rede wil sy nie erken nie – selfs nie eens teenoor haarself nie.
Mynie se ma het haar dogter ’n mooi opvoeding probeer gee, en sy weet haar ma sou dit afgekeur het dat sy aan ’n man skryf omdat sy hom dalk wil gebruik om ’n ander een mee te vermaak. Of is dit nie haar werklike beweegrede nie? Is dit nie omdat sy wil keer dat Heinz du Preez haar bejammer nie? “Arme, eensame ou Mynie … Sedert ek opgehou het om my oor haar te ontferm, sit die stomme ding aand na aand stoksielalleen en treur. Ek voel verantwoordelik vir haar. Annette, het jy nie ’n broer of ’n neef of iemand wat ons aan die arme siel kan voorstel nie?”
Mynie se ken lig parmantig. Sy tel die pen op en begin skryf: Beste … Beste wát? Sy kan tog nie Beste Wewenaar skryf nie, kan sy?
Mynie het die advertensie vyf keer bestudeer; eers ná haar sesde probeerslag in antwoord daarop, is sy min of meer tevrede met haar poging. Sy het nog nie vas besluit of sy die brief gaan pos nie, en of dit dieselfde pad as die vyf opgefrommelde velle skryfpapier in die snippermandjie sal volg nie.
In haar sterkgevormde handskrif, met die individualistiese styl wat daarop dui dat sy kunssinnig is, het sy geskryf:
Beste Geesgenoot
Ek noem jou so omdat dit voel of ons twee op dieselfde golflengte kan wees. Ek is ook eensaam en verstote. Jy was eerlik genoeg om dit te erken. Ek ook. Dit is nie maklik om hierdie brief te skryf nie. Hierdie is my sesde probeerslag en ek vra dat jy dit simpatiek sal lees. Ek weet vooraf dit gaan voel asof ek besig is om my inkomstebelastingvorm in te vul, maar ek weet nie hoe anders ek jou al die volledige besonderhede aangaande myself kan gee nie. Jy het beloof om álle briewe te beantwoord. Op my beurt belowe ek dat my volgende brief minder soos ’n egoïstiese ensiklopedie oor myself sal lees. Verskoon asseblief intussen die woordjie “ek” wat noodgedwonge dikwels sal moet opduik.
Ek is 23 jaar oud. As jy reken dis dalk effens jonk vir jou, wil ek byvoeg dat ek baie lewenservaring opgedoen het en eintlik ouer as my jare is. Ek is 1,7 m lank en weeg 56 kg. My stokperdjies sluit in skilder, tennis, lees en koskook. Ek meld laasgenoemde nie omdat ek glo dat die pad na ’n man se hart deur sy maag gaan nie. Dis omdat ek werklik daarvan hou om in ’n kombuis te bak en brou. Iewers in my voorsate moes Italiaanse bloed gevloei het. Ek is verslaaf aan spaghetti. Sonder om te spog: Ek kan spaghetti op 27 verskillende maniere opdis. Jammer om jou moontlik af te skrik, maar ek is ’n onderwyseres van beroep – kunsonderwyseres. Daarmee saam gaan die feit dat ek lief is vir kinders. Weer eens sê ek dit nie omdat ek aanvaar dat ’n wewenaar gewoonlik kinders het en ek my deur so ’n opmerking in jou goeie boekies wil inwurm nie. Ek hou regtig van kinders, daarom dat ek onnie geword het.
Jou advertensie in Profiel het eerlik en opreg geklink. Dis wat my tot jou aangetrokke laat voel het. Daarom voel ek dat ook ék eerlik moet wees. Daar is ’n negatiewe sy in my karakter. Ek brand sproete op my rug as ek te lank in die son lê en ek eet nie pampoen of patats nie. Ook het ek ’n hekel aan naaldwerk, veral lap- en stopwerk. Wanneer klere skeur of stukkend raak, gooi ek dit weg en koop nuwes. Daaruit lei jy moontlik af dat ek ryk is. Ek is nie. Heeltemal sonder ’n bloue duit op my naam is ek gelukkig ook nie. Albei my ouers is in ’n motorongeluk dood toe ek eerstejaar op universiteit was. Hulle het my egter genoeg nagelaat om my BA-graad te voltooi en die geld wat oor was, het ek op ’n spaarrekening by ’n bougenootskap geplaas. Daarmee wil ek vir my ’n droom koop. My grootste ideaal is om eendag voltyds skilder te wees. Of ek egter genoeg talent het om uit skilder my brood en botter te verdien, weet ek nie. Daarom die spaargeld, indien my eerste uitstalling dalk ’n volslae mislukking is.
Jammer, ek het afgedwaal en jou seker verveel. Om terug te keer na myself … Blou is my geliefkoosde kleur. Ek hou van lees. Verkieslik outobiografieë, maar ook fiksie. Ek is redelik bygelowig. En jy? Ingeval jy is en dit jou mag beïnvloed: Ek verjaar laat in Junie en is dus ’n Kreef. Ek is egter nie so stroomop soos die meeste Krewe nie. As niemand my kwaad maak nie, is ek stil, skaam en teruggetrokke. O ja, ek het donkerbruin hare en groen oë. Ongelukkig nie smaraggroen nie. Meer ’n moddergroen as jy sal verstaan wat ek bedoel.
Nou ja, jy is teen hierdie tyd seker vas aan die slaap. Gooi maar my brief in die snippermandjie as jy besluit ek is nie die moeite werd om mee te korrespondeer nie. Ek sal verstaan. Jy het geen verpligting teenoor my nie, maar as jy wel besluit om te antwoord, sal ek dit waardeer.
Met vriendelike groete
Maryna Cronjé
Net soos sy die advertensie bestudeer het, probeer Mynie ook haar brief objektief beskou. Sy is bang sy kom voorbarig voor. Of vrypostig. Of pretensieus. Of vervelig. Of spoggerig. Het sy te min of te veel geskryf? Te ernstig of te lighartig? Sy wil nie hê die man moet dink sy slyp haar tande om hom kansel toe te sleep nie, maar aan die ander kant wil sy ook nie hê dit moet na gekskeerdery klink nie. Al wat sy vra, is platoniese vriendskap. Hy is eensaam en sy ook. Dit sal goed wees as hulle twee verstotenes in hierdie wrede ou wêreld dalk vir mekaar iets kan beteken.
Mynie oordink ’n paar sinne. Sy blaai drie bladsye terug, na waar sy haar lengte en gewig aangegee het. Sy het reeds die pen opgetel om dit na 54 kg te verander, maar besluit dan daarteen. Wat haar van Wewenaar beïndruk het, was sy eerlikheid. Sy skuld dit aan hom om ook van háár kant heeltemal eerlik te wees. Of so te sê eerlik …
“Nog niks weer van Heinz verneem nie?” vra Elma Visagie ’n paar dae later by die skool.
Mynie skud haar kop. “Nee, en ek sal ook nie. Heinz is verlig om van my ontslae te wees.”
“Ek wonder of jy nie bietjie oorhaastig was nie, Mynie. Jy het hom nie kans gegee om te verduidelik nie. Jy sê hy is baie kwaad daar weg?”
“Ja, woedend.”
“As hy afgekoel het, kom hy dalk na jou toe terug.”
“Dis al amper twee weke. Kan ’n mens veertien dae lank op kookpunt bly? En hoe kan jy sê ek was oorhaastig? Jý, wat hom self in die arms van daardie witkop gesien het …? Ek was bereid om na rede te luister, Elma. Om die waarheid te sê, in ’n stadium het ek selfs gedink jy kon jou dalk misgis het. Heinz het egter self erken dat hy saam met die meisie uit was. Drie keer nogal … met die verskoning dat hy boedels en testamente aan haar verduidelik het. Dis bietjie te veel om te sluk. Ek weet hy het vir my gejok. Kastig ’n ingeskrewe prokureursklerk by hulle firma wat BProc loop. Waar het jy al van beeldskone blondines gehoor wat in studie belangstel? Al wat húlle op die brein het, is mans.”
“Dink jy die blondine werk straks op die lughawe?”
“Dis moontlik. Ek glo niks meer wat Heinz my probeer wysmaak het nie. Ek vermoed dat hy my opsetlik onder ’n vals indruk gebring het. Jy sê sy was nie in uniform nie?”
“Nee, in ’n broekpak.”
“Dit bewys niks nie. Baie reisagente dra nie uniforms nie. Of het sy dalk tasse by haar gehad?”
“Jammer, Mynie, ek het nie opgelet nie. My tant Dollie is baie eksentriek. Dis altyd ’n deurmekaarspul as sy op ’n vlug vertrek. Soos gewoonlik was sy weer laat. Ons moes gou speel om haar bagasie betyds in te weeg en haar instapkaartjie te kry.”
Elma is ’n rukkie stil terwyl sy met ’n stapel taalwerkskrifte worstel. Toe die laaste oefening klaar nagesien is, tik sy nadenkend met die rooi pen teen haar tande.
“Tant Dollie kom Sondag van die Kaap af terug. Ons gaan haar op die lughawe haal. Het jy lus om saam te ry, Mynie?”
“Asseblief,” antwoord Mynie dadelik.
Elma kyk op haar horlosie, sien dat daar nog tien minute van haar vry periode oor is, sug en trek ’n volgende stapel skrifte nader. Dan glimlag sy tergend vir Mynie.
“Ek weet wat jy brand om te vra, my vriendin.”
“Wat?”
“Of ek die blondine sal herken as ek haar weer sien. Die antwoord is ja. Is dit waarom jy wil saamgaan lughawe toe? Om te gaan kyk of jy dalk die opposisie te siene kan kry?”
Mynie lyk verleë. Sy knik, voeg dan by: “Sy is nie meer die opposisieparty nie, Elma. Heinz was wel ’n betwiste setel, maar die een kandidaat