nie gepraat van jou persoonlike gevoelens jeens my nie, pequena,” sê hy nog steeds bedaard, dog met ’n sweem van ’n glimlaggie. “Ek het na jou gesondheid verneem. Maar met jou humeur tans so hoogs ontvlambaar, sal dit natuurlik nutteloos wees om my vraag te herhaal.”
’n Kort oomblik betrag sy hom suspisieus deur nougetrekte oë, asof sy hierdie skielike vreedsaamheid van hom glad nie vertrou nie. Sy ken hom nie so mak nie. Hy het nog deurentyd getoon dat, wat ander ook al sê of dink, dinge hier op Braca slegs volgens sy wense sal geskied … Nee, die man kom haar te vreemd mak voor. Hy voer beslis iets in die skild.
Dog na ’n rukkie sê sy: “Nou ja, as dit jou sal interesseer, señor Duque – nie dat ek kan begryp waarom dit jou sal interesseer nie – ek verkeer in blakende gesondheid en koester geen planne hoegenaamd om die gees te gee, net omdat ek in die water geval het nie. Ek het al dikwels in die see beland, weet jy, en nog nooit iets daarvan oorgekom nie. Ek en André het nie pieperig grootgeword nie. Trouens, ek was byna sestien jaar oud toe speel ek nog steeds voetbal saam met my broer en sy maats –”
“Voetbal!” val hy haar met ’n geskokte stem in die rede en ’n trek van verbasing. Ongeloof en afkeer wissel mekaar snel af op sy mooi, sterk gelaat. Hy meet haar ’n oomblik met ’n kil, bestraffende blik, en gaan dan ietwat onpersoonlik voort: “Ek kan eerlikwaar nie begryp hoe dit moontlik is dat jou vader so iets kon toelaat nie. Maar dit is ook weer waar, julle Suid-Afrikaanse dames het mos volkome vrye omgang met die teenoorgestelde geslag. In elk geval, ek wil jou graag dít sê, señorita, dat so iets nie hier op Braca geduld sal word nie. Jy sal dit dus in gedagte hou, nè?”
“Toemaar, señor Duque,” voeg sy hom met ’n kil stemmetjie toe. “Wees gerus. So iets sal nie hier op jou geliefde Braca gebeur nie, want ek sal nie lank genoeg hier wees om die gemeenskap so te skok nie. Ek het nou finaal besluit om na Nuwejaar saam met André terug te keer na my eie land. Ek gaan my nie langer hier op Braca begrawe nie. Die mense hier is almal dood. Hulle het nie die vaagste benul wat die woord ‘lewe’ beteken nie.”
Die jong edelman kom trots orent, kyk Ronelle ’n rukkie swyend aan en verklaar dan onverwags: “Die jong señor André gaan eers ’n rukkie hier op Braca vertoef voordat hy teruggaan, señorita. In elk geval, ek wens jou ’n rustige nag toe … Boa noite, Ronella.”
“Goeienag, señor,” antwoord sy ietwat beteuterd en staar sy lang, imponerende gestalte diep ingedagte agterna toe hy haar kamer verlaat, volkome bewus daarvan dat hy wel daarvoor sal sorg dat André langer hier op Braca vertoef.
6
Die volgende oggend is Ronelle vroeg uit die vere. Sy voel nog bitter vies vir Diago en weet nie hoe sy ooit saam met hom aan dieselfde tafel sal kan sit nie. Sy koester geen sinnigheid daarin om met hom te praat nie; aan die ander kant moet sy beleef wees teenoor hom aangesien hy haar gasheer is.
Na vele oorwegings besluit sy dat sy vir hom slegs môre sal sê en dan al haar aandag by die ou dame sal bepaal. Maar hierin word sy weer eens gedwarsboom, want toe die ghong ontbyt aankondig, is dit net sy en Diago wat vir die maaltyd aansit.
Toe haar blik vraend op die ou dame se leë stoel rus, verduidelik die edelman bedaard: “My tante nuttig gewoonlik ontbyt in die bed. Sy is al betreklik bejaard en het baie rus nodig. Ons sal haar dus verskoon.” Ronelle swyg en nadat hulle bedien is, vra hy weer: “Hoe laat wil jy dorp toe gaan, señorita?”
“Sodra doma Maria gereed is,” kom haar antwoord ietwat onpersoonlik.
“Nou ja,” sê hy weer, nou met iets soos kommer in sy stem, “ek hoop die uitstappie gaan nie te veeleisend vir haar gestel wees nie.”
Ronelle se oë vonkel weer dadelik gevaarlik toe sy agterdogtig sê: “Daarby bedoel jy natuurlik dat ek haar onnodig saam met my deur die dorp sal sleep asof sy ’n jong dogter is, slegs om my eie giere en grille te bevredig, nè, señor Duque?”
Hy glimlag onderlangs en toe hy nie dadelik antwoord nie, kyk Ronelle hom aan met ’n warm, opstandige blik en gaan onomwonde voort: “As jy my nie saam met doma Maria vertrou nie, señor, moet jy my dit asseblief reguit sê. Ek hou nie van jakkalsdraaie nie.”
Die edelman plaas sy mes en vurk stadig op sy bord neer, kyk na haar en sê met ’n sweem van ’n glimlaggie: “Ek vrees hoegenaamd nie dat jý doma Maria onnodig sal uitput nie, Ronella; ek vrees dat sy haarsélf mag uitput. Sy is nog besonder jonk van hart, ofskoon haar gestel oud en afgeleef is. Jy hoef dus nie so verontwaardig te wees nie, pequena.”
Die aangesprokene werp hom slegs ’n vlugte blik toe en bepaal dan haar aandag by die vis op haar bord. Maar dadelik voel sy dat sy die stryd nie so maklik gewonne behoort te gee nie en verklaar ewe slinks: “As jy verontrus voel oor doma Maria, kan ons met plesier tuisbly. Ek wou slegs ’n mantilla gaan koop het, maar ek kan heeltemal goed daarsonder klaarkom. Ek is in elk geval nie gewoond aan so ’n vreemde hooftooisel nie en sal dit verloor sonder dat ek dit ooit agterkom.”
“Toemaar, jy sal gou daaraan gewoond raak, pequena,” stel hy haar met ’n sagte stem gerus. “Ek voel ook heeltemal oortuig dat jy met ’n mantilla net so wonderskoon soos ’n madonna sal lyk.”
Hierop antwoord Ronelle nie, want dit wil haar nou al voorkom asof die man besig is om met haar te spot. Hulle geniet die res van die maaltyd in stilte en ’n uur daarna vertrek sy en die ou dame na die dorp.
Voor die grootste modewinkel op Braca hou Ronelle ’n kwartier later stil. Sy help die ou dame versigtig uit die motor en met haar arm deur die ouer vrou s’n gehaak, stap hulle die winkel geselsend binne.
Ronelle is nie verbaas toe sy merk met hoeveel eerbied en ontsag hierdie oudste familielid van die Duque in die winkel ontvang word nie. Dog hulle vertoef nie lank nie. Sy koop slegs ’n paar mantillas van die fynste kant om by haar dineetabberds te pas, ’n geel swempakkie en ’n doos sjokolade. Daarna verlaat hulle die winkel.
By die motor aangekom, help Ronelle die ou dame weer versigtig in die voertuig, sit haar pakkies op die agterste sitplek neer en klim dan self in. Sy skakel die enjin aan, kyk die ouer vrou met ’n stralende glimlaggie aan en vra sag: “Is dit nodig dat ons nou dadelik moet teruggaan na die Quinta toe, of sal ons eers ’n bietjie met die strand langs gaan ry?”
“Sodat jy weer met klere en al in die water kan val?” terg die ouer vrou gemoedelik.
Ronelle merk die ondeunde lig in die spreekster se oë en begin saggies lag. “Ai, Diago het hom gistermiddag behoorlik buite weste geskrik toe ek so voor sy oë tussen die golwe verdwyn!” sê sy, nog steeds laggend. “Maar dis nog niks. U moes sy gesig gesien het, doma Maria. Hy was so bleek soos die dood, maar sy oë was soos twee donker vlamme. En in een stadium het dit vir my regtig gelyk of hy lus gehad het om my te skud dat my tande klap … In elk geval, ek belowe om nie ’n voet uit die motor te sit nie.”
“Nou goed, laat ons dan maar gaan,” gee die ou dame toe. “En as jy in die water wil val, Ronella, sorg asseblief net dat jy nie verdrink nie, want dan sal Diago mý dalk skud dat my tande klap!”
’n Heerlike lagbui is al antwoord wat sy van Ronelle kry. Toe trek die voertuig weg en weldra bereik hulle die strand. Hulle ry om die punt van die berg wat na aan die strand geleë is.
Toe trek Ronelle die motor uit die pad, in die skaduwee van ’n lowergroen boom. Hier maak sy die doos sjokolade oop, en geselsend verwyl hulle die oggend in die rustigheid van die natuur. Ronelle vertel die ou dame van haar verblyf in die buiteland en spreek dan haar misnoeë uit oor Diago se knaende nougesetheid wat haar lewe so streng aan bande lê.
“O, maar ek gaan hom vanmiddag ’n lieflike streep trek,” sê sy weer na ’n rukkie met oë wat lewe van pret en ondeundheid, en vertel die ou dame wat sy eintlik van plan is om daardie middag te doen.
“Ronella, jy sal maak dat Diego se kop binne ’n week grys is,” lag die ouer vrou. “In elk geval, ek sal maak of ek van niks weet nie. Ek weet net nie of jy sonder ’n skrobbering daarvan gaan afkom nie, kind.”
“Daardie risiko sal ek maar moet loop,” glimlag die meisie