… gesels?”
“Natuurlik. Wat anders sou ons gedoen het?”
“O, ek kan aan baie ander dinge dink wat julle kon gedoen het.” Mynie se stem is liefies, maar Heinz word nie om die bos gelei nie. Hy kan hoor dat die nooientjie nog steeds woedend is en hy weet nie hoe om haar weer goed te kry nie.
“Wel, ons het nie,” sê hy kortaf. “Annette Basson is ’n …”
“O, is dit haar naam? Ek het gedag dis ten minste iets soos Gigi of Fifi of …”
“… ’n ingeskrewe prokureursklerk by ons wat besig is met haar tweede jaar vir ’n BProc-graad. Sy het aangebied om vir my koffie te koop in ruil vir ’n paar eksamenvrae waarmee ek haar kan help. Sy ondervind probleme met Suid-Afrikaanse Erfreg en het gevra ek moet die ope notariële testament aan haar verduidelik.”
“En verwag my warmbloedige kêrel dat ek hom moet glo? Dat hy drie keer saam met die eksotiese blondine gaan koffie drink het, maar die hele tyd net met haar oor boedels en testamente gesels het?”
Heinz beteuel met moeite sy humeur.
“Dis die waarheid, ” sê hy styf.
“En ek sê dis nie die waarheid nie. Ek sê jy jok. Volgens die inligting wat ek het, was julle aktiwiteite van ’n veel meer amoreuse aard.”
“Kan jy daardie stelling beter toelig?”
Waar hy in die gang agter die toe kombuisdeur staan, is daar ’n gevaarlike flikkering in Heinz se grys oë. As Mynie sy gesig kon sien, sou die uitdrukking daarop haar gewaarsku het om liewer nie verder uit te wei nie. Maar Mynie het nog nie veel met Heinz du Preez se haastige humeur te doen gekry nie. Sy besef nie dat sy nou te ver gaan nie.
“As jy dan die ongure besonderhede uitgespel wil hê … goed. Annette het albei haar arms in ’n seekatgreep om jou nek gehad en jy was blykbaar nie ongeneë nie. Jou omhelsing was net so vurig. Ondanks die feit dat dit in die openbaar was, het jy haar twee keer gesoen. Toe het jy oor haar hare gestreel, jou arm om haar lyf gesit en saam met haar weggestap. Julle is nie weer gesien nie, en ek glo nie julle twee liefdesduifies het saam verdwyn om koffie te gaan soek nie …”
Heinz frons onbegrypend. Hy onthou hy het Annette se hand ’n ligte drukkie gegee, maar dit was slegs vertroostend, om haar te bemoedig omdat sy so bang is vir die eksamen. Daar was nie sprake van vurige omhelsings nie, en hy het beslis nie sy arm om haar lyf gesit nie.
“Dis nie waar nie, Mynie. Dis ’n infame leuen. Dis iemand wat opsetlik probeer kwaad stook het. Wie is hierdie skinderbek wat jou sulke leuens ingeprent het?”
“Om jóú aan te haal: ek verkies dat die identiteit van my informant vertroulik bly.”
“Maar jy glo hom of haar eerder as vir my?”
“Die persoon het geen baat daarby gevind om my van jou skelmstreke te vertel nie. Maar jy, aan die ander kant …” Mynie laat die res van haar sin veelseggend in die lug hang.
“Mynie, ek het jou lief …”
“Presies,” sê Mynie triomfantlik, bly Heinz het in die strik getrap. “Dis hoekom jy jou dade met allerhande slimstories sal probeer toesmeer. Dis hoekom ek my informant eerder glo as vir jou.”
“En as ek sê dis ’n spul leuens of dat daar iewers ’n misverstand is?”
“Dan verander dit nog steeds niks aan die saak nie. Jy het self erken dat jy daardie Annette Basson skelm uitgeneem het. Jy weet ek is nie besitlik of jaloers nie, Heinz. As jy my daarvan vertel het, sou ek nie omgegee het nie. Maar om dit by ’n ander persoon te hoor … en te hoor dat jy haar omhels en gesoen het … Nee, dít kan ek jou nie vergewe nie. Ek verneder my nie verder deur die saak te bespreek nie. Gee pad uit my woonstel en moenie weer jou voete hier sit nie.”
“Mynie, asseblief …”
Mynie ignoreer die smeking in sy stem, ook die dringende klop aan die deur.
“Loop!” beveel sy. Haar mond is teen die sleutelgat gedruk sodat sy seker is Heinz hoor haar hard en duidelik. “Tot dusver het ek getwyfel of ek met jou wil trou. Nou weet ek hoekom. Dis omdat ek jou nie liefhet nie. Daar was altyd iets in jou karakter wat my gehinder het. Nou weet ek wat dit is. Dis oneerlikheid, agterbaksheid, gemeenheid en ontrouheid. Ek wil jou nooit weer sien nie, Heinz du Preez.”
“Is dit jou laaste woord?”
“Ek hoop so.”
Heinz se gesig is spierwit. Sy oë skiet vonke en sy mond is in ’n dun lyn saamgepers. Hy doen nie moeite om vir Mynie tot siens te sê nie. Hy draai kort om, stap uit en klap die voordeur baie hard agter hom toe.
Mynie hoor die slag en die voetstappe wat in die gang wegsterf, maar om dubbel seker te maak, wag sy ’n rukkie voordat sy die kombuisdeur versigtig oopmaak. Alles is doodstil. Heinz is weg.
Mynie hardloop na die sitkamervenster toe en is net betyds om Heinz by die ingang te sien uitstap. Hy kyk nie op nie. Hy stap reguit na sy motor toe.
Mynie het verwag hy sou darem vir oulaas terugkyk, dalk effens nostalgies voel en dalk gehoop het om vir ’n laaste keer ’n blik van sy geliefde by die venster te kry. Maar nee, hy stryk met lang hale aan, asof hy ’n trein het om te haal, en hy dink nie eens daaraan dat sy miskien by die sitkamervenster staan nie. Nee, hy is te ongevoelig en hy kan blykbaar nie wag om by daardie Annette Basson te kom nie. Hy gaan háár nou seker nooi om by Hartebeespoortdam te gaan vleis braai, aangesien Mynie nie meer beskikbaar is nie. Dalk is hy selfs verlig dat Mynie Cronjé hom afgesê het sodat hy die blondine met ’n rein gewete kan uitneem en seker binnekort met haar kan trou …
Mynie sien Heinz se trui op die riempiesbank lê, waar hy dit Donderdagaand vergeet het. Sy sou dit graag eers met ’n skêr vol gate wou geknip het, maar daar is nie tyd nie. Sy gryp die trui, pluk die venster oop en gooi dit agter Heinz aan. Dan sien sy Heinz se pyp en tabak wat blykbaar ook vergete gebly het.
“Wag, hier is nog van jou goed!” roep sy, en die pyp en tabak en vuurhoutjies trek ook deur die lug.
Mynie het dit nie so bedoel nie. Sy het nie eens gemik om Heinz raak te gooi nie. Al wat sy wou doen, was om niks in die woonstel te laat agterbly nie, geeneen van sy besittings wat haar gedurig aan Heinz du Preez sou herinner nie. Sy het nie bedoel dat die pyp fyn en flenters moes breek nie. Sy weet hoe geheg Heinz aan daardie kromsteelpyp was … Toe hy buk om die stukkies van die sypaadjie af op te tel, is dit meer as wat Mynie kan verduur. Sy gaan val op die bank neer en begin huil asof haar hart ook in stukke gebreek is.
2
Tot die volgende Vrydagaand, tot selfs laat Saterdagmiddag, het Mynie bly hoop Heinz kom dalk terug. Maar toe dit naderhand sewe-uur word, en later agtuur en nege-uur, weet sy haar en Heinz se paadjies het uiteen geloop. Sy is vies vir haarself. Hier sit sy, uitgedos in ’n nuwe rok – blou, omdat dit Heinz se geliefkoosde kleur is – haar hare gewas en los oor haar skouers en met reukwater wat elke halfuur agter haar ore en op ’n fyn kantsakdoekie gespuit word, en dis alles pure verniet. Heinz sal nie kom nie. Sy verneder haar net deur te bly hoop.
Op hierdie oomblik kuier hy seker by Annette, haar arms weer in ’n seekatgreep om sy nek, sy hand strelend oor haar hare, terwyl hy haar vertel hoe lief hy haar het. Hy vertel seker nou vir háár dat sy die antwoord op sy drome is, die enigste meisie wat hy ooit sal liefhê. En hulle lag seker lekker oor arme ou Mynie wat so dikvellig is dat sy nie lankal reeds agtergekom het Heinz probeer van haar ontslae raak nie. Hulle sê seker dankie vir daardie onbekende nuusdraer wat vir Mynie vertel het dat hy ’n ander nooi het, sodat hy uiteindelik van die lastige Mynie Cronjé ontslae is …
“Ek gee nie om nie!” sê Mynie hardop.
Dis net ’n hol eggo deur die leë woonstel wat haar nie beter laat voel nie.
“Ek gee nie om dat hulle vir my lag of my dalk bejammer nie,” herhaal sy.
Al uitwerking wat haar valse bravade op Mynie het, is om opnuut ’n knop in