alles wat die Adamsgeslag vir my vertel nie en dis menslik om na skinderstories te luister. Ek sou ook vies gewees het as ek my kêrel gebel het en ’n vreemde vrouestem beantwoord die telefoon. Maar glo jy nou dat Heinz jou nie met ’n ander nooi gekul het nie?”
“Nee.”
“Nee?” Karen verstaan nie mooi hoekom Mynie nog steeds haar geliefde ouboet wantrou nie.
“Nou bly die kwessie nog: Wie is Annette Basson en wat is die verhouding tussen hom en daardie ander blondine?”
“Watter ander blondine? ”
“Die een saam met wie hy drie keer gaan koffie drink het en kwansuis die hele tyd oor boedels en testamente gesels het. As dit nie was dat ’n vriendin van my jou en Heinz toevallig op die lughawe gesien het nie, sou ek seker nooit van die bestaan van Annette Basson geweet het nie.”
“Heinz het my nie daarvan vertel nie,” sê Karen fronsend.
“Nee, en hy sou my ook nie daarvan vertel het as dit nie was dat omstandighede hom daartoe gedwing het en hy in ’n hoek gedryf was nie. Sien, hy het skuldig gevoel omdat hy geglo het dat die persoon hom in die arms van Annette Basson gesien het … Wat lei jy daaruit af?”
“Ek weet nie. Ek is seker Heinz kan verduidelik. Kom ons ry nou reguit na hom toe en vra hom wie hierdie meisie is.”
“Ek glo nie ek wil weet nie. Ek glo ook nie ek stel genoeg belang om Heinz met die vroumens te gaan konfronteer nie. Dankie vir die aanbod, Karen, maar ek wil ook nie in daardie motor van jou broer ry nie.”
6
Mynie het ’n afskrif van haar eerste brief aan Wewenaar gebêre. So ook van haar tweede en derde briewe aan Conrad Duvenhage. Nou gaan haal sy hulle om vir oulaas seker te maak wat sy alles vir hom geskryf het. Sy wil nie vanaand dalk anders praat en hom die idee gee dat sy ’n deurmekaar of oneerlike persoon is nie.
Mynie lees haar eie drie briewe en ook Conrad se drie vir die soveelste keer deur sedert Maandag – sedert hy gevra het of hy Saterdagaand vir haar mag kom kuier. Ja, besluit sy, al wat sy moet onthou, is dat sy ses-en-vyftig kilogram weeg, in plaas van amper sestig, en dat sy stil, skaam en teruggetrokke is as niemand haar kwaad maak nie. Sy moet vanaand stemmig en ingetoë wees as Conrad kom kuier, nie weer so ontstoke en impulsief soos die laaste kere toe Heinz du Preez hier aangekom het nie. Maar Conrad sal haar seker nie kwaad maak nie. Hy het geskryf dat hy ’n sagmoedige mens en baie skaam vir lede van die teenoorgestelde geslag is.
Conrad het gesê hy sal sewe-uur hier wees. Dis nou nog maar halfses en reeds sit Mynie gestewel en gespoor in haar vleiendste rok en ’n paar splinternuwe geel sandale. Sy was vanoggend by die haarkapper en die bottel duur reukwater wat Heinz haar verlede Kersfees gegee het, staan reg op die eetkamertafel sodat sy vir oulaas weer daarvan agter haar ore kan spuit as daar ’n klop aan haar voordeur is.
Mynie is baie senuweeagtig. ’n Paar keer al het sy bitter berou gehad dat sy ingewillig het dat Conrad mag kom kuier. Sy is so bang hy is teleurgesteld as hy sy penmaat in lewende lywe sien. In haar laaste brief het sy nog weer gewaarsku dat sy nie juis beeldskoon is nie, maar sy onthou wat Conrad in sy eerste brief geskryf het: Ek is seker jy is net so mooi soos jou handskrif. Heinz en Johan Willemse en ’n klomp ander kêrels het Mynie al mooier komplimente gemaak, dog na daardie opmerking van Conrad het Mynie nie die moed gehad om hom ’n foto van haarself te stuur nie. Sy het ook nog nie een van hom ontvang nie. Gaan sy ooit weet dit is hy as sy die voordeur oopmaak? En sê nou maar tant Lettie of tant Sus Maasdorp sien hom in die gang verbystap en snel haar weer te hulp met besems en verestoffers?
Mynie het as kind laas haar naels gekou. Nou val vyftien jaar se volharding en deursetting van haar weg en byt sy gespanne aan haar duimnael, vergetende dat sy vroeër vanmiddag vars lak aangewend het. Gaan die aand nie ’n fiasko wees nie? Gaan Conrad Duvenhage nie dalk net vyf minute lank kuier en dan verskoning maak dat hy ongelukkig haastig is aangesien hy reeds ’n ander afspraak het nie? En dan nooit weer vir haar skryf nie … Hy het seker honderde antwoorde op sy advertensie in Profiel ontvang. En sy ander penvriendinne is seker almal ouliker en interessanter as sy.
Mynie hardloop elke drie minute sitkamervenster toe om te kyk of daar nog nie ’n roomkleurige Mercedes onder in die straat stilgehou het nie. Tussenin maak sy vir haar tee, spuit reukwater aan en knap haar grimering op. Maar toe die Mercedes wel voor die woonstelgebou se ingang stilhou, sien sy nie die motor nie. Sy is besig om gou ’n paar vingermerke van die koffietafeltjie af te vryf en skrik haar yskoud toe daar ’n klop aan die voordeur is. Dis ’n paar minute voor sewe-uur, maar dit moet hy wees … Mynie druk gou Heinz se bottel parfuum in ’n laai, skiet die stoflap onder die riempiesbank in en klouter op die eetkamerstoel wat reeds van twee-uur vanmiddag by die voordeur regstaan.
Hierdie keer kyk sy nie weer af op ’n grys bollatjie, ’n paar smal skouertjies onder ’n gehekelde trui en twee blink toerygskoene nie.
Die fyn, swart leerskoene is ook blink, maar dis waar die ooreenkoms eindig. Die blonde kop met die blinkskoon hare is omtrent ’n halfmeter nader aan die boluik as wat die netjiese bollatjie was. En hierdie is ’n paar voorryskouers, geklee in ’n deftige donker pak klere met ’n ligblou syhemp en bypassende blou das.
Mynie se knieë is so lam dat sy skaars van die stoel kan afklim. Sy laat die stoel met ’n harde slag val toe sy dit onder die eetkamertafel inskuif.
“Wat makeer jou?” raas Mynie met haarself. “Jy is mos nie meer ’n standerdsessie op haar eerste afspraak met ’n kêreltjie nie. Jy het gesê jy het baie lewenservaring en jy is ouer as jou jare. Gedra jou daarvolgens. Dis omdat ek twee jaar vas uitgegaan het met Heinz. Ek weet nie meer hoe om my teenoor ’n vreemde ou te gedra nie. En … en ek het nie gedink Wewenaar sou … só lyk nie. Apollo sou ’n meer gepaste skuilnaam gewees het.”
Mynie vee haar hare plat, haal ’n paar keer diep asem, diep haar mooiste glimlaggie op en maak die voordeur oop.
Conrad Duvenhage stap nie dadelik binne nie. Hy kyk Mynie op en af, dan sê hy saggies: “Ek het nie gedink dis moontlik nie.”
“W-wat is nie moontlik nie?” stamel Mynie.
“Dat jy nóg mooier kan wees as wat ek jou voorgestel het.”
Tot Mynie se verleentheid bloos sy.
“Naand, Mynie,” sê Conrad in sy diep, warm stem. Hy neem Mynie se hand in syne en gee dit ’n ligte drukkie. Sy hand voel groot en sterk en manlik.
“N-naand.”
“Ek het nie bedoel om jou skaam te maak nie, Mynie. Dit was ’n opregte kompliment, diep uit my hart. Jy is mooi en jy moet altyd blou dra. Die kleur pas jou.”
Baie skaam vir lede van die teenoorgestelde geslag? wonder Mynie. Nie hierdie asemrowende ou nie. Sy wens hy het liewer nie na haar tamatierooi wange verwys nie en sy wens sy kan haar gesig gou gaan afspoel.
“Wil … wil jy nie binnekom nie?”
“Ek wil. Dankie, Mynie.”
Conrad Duvenhage is taktvol genoeg om nie dadelik in die sitkamer te gaan sit nie, maar Mynie eers kans te gee om minder skaam te voel. Hy gaan staan voor ’n houtskooltekening wat bokant die kaggel hang.
“Jou werk?” vra hy.
“Ja. Asseblief, moet dit nie krities beoordeel nie.”
“Dis goed, Mynie. Mooi, suiwer lyne en baie dekoratief. Dis duidelik dat jy talent het. Mag ek van jou ander werk sien?”
Conrad bekyk die skilderye en sketse wat Mynie vir hom wys, lewer hier en daar kommentaar en herhaal dat hy van haar styl hou. Toe dit lyk asof sy meer op haar gemak begin raak, gaan sit hy in ’n leunstoel en sê met ’n bemoedigende glimlaggie: “Ek is nie ’n vreemdeling nie, Mynie. Jy hoef nie soos ’n vasgekeerde wildsbokkie te lyk nie. Onthou jy nie ons is geesgenote nie?”
Mynie knik en voel dadelik minder senuweeagtig.
“Reeds in jou eerste brief aan my het dit gevoel asof ek jou al jare