trek die sleutels oop.
Iemand moes haar geliefkoosde stukke bo-op die pak musiekboeke geplaas het, want die eerste musiekblad wat sy optel, is “Soewenier in F”. En toe sy opkyk na Diago, wat nou langs haar staan, weet sy sommer dat dit sy werk is.
Sy plaas die musiekblad op die bladhouer en begin dan met intense gevoel speel. Sy raak so weggevoer deur die goddelike klanke van die aangrypende komposisie dat sy terstond van die mantilla vergeet. Dis eers toe sy die laaste noot van die slotakkoord druk, dat sy weer bewus is van die ragfyn kant hier teen haar wang.
Die applous is so oorweldigend dat sy Diago, wat nou liggies teen die instrument aanleun, effens radeloos aankyk. Maar hy glimlag slegs bemoedigend en plaas Händel se “Largo” op die bladhouer.
“Jy het nou met jou meesterlike spel almal se harte verower, pequena,” voeg hy haar sag toe. “En as jy nog drie komposisies lewer, sal jy vir ewig in hulle harte lewe.”
Diago was soos gewoonlik reg, want toe sy na die vierde komposisie orent kom, word sy byna oorweldig deur die lofbetuigings.
Armando sweer hoog en laag dat hy nog nooit sulke aangrypende musiek gehoor het nie.
Een van die dametjies nader haar selfs om gevorderde lesse aangesien sy alreeds die lisensiaat-eksamen geslaag het en nou, nadat sy Ronelle se spel gehoor het, graag met haar musiekstudie sal wil voortgaan.
’n Paar van die ouer dames se oë toon selfs tekens dat hulle vroeër ’n paar trane gestort het, en Ronelle raai dat die hartroerende “Soewenier in F” vir daardie trane verantwoordelik was.
Die aand is ’n groot sukses en toe die gaste ’n uur later groet en vertrek, het Ronelle talle uitnodigings ontvang. Sy wag ook net totdat die laaste gas vertrek, toe raak sy onverwyld van haar deftige hooftooisel ontslae.
“Nou gaan ek eers buite in die tuin vars lug skep,” kondig sy aan toe die ou dame begin aanstaltes maak om bed toe te gaan.
“Maar jy kan mos nie alleen in die donker tuin gaan stap nie, Ronella!” maak doma Maria dadelik beswaar. “Nee, kom stap liewer saam met my na my kamer toe en vertel my of jy Marisa met haar musiek gaan help.”
“Ek sal ook graag wil hoor,” kom dit van Diago.
“Ek vrees ek kan nog niks sê nie, aangesien ek nog nie oor die saak besluit het nie,” verklaar Ronelle bedaard. “Eerstens is ek slegs ’n tydelike inwoner van Braca, dus sal ’n paar weke se lesse haar nie veel baat nie. En tweedens wil ek haar eers hoor speel voordat ek enige besluite neem.”
“Jy sal Marisa ’n baie groot guns bewys as jy so vriendelik sal wees om haar verder lesse te gee,” laat Diago weer hoor. “Noudat sy jou hoor speel het, is sy baie ernstig om met haar musiek voort te gaan en vir gevorderde lesse sal sy noodgedwonge na Lissabon moet gaan, wat vir haar natuurlik heeltemal onmoontlik is.”
“Ek kan glad nie insien waarom dit vir haar so onmoontlik is om in Lissabon te gaan studeer nie,” spreek Ronelle haar eerlike mening uit. “Marisa se ouers lyk welaf en kan dit tog seker bekostig om hulle dogter na Lissabon te stuur.”
Maar dan hoor sy doma Maria sê: “Om die eenvoudige rede dat Marisa se moeder haar nie vir ’n jaar of twee in Lissabon kan gaan vestig nie, Ronella. En sonder haar moeder as duenna mag sy natuurlik nie gaan nie.”
“Wel, ek moet sê, Marisa het al my simpatie. Die lewe van ’n jong Portugese meisie is beslis gebonde. Ek dank die hemel dat ek ’n Suid-Afrikaanse meisie is en dus sonder my moeder as geleide kon gaan studeer het. Maar ek sou dit nogtans nie geduld het nie, al was ek ook in Marisa se posisie. Ek sou tot die bitter einde geveg het om my ideale verwesenlik te sien.”
“As jy in die tradisie van Portugese edelliede opgevoed was, pequena,” glimlag Diago meewarig, “sou jy sonder twyfel jou ouers se leiding gevolg het, presies soos Marisa. Maar dit nou daar gelaat. Wat op die oomblik wel ter sprake is, is dat ek jou môre na Marisa sal neem sodat sy die klavier vir jou kan bespeel.”
“Maar ek sal slegs ’n paar weke nog op Braca wees –”
“In daardie paar weke, my liewe Ronella,” val Diago haar sag in die rede, “kan jy met ’n gewillige en ywerige leerling wondere verrig.”
“Ek sal môre besluit,” is al antwoord wat sy hom gee. Daarna sê sy en die ou dame nag en begeef hulle na hulle kamers.
7
Die volgende oggend vergesel Ronelle tog haar gasheer na Marisa se tuiste en nadat sy die jonger meisie op die klavier hoor speel het, stem sy in om vir haar verdere musieklesse te gee. Gevolglik vertrek Ronelle nou elke oggend om tienuur na Marisa se ouerhuis en keer dan pas voor middagete terug.
Smiddags is dit dieselfde roetine. Na ete, siësta; om drie-uur gaan sy ’n halfuur swem; vieruur drink hulle koffie op die voorstoep en daarna ry sy alleen strand toe en kuier op die rotse totdat die son haas ondergaan.
Saans na ete lê hulle gewoonlik by die een of ander familielid van die adellike Duque besoek af.
So verloop die een dag na die ander vir Ronelle, met Diago en sy tante altyd vriendelik en bedagsaam. Selfs die kasteel met sy doolhof van gange en vertrekke is vir haar ook nie meer so skrikwekkend nie. Sy het ook al by Carmelita heelwat Portugees geleer.
Saterdagoggend is sy merkbaar opgewonde toe Diago haar voor haar vertrek na Marisa herinner aan hulle afspraak om daardie aand by die hotel te gaan dans.
“Is dit darem vir my geoorloof om alleen saam met jou te gaan dans, of moet ons my waaksame duenna saamneem?” vra sy met ondeunde pret in haar laggende oë.
“Nee, pequena,” antwoord hy goedig, glimlaggend terug. “Jy mag sonder ’n duenna saam met my gaan dans. As hoof van ons familie mag ek te eniger tyd die plek van ’n duenna inneem. En ek wil jou sommer ook vra om asseblief nie ’n skouerlose aandtabberd te dra nie. Dames uit die Portugese adelstand dra nooit gewaagde tabberds nie.”
“Maar ek is nie ’n Portugese dame nie, en nog minder uit julle adelstand, Diago,” werp Ronelle ter verdediging terug. Die man begin sowaar al weer lastig word.
Maar dan hoor sy hom bedaard, dog met ’n stadige glimlaggie sê: “Tydens jou verblyf in my kasteel word jy wel met dieselfde maat gemeet, pequena. En jy gaan my tog seker nie in die verleentheid bring deur so ’n gewaagde tabberd te dra nie.”
Etlike sekondes kyk Ronelle die konserwatiewe jongman stil aan. Toe haal sy haar skouertjies op en sê ietwat onverskillig: “O, wel, as jy dan nou daarop aandring dat ek my soos my oumagrootjie moet aantrek, sal jy maar ’n dame uit jou eie volk na die dans moet neem, Diago. Ek vrees ek besit nie ’n enkele aandrok wat jou smaak sal bevredig nie.”
Met daardie woorde draai sy om en wou net wegstap na haar vader se motor, wat voor die deur staan, toe Diago haar onverwags aan albei skouers neem en haar liggies omswaai totdat sy reg voor hom staan.
’n Kort oomblik brand sy oë in hare, maar dan kalmeer hy homself met groot inspanning en sê bedaard: “Ek het alreeds vir ons ’n tafel by die hotel bespreek, Ronella, en daar is nog genoeg tyd om ’n geskikte tabberd te gaan koop. Ek sal Marisa nou dadelik gaan bel en vir haar sê om jou nie vanoggend te verwag nie. Daarna sal tia Maria jou na die winkels vergesel.”
Hierteen kan Ronelle geen beswaar maak nie en ’n halfuur later is sy en doma Maria onderweg na die winkels.
Terwyl sy die een tabberd na die ander aanpas, tref dit haar meteens dat dit vanaand die eerste maal sal wees dat sy met Diago sal dans – en helaas ook die laaste maal – want sodra sy adellike niggie eers hier op Braca is, sal hy natuurlik geen aandag meer aan haar, Ronelle, skenk nie.
Hierdie gedagte wek ’n ontsettende pyn in haar binneste, êrens waar haar hart moet wees. Sy kan nou nog nie begryp waarom sy juis op Diago, van alle mans, moes gaan staan en verlief raak nie. Sy het tog uit die staanspoor geweet dat daar sprake is van ’n huwelik tussen hom en sy niggie wat oor twee dae uit Lissabon arriveer …
Ja, nog net twee dae, ween