Schalkie van Wyk

Die landheer van Koningshof


Скачать книгу

merk weer die flikkering van ’n glimlag in die enigmatiese groen oë en sê agterdogtig: “Jy spot met my. Wie en wat is jy werklik, Moos? Hoe weet jy wie ek is? Ek is seker ek het jou nog nooit ontmoet nie.”

      “Mag ek jou hand nog vashou as ek al jou vrae beantwoord, juffrou Strauss?” vra hy hoopvol.

      “Absoluut nie!” Sy pluk haar hand uit syne, maar onmiddellik voel sy spyt, want sy mis die aanraking. Sy kyk stip teen sy bors vas en praat met soveel onwilligheid dat haar kakebeen pyn: “Moos, hoe weet jy wie ek is?”

      “Daai gawe ou oom met die spierwit hare wat aan julle regterkant bly, het my vertel. Ek wou aan julle voordeur geklop het, maar toe keer die oom met sy bottel sjampanje in die hand my voor. Hy het my vertel die huis behoort aan die Strausse en dat ek hulle liewer nie moet pla nie, want hulle is besige mense. Maar mense wat soggens sjampanje drink, kan tog nie te besig wees nie.”

      Erika glo hom steeds nie. Dié man het die tipe arrogansie wat sy nog nooit by ’n tuinwerker teëgekom het nie. “Het jy miskien die Coetzees se huis gekoop?”

      “Jy praat van miljoene rande en ek is net ’n tuinier, juffrou Strauss,” antwoord hy nederig.

      Sy kyk flitsend na sy hoekige ken, waag ’n kykie na sy hoë voorkop waaroor sy kuif terugval, en sê ongeduldig: “Goed, Moos, jy is ’n tuinier en ek is ’n roomysverkoper.”

      “Hoop jy miskien ek gaan jou nuwe buurman word, juffrou Strauss?”

      “Nee,” maak sy rusie. “As jy die dag intrek, emigreer ek na Alaska of dalk liewer Vlaandere, want daar is oorgenoeg ooreenkomste tussen Afrikaans en Vlaams.”

      “Ek is opreg jammer, juffrou Strauss, maar ek is nie jou nuwe buurman nie. Toe ek laas gehoor het, was die Coetzees nog die eienaars van die huis, maar dalk het hulle al ’n koper.”

      “Nou maar goed,” sê sy, “laat ek verbykom sodat ek die perskes kan kry en ons mekaar nooit weer hoef te sien nie.”

      “As jy die perskes nie wil steel nie, moet jy daarvoor betaal.”

      “Ek het jou gesê ons het toestemming.” Erika sit haar hand teen sy bors om hom uit die pad uit te druk, maar hy staan ferm. Vir ’n oomblik voel sy verwonderd hoe sy spiere onder haar hande beweeg en probeer sy die vonkies van plesier ignoreer wat deur haar lyf skiet.

      Dan sluit sy sterk arms skielik om haar.

      “’n Soen vir elke perske, juffrou Strauss? Sal jy tevrede wees met ses perskes?” Sy baritonstem is ’n streling op haar wang, sy glimlag reeds so intiem soos ’n soen.

      2

      Erika sluk hoorbaar, verward deur die tintelende onrus wat wipplank ry met haar begeerte om haar oomblikke van onverklaarbare ekstase in sy arms te verleng.

      Iets waaksaams in haar verstand wuif desperaat ’n waarskuwing, maar uitgerekte oomblikke lank luister sy nie daarna nie. Sy wil net die gevoel van hierdie aantreklike man se arms om haar geniet.

      Dan dring dit tot haar deur: Dié man is ’n ongeskikte, opdringerige tuinier wat besef sy is Erika Strauss, die enigste dogter van die skatryk Phoebe Strauss. Hy is agter hulle geld aan. Vanselfsprekend is hy bewus van sy aantreklikheid en dalk hoop hy sy sal voor sy onweerstaanbare sjarme swig. Sy sal onmiddellik wegbreek uit sy ongevraagde omhelsing, besluit sy met haar verstand, maar haar voete weier om die opdrag uit te voer.

      Hierdie onbekende gevoelens moet die effek van die glasie sjampanje wees, probeer sy haarself oortuig. Sy draai haar gesig op na hom, bewonder die glans van die son op die man se kastaiingbruin hare en glimlag flitsend in sy ondersoekende mosgroen oë. Hoekom voel sy so sielsgelukkig in sy arms, asof sy hom haar hele lewe lank al ken?

      Hy is tog ’n vreemdeling.

      Hy kreun en bring sy gesig nader. Haar oë is op sy lippe, en sy voel hoe haar eie lippe vanself oopgaan. Weer kreun hy en soen haar.

      Sy lippe is hard en warm, ’n kombinasie wat verbasend aangenaam is. Vir ’n oomblik is sy te oorweldig om te beweeg, maar dan reageer sy en soen hom gretig terug.

      Nee! protesteer ’n leeftyd van waarskuwings en selfbeheersing in haar verstand. Sy beur terug in sy arms, haar laggie selfbewus. Sy sit haar vingers op sy lippe.

      Hy kyk af na haar, sy asemhaling vinnig, en agter die verwarring wat sy in sy oë lees, herken sy ’n weerkaatsing van haar eie begeerte. Die besef skok haar terug tot die hier en nou, skok haar uit die wêreld van fantasie en euforie waarin sy verdwaal het.

      Ondanks die warm somerson, bewe haar hele liggaam.

      O aarde, sy durf haar eie oordeel nie meer vertrou nie, want haar emosies het haar verraai. Hoe ironies dat sy, wat vandag die einde van haar studie in die sielkunde vier, so pas nie haar eie emosies kon beheer nie. Sy weet werklik nie wat in haar binneste aangaan nie.

      “Ses perskes, juffrou Strauss?” vra hy gelykmatig.

      Intense verleentheid oorweldig haar en laat vlamme van vernedering op haar wange brand. Sy beur weer weg van hom. “’Skuus. Asseblief, meneer, ons het sjampanje gedrink. Ek … ek is nie gewoonlik so …”

      “Gewillig om onbekende mans te soen nie?” vra hy met ’n skewe glimlag. “Ek het simpatie met jou onverantwoordelike optrede, juffrou Strauss, want ek is ook nie gewoonlik so gretig om ’n wildvreemde meisie te soen nie. As ’n glasie sjampanje jou verskoning is, is die warm somerson myne. Sal ons mekaar vergewe en die een die ander ernstig beloof om die eksperiment nie te dikwels te herhaal nie?”

      Haar verleentheid wyk voor haar opstuwende verontwaardiging. “Jy skeer die gek met my, jou ongemanierde … e … man! Ek soen vreemde mans nóóit nie! En ek het ’n ewige ertjie aan opdringerige mans wat meisies oorrompel en sonder hul toestemming soen!” vaar sy teen hom uit en evaar terselfdertyd die terugkeer van haar selfvertroue met elke belediging wat sy hom toevoeg.

      “Presies hoe ek oor opdringerige meisies voel, juffrou Strauss,” stem hy geredelik saam en sug teleurgesteld. “Maar as jy kon sien met hoeveel onuitgesproke verlange jy in my oë gestaar het, wel …”

      “Ek het beslis nie! Jy … jy’s siek, of simpel. Ek sal onmiddellik …” Haar sin breek af toe sy probeer omswaai en onthuts besef sy staan nog in die kreatuur se arms. “Los my, meneer!”

      Sy kan onmoontlik na een glasie sjampanje dronk wees, maar iets onverklaarbaars het met haar hart, het inderdaad in haar hele menswees gebeur vandat sy oor die ringmuur gespring het, besef sy met ’n gevoel van desperate onmag. Sy het nie net toegelaat dat ’n wildvreemde man haar soen nie, maar hom ook gretig teruggesoen.

      Hoe kon sy so uiters dwaas gewees het? vra sy haarself ontsteld af. Sy sal sorg dat hulle paaie nooit weer kruis nie, want sy sal hom nie in die oë kan kyk nie. En sy sal haarself nooit vergewe dat sy soos ’n ervare flerrie in sy arms geval het nie. Verleentheid skop in ’n seer knop in haar keel vas en laat trane agter haar ooglede brand, want sy besef deeglik as sy werklik wou, kon sy verhoed het dat die man haar soen. Sy kon hom geklap het, hom op sy maermerrie geskop het, hom by een van die sekuriteitswagte aangegee het wat hulle buurt gereeld patrolleer. Maar sy het nie, want sy wou in sy arms wees, wou deur hom gesoen word.

      Moos, of wat ook al sy regte naam is, laat haar stadig gaan asof hy bang is sy gaan dalk omval as sy op haar eie bene moet staan.

      “Jy klink vreeslik hooghartig vir ’n meisie wat my nou net so lekker gesoen het,” kom dit afgehaal van Moos terwyl hy sy arms laat sak. “Sal jy môre weer by my kom kuier wanneer ek in die tuin werk, juffrou Strauss?”

      Sy voel hoe haar wange gloei. “Nee, Moos. Werk jy nog ’n dag hier, gaan ek met vakansie. Ek hoop ek sien jou nooit, nóóit weer nie!” roep sy oor haar skouer, klouter oor die ringmuur en spring terug in hulle erf. Sy kyk nie om nie, maar skarrel deur die voortuin na hulle huis toe, want sy hardloop weg van iets wat sy – kamtig ’n gekwalifiseerde sielkundige – vandag self nie kan verstaan nie.

      Lallie en Erika loop saam die eetkamer vir aandete