jy die bus verpas het nie?”
Die meisietjie skud haar kop skamerig. “Ek ry elke dag met die fiets skool toe.”
Mynie merk dat die meisie reguit na haar aangestap kom. Sy steek onwillig vas, hopende dat die vreemde meisie haar nie sal ophou nie. Sy is bang Heinz kom hier aan, en dan volg daar weer ’n volskaalse rusie. Die stoepe is vol kinders en sy kan Heinz nie ten aanskoue van haar leerlinge met ’n houtlepel oor die kop slaan nie, kan sy?
“Juffrou Cronjé?” verneem die meisie.
Mynie knik en kyk vlugtig oor haar skouer. Gelukkig is daar nog geen teken van Heinz nie. Of wag hy dalk in haar klas?
“Ek is Karen du Preez.”
“Aangename kennis …” begin Mynie, maar bly dan stil. Du Preez …? Is dit toevallig, of is dit familie van Heinz?
“Heinz se jonger suster,” voeg die blonde meisie by toe Mynie nie dadelik reageer nie.
Mynie frons.
“Mag ek vyf minute van jou tyd in beslag neem, juffrou Cronjé? As jy jou bus verpas, sal ek jou oplaai huis toe. Omdat dit vir my ouboet is wat ek ’n guns bewys, het hy ingewillig dat ek daardie rooi vuurwa van hom leen. Ek sukkel nog met die ratte en is nog nie daaraan gewoond om aan die linkerkant van die pad te ry nie, maar ek belowe jou ek sal nie ’n ongeluk maak nie.”
“Heinz se … se wat?” stamel Mynie.
“Se suster.”
Mynie staar na die meisie. Sy kan geen ooreenkoms tussen haar en Heinz sien nie. Waar Heinz lank en forsgebou is, is hierdie meisie kort en tengerig. En sy hare is donkerbruin, terwyl hierdie meisie s’n in lang blonde golwe oor haar skouers hang. Heinz se oë is grys, maar hierdie meisie s’n is bruin. Hulle lyk nie eens verlangs familie nie, wat nog te sê eie broer en suster …
Dis of die blondine Mynie se gedagtes lees. “Ek weet,” knik sy, “ons lyk nie na mekaar nie. Niemand wil ooit glo ons is broer en suster nie. Maar Heinz lyk na my pa terwyl ek die ewebeeld van my ma is.”
Mynie onthou dat twee van haar niggies ook so verskil. Nogal ’n tweeling, maar een is die beeld van haar pa terwyl die sussie sprekend na die ma lyk. Sy is bereid om dit teenoor hierdie meisie te erken, maar net toe Mynie haar mond oopmaak om te antwoord, kom Elma Visagie by haar klaskamer uitgestap. Sy kyk verbaas na die blonde meisie en haar vriendin wat lyk asof sy ewe vriendelik met die vyand staan en gesels. Elma weet nie wat aan die gang is nie, maar sy voel sy moet Mynie waarsku wie die blondine is sodat sy op haar hoede kan wees. Sy steek vas en beduie ongemerk met haar wysvinger agter die blonde meisie se rug terwyl sy iets aan Mynie probeer tuisbring.
Mynie snap dadelik wat Elma bedoel, dog haar vriendin wil dubbel seker maak dat Mynie die opposisie herken en nie dalk onwetend met haar heul nie.
“Juffrou Cronjé!” roep sy dringend. “Meneer Van Eyssen wil u onmiddellik in sy kantoor spreek.”
“Sal u my ’n oomblik verskoon, juffrou … e … Du Preez?” vra Mynie koel.
Elma het vooruit gestap en sy wag net om die hoek van die personeelkamer vir Mynie.
“Dis sý! Dis daardie goedkoop witkopflerrie wat op die lughawe haar arms om Heinz se nek gehad het en hom gesoen het. Wat kom soek sy by jou, Mynie?”
“Ek weet nog nie mooi nie. Dit lyk my Heinz het haar gestuur om my te kom wysmaak sy is sy suster. Maar ek weet Heinz se suster is in Zürich by die Suid-Afrikaanse ambassade. Sy kom eers oor drie maande huis toe.”
“Wat wil Heinz bereik deur die blondine met só ’n storie na jou te stuur?”
“Ek weet nie. Hy wil seker hê ons moet opmaak.”
“Niemand kan Heinz daarvan beskuldig dat hy nie ’n vasberade kêrel is en nie hard genoeg probeer om sy nooi weer goed te kry nie. Gaan jy toelaat dat daardie Annette Basson jou heuning om die mond smeer?”
“Nee. Ek het reeds vir Heinz gesê die verskoning van die suster is net so afgesaag soos die grap van die matroos wat die filmster genooi het om na sy etse in sy kamer te kom kyk.”
“Gaan jy dieselfde ding vir daardie Basson-vroumens sê?”
“Iets soortgelyks, ja.”
“Het jy hulp nodig, Mynie?”
“Dankie, nee. Ek dink ek is mans genoeg vir Heinz du Preez en tien van sy tiksters – selfs al is al tien van hulle besig met ’n kastige BProc-graad.”
“Sterkte. Roep maar as jy wil hê ek moet gou huis toe jaag om my verestoffer ook te gaan haal.”
Die pikante klein blondine staan ewe kalm op die stoep vir Mynie en wag.
“Jou hoof wat jou wou spreek?” vra sy vriendelik.
Mynie knik. Sy weet nie mooi hoe om te begin nie.
“Ek het gedink jy is nog oorsee, Karen,” sê sy om tyd te wen en haar gedagtes netjies agtermekaar te kry.
“My kontrak by die ambassade verstryk eers oor drie maande, maar ek is moeg vir die Switserse mans. Hulle is so opwindend soos koue vla. Ek het uit my betrekking bedank en huis toe gekom om ’n opregte boerseun los te slaan.”
“Wanneer het jy teruggekom?”
“Voorverlede Vrydagaand.” Die meisie se glimlaggie is verskonend en sy sê verleë: “Dis eintlik oor daardie aand wat ek gestuur is om met jou te kom praat. Heinz sê dit was my skuld dat die misverstand ontstaan het. Dis omdat ek so uitbundig was om weer my vaderland en my ouboet te sien. Iemand het ons glo op die lughawe gesien en vir jou vertel dis ’n ander nooi wat hy gesoen het. Heinz sê jy weier om na rede te luister. Jy wil nie met hom oor daardie Vrydagaand praat nie. Dis hoekom hy my gestuur het – sodat ek jou kan oortuig dis sy eie suster wat saam met hom op die lughawe was. Dit was uit blydskap wat hy my gesoen en uit vreugde wat ek my arms om sy nek gesit en hom styf vasgedruk het. Regtig, dit was nie ’n ander nooi nie.”
“Ek dink nou nog minder van Heinz. Dis lelik van hom om agter ’n vroumens se rokpante te skuil en jou met allerhande stories na my te stuur. Jy kan die toneelspel maar laat vaar. Ek sien daardeur en ek weet jy is nie Karen du Preez nie. Jou naam is Annette Basson en jy verdien ’n toekenning vir jou poging.”
“My naam is wát?”
“Annette Basson. Jy sal eendag ’n goeie prokureur uitmaak.”
“My naam is Karen du Preez.”
“Vertel dit vir die man in die maan.”
Om haar stelling te staaf, haal die meisie ’n paspoort uit haar handsak en hou dit na Mynie uit.
“In Switserland het ek daaraan gewoond geraak om my diplomatieke paspoort altyd byderhand te hê. Gelukkig het ek die gewoonte nog nie afgeleer nie. Dit was toevallig in my handsak.”
Die foto in die paspoort is onmiskenbaar dié van die meisie wat voor Mynie staan. Daarnaas word verklaar dat die houer daarvan Karen Marinda du Preez heet.
Mynie is manierlik genoeg om verleë te lyk.
“Nou kan ek verstaan hoekom Heinz nou die middag so woedend kwaad was toe hy van jou woonstel af gekom het. Hy het net iets van histeriese vroumense en iets van ’n dekselse verestoffer gebrom en sy kamerdeur baie hard agter hom toegeklap. Maar nou kan ek begryp hoekom my ouboet so kortgebakerd was. Ook waarom ek raas gekry het toe ek daardie aand Heinz se telefoon beantwoord het, maar nie gou genoeg gesê het dis sy suster – en nie sy nooi – wat praat nie. Jy is ’n klipkop, Mynie Cronjé, en boonop gedra jy jou soos ’n moedswillige kind.”
Mynie kyk vinnig op, dog Karen is nie werklik kwaad nie. Daar is ’n glinstering in die bruin oë en sy skud haar kop.
“Ai, hierdie liefdespaadjies wat met soveel dorings besaai is …”
“Ek is jammer ek het jou woord in twyfel getrek, Karen. Dit was onvergeeflik van my en ek vra opreg om verskoning. Ook omdat ek