sandwolkies. Kyk vir die ander mense se voete hier om jou.” Gideon het ons dogter speels opgetel en in die lug gehou.
“Sit my neer,” het sy gekraai. “Ek gaan hardloop, dan maak ek die meeste wolkies van almal!” Nicky was vyf jaar oud.
* * *
Ek maak my oë toe, luister na die wind en die branders. “Ek gaan die meeste wolkies maak!” Nicky se stemmetjie. Helder en duidelik. Uitgelate hardloop sy van my af weg, die branders in. Haar pa op haar hakke tot hulle wegraak in die golwe. Altyd hulle twee naby mekaar, ek op die kantlyn.
Het sy onthou? Kon sy nog haar beentjies voel skop-skop, skop, skop? Desperaat voel skop?
1975
1
“Godverlaat. Dan is dit hoe dit lyk,” fluister ek toe ek die voordeur van die mynhuis oopmaak. Ek fluit saggies en ril effens in die koel briesie wat oor die oopte tussen die ry huise en die myn deur teen my vaswaai. ’n Oopte wat my onkant vang. Ek het eers kombuis toe geloop nadat ek versigtig uit die bed geskuif het waar my bruidegom nog in droomland was. Dit het begin lig word buite. Deur die kombuisvenster kon ek in die skemer die effens verflenterde takke van bome in die buurman se tuin sien. Toe het ek die voordeur kom oopsluit.
Gideon lag saggies toe hy agter my kom staan, styf teen my. Ek het hom nie hoor nader kom nie. Hy vou sy arms om my lyf en druk sy ken in my nek. Ek is amper net so lank soos hy. Sy stem is vrolik toe hy beloftes van ’n aftreehuis by die see en ’n spoedige wittebrood maak. Ek luister in stilte, knik ’n paar keer want ek kan aan niks dink om te sê nie. Hy soen my op my hare, hou my styf vas.
Ons staan ’n ruk so in die voordeur, kyk saam die troosteloosheid in. Teen mekaar se lywe, pasgetroud, maar wêrelde van mekaar verwyder in ons gedagtes.
“Dis ’n mooi wêreld dié,” sê Gideon ná ’n paar minute en hy wys in die rigting van ’n blouswart hoop gruis. “Sien jy daardie koppie daar links? Dis by daardie koppie waar dit begin het, waar die aarde se geheim uitgelek het. Daardie koppie het die prospekteerders gelok met die eerste belofte van die rykdom van mangaan diep in die aardkors.” Gideon kyk met ander oë as ek na die wêreld om ons. “En sommer net hier anderkant is die veld glo besaai van die hematiet. Ons moet gaan kyk.”
“Hematiet?” My stem verraai die onstuimigheid in my. Die ruimte om my krimp.
“Bloedsteen. Dis sy naam hier. ’n Pragtige rooi klip. As die steen gesmelt word, kom yster daarin los. Ek kom teken jou lyf vol goggas met die eerste stuk wat ek in die hande kry. ’n Groot vet sprinkaan is boaan my lys.” Hy lag sag in my nek en hou my stywer vas toe ek gril en liggies vroetel om los te kom. “Hematiet is die inkleurkryt van weleer. Dis die klip waarmee rotstekeninge gemaak is en waarmee mense se lywe versier is. Ek teken mooi, jy sal …” Sy sin bly in die lug hang toe ek my uit sy omhelsing draai.
Ek staan effens weg. Instinktief. Ek kan Gideon se oë op my voel, maar ek kyk ver oor die vlakte. Skuldig. Ek wil dadelik probeer vergoed. “Ja, dankie, professor, jou lesing slaan my asem weg,” sê ek. Gideon staan stil, bly stil. “Maar ek glo die skoonheid van hierdie verlate lap aarde lê diep onder in die myn,” probeer ek weer. Toe draai ek om, kyk vir hom, glimlag, kyk weer veld toe toe ek die diep frons oor sy voorkop sien. “Seker in die belofte van rykdom vir dié wat hul hande daarop kan lê.” My senuagtige laggie klink dun in die oggendlug. “Hier voor my is net verlatenheid.”
“Sien jou nou,” sê Gideon toe hy die huis in loop.
Net ’n paar minute later is hy weer agter my in die gang. “Ek gaan bietjie litte losmaak. Kom saam, dan kyk ons van die hoek af wie is eerste by die huis,” nooi hy. Hy is weer sy joviale self, aangetrek in ’n ou universiteitsrugbytrui, ’n oefenbroek en drafskoene.
“Nie vandag nie,” antwoord ek. “Dalk môre, of oormôre, dalk eendag in die toekoms.” Ek doen my bes om te glimlag. “Dis nou as hulle plek gehou het vir my in die rugbyspan. Ek het ’n goeie rede nodig om fiks te word.”
Gideon soen my op my voorkop toe hy by my verby skuur. “Ek sal by die eerste oefening vra. Ek vermoed daar sal ’n hele paar manne wees wat jou graag sal wil tackle.” Hy glimlag stram en trek die hekkie agter hom toe, lig sy hand in ’n groet. “Ek kan dalk bietjie draai langs die pad. Die lang leeglê in die vakansie het my laat verroes.” Hy kies koers straataf in die rigting van die granietkoppie.
Ek sug en leun teen die kosyn, skud my kop, ontevrede met myself. My gedagtes flits rond tussen die gebeure van die afgelope tyd. Ons het maar net maande gelede eers van mekaar bewus geword.
* * *
Ek het op ’n bankie langs die Eersterivier gesit toe ’n groot roesbruin sprinkaan met ’n dowwe plof op my anatomieboek land. Toe ek vervaard opspring, het die boek op die gras geval. Die sprinkaan het ’n oomblik in die lug gefladder voor dit desperaat op my romp geland het. Ek het met albei my hande na die stomme insek geslaan totdat dit grond toe gevlieg het. Toe ek buk om my boek op te tel het twee kaal voete langs my hande tot stilstand gekom. Ek het weer geskrik en agteruit getrap, my balans verloor en op my sitvlak op die gras beland, reg voor die bankie.
Die volgende oomblik het ’n jong man kruisbeen, met ’n breë glimlag op sy gesig, voor my gesit. So naby aan my dat ons knieë aan mekaar geraak het. Ek het agtertoe probeer skuif, maar die bankie was in die pad.
“Ek vra om verskoning dat my lelike tone jou voete so onder jou uitgeslaan het. Ek hoop jy het nie seergekry nie.”
Voorbarige vent, het ek gedink, maar my wange het ’n ander storie vertel. Bloedrooi en stom het ek kop onderstebo bly sit.
“Dié juffrou is nie ’n plaasjapie nie, nè? Dié dat ’n sprinkaan haar so groot kan laat skrik.” Hy het speels gelag.
Toe ek opkyk, was dit in sy ligbruin oë. Sy mond het oopgegaan en weer toe. Sy lippe het beweeg, maar geen geluid het hom ontsnap nie. Dit het my ongemaklik gemaak en ek het weggekyk.
Hy het die boek langs my opgetel. “Die juffrou is ’n eerstejaar en gaan ’n nurse word, sê dié boek vir my.”
“Miskien,” het ek geantwoord.
“Jy klink nie oortuig van jou saak nie,” het hy gesê en die boek op die bankie neergesit. Hy het opgestaan en sy hande na my uitgesteek.
Ek het my hande in syne gesit en hy het my opgetrek. Ek was baie na aan sy lyf.
“Dankie,” het ek verleë gesê.
“Glo my, ons twyfel maar almal een of ander tyd aan ons keuses. Mag ek ’n oomblik by jou sit?” Sy stem die ene selfvertroue.
Ek het geknik. Ons het al twee afgesak tot ons langs mekaar op die voorpunt in die middel van die bankie gesit het. Hy het nie dadelik gepraat nie, my net in die oë gekyk. Intens. Die stilte het my kriewelrig gemaak. Ek moes iets sê.
“Waar is die sprinkaan?” Dit het met moeite uitgekom. Ek het my kop weggedraai, kamstig heen en weer langs my in die gras na die sprinkaan begin soek en terselfdertyd so ongemerk moontlik weggeskuif van die lyf langs my.
“Gevlug, juffrou, na waar daar veiligheid is,” het die man gesê en geglimlag. Toe het hy sy hand plegtig na my uitgesteek. “My naam is Gideon Malherbe.” Ek het geamuseerd na sy hand gekyk. “Ons doen dit nog op hierdie manier waar ek vandaan kom,” het hy verduidelik.
“Ek is Isabella Dickson.” Ek het sy hand geneem, sy groet beantwoord.
“Nog ’n Kakie wat op die Bos wil kom slim word. Jy weet seker hier is al ’n hele garnisoen van julle. Ons sal ons voorlaaiers moet olie.”
“O,” het ek gestamel, “maar net die helfte van my genepoel is Brits …” Ek wou verder verduidelik, maar het stilgebly toe Gideon op sy horlosie kyk en vinnig van die bankie af opstaan.
Hy het sy toksak van die gras af opgetel en dit oor sy skouer geswaai.“Kan ons asseblief vanaand oor ’n koppie koffie die Boom van die Lewe se genealogiese takke verder invul?” het hy gevra. “Ek kan nie laat