Ettie Bierman

Ettie Bierman Keur 12


Скачать книгу

dit nou weer. Hou op om jou geselskap aan my op te dwing. Is jy so dikvellig dat dit nog nie tot jou deurgedring het dat ek niks meer met jou te doen wil hê nie?”

      “Ek moet doof en blind wees as ek nog nie die boodskap gekry het nie. Ek erken dat ek my daardie Saterdagoggend soos ’n buffel gedra het. Ek vra om verskoning.”

      “Goed, as dit jou tevrede sal stel, ek aanvaar jou verskoning. Sal jy nou padgee?”

      “Dis nie al rede waarom ek gekom het nie. Ek is skaam om dit te sê, maar die eerste paar dae was ek te woedend omdat jy my nie vertrou het nie, om veel te wonder oor hoe die misverstand kon ingesluip het. Dis hoekom ek nie weer gebel het nie, nie kom kuier het en nie ons afspraak die volgende Saterdagaand nagekom het nie. Omdat ek bitter kwaad vir jou was … dat jy ’n buitestander se woord bo myne geneem het. Toe ek egter afgekoel het, was ek in staat om die saak logies te beredeneer.”

      “En jy het tot ’n aardskuddende ontdekking gekom?”

      Heinz ignoreer die sarkasme in Mynie se stem.

      “Ja, ek het. Ek het mooi oor alles nagedink waarvan jy my beskuldig het, en ek weet nou presies wat gebeur het. Dit was nie Annette Basson wat ek gesoen het nie. Dit was my suster.”

      “Dit was nie Annette Basson wat jy gesoen het nie, maar jou suster,” herhaal Mynie sy woorde werktuiglik, dog dit maak geen sin nie.

      “Eerlikwaar, dit was my suster,” sê Heinz pleitend.

      “Jou suster wat jy in jou arms geneem, omhels en vurig gesoen het?” Nou eers dring dit tot Mynie deur wat Heinz pas gesê het. Daar is ongeloof op haar gesig te lees. “Verwag jy dat ek jou moet glo? Jou eie suster oor wie se hare jy gestreel het en jou arm om haar lyf gesit het?”

      “Ja. My suster het …”

      “Was dit nie dalk jou niggie nie?” val Mynie hom sarkasties in die rede. “Daardie storie van die niggie of suster is net so afgesaag soos die grap van die matroos wat die filmster genooi het om na sy etse te gaan kyk. Liewe land, Heinz, jy onderskat my intelligensie. Jou suster … Dink jy ek is so naïef om dit te glo? Loop, asseblief, voor ek my humeur verloor en jou sê wat ek van jou leuens dink.”

      “Mynie, dit was regtig my suster,” sê Heinz desperaat. “Ek het jou mos al van Karen vertel. Sy is twee jaar jonger as ek en …”

      “… en woon in Zürich. Lekker gerieflik ver. Te ver dat sy van die stories te hore sal kom wat jy oor haar loop en vertel. Omhels jou eie suster … Gaan jy met haar trou? Jy kan nie ’n danige prokureur en regsgeleerde wees as jy nie weet daar is ’n wet wat dit verbied nie.”

      Heinz is spierwit in die gesig. ’n Spiertjie pluk-pluk aan sy mondhoek. Hierdie is die moedswilligste vroumens wat hy nog in sy hele lewe teëgekom het. Hy is lus en kry Mynie Cronjé aan die skouers beet en skud haar. Heinz weet egter daar het reeds te veel humeure opgevlam. Dis nie nou die tyd om weer kwaad te word nie. Hy moet kalm bly en hierdie nooientjie versigtig hanteer. Hulle moet soos twee volwassenes in die sitkamer gaan sit en die kwessie kalm uitpraat.

      Mynie sien hoe Heinz se gebalde vuiste stadig ontspan. Hy haal ’n paar keer diep asem om sy verlore kalmte te herwin, dan glimlag hy skeef terwyl hy ’n pleitende hand op haar arm lê.

      “Moenie aan my raak nie! Bêre jou liefkosings vir jou kamstige suster. Wat is haar naam? Annette Basson? Gaan jy my wysmaak daardie witkop is jou halfsuster, of jou stiefsuster of so iets?”

      “Mynie, ek …”

      “Los my arm!”

      Heinz verstewig sy greep om Mynie se gewrig, maar sy trap vas en rem met alle mag agteruit.

      “As jy my nie los nie, skree ek! Ek het laas ook so gedreig. Hierdie keer voer ek my dreigement uit.”

      Heinz druk vinnig ’n soentjie op Mynie se pols. Hy neem haar ander hand ook in syne en probeer haar saggies nader trek.

      Heinz se bedoeling was om Mynie in die sitkamer te kry, in ’n stoel te laat sit en te pleit dat sy hom kans gee om te verduidelik wat daardie aand op die lughawe gebeur het.

      Mynie verstaan sy bedoeling egter verkeerd. Sy dink Heinz maak gereed om haar te soen. Sy probeer losruk, maar hy is te sterk vir haar. Nog steeds dwing hy haar nader.

      “Heinz, ek waarsku jou …!”

      “My skat, hou op om in trurat te rem. Al wat ek wil doen, is …”

      Mynie maak haar mond oop en skree so hard en deurdringend as wat sy kan.

      4

      Ou oom Koos Pretorius draai sy kop skuins en hou sy hand bak agter sy oor. Hy het sy gehoorapparaatjie afgehaal toe hy nou-nou ingedut het.

      “Bokkie, hoor jy iets?” vra hy vir sy vrou.

      Tant Bokkie is besig om haar geliefkoosde radiovervolgverhaal te luister. Sy skud haar kop en beduie oom Koos moenie so hard praat nie.

      “Dit klink na ’n meisiekind wat skree, Bokkie.”

      “Dis seker kinders wat lawaai, Koos.”

      “Kwaai? Ja, dit was ’n kwaai geskree. Ek dink ek moet gaan kyk of iemand nie dalk besig is om die meisiekind te vermoor nie.”

      “Ag, Koos, kry tog jou rus.”

      Maar oom Koos het vanmiddag tussen twee- en drie-uur genoeg gerus toe hy ingedut het. Nou is hy bekommerd oor daardie arme meisiekind wat so benoud geskree het dat selfs hý dit kon hoor. Hy draf slaapkamer toe, kry sy gaspistool en maak die voordeur oop.

      “Help! ” gil Mynie weer.

      Oom Koos huiwer nie. Dit kom uit die woonstel reg oorkant syne en Bokkie s’n, waar daardie mooi onderwyseressie alleen woon.

      Heinz het nie lank geduldig gebly nie. Toe Mynie die eerste verspotte gil gegee het, het hy die woonstel se voordeur haastig toegeklap en nou probeer hy haar stil kry. Hy skrik toe die deur skielik agter hom oopgaan en ’n bewerige stem sê: “Hensop!”

      As dit in ander omstandighede was, as sy nie so woedend was vir Heinz wat haar met brute krag wou dwing om iets teen haar sin te doen nie, sou Mynie gelag het vir die spektakel van ou oom Koos Pretorius – slaapmus nog op die kop en pistool in die hand terwyl hy die toneel met groot oë gadeslaan.

      Heinz is nog veel minder geamuseer as Mynie. Hy kyk vererg na die ou oom en wend geen poging aan om Mynie se arm te los nie.

      Die pistool word ’n paar sentimeter gelig sodat die loop na ’n kolletjie in die middel van Heinz se voorkop gemik is.

      “Ek het gesê hande in die lug!” beveel die krakerige oumanstemmetjie.

      “Dankie vir u bereidwilligheid om mejuffrou Cronjé te hulp te kom, meneer,” sê Heinz kortaf. “U verkeer egter onder ’n misverstand. Ek is haar vriend en …”

      “Hy is nie my vriend nie! ”

      “… en ek was nie besig om haar aan te rand nie.”

      Oom Koos kyk aarselend na die onderwyseressie, maar die pistool word nie laat sak nie.

      “Juffroutjie …?”

      “Asseblief, dreig oom sal hom skiet as hy nie loop nie,” sê Mynie. “Hy is ’n groot boelie. Hy het teen my sin die woonsteldeur oopgedwing en nou maak hy my arm seer.”

      “Ek kan nie hoor nie …?” versoek oom Koos.

      “Asseblief, oom, ek weet nie wie u is en waar u woon nie, maar ek verseker u juffrou Cronjé het nie u hulp nodig nie,” sê Heinz ergerlik. “Sit daardie pistool neer. Netnou gaan dit per ongeluk af.”

      Heinz het agtergekom die ou oom is effe doof. Hy beduie na die pistool, dog die ou man ruk dit vinnig buite sy bereik.

      “O nee, kêrel, so maklik laat ek my nie vang nie. Juffroutjie, ek sal hom dek, dan gaan bel jy die polisie.”

      Mynie het