Haar gedagtes dwaal weer af en Mynie vergeet ’n paar oomblikke van die man wat langs haar sit.
Hoekom maak dit seer om aan Heinz te dink? En nóg seerder om te wonder by watter nooi hy troos gaan soek? Dit maak mos nie saak as Heinz du Preez op ’n ander meisie verlief raak nie. Of maak dit wel saak? Wil sy haar brood aan albei kante gebotter hê – Heinz en Conrad albei aan ’n lyntjie hou terwyl sy besluit met watter een sy eendag wil trou?
Nee, dis met Conrad Duvenhage, besluit Mynie. Sy ken hom skaars drie weke en dis nog te gou om doodseker te wees, maar die gevoel wat sy vir hom het, is anders as die gevoel wat sy twee jaar lank vir Heinz gekoester het. Conrad laat haar hart bons en die bloed vinniger deur haar are bruis. Hy laat haar soos ’n jong tiener teenoor haar eerste kys voel, uitasem en lighoofdig en opgewonde en lus vir die lewe. As dit nie liefde is nie, wat is dit dan?
Ja, dit is liefde, dink Mynie. Maar dan weer: hoekom gun sy Heinz dit nie om geluk by ’n ander meisie te vind nie? Dit het haar bitter seergemaak dat hy drie keer saam met een van sy tiksters gaan koffie drink het sonder om haar openlik daarvan te vertel. Sy was jaloers op daardie Annette Basson. En nou voel sy weer so – met ’n prentjie in haar gedagtes van Heinz wat ’n ander meisie in sy arms hou terwyl hy liefkosend oor haar hare streel en troetelwoordjies in haar oor fluister. Hoe kan so ’n prentjie ’n mens kwets en jou jaloers maak as jy geen gevoel meer vir die betrokke man het nie?
Mynie kom nie agter dat die gordyn op die verhoog gesak het nie. Sy onthou sy het vir Elma gesê sy kan Heinz du Preez maar as ’n geskenk kry. Sy het selfs ’n grappie gemaak en gesê sy sal die skinkbord bygee, dalk as trougeskenk. Maar het sy daardie woorde bedoel? Wat sal haar reaksie wees as sy Elma en Heinz saam sien, dalk hand aan hand en baie verlief …?
“Antwoorde gekry?” vra Conrad liggies.
“Ekskuus?”
“Ek vra of jy antwoorde gekry het op die vrae wat jou die afgelope uur en ’n half geteister het. Jou aandag was nie by die opvoering op die verhoog nie. Jy het jou eie drama gehad wat in jou hart afgespeel het. Het jy die saak wat jou gepla het, uitgemaak?”
“Ja,” jok Mynie.
“Saam met watter kêrel het jou gedagtes doer ver oor die vlaktes gesweef? ”
“Dis my geheim.” Mynie se stem is ook lig, maar sy kan Conrad nie in die oë kyk nie.
Tot haar verligting dring hy nie verder aan nie. Hy staan op, plaas sy hand onder haar elmboog en help haar by die trappe af.
“Sal ons ’n plek soek om koffie te gaan drink, liefste?”
“Ek het ’n bedrywige dag by die skool gehad en is nogal moeg. Sal ek vir ons koffie gaan maak by my woonstel?”
So ’n voorstel pas Conrad uitstekend. Hy glimlag tevrede, knik en plaas sy arm om haar skouers om haar teen die samedromming van mense by die uitgang te beskerm.
“Was ek reg? Was jy te besig om aan ander dinge te dink om op te let wat op die verhoog afspeel?”
Mynie is baie verleë. Conrad het duur vir die kaartjies betaal. Sy wil hom nie laat dink dat sy nie die opvoering geniet het nie.
“Ek … ek het partykeer opgelet.”
“Nou klink jy soos een van jou eie leerlinge,” terg Conrad. “Met wie het Clothilde op die einde getrou?”
Mynie dink naarstiglik om die held se naam te onthou, maar sy het nie die vaagste benul nie.
“Met daardie ou, die een wat sy van die begin af liefgehad het,” antwoord sy vaag.
Conrad lag lekker, maar hy lewer nie kommentaar nie. Hulle stap in stilte tot by sy motor, waar hy hoflik vir Mynie die deur oopmaak en haar eers ’n soentjie gee voor hy na sy eie kant toe omstap.
By die woonstel wil hy nie koffie hê nie. Hy trek gemaak vies ’n suur gesig.
“Dis baie prosaïes van jou om van koffie te praat as ek jou in my arms wil neem en jou soen soos ’n oulike nooientjie verdien om gesoen te word. Behoorlik, en met volle oorgawe …”
“Conrad, wag …” Mynie druk haar hande teen sy bors terwyl sy verleë agteruit rem.
“Dink jy nie Conrad het lank genoeg gewag nie?” vra hy sag. “Een en twintig dae is ’n lang tyd om uit te hou, veral as die kêrel ’n baie verliefde man en die nooientjie so onweerstaanbaar soos jy is. Is jy bang vir my, Mynie?”
“N-nee …”
“Hoekom keer jy dan altyd en rem weg as ek jou wil soen?”
“Som … sommer.”
“Dis nie ’n antwoord nie.” Hy plaas sy wysvinger onder haar ken en lig die hartvormige gesiggie op sodat hy in die groen oë kan kyk. “Hou jy nie van my nie, Mynie?”
Sy voel hoe haar weerstand baie vinnig verbrokkel. Sy wou nie dat Conrad haar daardie eerste aand al soen nie – toe hulle op kussings voor die radio gesit het en na Beethoven geluister het – want sy was bang hy kry die indruk dat sy nie ’n meisie van goeie inbors is nie. Op hulle tweede aand saam het sy nog steeds gekeer en hom weggestoot omdat sy skaam was. Eers op hulle derde afspraak het sy Conrad toegelaat om haar hand vas te hou, maar nou voel sy dat hy nie meer ’n vreemdeling is nie. Hulle ken mekaar weliswaar nog slegs ’n kort tydjie, maar kan ’n mens tyd meet as jy verlief is? Dis duidelik dat Conrad met moeite sy emosies beteuel. Hoekom moet sy hom langer laat swaarkry?
“Hou jy nie van my nie, Mynie?” herhaal Conrad, sy stem onseker en sy blou oë ongelukkig.
Sy skud haar kop. “Nee, ek hou nie van jou nie,” antwoord sy ernstig, maar met haar oë versluier sodat hy nie die lag daarin moet sien nie.
Mynie het nie die hewige reaksie verwag wat sy kry nie.
“Mynie, my liefste, sê vir my wat ek verkeerd gedoen het. Asseblief, as ek iewers verbrou het, vertel my sodat ek dit kan regmaak. Ek het jou liewer as enige ander mens op hierdie aarde. Liewer as myself, liewer as …”
Sy is dadelik jammer omdat sy hom geterg en so ontstel het. “Conrad,” val sy hom sag in die rede, “dis waar dat ek nie van jou hou nie, maar dis omdat ek jou liefhet. Ek hou nie van jou nie. Ek het jou liéf. Ek het dit al vir jou gesê, maar jy glo my blykbaar nie. Jou liewe, lawwe mansmens … Weet jy nie dat ek halsoorkop, tot oor my ore, op jou verlief is nie? Ek kan snags nie slaap nie en bedags by die skool moet ek myself kort-kort knyp om seker te maak dat ek nie droom nie. Die ander personeellede terg my al. Hulle wil weet of ek …”
Mynie wou nog baie ander dinge gesê het, almal min of meer in dieselfde trant, om te vergoed vir die gewonde uitdrukking in sy oë netnou toe sy gesê het sy hou nie van hom nie. Maar dis Conrad se beurt om haar te onderbreek. Hy is meer oorspronklik as sy, of dalk meer verlief. Hy maak haar met sy mond stil, nie met woorde nie.
Mynie het daardie eerste aand reeds gewonder hoe dit sal wees as Conrad Duvenhage haar soen. Sy het haar verbeelding vrye teuels gegee, maar selfs in haar wildste drome het sy nie gedink dit sou só wees nie.
Conrad se lippe is eers onseker, sag en vraend. Dan, toe Mynie se arms om sy nek gly, word sy mond meer dringend. Hy druk haar styf teen hom vas, asof hy haar nooit weer wil laat gaan nie. Hy soen eers die blink hare, dan die sagte wange en die ooglede wat oor die groen oë gesak het. Dan, uiteindelik, vind sy dwingende mond haar bewende lippe.
Toe Conrad haar einde ten laaste laat gaan, kan Mynie nie onthou hoe laat dit is, watter dag dit is en wie sy is nie. Dit voel of daar tien jaar verbygegaan het en sy ’n nuwe mens geword het tydens daardie lang, uitgerekte soen.
Ook Conrad is nie homself nie. Sy asem jaag in sy keel en hy hou Mynie ’n armlengte van hom af weg.
“Sjoe …” is al wat hy sê.
“Ja, ek voel ook so,” stem Mynie bewerig met hom saam.
“Hoe? Bewerig en uitasem, lam kniekoppe en ’n hart wat soos ’n stoomlokomotief klink?”
“Presies