want die waarheid laat haar liggies bloos – die waarheid, dat daardie kus vir hom werklik niks beteken het nie, dat dit slegs ’n ingewing was, daarom dat hy nog nie weer een maal probeer het om haar te omhels nie.
Die musiek loop ten einde en Diago lei haar terug na hul tafel.
“Dit is halftwaalf, pequena,” sê hy toe hulle die tafel bereik. “Ek dink dit is tyd vir ons om te gaan.”
“Het die dansery jou uitgeput?” vra sy met ’n ondeunde glimlaggie toe hy haar stola ewe sjarmant om haar skouertjies hang.
“Nee, hoegenaamd nie,” antwoord hy glimlaggend. “Ek sal nagte aaneen met jou kan dans sonder om ooit moeg te word. Maar ongelukkig moet ek môreoggend om vyfuur na Beira vertrek en ek mag dus nie verslaap nie.”
Hierop antwoord Ronelle nie, neem slegs haar aandsakkie en laat hom toe om haar na buite te lei waar sy motor in die straat voor die gebou staan.
Die rit terug na die Quinta wek in Ronelle ’n vreemde gewaarwording. Dit voel vir haar kompleet asof alles wat die moeite werd was om voor te lewe meteens ten einde geloop het, en dat haar eie lewe daarmee saam leeggeloop het. Sy luister na Diago se mooi, diep stem terwyl hy gemoedelik met haar gesels, maar ook dít kan nie die swaarmoedigheid wat haar gemoed soos ’n digte sluiter omhul, verjaag nie.
Aspoestertjie se middernagtelike klok het dus vir my ook geslaan, dink sy weemoedig toe hulle deur die geboogde ingang van die Quinta ry en ’n oomblik later voor die deur stilhou. Die einde van ons laaste genotvolle aandjie het helaas aangebreek en nou moet ook ék aan my prins vaarwel sê.
Toe Diago uit die motor klim, wag Ronelle nie soos gewoonlik dat hy die motordeur vir haar oopmaak nie, maar klim haastig uit en sluit by hom aan.
Hy neem haar arm en vergesel haar tot by haar kamerdeur. Dan stoot hy die deur vir haar oop en sê sag: “Ek sal jou bepaald nie weer sien voor my vertrek nie, Ronelle, dus sal ek jou nou maar groet.”
Sy reik hom die hand, maar Diago ignoreer haar uitgestrekte handjie, neem haar aan albei skouers en trek haar saggies nader. Die volgende oomblik rus sy lippe sag en warm teen haar blanke voorhoof. “Nag, pequena, en mooi bly,” sê hy met sy asem warm teen haar voorkop. Etlike tellings staar hy diep in haar weemoedige oë en vervolg met ’n baie teer stem: “Ek hou niks daarvan om jou hier agter te laat nie, en ek wil hê jy moet weet dat ek dit teen my sin doen … Boa noite, Ronella, pequena.”
“Nag, Diago, en ’n voorspoedige reis vir jou,” voeg sy hom met ’n hartseer glimlaggie toe.
Toe laat hy haar skouers los en staan ’n tree agteruit. Ronelle stap haar kamer binne en stoot die deur saggies agter haar toe. Sy voel doodmoeg en geestelik uitgeput. Warm trane brand agter haar ooglede en haar gemoed voel tot oorlopens toe vol. Soos ’n outomaat verklee sy en klim in die bed.
Daardie aand is Ronelle se kussing nat van die trane voordat sy eindelik in die vroeë ure aan die slaap raak.
Die oggend verslaap sy hopeloos, gevolglik is dit byna elfuur toe sy eindelik gereed is om die Quinta te verlaat. Sy besorg doma Maria ook net veilig tuis en vertrek toe sonder versuim na haar eie tuiste.
Diago moes die twee diensmeisies klaarblyklik gister al van haar koms verwittig het, want die huis is so skoon en netjies asof sy nooit weg was nie.
Lena en Sofie is albei baie bly dat Ronelle terug is. En toe Ronelle verduidelik dat die professor ook die middag om vieruur tuis sal wees, begin die twee dadelik aanstaltes maak om beskuitjies vir hul werkgewer se middagkoffie te bak.
Die huis is vir Ronelle ontsettend stil en leeg – leeg soos haar eie hart en die eensame toekoms wat op haar wag. Sy weet dat sy nooit weer ’n man so intens sal kan bemin soos wat sy Diago bemin nie. En dis hierdie gedagte wat ’n hewige opstand in haar ontketen jeens haar verraderlike hart wat haar so ’n genadelose streep getrek het.
Met loodswaar treë stap sy uit op die veranda en neem op die rusbank plaas. Daar is ’n diep hartseer in haar groen oë wat ver oor die blou, nimmer rustende golwe van die baai tuur. Sy besef dat sy haar sal moet regruk voordat haar vader vanmiddag arriveer, anders gaan hy dadelik haar geheim agterkom. En dit, besluit sy, mag nooit gebeur nie. Niemand moet ooit weet dat sy Diago bemin nie.
Haar gedagtes dwaal terug na Diago se vurige, hartstogtelike omhelsing daardie middag in die swembad, en dan styg ’n vreemde, onverklaarbare woede ineens in haar op by die gedagte dat hy haar so hartstogtelik kon liefkoos, terwyl hy so te sê op troue staan met iemand anders.
“Hy sien my klaarblyklik aan vir ’n goedkoop flerrie,” gesels sy saggies met haarself. “Iemand wat hy na willekeur kan liefkoos wanneer die gier hom pak, en dan weer opsy kan stoot wanneer die gier bedaar het … Wel, jy het jou les geleer, Ronelle,” spreek sy haarself ietwat sinies aan. “Dit was nou wel nie ’n aangename les nie, maar dit sal jou in die vervolg leer om nooit weer ’n man goedsmoeds te vertrou nie … Ja, al is hy ook ’n adellike Duque. Alle mans is eenders; bly dus uit hulle kloue uit! En wat Diago betref – van hom moet jy onmiddellik vergeet. Hy het die vermetelheid gehad om met jou teerste gevoelens te speel en is dus nie jou liefde werd nie. Bly liewer uit sy pad en laat hy gerus met sy adellike niggie trou …”
’n Lang ruk sit sy nog daar op die stoep met ’n stormagtige gemoed en tob oor die onbetroubaarheid van die manlike geslag, toe hoor sy die klokke lui wat middagete aankondig.
Na ete neem sy ’n tydskrif en gaan ontspan op haar bed tot om drie-uur. Toe gaan bad en verklee sy en vertrek daarna om haar vader by die kasteel se vliegveld te ontmoet.
Met die eerste aanblik merk Ronelle dadelik dat haar vader uiters vermoeid daar uitsien. Hy is baie duidelik oorwerk en die donker kringe onder sy oë is ewe opvallend. Sy groet hom hartlik en verneem dan besorg na sy welstand.
“Wel, ek voel ’n bietjie moeg, my ou dogter,” erken hy onderwyl hulle in die rigting van die motor stap, “maar dit is slegs te wyte aan die feit dat ek die afgelope week byna dag en nag aan my proefnemings gewerk het. Een goeie nagrus sal my dadelik regruk.”
Hy vra Ronelle belangstellend uit na haar eie welstand en haar verblyf in die kasteel, onderwyl sy bagasie in die motor gelaai word. Toe groet hulle die vlieënier en vertrek sonder versuim.
Tuis rus professor Frans Dekker net tot na aandete en hervat daarna sy werk onverwyld.
Toe Ronelle om elfuur aanstaltes maak om bed toe te gaan, brand die lig in sy studeerkamer nog steeds.
Die volgende paar dae sleep vir die meisie traag en eentonig verby. Soggens neem sy eers haar vader hospitaal toe en vertrek dan om tienuur na Marisa se tuiste. Eenuur gaan haal sy die oubaas vir middagete en verwyl dan die namiddag met lees totdat dit koel genoeg is om langs die strand te gaan stap.
Gevolglik is sy nie by die huis nie toe Diago die Woensdagmiddag bel om te sê dat hulle pas tuisgekom het. Eers toe haar vader daardie middag tuiskom, hoor sy dat die Duque herhaalde male vrugteloos na hulle huis toe gebel het. Daarna het hy die hospitaal gebel om te hoor wat aangaan, en waarom hy Ronelle dan nie te spreke kan vind nie.
“En wat het Pappie toe vir hom gesê?” wil sy met ’n onnutsige glimlaggie weet onderwyl sy, soos gewoonlik, vir hulle koffie op die voorstoep skink.
“Ek het hom gesê dat jy maar seker weer langs die strand ronddwaal. Jy doen dit tog elke middag wanneer dit koel is … Terloops, ons is genooi na môreaand se dinee, wat ter ere van sy tante en niggie gegee word. Dit gaan glo ’n swierige affêre wees. Sy neef, Armando, meen dat hy dalk môreaand sy verlowing aan sy niggie amptelik gaan aankondig.”
Ronelle haal haar skouertjies op en verklaar effens onverskillig: “Hy kan môreaand selfs in die huwelik tree ook, vir al wat ek omgee. My eerlike mening is dat die man pynlik vermetel en aanmatigend is. En as hy dink ek gaan bedags tuisbly om die telefoon op te pas, vir ingeval hy dalk hierheen bel, kan hy gerus weer ’n keer dink … En waaroor wou hy my nou juis so dringend gespreek het?”
“Hy het nie gesê nie, maar dit het vir my al geklink of hy gesteurd was oor jou ontydige rondlopery,” verduidelik haar vader sonder veel erg. “In