haar ontsteltenis en verwarring raaksien – en moontlik die verkeerde betekenis daaraan toeskryf.
Toe Margaret die volgende middag van die hospitaal af kom, staan daar ’n yslike mandjie vol rooi en geel tulpe in die voorportaal.
“En dit?” vra sy vir Ingrid wat in die sitkamer besig is.
“Dis wat ek ook wil weet,” sê Ingrid. “Hier is die kaartjie.”
“Waarom het jy nie gekyk nie?” vra Margaret terwyl sy die koevert oopskeur.
Dis van Derek Ross: Dankie vir ’n genoeglike aand. Wanneer sien ek jou weer? Derek.
Sy gee die kaartjie vir Ingrid, bewus daarvan dat sy bloos.
“’n Man wat ek gisteraand ontmoet het. Hy het blykbaar meer geld as verstand,” sê sy kortaf en stap na haar kamer. Maar Ingrid volg haar, nuuskierig om meer te weet, en laggend vertel sy haar van haar kennismaking met Derek Ross.
Die volgende dag bel Derek haar by die hospitaal. Hy is in Pretoria vir sake en nooi haar om die aand saam met hom te gaan eet.
“Ek is jammer,” sê sy koel, beslis. “My dogter is hier van Stellenbosch …”
“Bring haar saam,” sê hy dadelik.
“Ons het ander planne vir vanaand,” maak sy ferm verskoning.
“Wanneer gaan sy terug?” wil hy weet.
“Volgende week. Ek is jammer, ek kan nie nou langer gesels nie – hier is ’n hele kamer vol pasiënte wat op my wag. En moet my asseblief nie weer by die hospitaal bel nie.” Sy groet en plak die telefoon neer.
Twee dae later, toe sy die middag tuis kom, kom Ingrid na haar toe.
“Het Ma nie lus om Saterdagaand na die Follies in Johannesburg te gaan kyk nie?”
“Ek gee nie om nie – as jy graag wil gaan. Maar dis baie vol bespreek, veral op ’n Saterdagaand. Ek twyfel of ons nog plek sal kry.”
“Ons is uitgenooi,” sê Ingrid ondeund.
“So? Wie het ons genooi?”
“Derek Ross.”
“Derek Ross?” Sy kyk Ingrid verbaas aan.
“Hy het my gebel – hy sê Ma raas met hom as hy hospitaal toe bel.”
Margaret soek na woorde. “Wat het jy vir hom gesê?” vra sy uiteindelik.
“Ek het vir hom gesê ek sal vir Ma vra, maar ons het geen ander afspraak vir Saterdagaand nie,” sê sy, die onskuld self.
“Ingrid!”
“Wil Ma nie gaan nie? Hy sê dokter Wagner sal ons bring. Na die vertoning gaan ons in daardie draairestaurant in die Hillbrowtoring eet.”
Margaret kyk haar onseker aan.
“Wil jy graag gaan?” As Paul saamgaan, verander dit seker die prentjie.
“Baie graag,” sê Ingrid gedwee. Van onder haar lang wimpers kyk sy na Margaret. “Dis maar stil hier, almal is weg en Ma is besig, en nou kan Arnold ook nie meer kom kuier nie …”
“Dis goed, ons kan gaan. Sal jy vir meneer Ross bel, aangesien julle die afspraak gereël het?” sê Margaret droog.
Ingrid lag. “Hy sal weer bel. Gelukkig het ons daardie mooi swart rok vir Ma gekoop.”
Margaret glimlag nie en tergend sê Ingrid: “Moenie so kwaai lyk nie – ek dink dit gaan ’n baie interessante uitstappie wees. Ek dink ook dis noodsaaklik dat ’n dogter haar ma se vriende ken!”
Margaret glimlag onwillig. Haar ernstige dogter is besig om in ’n sjarmante jong vrou te ontluik.
Paul het hulle die Saterdagmiddag kom haal. Hy het sy aandpak aan en lyk besonder aantreklik.
Die grys oë is koel toe hy na die mandjie vol pragtige tulpe kyk. “Van ons vriend, neem ek aan. Hy is ’n bevoorregte man. Hy kry in een aand reg wat ek in jare nie kon regkry nie.”
Margaret het Paul nog nie gesien na die aand van die dinee nie – behalwe so skrams in die verbygaan by die hospitaal – en ’n skielike verleentheid maak haar stem skerper as gewoonlik.
“Moenie met mý raas nie. Jy het die man aan my voorgestel, en hy en Ingrid het die afspraak gereël.” Koud voeg sy by: “Ek sou in elk geval nie gegaan het as jy nie saamgegaan het nie.”
Hy kyk na haar, maar antwoord nie.
Margaret het die aand bo verwagting geniet. Hulle is eers na Derek se huis toe, vir ’n drankie en versnaperings voor die vertoning. Die huis was gevul met pragtige antieke meubels, Persiese tapyte, kosbare skilderye en beeldhouwerk. Daar was vir haar en Ingrid elkeen ’n orgidee en ingevoerde sjokolade. Die vertoning was uitstekend, die ete in die restaurant, met die Goudstad se liggies soos ’n towertapyt onder hulle uitgesprei, ’n besondere ervaring.
Derek was ’n sjarmante en onderhoudende gasheer en Paul het saamgespeel, rustig en ontspanne. Margaret was trots op haar mooi dogter wat haar dit alles laat welgeval het en haar man met gemak kon staan in al die gesprekke oor kuns, musiek en wêreldsake.
’n Besondere aand in alle opsigte, dink Margaret toe hulle in die vroeë oggendure weer terug Pretoria toe ry. Derek Ross is ’n man om mee rekening te hou. Dit was slim om Paul en Ingrid saam te nooi vanaand. Alleen, het hy geweet, sal sy nie kom nie.
En Paul? Hy is stil, sy oë op die pad voor hom, en sy kon maar net raai wat in sy gedagtes omgaan.
Margaret is die volgende oggend besig om tee te drink toe Ingrid, nog in haar slaapklere, by haar kom.
Sy grinnik vir Margaret. “Het ek gedroom? Of het gisteraand regtig gebeur?”
“Het jy dit geniet?”
Ingrid sug. “Dit was fantasties. ’n Regte storieboekaand. Is Ma nou nie bly ons het gegaan nie?”
“Ek het dit geniet, ja,” glimlag Margaret.
“’n Slim man,” sê Ingrid nadenkend. “Die storieboekaand is meesterlik gereël. Ek wonder wat die volgende skuif sal wees.”
“Jy praat in raaisels, my kind,” sê Margaret liggies.
“Moenie vir jou dom hou nie, Ma. En wat jy ook al doen, moenie vir meneer Derek Ross onderskat nie.”
“Ek sal nie,” belowe Margaret liggies.
“’n Interessante man,” mymer Ingrid verder. “En ek kry skoon hoendervel as ek dink aan daardie huis van hom – al die kosbare dinge wat hy daarin versamel het! En tog,” vervolg sy sagter, “as ek kón kies, sou ek die dokter kies.”
Margaret antwoord nie en Ingrid sug.
“Jammer dat ek volgende week al moet teruggaan. Ek sou graag ’n rukkie langer wou bly en sien wat gebeur.”
“Daar sal niks gebeur nie. Ek belowe jou. Jy kan met ’n geruste hart terug Stellenbosch toe gaan.”
Ingrid skud haar kop. “Ek kan nie wag om vir my maats van my ma se twee fantastiese ouens te vertel nie.”
“Ingrid!” Margaret se stem is koud, maar Ingrid lag.
“Gelukkig het ek vir Arnold, anders was ek baie jaloers. Gelukkig ook dat ek daardie foto het wat die fotograaf van ons in die restaurant geneem het, anders sou my maats my nooit geglo het nie.”
“Ek dink glad nie dis snaaks nie, Ingrid. Vir ’n groot meisie wat van beter behoort te weet praat jy die grootste onsin.”
“Ek probeer nie snaaks wees nie,” sê Ingrid laggend. “Ek dink jy is wonderlik, Ma. Jy moet alles vir my skryf, hoor,” flikflooi sy. “Ek wil weet wat aangaan.”
“Daar sal niks aangaan nie,” sê Margaret ferm. “Ek het werk om te doen, ’n eksamen wat voorlê, ’n dogter wat die einde van die