Paar oomlikke is sy doodstil terwyl haar oë tussen Corinne en die blomme beweeg. Toe beduie sy na die CD-speler. “Sara Bareilles sing ‘Breathe again’ en …” Sy tel die stele van die blomme waarmee Corinne werk een vir een op. “Rooi angeliere vir ’n hart wat breek, magrietjies vir hartseer, duisendblad ook vir ’n gebroke hart.” Haar oë is op skrefies toe sy opkyk. “Hy het jou seergemaak.”
Corinne trek haar asem skerp in en kyk onthuts na die rangskikking voor haar. Sy skud haar kop heftig. “Nee! Hoekom sal hy my ontstel? Die … die blomme is heel toevallig. Ek is vies, ja. Maar my hart is fine. Ons het werk om te doen, Annabel is nou-nou hier. Sal jy asseblief solank vir ons die ketel aansit?”
Corinne verbeel haar sy hoor die voordeurklokkie lui en draai om om die klank sagter te sit. Sara Bareilles sing so hard, dis moeilik om te hoor. Sy kyk tussen die hoë rakke, maar dit lyk tog nie asof iemand ingekom het nie. Die paadjies tussen die rakke is leeg. Sy het haar seker maar verbeel.
“Wat is fout met die man?” roep Ella ontsteld uit en slaan haar arms om Corinne. “Simpel vent. Watse tipe girl soek hy nogal?”
“‘Stemmig’ is die woord wat hy gebruik het, as ek reg onthou. Ek het ’n tulleromp aangehad.”
Ella kyk haar ’n oomblik oorbluf aan voordat sy uitbars van die lag. Uitasem leun sy teen die toonbank. “Stemmig? Regtig? Wel, ek hoop jy het hom in sy peetjie gestuur.”
“Nooit,” glimlag Corinne. “Ons gaan sommer nog ’n hele paar keer uitgaan. Iemand moet hom ’n les leer. En daarna gaan dit hom beslis ’n rukkie neem om weer aan ’n stemmige girl gewoond te raak.”
“Dit klink of jou kop reg op jou skouers geskroef is,” sê ’n laggende vrouestem en Corinne kyk om.
’n Pragtige, slanke blondine en ’n ouer vrou staan met breë glimlagte voor haar. Sy kan in die grond wegsink. Hulle moes die hele gesprek gehoor het. Wat help ’n splinternuwe klokkie as Corinne dit nie hoor nie? Die ouer vrou se oë vonkel van pret.
“Kind, wat ’n simpel vent. En jy moet my asseblief vertel hoe jy hom ’n les gaan leer!”
Corinne stap agter die toonbank uit. “Ek is jammer, ek het julle nie hoor inkom nie. Jy moet Annabel wees, Doug se bruid?”
“Dis reg, en dit is Doug se ma dié.” Sy trek die ouer vrou nader.
Agter haar snak Ella na asem en Corinne sluk verbete om die histeriese giggelbui wat wil-wil uitbars, in te hou. “Mevrou Sutherland, aangename kennis,” kry sy heel ordentlik uit. “Ek is Corinne Hansen en dis Ella du Toit, my assistent.” Sy trek Ella aan die hand nader en probeer haar ongemerk ’n stewige druk gee. Hopelik kry sy die boodskap om nie verder oor Alan te praat nie. Sy beduie na die langwerpige tafel wat aan die een kant van die winkel staan.
“Kom ons sit hier, dan kan ons gesels.”
Ella trek ’n stoel uit vir die ouer vrou. “Ons is so opgewonde oor die Skotse troue! En sjoe, mevrou Sutherland, jou vyf seuns het die temperatuur in ons winkel omtrent die hoogte laat inskiet.”
Corinne sit haar boek hard neer. Ella gee haar ’n onskuldige kyk en Corinne pers haar lippe opmekaar. As die tante moet weet wat haar plan met haar seun is!
Die ouer vrou rol haar oë. “Moenie dat hulle dit hoor nie; soos dit is, is hulle heeltemal te vol selfvertroue.”
“Koffie of tee?” vra Corinne. Sy wil regtig nie verder oor die Sutherland-broers praat nie.
Ella neem die bestelling en gee genadiglik pad. Corinne vertrou glad nie die lig in haar oë nie.
Corinne maak haar boek saaklik oop. “Goed, vertel my wat jy in gedagte het.”
“Ek moet net eers vir jou dankie sê dat jy bereid is om die blomme op sulke kort kennisgewing te doen. En Doug het my belowe hulle al vyf sal help met die aandra en skoonmaak.”
“’n Tannie van my gaan ons help …”
“Is sy die een by wie jy jou liefde vir blomme geërf het?” vra mevrou Sutherland.
“Sy en my ouma,” glimlag Corinne.
“Interessant dat dié soort belangstelling dikwels eerder na die kleindogter oorgedra word as na die dogter.”
“My ma kan pragtige rangskikkings doen, maar sy was altyd … sy is al ses keer getroud en …” Corinne sluk. Sy kan nie glo wat sy uitblaker teenoor vreemdes nie, dis nie iets wat sy gewoonlik doen nie. Maar die gawe vrou het ’n manier om ’n mens sommer te laat praat – baie, baie gevaarlik, gegewe die huidige situasie met haar seun.
“Wanneer het jy met jou winkel begin?” vra mevrou Sutherland sonder om aan te dring dat Corinne haar sin klaarmaak.
“Ek het na skool eers gaan swot. Ek was altyd lief vir tale en het gedink ek sal dalk onderwys wil gee. Na universiteit het ek ’n ruk lank oorsee rondgeloop en skoolgehou en besef dis nie iets wat ek die res van my lewe wil doen nie. My ouma is oorlede – en haar erfgeld en al die kennis wat ek by haar gekry het, het hierdie blommewinkel moontlik gemaak.”
“Dis ’n pragtige plek,” sê Annabel.
Corinne glimlag vir Annabel. “Baie dankie. Ek wil nie hê jy moet jou verder oor die blomme bekommer nie. Ons sal sorg dat alles betyds is en presies wat jy wil hê. Doug sê julle beplan ’n Skotse troue.”
“Ja!” roep Annabel uit, haar oë blink. “Skotse rompe vir al die manne met sporrans, dolke, lang sokkies, the works. Ek het ’n spierwit rok, dis so mooi, ek kan nie wag …”
Annabel babbel en beduie met blink oë, maar Corinne sukkel om te volg wat sy sê. Sy het vasgehaak op Skotse rompe en al waaraan sy kan dink, is die stomende drome van Alan in juis so ’n nommertjie. En wat dra hulle onder die rompie? En …
“… het vir ons die mooi storie van die wit Skotse heide vertel wat hy by jou gehoor het. En dat blomme boodskappe oordra?”
Corinne knip haar oë. Alan in ’n Skotse romp – definitief nie iets waaraan sy moet dink wanneer sy ma voor haar sit nie.
Ella kom gelukkig ingestap met die skinkbord vol koppies. Corinne skep ’n diep asemteug. Sy moet nou fokus op wat Annabel sê.
“Ja, blomme het hul eie taal. Die wit heide sê jou bruidegom wil jou beskerm en hy wil graag hê al jou wense moet waar word.”
Annabel druk haar hand teen haar hart en haar oë blink. Sy snuif. “Dis so spesiaal, ek wil sommer huil,” snuif sy en soek in haar handsak rond.
Ella skuif die houer snesies wat op die tafel staan, voor Annabel. Hulle het lankal agtergekom bruide is maar tranerig.
“Volgens Doug wil jy graag ’n tradisionele Skotse ruiker hê vir jou en die strooimeisies?” vra Corinne.
“Ja,” knik Annabel en druk die snesie teen haar oë. “Wat jy voorgestel het, klink perfek. Ek is so bly jy kan die heide in die hande kry.”
Corinne skuif ongemaklik rond. Mevrou Sutherland se oë het nog nie ’n oomblik van haar wegbeweeg nie. “Ons het gelukkig ’n wonderlike verskaffer wat baie moeite doen. Wat het jy in gedagte vir die onthaal?”
“Wit. Alles wit met hier en daar ’n tikkie blou. Blomme met ’n boodskap van liefde, van vriendskap, van hoop en … en liefde,” sug Annabel.
“Daar is so baie waaruit ons kan kies. Ella het die tablet, sy sal vir jou wys hoe lyk die blomme. Gypsophila, die mooi bosse gipskruid met die wit blommetjies, is vir ewigdurende liefde, wit rose vir onskuld, japonikas vir jou skoonheid, seringbloeisels ook vir jeugdige onskuld, tulpe is ’n verklaring van liefde, die distel dui op pyn, maar ook op beskerming, op trots …”
“Wel,” lag Annabel, “my kop draai behoorlik. Alles lyk so mooi. Tannie Phoebe, wat dink jy?”
“Ek hou daarvan. Ek weet net nie van al die onskuld nie. As Doug na sy pa aard, kan jy daai blommetjies maar weglaat.”