sy met die trap af na die dek net daaronder en herhaal haar snuffeltog. Stadig maar seker klim sy laer en laer af. Dat mense op so ’n boot kos baie belangrik ag, sien sy gou. Daar is eetkamer op eetkamer en dan nog plekke vir ligte verversings, soos tipiese Britse pubs en teetuine. Die verskillende restaurante bedien ook ’n verskeidenheid kos. Daar is een vir Oosterse geregte, ook vir seekos en kerrie. Kort voor lank spoor sy die planetarium, fliek, biblioteek, gimnasium en hospitaal op.
Daar is genoeg om aan boord te doen, besef sy. As sy en Belle nie dag in en uit op die dek by die swembad wil lê nie, hoef hulle nie een oomblik verveeld te wees nie.
Sy gaap onverwags en besluit om vir oulaas te gaan asemskep op een van die buitedekke. Sy maak eers seker dat sy op die dek is waar hulle kajuit is, en glip dan by die naaste deur uit. Dis warm buite, kom sy verbaas agter, maar natuurlik, die lugverkoeling hou die binnekant konstant koel. Sy leun oor die reling en kyk uit oor die water wat in die soel nag soos klotsende, vloeibare koper lyk danksy die duisende liggies wat daarin weerspieël word.
Mooier kan dit nie.
“Ek dag jy het gesê jy gaan slaap?” Die manstem agter haar is bruusk.
“Ek … ja,” antwoord sy, lam geskrik. Sy het nooit die rolstoel in die skaduwee agter haar gesien nie. “Belle is mos saam met jou broer uit, en toe het ek besluit om bietjie verkenningswerk te doen. Voordat ek gaan slaap,” voeg sy gou by. Sy kan skaars glo dat sy op die reuseskip sowaar weer in Bartho Krüger vasgeloop het.
“Ek haat die lugreëling. Dis ongesond. Dis hoekom ek buitetoe gekom het. En ’n stad soos Hongkong is nie vir my nie. Selfs die mooi weerkaatsing van die liggies is net ’n spieëlbeeld van klatergoud; die kunsmatige lewe wat die inwoners van die stad in wolkekrabbers slyt.”
Hy is nou knorrig en bitterbek, dit help nie eens sy probeer verskoning maak vir hom nie. Mooi is mooi, kunsmatig of nie, maar niks gaan seker vir hom mooi wees voordat hy weer op sy bene kan staan nie. “Wel, ons het nou vasgestel Hongkong is definitief nie vir jou nie. So, waar sou jy graag wou woon?” vra Victoria met ’n effense laggie. Met nog ’n stekie jaloesie, onthou sy hoe gou Belle hom aan tafel laat ontspan het.
“Waar ek nou woon. In Kaapstad.”
“Daar is ook wolkekrabbers. Veral in die stadskom en by die kus, Seepunt, Bantrybaai, maar ook in die voorstede soos …”
“En jou punt is?”
“Daar is in elke stad wolkekrabbers. Dit beteken nie dat die mense wat daar bly noodwendig ’n kunsmatige lewe slyt nie,” sê sy koel, want sy word ’n bietjie moeg vir sy kortaf sinne. “In elk geval weet ek nie regtig wie en wat as ‘kunsmatig’ kwalifiseer nie.”
“Nee, dit kan ek hoor. Waar bly jý?”
“Ook in Kaapstad.” Hoe vreemd dat die man van haar drome al die jare in dieselfde stad as sy woon en dat die toeval hulle nou in die hawe van Hongkong, van alle plekke, moet saamgooi.
“Wel, dit is vanselfsprekend, want jy werk vir Du Toit en Solms en jy was by hulle aanbieding in Kaapstad betrokke.”
Sy trek haar asem skerp in om hom te vertel dat hy heeltemal te beterweterig klink, maar hy spring haar voor. “En jou ma vertel ook vir almal van haar slim dogter in Kaapstad. Ek het bedoel in watter voorstad? In ’n huis of woonstel?”
Sy is dankbaar vir die skemerdonker op die dek, dankbaar dat hy haar gesigsuitdrukking nie kan sien nie. “Jy’s verduiwels ongeskik. En ek is seker my ma praat nie met elke Jan Rap en sy maat oor my nie.”
“Ek doen besigheid met jou pa en sien jou ma gereeld by sosiale funksies. En ek sê nou vir jou dat sy baie oor jou praat. Dis dié dat ek wou gesien het hoe jy lyk toe ek by julle aanbieding was.”
Haar ore tuit behoorlik. Wáárom praat haar ma met ’n volslae vreemdeling oor haar? Wat het sy nog alles vir ’n terloopse sosiale kennis soos Bartho van haar dogter vertel?
“Jy is kort ná daardie aanbieding weg met vakansie na ’n ski-oord en dis waar jy toe so seergekry het?” verander sy die onderwerp.
“Ja.”
“Hoe?” troef sy hom terug met net een woord.
“Op die gewone manier. Ek het geski, toe ski ek oor ’n afgrond, val sleg, breek my enkel en my gewrig aan die regterkant en my been aan my linkerkant. ’n Gewone ski-ongeluk.” Sy stem drup van sarkasme.
Victoria wil haar eers vererg, maar die kraak in sy stem wat hy nie kon verberg nie, vermurwe haar hart. “Dit moes seker vir jou op die vliegtuig moeilik gewees het. Ek kan amper nie dink …”
“Ek het nie agter tussen die gepeupel gesit nie, as dit is wat jy dink. Ek het met ’n donnerse duur vliegtuigkaartjie gevlieg sodat ek kon lê.”
Sy sluk haar antwoord net betyds terug. “Is dit iets wat jy gereeld doen? Ek bedoel, gaan ski,” voeg sy vinnig ter verduideliking by.
“Vir ’n oomblik het ek regtig gewonder of jy vra of ek my lyf gereeld breek, maar ja. Ek gaan gereeld ski.”
Hy klink soos iemand wat onwetend oor ’n turksvyblaar gestreel het, dink sy. Geïrriteerd, vies vir homself en die wêreld.
“En jou verloofde? Was sy ook saam?”
“Wat gaan nou aan? Is dit ’n verhoor dié?” vra hy bars.
“Ek’s jammer,” prewel sy geskok. Sy het vergeet dat Lukas gesê het dat sy nie oor die verloofde moet praat nie. Eintlik het sy gedink dat sy net nie moes uitvra oor hulle verhouding nie, maar die hele onderwerp is duidelik taboe. Sy moes in elk geval beter geweet het, want hy het met elke antwoord duidelik gemaak dat hy nie lus is om oor homself te praat nie, maar sy was so gulsig om dadelik alles van hom te weet dat sy nie genoeg ag daarop geslaan het nie. Sy verdien die dwars antwoord.
“Ekskuus,” sê hy en vee oor sy gesig. “Kyk, ek wil nie graag oor die ongeluk praat nie en ook nie oor my verloofde nie. Dis alles verby. As jy nie omgee nie, los dit.”
“Ek is die een wat om verskoning moet vra,” sê sy sag. “Ek is self ’n baie private mens en kan verstaan as jy nie daaroor wil praat nie.” Haar hart klop egter dawerend in haar ore. Het sy hom reg verstaan? Dat dit verby is tussen hom en Maya Venter?
“Ons was in ’n groep. My een pêl, eintlik my beste vriend, het agter my aangeski en hy’s dood. Daarom praat ek nie graag daaroor nie. Eintlik wil ek nie eens daaraan dink nie, want die blote gedagte laat my vir ure daarna absoluut ellendig voel.” Sy gesig is in die skaduwee, maar sy stem is grof en ongelukkig.
Dit moet verskriklik wees om so iets oor te kom, dink Victoria. Haar eie motorongeluk en die paar dae in die hospitaal is niks in vergelyking met wat met Bartho gebeur het nie.
Ontsteld sak sy op haar hurke langs die rolstoel neer om reguit in sy gesig te kyk. Ongelukkig kan sy sy oë nie sien nie, want die lig is te sleg. “Ek is so jammer. Direk na daardie aanbieding van die maatskappy, dieselfde aand nog, was ek in ’n motorongeluk betrokke en ek probeer ook om die hele insident te vergeet. Ek verstaan maar te goed dat daar gebeure is waaraan mens nie wil dink nie, wat nog daaroor praat.”
“Dis gaaf as iemand darem verstaan.” Die kraak is nog steeds in sy stem. “As ek nooit in my lewe weer daaroor hoef te dink of praat nie, sal dit heeltemal te gou wees. Dis verby. Ek moet nou net daaroor kom.”
“Ek dink nogal so iets vat tyd. Ongelukkig is ons nie geprogrammeer om ons gedagtes in lêers te sit en weg te pak nie. Maar dalk is ek pessimisties. Dalk het jy die vermoë om dit te doen?”
“Jy wil ook nie daaroor praat nie?”
“Nee. Mense wil heeltyd weet of ek oukei is, en dit maak my ongemaklik.”
’n Stilte volg, maar dit pla nie.
“Jy laat my beter voel. Seker omdat ek besef dat ek nie al een is wat issues het nie. Dis gaaf om te weet dat jy ook nie verder aan my sal karring nie,” sê hy naderhand. “Dis vir my ’n kruis om mooiweerspraatjies met mense te maak terwyl ek