ontrafel.
Daar was ’n glips. ’n Stapeltjie dokumente het op die eetkamertafel gelê toe ek een oggend voor skool daar gaan sit om my pap te eet. Queenie was by die kombuistafel met haar ontbyt besig en ek was nie lus vir haar nie. ’n Prokureur was die vorige aand by Daddy. Ma het nie die bespreking bygewoon nie en was al in die bed toe die man weg is. Seker daarom dat die dokumente nog op die tafel gelê het. Ek het deur die papiere begin snuffel. My ouers se huweliksertifikaat en my en Queenie se geboortesertifikate was heel bo. Ek het nog met van die papiere in my hande gesit toe Ma in die vertrek inkom. Sy het dit vervaard gegryp, maar sy was te laat. Ek het klaar gesien en ek kon nie help om te vra nie.
“Het Ma ingeslaap toe Ma by die Dicksons kom werk het?” wou ek weet. Sy het haar kop geknik. “Nou waar het Ma geslaap?”
My ma het vir ’n paar tellings op die vloer gekyk en toe gepraat. “Ek het eers in die buitekamer gebly, maar toe Daddy klaar was met sy studie het ek in die spaarkamer ingetrek. Jou pa het ’n kantoor nodig gehad.” Toe het sy die mou van haar trui opgetrek en op haar horlosie gekyk. “Jy moet opskud, jy gaan laat wees,” het sy gesug.
Sy wou net van my ontslae raak, het ek geweet. Daar was hope tyd om by die skool te kom.
Die middag was ek reg met die res van my ondervraging. Kamstig onskuldig, want ek het geweet wat die antwoord is. Ek was net nuuskierig om te hoor hoe my ma die waarheid sou omseil. “Hoekom is Daddy nie saam met sy ma terug Engeland toe nadat sy pa dood is nie?” Daddy het nie teen sy sin gebly nie, dit het ek reeds geweet. Sy ma was skaars weg, toe trou hy met Ma en volgens Queenie se geboortesertifikaat was sy drie maande later in die Dickson-huis.
“Jy moet dit vir hom vra,” het Ma geskerm en uitgestap in die gang. Slim. Sy het geweet ek en Daddy groet skaars. Net by die deur uit het sy omgedraai en weer tot by my gekom. “Dit was nooit maklik vir jou pa om met verandering tred te hou nie,” het sy gesê en my in die oë gekyk. “Hy het verkies om sy lewe hier saam met my voort te sit.” Ons het albei geweet ek weet.
Die binnedeur en die luike voor die venster van Daddy se slaapkamer is gedurende sy aanvalle toe gehou. Net in die een hoek van die kamer het ’n kers gebrand. Bedags en snags. Die kers is agter ’n swart sambreel wat as skerm moes dien, aangesteek sodra die hoofpyn toegeslaan het. Elektriese lig was te skerp vir sy oë, het Daddy gesê. Donkerte het hom vasgedruk en die kers het hom gesus. Dit het hy ook gesê.
Queenie het al vroeg in haar hoërskooldae vir Ma begin help met ons pa se versorging tydens sy aanvalle. Op Daddy se versoek, het Queenie my oor en oor hoogs tevrede ingelig. Sy, ons pa se ewebeeld met haar klein donker ogies en lang swart, reguit hare wat sy in haar nek vasgemaak het, het sy vertroue in haar vertroetel. Afgunstig vertroetel. Dis ek wat Ma se blou oë en eens blonde krulhare gekry het.
Op ’n Vrydagmiddag, net ’n paar weke nadat ek die sertifikate onder oë gehad het, het Ma my in my kamer kom roep. “Daddy se asynlap moet omgeruil word, Isabella. Dis tyd dat jy ook help.”
Ek onthou dat yskoue druppels tussen my blaaie begin afrol het. Dit sou die eerste keer wees wat ek gestuur word met die stink lap. Daddy was toe al twee dae in sy migraine in. Dit was Queenie se gesig wat my die lap laat vat het.
My suster het in die gang verskyn, teen haar kamerdeur se kosyn geleun en my aangegluur. Dit was haar heilige grond waarop ek gevra is om my voete te sit. Drie jaar lank het sy toe al alleenreg gehad. Haar kop het eers in Ma se rigting gedraai, toe in myne. Ek kon die vuur van jaloesie in haar oë sien brand.
Toe vat ek die lap.
In die slaapkamer, nog voor ek my hand op die koperknop kon sit om die kamerdeur agter my toe te trek, het ek naar gevoel. Ek kon die kos in my keel voel opstoot. Ek het my pa – in die vlugtige oomblik van sterker lig voor die deur heeltemal toe was en in die flikkering van die kers – poedelnakend op sy rug op die bed sien lê.
Ma het my voorberei op die naaktheid. “Jy moet weet, as die hoofpyne Daddy vat, word hy so benoud dat hy al sy klere uittrek om verligting te kry,” het Ma my gesê nadat sy die lap in my hand gestop het. “Wees eerbiedig en maak of jy ‘dit’ nie raaksien nie.” Sy het met haar oë in die rigting van haar buik beduie.
Ek het, nadat ek die deur toegetrek het, die paar treë in die rigting van Daddy op sy bed begin aftree. Stadig en sluk-sluk. My oë het eers op die vloer gebly, maar die prentjie van die kaal man het by my gespook en ek moes loer. Ek het gesien hy strek ’n oop hand na my toe uit en maak sy oë toe toe ek amper by die bed was. “Dit” het effens geroer. Die naarheid het gewen toe ek langs die bed kom. Ek het my hand uitgestrek in die rigting van my pa se voorkop, maar die asynlap het op die vloer geval. Toe kots ek ’n boog oor die bed. Meesal oor die voetenent, maar ek het gesien hoe spatsels op sy bene en lyf en op “dit” beland. Hy het gillend orent gekom. Ek het geskrik, omgedraai en uit die kamer gevlug. In my vaart het ek amper teen Queenie net buite die deur gebots.
“Gee pad,” het sy gesis. “Ek het geweet jy sal dit nie regkry nie. Uit is jy. Ek sal Daddy gaan help.” Toe het sy die kamer binnegestorm.
Ek het verstom voor die deur bly staan. “Good riddance,” kon ek haar hoor sê. “Now it’s just you and me, Daddy-love.”
Ma het my in die gang kom haal. Net voor ons die deurslot hoor toeklik het, het ons albei die kloekende soengeluide uit Daddy se mond gehoor.
My ma se kop het opgeruk en haar vuiste het styf inmekaargeklem voor haar bors tot stilstand gekom. Net vir ’n paar tellings. “Kom ek help jou uit jou vuil klere,” het sy gesê. “Dan gaan bad jy.”
Toe ek uit die badkamer kom, van kop tot tone gewas en met skoon klere aan, het ek Ma betrap waar sy met haar oor teen Daddy se kamerdeur staan. Queenie was nog steeds daar binne.
“Ek maak net seker dat Daddy rustig is,” het sy begin verduidelik toe sy omkyk en my sien. “Jy weet tog sy siel is kwesbaar.”
’n Ruk later het Ma en ek in die kombuis gehoor hoe die slot van Daddy se kamerdeur oopgesluit word. Ek het my huiswerk by die kombuistafel sit en doen en Ma het met ’n houtlepel gereed gestaan om ’n pot kokende sop op die stoof te roer toe Queenie haar voete oor die kombuis se drumpel sit.
“Daddy is baie ontsteld,” het my suster gesê toe sy met die bondel vuil linne in haar hande agter my verby stap waskamer toe. Haar wange het gegloei en haar hare was aan die een kant van haar nek los. “Ontsteld en verdrietig, en dit het baie troos gekos om hom tot bedaring te bring. Hy sê jy hoef nooit weer te help nie.” Haar triomf was duidelik toe sy kop omhoog verby my stap.
Ma het haar met skrefiesoë agterna gekyk, niks gesê nie en net getik-tik met die kop van die houtlepel in die palm van haar los hand. Toe vat sy die lepel se steel met albei hande vas en breek dit in twee. Lang, skerp houtsplinters het die lug ingeskiet.
* * *
Die oggend het aangeskuif, baie mense het intussen op die strand aangekom. Dis ’n miernes pa’s en ma’s en kinders om my op die sand.
Die wind het, soos die meeste ander oggende, intussen opgekom. Januarie se suidoos. Nie baie sterk hierdie tyd van die oggend nie, met net genoeg drif om die somerson se hitte te troef. Die vlieërplankryers sal eers later opdaag, wanneer die wind sterker is. Fyn sandkorrels tref my nou en dan teen die kant van my bene hier op my duin. My kop loop ekstra ver draaie met my vandag. Ook na Gideon, na Nicky en ons mynbestaan.
Ek raak aan die brief in die sak van my romp. Die laaste brief uit die groen lêer wat ek ’n week gelede op my bed gekry het, het my onverwagse vastrapplek geword. Ek het nie nodig om dit nie te lees nie. Die inhoud ken ek reeds.
* * *
Dis Gideon wat vroeg met troustories begin het, amper veertig jaar gelede. Ek was negentien, hy twee jaar ouer. Ons was albei universiteitstudente. “Ek maak klaar vanjaar en ek los jou nie hier nie,” het hy ernstig gesê. Dit was tydens ons heel eerste wandeling op hierdie strand. Ons het mekaar toe net ’n paar maande geken.
“Jy is te haastig,” het ek probeer wegskram. “Gee bietjie kans. Waarheen wil jy in elk geval volgende jaar verkas?”
“Ek