voor te stel nie.” Alan vryf vies oor sy nek.
Sy ma klap haar tong. “Jy kan jou ou skoene agter ’n vrou soos Corinne aangooi …”
“Ma, jy het haar nie gisteraand gesien nie. Sy het hierdie romp aangehad –”
“’n Tulleromp,” val Annabel hom in die rede. “Wat is so vreemd daaraan? Netsy is hoogmode en sy het die bene daarvoor.”
“Wie lyk so?” Hoekom verstaan niemand wat hy probeer sê nie?
Annabel grinnik. “’n Girl wat weet wie sy is en wat nie issues het nie. Presies die soort wat jy soek, klink dit my. Behalwe dat daar niks styfs aan Corinne is nie. Sy is warm en …” Annabel waai haar hande soos sy probeer beduie. “Real. Dis die woord. Wat jy sien, is wat jy kry. Dis natuurlik nie elke man wat so ’n vrou kan hanteer nie.”
Edward staan op en sit sy hand op Alan se skouer. “Daar het jy dit. Kry vir jou ’n stemmige girl. Los vir Corinne – sy verdien ’n volbloedman. Soos ek.”
Vies ruk Alan hom los. “Ek sien haar op die oomblik. Bly weg,” brom hy voordat hy hom met ’n wuif van sy hand uit die voete maak.
Beelde van Edward en Corinne flits voor hom en sy hande bal in vuiste. Magtig. By sy motor kyk hy ’n oomblik op na die hemelruim, bespikkel met sterre. Vandat Corinne in sy lewe gestap het, is alles ’n warboel en dis presies wat hy nog altyd probeer vermy het.
Maar die hemele help hom, hy moet by haar wees. Hy spring in sy motor en trap die petrolpedaal diep in. Môreaand is hopeloos te ver in die toekoms.
“Wel, ek is baie trots op julle,” glimlag Corinne vir die groepie hoërskoolmeisies in haar blommewinkel. “Julle het goed gedoen.” Sy beduie na die potte vol blomme voor elkeen. “Volgende Vrydag gaan ons ’n posie maak vir ’n goeie vriendin – blomme wat die een of ander emosie oordra. Iets soos swaardlelies wat dui op iemand se sterk karakter of laventel wat bewondering aandui – ek sal sorg dat hier genoeg blomme is. Nou toe, sien julle weer volgende week!”
Die tieners haal die blomme versigtig uit die houers waarin dit was. Al die afvaltakke is al weggegooi en hulle vat die potjies terug kombuis toe waar elkeen verantwoordelik is om haar potjie skoon te maak.
Uiteindelik is almal klaar. “Dankie, Corinne!” roep die groepie en sy stap saam tot by die deur om hulle uit te laat. Dis al na nege, sien sy, maar die klomp het vanaand so gebabbel. Sy kyk hulle glimlaggend agterna en wuif toe die laaste een nog ’n keer omkyk om te groet.
“Hoekom is jy nog by die winkel?” vra ’n stem wat baie soos Alan s’n klink agter haar.
Sy draai vinnig om. Sowaar, dit ís hy.
“Alan! Ek het gesê môreaand, dan nie?” vra sy terwyl haar hart laf in haar binneste begin klop.
Hy knik, sy hande in sy broeksakke. “Jy het. Maar ek … môreaand is te ver weg.”
Sy sluk. Sjoe. “Ek was besig.” Sy beduie in die rigting waar die meisies om die hoek verdwyn het. “Vrydagaande is vir die groepie tieners. Een van hulle het op ’n dag hier ingestap en gevra of ek hulle sal help met blomme vir ’n funksie by hul skool en wel, dit het ’n weeklikse instelling geword om oor blomme te gesels.”
Sy babbel, maar kan nie anders nie. Hy sê niks nie, staar net na haar.
“Ek moet net die ligte afsit binne.”
“Ek sal jou help,” sê hy en hou die deur oop sodat sy kan instap.
“Dis nie nodig nie, ek sien jou mos môreaand.”
“Ek is nou hier.”
Help! Sy is nie voorbereid daarop om hom vanaand te sien nie. Sy sou nog ’n nag en ’n dag wou hê om haar te staal teen sy nabyheid, sy sexy, wilde reuk, sy …
“Ek … die kombuislig,” beduie sy en vlug die kort gangetjie af.
Alan skep ’n diep teug asem en staar Corinne agterna. Bliksem. Die vroumens steel elke druppel suurstof uit sy lyf en elke moontlike rasionele gedagte. Vanaand het sy ’n kort, wye rompie aan met ’n langmoubloes met klein knopies. Die moue is halfpad opgerol, haar armbande klingel vrolik soos sy wegstap. Sy vingers jeuk – hy kan nie wag om elke knopie los te maak nie.
Net die gedagte aan haar sagte vel onder sy vingers laat sy voete beweeg. Hy is by die voordeur voordat enige boodskap van sy brein by sy lyf uitkom. Met een draai sluit hy die voordeur van haar winkel en stap met lang treë tot by die kombuis.
Sy staan met haar rug na hom, op haar tone, besig om die laaste potjie hoog op een van die rakke te pak. Haar hemp lig op, hy kry ’n glimp van haar sysagte vel, die kettinkie aan haar enkel flits en toe kan hy hom nie meer keer nie.
Hy draai haar om en sy is in sy arms. Diep binne hom raak hy die eerste keer vandag werklik rustig. Sy is beautiful, sexy, haar armbande maak hom mal – dis die enigste rede hoekom hy nie sy hande van haar kan afhou nie.
Haar arms vou om sy nek en gewillig val haar kop agteroor. Aanbiddend, soekend, gly sy lippe oor haar gesig, af teen haar nek tot waar haar pols dawerend onder sy mond klop. Hy begeer, sy bloed kook vir haar. Hy verstaan sulke gevoelens, maar hierdie … Hy soen haar, voel hoe sy smelt teen hom. Hierdie allesoorweldigende passie, dís ’n ontembare drif wat hy nie ken nie.
Trane dam op agter haar ooglede. Niemand het haar nog ooit presies so gesoen nie. Weg is die dringende intensiteit van gisteraand. Sy aanraking is teer, so anders as voorheen. Passie kan sy hanteer, verwelkom, maar hierdie sagte, troetelende liefkosings – dit kan haar vernietig.
Haar arms gly om sy nek, hy lig haar op die kombuisrak en stap tussen haar bene in. Haar hart sug, breek oop en ’n traan ontsnap onderdeur een ooglid.
Sonder om sy mond van hare af te haal, maak hy die knopies van haar hemp los. Hy lig sy kop op en kyk.
“Jy’s beautiful,” prewel hy en laat gly sy hande oor haar borste.
Haar asem raak weg. Tydsaam, asof hy al die tyd in die wêreld het, gly sy een vinger oor die ronding van haar kurwes. Heen en weer, heen en weer, totdat sy bang is sy slaan aan die brand.
Daar is pyn waar sy vingers aan haar raak, ’n pyn wat saam met die ritme van haar hart klop. Nog nooit het sy so begeer nie, nog nooit was die behoefte aan iemand so skerp, so fel nie. Toe sy mond uiteindelik hare weer vind, wil sy huil van verligting.
Hy trek haar styf teen hom terwyl sy een hand rusteloos op en af teen haar bobeen gly. Diep binne haar span iets styf, wag haar lyf met oorgawe op wat gaan gebeur. Sy hand vou oor haar bobeen, die hitte raak ondraaglik, onuithoudbaar en haar lyf beweeg rusteloos teen hom. En toe vind sy hand haar kern, iets ontplof agter haar oë, daai sterre waaroor sy so gewonder het, verskiet weer en sy word saam weggeslinger tot op ’n plek ver anderkant die hemelruim.
Toe sy onder hom sidder, lig hy sy mond van hare af en kan net staar. Haar hemp hang oop, haar borste bult teen ’n pienk kant-en-satyn-bra. Hy het nog nooit in sy lewe iets so mooi, so onweerstaanbaar gesien nie.
Sy hart ruk tot stilstand en hy kry glad nie asem nie. Uiteindelik begin sy hart weer onreëlmatig klop en paniekerig gee hy ’n tree agtertoe. Hier moet hy vinnig wegkom. Hy moet beheer kry oor sy lyf, oor die orkaan wat binne hom woed.
“Ek … jy’s moeg. Dit was ’n lang dag. Ek sien jou môreaand.” Sonder om te wag dat sy iets sê, vlug hy in die gang af.
Corinne staar hygend na die kombuisdeur waar Alan oomblikke gelede nog was. Sy is stadig besig om weer aarde toe te kom. Sy pluk haar hemp heeltemal uit. Dis so warm, sy wil uitbrand. Dis amper asof sy koorsig is.
Haar vingers druk teen haar kloppende lippe. Sy kan hom nog proe, nog voel. Ontsteld druk sy haar hemp styf teen haar bolyf en staar met groot oë na die wasbak.
Met ’n snik-lag laat sak sy haar kop teen haar bors. Bleddie hel. Dis hoekom sy die ruiker gemaak het van magrietjies, rooi angeliere en yarrows – haar hart ís gebreek. Want, en sy kan dit nie glo nie, sy het sowaar haar hart op die Skot verloor.