Charles de Gaulle-lughawe en taxi oor eindelose velde van beton, verby rye vliegtuie van alle groottes en vorms.
Haar hart bly hang aan die laaste wolk waardeur hulle gedaal het. Sy is in ’n vreemde land, in ’n vreemde hemisfeer. Alleen, sonder ma of pa.
Daar staan sowaar nog ’n SAA-Boeing op die aanloopbaan! Sy stert is die heel mooiste van almal, besluit sy. Air India. Swissair. KLM. Gaan sy ooit in haar lewe ’n kans kry om met hulle almal te vlieg?
Om haar rumoer dit soos passasiers hulle boeke en brille tussen komberse en piepklein kussinkies probeer vind om hul handbagasie reg te kry vir die afklim. Uiteindelik skuifel hulle in rye verby die lugwaardinne wat die deur bewaak vir ’n laaste groet, dan deur metaaltonnels met venstertjies wat net hier en daar ’n loerkans gee. Buite is dit al lig, maar dit lyk trietsig: vaal lug, grou beton en ’n paar kolle kroes gras. Hulle kon enige plek in die wêreld geland het.
Anderkant die loopgang verwelkom groot advertensieborde hulle: Bienvenue à Paris!
“Oe! Neem ’n foto van my!”
Clarissa druk haar selfoon in Emma se hand en gaan staan voor een van die borde. Sy gooi ’n arm in die lug soos ’n wafferse ballerina, lig een voet pikant en pruil haar mond.
“Jy lyk soos ’n eend,” brom Emma en neem die foto.
Clarissa gryp dadelik haar foon terug. “Ek post dit gou op Instagram!”
Emma skud haar kop. Nou weet die hele wêreld hulle het in Parys aangekom.
Hulle stoei deur die bondel mense om die carousel en gryp hulle tasse met verligte uitroepe. Almal giggel en loer rond. Meneer Thompson wink hulle na die middel van die aankomsaal.
Emma herken die ander twee onderwysers by hom: juffrou Louw en juffrou Danson. Sy het laas nag hulle name op die program gelees toe sy nie kon slaap nie. Die res van die toerlede is vir haar net ’n mengelmoes van gesigte. Sy twyfel of sy almal se name in die volgende elf dae sal onthou.
Maar juffrou Danson van Johannesburg het ’n troefkaart: ’n sak vol naamkaartjies. Sy stuur dit rond. “Speld dit aan julle klere vas waar dit duidelik sigbaar is en sorg dat julle dit te alle tye dra.”
Die toerlede sug en brom. “Ons is nie meer in graad een nie,” protesteer Clarissa.
Juffrou Danson glimlag gemaak vriendelik in haar rigting. “Dan is julle volwasse genoeg om te besef dat sekere reëls nodig is vir orde in ’n groep. Ek is te oud om almal se name te onthou, of dalk stel ek net nie genoeg belang om dit te memoriseer nie. Die naamkaartjies sal dit makliker maak terwyl ons mekaar leer ken.”
Die sak kom by Emma aan en sy vis haar naamkaartjie uit. Iemand loer oor haar skouer. “Emma Volmaak! Ek bedoel Vermaak,” sê ’n seunstem.
Sy kreun. Dis weer die rugbyspeler. Ag tog, ’n flerrie van ’n mansmens is die laaste waarvoor sy nou kans sien. Haar hart behoort aan Mathew.
Sy ignoreer hom en stap weg om by Clarissa te gaan staan. Dié het reeds by die belastingvrye winkel op OR Tambo ’n bottel Franse parfuum aangeskaf, waarvan sy hopeloos te veel aangespuit het. Sy kwetter soos ’n opgewonde spreeu.
“O, ek kan nie wag om die Eiffeltoring te sien nie! En die brûe oor die Seine! En die katakombes!”
“Katakombes? Wat is dit?” vra ’n kort, dikkerige seun van Johannesburg.
“Dit is …” begin Clarissa onseker.
“… tonnels onder die stad waar die gebeentes van miljoene mense bewaar word.”
Emma en Clarissa swaai gelyk om. Agter hulle staan Tombi. Sy lyk kalm en selfversekerd, asof sy gewoond is daaraan om elke oggend op ’n lughawe in ’n vreemde land te arriveer.
“Geraamtes? Yuk!” gril Clarissa.
“Sowaar?” Die kort outjie – Kevin Brown, sien Emma op sy naamkaartjie – kyk geïnteresseerd na Tombi.
Sy glimlag vir hom, en Emma verkyk haar aan die meisie se perfekte tande. Geen draadjies is nodig om háár gebit reg te kry nie. En haar lae, melodieuse stem het sowaar vir Clarissa stilgemaak, iets waarvoor sy beslis ’n punt verdien.
Emma kyk rond toe sy ’n vrolike deuntjie hoor. In die besige aankomssaal speel ’n man op ’n panfluit. Sy gesig is groen geverf en twee bokhorings van plastiek prik deur sy krullerige hare. Hy klop die ritme van sy lied op die marmervloer uit met skoene wat soos hoewe lyk. Dan val ’n viool in, gespeel deur ’n blougeverfde man in ’n seekostuum, goue kartonkroon op die kop.
“Wat gaan aan?” vra Kevin.
“Daar’s hierdie week ’n kunstefees in die stad,” verduidelik juffrou Louw en haal ’n bril uit haar oorvol handsak om die spulletjie beter te betrag.
’n Meisie in ’n nimfkostuum kom verby getrippel en druk ’n brosjure in Emma se hand. Sy lees die opskrif: Festival de l’Inspiration des Arts.
“Kom, ons bus is hier!” roep juffrou Lategan en hou ’n opgevoude pers sambreel omhoog. “Almal, volg my!”
Emma kry ’n nare voorgevoel: dat sy nog kilometers ver agter daardie sambreel sal moet aanloop.
Op die bus kies sy ’n sitplek agter teen die venster. Dit lyk of die rugbyspeler weer na haar kant toe mik, maar genadiglik plak Tombi haar op die leë sitplek neer.
Emma leun met haar voorkop teen die ruit en kyk na die mense in die motors langs hulle. Vier lane verkeer sukkel op die hoofweg in die rigting van die stad. In Frankryk sit die bestuurder links voor en dit voel vreemd om mense in die passasiersitplek aan die regterkant te sien koerant lees. Die meeste van die motors is donker van kleur en van Franse fabrikaat: Peugeots en Renaults.
Voor in die bus draai juffrou Lategan skuins in haar sitplek en begin met ’n lesing.
“Die Franse is baie lojaal aan hul kultuur. Skrywers, kunstenaars en filosowe word hoog geag in hierdie gemeenskap, en hulle pas hul erfenis met groot sorg op. So byvoorbeeld het die Franse regering ’n hele departement wat sorg dat al die historiese geboue mooi verlig is snags.”
“Parys, die stad van lig!” sê Clarissa teatraal.
“Maar daar’s ’n nuwe wet wat keer dat onnodige ligte ná eenuur in die oggend brand,” sê juffrou Danson. “Dit het onlangs in werking getree en dit spaar miljoene euro aan elektrisiteitskoste. Dis deel van ’n veldtog om die stad groener te maak.”
“So ná middernag word la ville lumière ’n duistere plek,” fluister Tombi vir Emma.
Soos hulle die buitewyke van die stad nader, raak die verkeer al digter. Langs hulle druk ’n taxibestuurder op sy toeter en waai sy vuis by die venster uit. “Putain!” skel hy op die vrou in die klein Fiat 500 wat voor hom ingedruk het.
Emma giggel. “Ons gaan ten minste ons Franse woordeskat verbreed.”
“Ja,” beaam Tombi. Sy kyk skuins na Emma. “Jy’t nog nooit gewonder hoe dit is dat ek en jy in dieselfde skool beland het nie, of hoe?”
“Wat bedoel jy?” vra Emma oorbluf.
“Ek meen maar net. Nie een van ons is eintlik ’n Suid-Afrikaner nie.”
Emma trek haar rug regop. “Natuurlik is ek ’n Suid-Afrikaner! Ek is daar gebore.”
“Ja, maar …” Tombi kyk betekenisvol na haar.
Trane prik skielik agter Emma se oë. Sy is moeg. Sy is opgewonde om Parys te sien, maar terselfdertyd wil sy terug by die huis wees. Die laaste ding waarvoor sy nou kans sien, is ’n rasdebat met ’n klasmaat.
“Ek’s jammer, ek het dit glad nie só bedoel nie.” Tombi sit ’n warm hand op haar voorarm. “Ek het gedink aan die mondeling wat ons verlede jaar oor ons voorsate moes doen. Jou voorsate kom van Holland en van hier, so dis net vir my interessant. Jy kan nou van die bus af klim en in die straat