Paul het teruggekom en vir haar ’n mooi geborduurde trui, ’n syserp en Franse parfuum saamgebring, maar haar vreugde in die geskenke is heelwat gedemp toe sy van Ellen verneem dat Magda ook ’n syserp en parfuum gekry het, en met genoeë vir almal daarvan vertel het.
’n Syserp en Franse parfuum – lekker onpersoonlike geskenke wat jy vir jou vriendin, jou ma, jou suster of jou aanstaande met die grootste veiligheid en vrymoedigheid kon gee!
En die trui met die blou blomme, presies dieselfde blou van haar oë?
Dalk het Magda ook ’n trui gekry, dink sy suur, met Edelweiss of blou vergeet-my-nietjies uitgeborduur.
Sy het in dié dae min van Paul gesien en nadat hy twee keer by die huis aangekom en vir Derek daar gekry het, het sy nog minder van hom gesien.
Margaret was besig met haar werk, haar studies, reëlings vir Ingrid se troue – die dae was te kort vir alles wat sy moes doen, maar sy het Paul gemis. Daar was ’n leemte in haar lewe wat die werk en al haar bedrywighede nie kon vul nie. Af en toe het hy nog onverwags daar aangekom, ’n drankie saam met haar gedrink en haar vir ete geneem, maar hy het nooit meer vir haar “Maggie” gesê of haar gesoen nie. Die grys oë was koel en onpersoonlik.
Is hy besig om hom aan haar te onttrek? het Margaret ongelukkig gewonder. Is dit oor Derek? Of oor Magda?
Vir Derek het sy dikwels gesien. Hy het gereeld gebel of blomme gestuur en dikwels onverwags opgedaag om haar vir ete uit te neem. Net voor hy in September Europa toe is, het hy Margaret gevra om met hom te trou. Hy was nie die minste afgehaal of teleurgesteld toe sy die huweliksaansoek vriendelik maar beslis van die hand wys nie.
“Ek het nie verwag dat jy die eerste keer ja sal sê nie,” het hy gesê. “Maar ek sal jou weer vra, en ek sal aanhou met vra tot jy ja sê. En ek moet jou waarsku, Margaret – op die ou end kry ek gewoonlik wat ek wil hê.”
“Dis nie goed vir ’n man om alles te kry wat hy wil hê nie,” antwoord sy spottend. “Ek sal nie met jou trou nie, Derek. Aanvaar dit asseblief. Jy sal dit vir ons albei makliker maak.”
“Ons sal weer gesels,” antwoord hy kalm, seker van homself, en Margaret is bewus van ’n ligte roering van onrus.
Derek het teruggekom met duur geskenke vir haar en Ingrid – wat sy nie kon of wou aanvaar nie – en kalm en onverstoord sy hofmakery voortgesit. Dit was Oktober, die pers waas van die jakarandas het oor die stad gehang, die skemeraande met nostalgie vervul. Twee jaar sedert Charl dood is, dat die ou bekende wêreld om haar ineengestort het. Twee jaar van aanpassing, van harde werk en doelgerigte strewe om vir haarself ’n nuwe, positiewe lewe te bou.
Een oggend, nadat sy hom byna veertien dae lank nie gesien het nie, kom Paul onverwags na haar kantoor toe. Hy groet en sy kyk ’n oomblik lank stil na hom.
“Dag, vreemdeling,” sê sy sag.
Sy wenkbroue lig effens. “Is dit ’n verwyt?”
“Dit is. Ek het jou lanklaas gesien.”
“Ek was Kaap toe vir ’n kongres. Ek het gister eers teruggekom.”
Hy was Kaap toe sonder om vir haar te sê hy gaan weg, dink sy met ’n vreemde gevoel van pyn en teleurstelling.
“Ek het nie geweet jy gaan Kaap toe nie.”
“Ek het jou een aand gebel – ek wou kom kuier – maar jy was nie tuis nie.” Is daar verwyt in sy stem? “In elk geval, ek wou net vir jou sê jou dogter stuur groete.”
Haar gesig verhelder. “Ingrid? Het jy haar gesien?”
“Net ’n paar oomblikke lank. Ek wou gehad het sy en haar verloofde moet een aand saam met my kom eet, maar ons kon nie ’n aand inpas nie. Ek was een middag op Stellenbosch en het gou vir haar gaan dagsê.”
“Dit was vriendelik van jou,” sê sy stil.
Hy kyk ’n oomblik lank af na haar. “Gaan dit goed met jou, Margaret?”
“Goed, dankie.” Sy aarsel, dan glimlag sy vir hom. “Kom kuier vir my – as jy nie te besig is nie. Ek wil met jou gesels.”
Daar is iets waaksaams in die grys oë, dan knik hy. “Sal jy vanaand tuis wees?”
Hy het gekom, vir hulle ’n drankie geskink, en hulle het oor die kongres gesels. Sy het intussen uitgevind dat hy ’n referaat moes lewer, toe vra hy: “Wat wil jy vir my sê, Margaret?”
“Ek wil niks vir jou sê nie. Ek wil vra: waarom is jy vir my kwaad?”
Hy kyk na haar, sy blik ondersoekend.
“Ek is nie vir jou kwaad nie,” sê hy stil.
“Wat makeer dan? Waarom sien ek jou nooit meer nie?”
“Ek het jou gesê, ek was weg …”
“Ek weet jy was weg, maar jy weet ook dis nie al rede nie.”
“Nee, dis nie al rede nie.” Sy stem is meteens ferm, beslis. “En miskien sal dit goed wees as ons die saak ’n slag uitpraat.”
“Watter saak?”
“Derek Ross. Gaan jy met Derek trou, Margaret?”
“Daar is geen sprake van so iets nie.”
“Dis nie die indruk wat ek – of jou ander vriende – gekry het nie.”
“Julle is verkeerd, hopeloos verkeerd,” sê sy ontsteld.
“As jy nie van plan is om met hom te trou nie, waarom moedig jy hom aan om te kuier – ontvang sy blomme en geskenke?”
“Ek moedig hom nie aan nie! Ek ontvang ook geen geskenke van hom nie. Ek het vir hom gesê – baie beslis – dat ek nie met hom sal trou nie, maar hy weier om dit te aanvaar.”
“Jy gaan gereeld nog saam met hom uit.”
“Nie gereeld nie, net af en toe. Ek hou van hom, al wil ek nie met hom trou nie.” Sy aarsel en sê dan sagter: “Ek het nog nooit beswaar gemaak omdat jy vir Magda Jooste uitneem nie.”
Sy is spyt die oomblik toe die woorde uit is. Daar is die sweem van ’n glimlag op Paul se gesig, dan sê hy: “Sou jy verkies dat ek nie met Magda uitgaan nie?”
“Jy kan uitgaan met wie jy wil, net soos ek die reg het om uit te gaan met wie ek wil.”
“Presies. Dan is ons terug waar ons begin het.”
Daar is ’n knop in haar keel; sy voel hartseer en teleurgesteld. En kwaad! Paul staan op om vir hom nog ’n drankie te skink, dan, met sy rug teen die kaggel geleun, kyk hy na haar.
“Terwyl ons nou op die onderwerp is – daar is ’n ander sakie wat ek ook graag vir jou wil noem. Ek het vir jou gesê ek wil graag met jou trou en dat ek bereid is om te wag tot jy gereed is. Ek wil vanaand net byvoeg – moenie my te lank laat wag nie, my geduld het ook perke.”
Dis stil in die vertrek. Doodstil. Toe sê hy: “Begryp ons mekaar?”
“Ons begryp mekaar goed,” antwoord sy styf.
Toe nooi hy haar om saam met hom te gaan eet, en na ’n oomblik se huiwering willig sy in. Vanaand is nie die aand om op haar punte te staan nie!
Toe hulle klaar geëet het, sê Paul: “Ek wil vir jou iets vra, Margaret.” Hy sien die skielike waaksaamheid in haar oë, en hy glimlag effens. “Ek wil hê jy moet na dokter Gous gaan. Ek sal ’n afspraak vir jou reël.”
“Dokter Gous, die internis! Dink jy ek makeer iets?”
“Jy is nog steeds besig om gewig te verloor en met jou eksamen wat op hande is en Ingrid se troue wat voorlê, kan jy dit nie bekostig nie.” Hy kyk na haar en glimlag. “Sal jy maar gaan – om my te plesier?”
“Dis goed,” sê sy met vreemde inskiklikheid.
“Daar