor die huis vergader is; van Beryl is daar geen teken nie.

      Sy staan by haar kameel en luister hoe die sultan en sjeik Jarad van mekaar afskeid neem. Sy wens sy kon hoor wat hulle praat. Hulle is kennelik goeie vriende, dink sy. Die sultan is soos ’n vader vir Jarad, maar hoe kan hy dan sjeik Jarad se persoonlike wense so veronagsaam?

      Isabelle kyk nie om na Harib toe hulle die dorp verlaat nie. Sy sal dit altyd onthou as die plek waar sy haar hoop op vryheid finaal verloor het. Iewers daar is Beryl, die dogter van ’n groot sjeik van Oman.

      Al verder en verder ry hulle weg van die oase. Spoedig is die dorp verswelg deur die duisternis en is hulle alleen op die harde, dor vloer van die woestyn. Daar is net tien oor van die elf wat in hul klein geselskap was. Een het aan sy wonde gesterf en Isabelle voel verantwoordelik vir sy dood. As sy nie by hulle was nie, sou dinge dalk anders verloop het.

      Nie een van die rasjids het nog ’n woord van verwyt teenoor haar geopper nie. Hulle bevraagteken ook nie haar teenwoordigheid nie en aanvaar haar as een van hulle. Dis vir haar ’n vreemde gevoel, en sy dink aan Jarad se woorde dat haar pad na vryheid deur die Bedoeïene loop.

      Dae lank is hulle op pad, met net een waterput op hulle roete. Om hulle is die uitgestrektheid