Die skip kraak asof dit besig is om middeldeur te breek. Die vertrek draai skeef en alles wat nie vasgespyker of -gepak is nie, skuif teen die afdraande af. Een van die kinders rol by my verby en ek keer betyds voor sy kop die muur tref. Die seuntjie klou huilend aan my vas.
“Dis oukei, moenie bang wees nie,” fluister ek teen sy traannat wang.
Oukei. Régtig? Ons is terug in die sewentiende eeu op ’n seilskip wat besig is om uitmekaar te breek, met ’n helse storm daar buite en die Ander wat most probably oor ’n paar uur vir ons gaan kom kuier as die freaking Poort oopgaan.
Oukei? Nee, beslis nie.
6
Vir die volgende ruk heers daar totale chaos om ons. Kinders huil, vroue gil en die mans skree vir mekaar terwyl hulle die los goed probeer vaspak.
Tussen dit alles deur, sien ek haar meteens voor my staan. Madeline. My oer-oumagrootjie se oë blink van die koors en haar wange gloei soos twee kole vuur. Sy kyk smekend na my. “Sauvez-nous.” Red ons.
Ek lig my hande, maar sy verdwyn voor ek aan haar kan raak. Ek laat sak my arms.
“Kali?” Tara sit regop en steek haar hand uit na myne.
“What’s wrong?” vra Nomsa en vat my ander hand.
Hulle hande is warm in myne. Ek kyk af. In die skemer is die ligstrepie duidelik sigbaar. Dit loop van ons hande af teen ons arms op, oor ons koppe en weer aan die ander kant af. Die lig wat ons saambind.
“Dis die antwoord,” sê ek sag.
Nomsa frons. “Die antwoord vir wat?”
Ek swaai om. “Kom, ek weet nou wat om te doen,” roep ek oor my skouer.
“Hell’s bells, Kali, jy weet mos jy moenie try om haar te Heel nie,” sê Nomsa toe ons by Madeline se bed kom.
Haar man is langs haar gehurk om te keer dat sy nie van die skommelende bed afrol nie. “Wat is dit?” vra hy verward toe hy ons sien.
“Staan bietjie op, ons sal by haar sit,” sê ek.
Toe hy weg is, gaan kniel ek by die koppenent van die bed en sit my hande op haar kop. “Nomsa, sit jou een hand op my skouer en die ander hand op Madeline se maag. Tara, doen jy dieselfde, maar sit jou hand bo-op Nomsa s’n op Madeline se maag, sodat ons ’n sirkel vorm.”
“En nou?” vra Nomsa toe hulle dit klaar gedoen het.
“Nou wag ons vir die lig,” sê Tara terwyl sy stip na ons arms kyk.
“Watter lig? Hoekom weet ek nie van ’n lig nie?” vra Nomsa agterdogtig.
“Ons het dit nou die aand in die Raadsaal gesien toe ons hande vasgehou en gefokus het om Bospoort se Poort toe te hou,” verduidelik ek.
“En julle sê my niks nie?”
“Shush nou eers,” maak ek haar stil.
Dit vat ’n paar sekondes voor die ligstrepie net bokant ons hande en arms verskyn.
“Wow, dis cool,” sê Nomsa.
“Dit is soos in my droom. Together our powers are stronger,” sê Tara. “So kan ons help dat jy haar Heel sonder om self seer te kry.”
Ja, oukei, oor daai een is ek nog nie so honderd persent seker nie, maar hopelik sal my hart nie weer oppak soos toe ek vir Zak ná sy motorongeluk Geheel het nie.
“Wat ook al gebeur, moet net nie mekaar se hande los nie, oukei?” Ek maak my oë toe. Here goes.
Koue rillings glip en gly oral oor en in my lyf rond. Ek loop op ys. Met elke tree wat ek gee, bars die ys verder. Stukke begin breek en van mekaar af wegdryf. Dan gly ek in die water in. My hande gryp bokant my kop en vat die rand van ’n stuk ys raak. Net toe ek myself daaraan boontoe wil trek, verbrokkel dit en sink ek in die yskoue dieptes af.
Alles word stadiger. My hartklop, die tempo waarteen my longe die nat suurstof uit die ysige water haal, en die beweging van die bloed deur my are. Die stilte raak skemer om my. Al hoe donkerder. Ek voel en hoor niks meer nie. Ruik net die donker stilte.
Dan gryp iemand my aan my hande en ruk my boontoe. My kop stamp teen iets solieds bokant my. Ek kyk op. Deur die ys sien ek Nomsa en Tara se gesigte. Hulle oop monde roep sonder klank na my. Ek slaan teen die ys, maar dit wil nie breek nie. Ek roep na hulle. Die vibrasies van ons stemme kap en kap teen die ys tot dit verbrokkel. Die lig op die oppervlak is so skerp, ek wil my oë toemaak, maar Nomsa skud aan my en Tara roep my naam.
“Kali!” roep sy weer.
Ek skud my kop. Ouch, dit voel of iemand my met ’n hamer teen my kop geslaan het.
“Wat gaan hier aan?”
Ek knip my oë tot die kwaai gesig voor my in fokus kom. Dit is die ongeskikte vrou wat vroeër haar rug op ons gedraai het.
“Wat het julle met die dokter se vrou gedoen?”
“Niks nie,” sê ek. “Ons het net by haar gesit sodat die dokter bietjie kon opstaan.”
“Moenie lieg nie – dit was een of ander onheilige ritueel. Ek het dit met my eie oë gesien!” Sy swaai om toe die dokter naderkom. “Dié meisies het iets met jou stomme vrou gedoen. Kyk net …” Sy bly stil en staar na Madeline.
“Oh. My. Goodness,” sê Nomsa.
Madeline du Plessis se oë is oop en daar is ’n onseker glimlag om haar lippe. “Jean?”
“My lief!”
Jean se arms het skaars om sy vrou gevou, of die skip ruk en skud weer so wild dat almal na vashouplek moet gryp. Terwyl ons drie aan mekaar vasklou, sukkel ons terug na ons bed. Daarna, vir wat soos ’n ewigheid voel, sit ons en luister terwyl dit klink asof die storm die skip plank vir plank uitmekaarhaal.
Shitters, maybe moet ons freaking vinnig uitfigure hoe om huis toe te Reis. Daar’s natuurlik net een probleem: as ons weg is as die Poort oopgaan, is daar niemand wat die passasiers en bemanning teen die Ander kan beskerm nie. Dis nou as ons nie almal anyway teen middernag saam met die skip op die bodem van die see lê nie.
7
“I’m worried about Leonardo,” sê Tara ’n ruk later. “Hy het lanklaas vir ons iets gesein.”
“Ek wonder hoe laat is dit,” sê Nomsa. “Dit help nie ons sit hier onder en weet nie eens as die Poort oopgaan nie.”
Ek staan op. “Julle is reg. Dit kan nie meer te ver van middernag af wees nie.”
Leonardo? sein ek boontoe. Stilte. My asem steek in my keel vas. Het hy iets oorgekom?
Wat is dit? sein hy dan terug. Is julle oukei?
Ons is, maar wat van jou? Hoe lyk dit daar bo?
Sleg. Die een mas het gebreek en op twee van die matrose geval.
Lewe hulle nog?
Lyk darem so.
Ons kom boontoe. Dalk kan ons hulle Heel. Julle het nou al die matrose nodig om die skip te help regop hou.
No ways. Vergeet dit. Ek kan nie julle ook nog babysit nie.
Jy hoef nie, ons kan na onsself kyk. Ons moet anyway bo wees as die Poort oopgaan.
Stilte. Leonardo?
Oukei dan. Ek sal julle kom haal. Maar julle maak presies soos ek sê. Capisce?
Jeez, ek háát dit as hy dink hy’s die baas. Maar ek het al geleer hoe om hom te handle – ek sê nou ja, en maak later anyway wat ek wil.
Ja, oukei, maak net gou.
Oomblikke later maak Leonardo die valdeur oop en water stroom ondertoe. Dit klink of die see en die wind ’n hengse rave party op die dek hou. Halfpad teen die leer uit, kyk ek om na Tara en Nomsa agter