na hom en voel die harde geklop van haar hart.
“Wat bedoel jy daarmee?” vra sy koel.
“Werk dit vir jouself uit, dokter Van Zyl. Kom ons gaan eet – ek is honger.”
“Dan moet ek iets anders gaan aantrek,” maak sy beswaar.
“Dis nie nodig nie. Jy lyk baie mooi soos jy is.”
“Asof jy ooit raaksien wat ek aanhet, behalwe die wit doktersjas.”
Hulle het lekker geëet. Sy het gesien hoe Paul ontspan en hulle het na ete langer as wat hulle bedoel het nog gesit en gesels.
Hulle is met hulle derde koppie koffie besig toe ’n man en vrou na hulle tafel toe kom. Die vrou is elegant aangetrek en dra ’n blink rok met juwele en ’n swierige pelsstola.
“Geluk met die operasie,” sê die man. “Ek hoor dit was ’n skitterende sukses.”
Sy vrou wens ook vir Paul geluk en hy bedank hulle. Dan kyk hy na Margaret: “Ek weet nie of jy vir dokter en mevrou Prinsloo ken nie?” vra hy. “Dokter Margaret van Zyl – ’n ou studentevriendin van my,” voeg hy met ’n glimlag by.
Die Prinsloos groet en Margaret is bewus van die vrou se nuuskierige blik. Dit sal natuurlik gebeur dat hulle mense raakloop die een keer dat sy in ’n gewone broekpak kom eet!
“Ons sien jou Saterdagaand, nè?” sê mevrou Prinsloo. “Magda sê sy het met jou gereël – jy sal haar bring.”
“Ek sal haar bring,” sê Paul. “As jy klaar is, Margaret, is dit seker tyd dat ons ook huis toe gaan.”
Margaret staan dadelik op en saam stap hulle en die Prinsloos die restaurant uit – Margaret opnuut bewus van die elegansie en deftigheid van mevrou Prinsloo.
“Wie is die Prinsloos?” vra sy toe hulle huis toe ry.
“Dokter Prinsloo het vroeër op die platteland gepraktiseer – nou spesialiseer hy in narkose. Ek het hulle eintlik op Plettenbergbaai leer ken. Hulle het ’n huis daar.”
Eers toe hulle amper by die huis is, vra sy: “En wie is Magda?”
“Magda Jooste, mevrou Prinsloo se suster, het die vakansie by hulle op Plett gekuier.” Hy is ’n rukkie lank stil, dan sê hy: “Magda is eintlik ’n Kapenaar. Sy het verlede jaar ná haar man se dood na Pretoria verhuis.”
Margaret vra geen verdere vrae nie.
By die huis stap Paul saam met haar en sluit die voordeur vir haar oop.
“Dankie. Dit was baie lekker,” sê hy. Onverwags sit hy sy hand onder haar ken, en vir ’n oomblik kyk hy in die halfdonker af na haar. Dan soen hy haar liggies op die mond.
“Nag, Maggie,” sê hy sag, draai om en stap weg.
Sy kyk hom agterna totdat hy in sy motor klim en wegry. Sy voel nog die ligte aanraking van sy lippe op hare en is bewus van die vinnige klop van haar hart.
’n Troosgebaar ná haar verleentheid die oggend in die teater? Die goeie vriend wat altyd daar is as sy hom nodig het?
Terwyl sy gereed maak om bed toe te gaan, dink sy weer aan die Prinsloos en die nuuskierigheid in die vrou se oë toe Paul hulle voorgestel het. Asof sy met buitengewoon baie belangstelling na dokter Margaret van Zyl kyk!
En Magda Jooste? Dis of daar skielik ’n koel windjie deur die kamer waai. Sy het ’n gevoel dat sy in die toekoms nog dikwels van Magda Jooste gaan hoor.
Hoofstuk 5
Daardie Saterdagmiddag bel Ellen Venter en nooi Margaret om die aand te kom kuier. Haar man is na ’n noodvergadering in Johannesburg, haar kinders het ander afsprake en sy is alleen.
“Ek verlang na jou,” sê Ellen. “Jy het ons die laaste tyd gruwelik afgeskeep.”
“Ek sal kom,” sê Margaret dadelik. Sy was van plan om die aand te werk, maar die hele middag al dwaal sy doelloos in die huis en tuin rond, te rusteloos om iets te doen. Omdat dit Saterdagaand is en sy alleen is? Of omdat Paul vanaand saam met Magda Jooste na die Prinsloos se partytjie toe gaan?
“Wat maak jy met jouself dat niemand jou sien nie?” raas Ellen nadat sy vir hulle elkeen ’n drankie geskink het.
“Ek werk,” antwoord Margaret liggies. “Ek woon lesings by en ek studeer. Is dit nie genoeg nie?”
“Ek weet jy werk hard, maar jy mag jou nie so aan jou vriende onttrek nie,” sê Ellen sag, verwytend.
“Ek het my nie doelbewus aan my vriende onttrek nie,” antwoord Margaret. “Maar julle het julle gesinne, julle lewens is vol en besig. Ek moet van voor af ’n nuwe lewe probeer bou. Dit neem tyd om aan te pas, om jou voete weer te vind.”
“Ek besef dit goed. Maar jou vriende wil jou graag help.”
“Ek weet nie of hulle my kan help nie. Ja, ek weet ek het my vriende verwaarloos, maar elkeen moet sy verlies op sy eie manier verwerk. Vir my is my werk by die hospitaal en my kursus die beste terapie wat ek kon gekry het. So stadigaan help dit om weer sin aan my lewe te gee.”
“Jy is gelukkig dat jy jou beroep gehad het.”
“Dis deur Paul se toedoen,” sê Margaret. “Dis hy wat vir my gesê het ek kan nie van my hartseer weghardloop nie. Dis hy wat my daaraan herinner het dat ek ’n dokter is, dat ek nog werk het om te doen.”
’n Rukkie is dit stil tussen hulle, dan sê Ellen: “Jy ken Paul al lank, nie waar nie?”
“Baie jare. Ons het saam medies geloop – hy was toe al die beste student in ons klas. Deur die jare het ons ’n bietjie kontak verloor, maar vandat Charl dood is, beteken sy vriendskap vir my baie.”
“Is dit net vriendskap, Margaret? Ons het so gehoop jy en Paul … ?”
“Ons is goeie vriende, niks meer nie. Ek wil ook niks meer hê nie. Altans, nie op die oomblik nie. Ek het my kind, my werk, my studies, my huis – ek maak die beste van elke dag wat vir my gegee is, maar te ver vorentoe kan ek nog nie kyk nie.”
“As jy nie met Paul trou nie, is daar genoeg ander wat sal spring as hulle die kans kry!”
Margaret antwoord nie, en Ellen vra: “Het jy al vir Magda Jooste ontmoet?”
“Nee.” Dan sê sy kalm: “Ek het van haar gehoor – ek het nou die aand haar suster ontmoet. Wat van Magda Jooste?”
“Sy is besig om haar flikkers vir Paul te gooi. Ek het hulle in die laaste weke al twee maal saam gesien – een aand by die simfoniekonsert en die aand met die première van Rigoletto. Hulle was saam met die Prinsloos daar.”
En vanaand is sy saam met hom na die partytjie toe! Margaret is stil. Paul het haar die afgelope tyd ’n paar keer gevra om saam met hom na ’n musiekkonsert of opera toe te gaan, maar sy het elke keer nee gesê. Nie omdat sy nie in musiek belangstel nie, maar omdat sy weet hulle vriende sal praat en afleidings maak waarvoor sy nog nie gereed is nie. Maak sy ’n fout?
“As Paul met Magda Jooste of enigiemand anders wil trou, kan ek niks daaraan doen nie,” sê sy koel. “Maar vertel my van die voortreflike Magda Jooste. Is sy mooi?”
“Baie. ’n Heuningblondine – of die kleur eg is, weet ek nie, maar dis baie effektief.”
Margaret grinnik effens. “Wat nog?”
“Jonk – sy lyk in elk geval jonk, so vyf, ses en dertig – opgewek, sjarmant en goeie geselskap. Sy trek pragtig aan. Sy was getroud met Martin Jooste, ’n sakeman wat baie ouer as sy was. Hy is verlede jaar in ’n motorongeluk dood.”
“Het sy kinders?”
“Nee. Daar is stiefkinders – wat omtrent alles erf.”
“Dis gemeen van die oubaas!”
“Sy het genoeg om goed