Fanie Viljoen

Jou Romeo


Скачать книгу

PowerCouple en hy wonder: Marko Marais + Lexi Ackerman = PowerCouple?

      Nah, sal nie werk nie.

      4

      #WegsteekDinge

      Dit was ’n lang dag, maar Yvette slaap nog nie. Hoe kan sy, ná wat Tyler vandag gesê het oor die Romeo and Juliet-begroting wat gesny is? Vir ’n ruk dwaal sy in haar kamer rond. Dan gaan sit sy voor die spieël. Ingedagte klik sy die liggies aan. Vandat sy dag en nag teater begin droom het, wou sy al só ’n grimeertafel hê met ligte reg rondom die spieël, nes in ’n regte teaterkleedkamer.

      Ingedruk in die een hoek is ’n foto van Romeo + Juliet. Die fliekweergawe met Leonardo DiCaprio en Claire Danes. In die spieël se weerkaatsing kan sy die plakkaat sien van Shakespeare in Love, die fliek wat haar verlief gemaak het op Shakespeare. Net een kyk in Joseph Fiennes, die hoofakteur, se oë en haar hart slaan bollemakiesie. Sy sou wat wou gee om Gwyneth Paltrow se rol as Viola de Lesseps te speel.

      Dis egter alles drome. Soms wonder sy of dit ooit waar sal word. Sal sy ’n aktrise kan word? Nie net ’n sepiester nie, maar een wat mense se harte aangryp.

      Terwyl sy hieroor wonder, haal sy ’n klam lappie uit die plastiekhouer op die tafel. Sorgvuldig begin sy haar grimering verwyder. Dan kyk sy vir haarself en glimlag. Dis soos die een kant van die drama-masker wat bo haar spieël hang. ’n Glimlag met ’n traan.

      Sy skakel die liggies af. Dan weer aan. Hierdie keer is haar mondhoeke gesak en kyk sy treurig vir haarself. Hartseer met groter hartseer.

      Lank sit sy so na haar spieëlbeeld en kyk. Na haar blou oë wat soms dinge wegsteek, wat kan droom en dink en wonder.

      Wonder oor wat?

      Romeo and Juliet?

      Yvette en Tyler?

      Sy glimlag stil. Binne haar maak iets ’n tuimeldraai.

      Liggies aan. Liggies af – terwyl sy dink aan die ou met die bril, die ou wat haar hart en drome ken.

      Die stoeplig brand toe Marko by hulle huis aankom. Sy ma se kamer lyk egter donker. Hy het haar darem laat weet hy gaan laat wees, sy hoef nie wakker te bly nie. Hy voel in sy rugsak vir die huis se sleutel. Kry dit. ’n Rukkie later knars die sleutel in die voordeurslot. Sag stoot hy die deur oop en stap binne.

      Hy is lekker moeg. Hy sal sy bed vanaand goed seermaak.

      ’n Staanlamp gloei op ’n kas in die eetkamer. Of is dit die portaal? Die huis is so klein dat die eetkamer en die portaal eintlik maar dieselfde plek is. Gelukkig voel dit nie so beknop met die hoë plafon nie.

      Uit die sitkamer flikker blou-en-rooi spatsels teen die gangmuur. Hy stap verby die eetkamertafel met sy wit papierblomme soontoe. In die loop laat gly hy sy rugsak van sy skouer af. Saggies sit hy dit neer, want sy ma lê op die bank en slaap – nie in haar kamer soos hy gedink het nie. Die TV se klank is afgedraai, maar die beelde flikker oor haar mooi gesig. Sy het nog haar grimering aan. En haar rooi hoëhakskoene. ’n Strooikussing is onder haar kop ingedruk. ’n Spiertjie spring effens by haar mondhoek, maar sy slaap steeds.

      Sy het seker probeer opbly vir hom, dié dat sy nie in haar kamer is nie. Sy is altyd so bekommerd oor hom. Wat sou hy ooit sonder haar doen? Die gedagte lê swaar in sy kop.

      Dan vang sy oog weer die flikkerende TV. Hy buk by die koffietafel om die afstandbeheer te kry en die TV af te skakel, sien dan die rekening onder die afstandbeheer. Nee, nie een nie. Hy blaai deur die velle papier. Drie rekeninge.

      Met rooi woorde beplak.

      Finale waarskuwing.

      Rekening agterstallig.

      Uitstaande betaling.

      Dis asof iets in hom donker word van bekommernis. Sy ma sê nie vir hom van dié goed nie.

      Ingedagte gaan kry hy ’n kombers in die kamer. Hy gooi dit versigtig oor sy ma. Maak seker sy is mooi toe. Dan staan hy weer terug. Skakel die TV af en wens skielik hy kan ook so maklik van die kommer in hom ontslae raak. Net klik! en dis weg.

      5

      #VeganWorsies&Wiskunde

      Die volgende oggend kom Yvette die kombuis vrolik binne. Tas oor die skouer en skoolbaadjie oor die arm. Haar lang hare is teruggebind in ’n poniestert. Dis ’n nuwe dag. Dalk kan sy Tyler se slegte nuus vergeet, of hulle kan ’n plan maak. Hulle sien mos vandag die skoolhoof.

      Haar ma staan by die stoof in ’n snyerspakkie en voorskoot. Een hand op die heup terwyl sy kosmaak. Haar hare is net so rooi soos Yvette s’n, en opgebind in ’n perfekte Franse bolla. Hulle huishulp, Maria, sit by die tafel en koerant lees. Iets oor ’n miljoenêr wat van moord aangekla is. Sy is ook netjies uitgevat, haar hare mooi gedoen in los krulle.

      “Môre, Ma. Sawubona, Maria,” groet Yvette.

      Maria kyk vinnig op, groet en lees dan verder.

      “Môre, skat,” sê haar ma.

      In die verbystap loer Yvette na die stoof waar vaal vegan-worsies in die pan braai. Soos gewoonlik is daar geen olie nie. “Dis gesond,” sê haar ma altyd, dan haal sy vir Shakespeare aan: “Our bodies are our gardens, to the which our wills are gardeners.” ’n Mens kan seker nie met Willem Wikkelspies stry nie, maar hy het seker nie ’n vegan-worsie in sy tyd gesien nie, wat nog te sê van een geëet?

      Yvette stap na die toonbank toe. ’n Gesondheidsbroodjie lê alreeds gesny op die broodplank. Langsaan lê ’n sakkie Pink Lady-appels. Sy kry een. “Ons sien vandag vir meneer Potgieter oor die produksie,” sê sy toe sy die appel vir later in haar skooltas glip.

      Haar ma se perfekte maroen lippe kry ’n streng trek. “Dit is ’n skreiende skande. Ek hoop regtig julle kan tot ’n vergelyk kom.”

      “Suka!” roep Maria skielik hard uit. Ontsteld wys sy na die foto in die koerant waar Yvette se ma buite die hof staan. Sy het haar swart toga aan, maar lig haar briewetas om teen die flitsende kameras te skerm. “You must smile at the camera sometime!” sê Maria asof sy goed vertroud is met die media en paparazzi-peste.

      Yvette se ma trek ’n gesig. Sy draai die stoof af, dan kom sy met die pan toonbank toe en begin die ontbyt in borde skep. “Daardie kamera-mense is soos aasvoëls.”

      Yvette kom sit aan. Haar wenkbroue lig. Sy kry ’n stoute glinstering in haar oë toe sy na Maria oorleun en fluister: “I advokheti nayo iyafana nenqe.” ’n Advokaat is eerder soos ’n aasvoël.

      Maria lag sameswerend.

      “Ek kan hoor hoe julle skinder,” sê Yvette se ma.

      Speels trek Yvette haar gesig. Uitgevang! Sy geniet dit om af en toe haar ma se been te trek. Sy is altyd so ernstig.

      “Daar’s hy, bon appétit!” roep haar ma uit en sit die kos voor hulle neer. Die borde klink op die graniettoonbank.

      Yvette loer onderlangs na Maria. Hulle huishulp se oë rek. Sy steek die vaal, vleislose worsie met haar vurk, klap haar tong. “Twenty-seven years in jail for vegan sausage?” Sy tik Yvette op die arm. “Ai, the struggle continues, my girl.” Toe lag sy lekker uit haar maag uit.

      Dis die slegste tyd van die dag vir Marko Marais. Wiskunde. Moeiliker as om ’n opwipbal te trotseer.

      Juffrou Goosen, die wiskundeonderwyser, stap paraat in die gangetjie tussen die lessenaars af. ’n Mens moenie toelaat dat haar mooi blonde hare, die pêrels om haar nek of die vintage-geïnspireerde rok jou mislei nie. Sy het so ’n G.I. Jane-klap weg. Dit maak haar scary.

      Vandag deel sy gemerkte toetsvraestelle uit. Een daarvan land op Mildred se lessenaar.

      Marko vou sy hand om ’n krieketbal.