Susanna M Lingua

Susanna M Lingua Gunstelinge 6


Скачать книгу

agteroor geleun, sit Ronelle na Diago se strelende, diep stem en luister, onderwyl hy en doma Maria rustig oor allerhande sake gesels. Na ’n rukkie word die stemme vir haar al hoe sagter en sagter, totdat dit heeltemal vervaag en sy vas aan die slaap is.

      “Dit lyk vir my of jou Ronella slaap, Diago,” merk die ou dame ’n rukkie later op, met ’n ondeunde vonkeling in haar oë.

      “Mý Ronella?” vra die edelman, en sy een sierlike wenkbrou vorm ’n duidelike vraagteken.

      “Kom, Diago,” glimlag die ou dame nou betekenisvol, “ek mag wel oud wees, maar ek is nog lank nie blind nie. En dit help nie om te stry nie. Jy was nog nooit in jou lewe so begaan oor ’n meisie soos wat jy oor Ronella is nie.”

      “Dis waar, u is beslis nie blind nie, tia Maria,” lag die Duque saggies. “Ek sal eerder sê u is ’n baie noulettende ou dame. Maar die liewe klein Ronella sal nog getem moet word. Sy is gans te eiewys, hardkoppig en selfstandig.”

      “Jy gaan haar tog seker nie nou wek vir ete nie?” sê-vra die ou dame, kyk die jongman aan en glimlag stilweg.

      “Nee, ek glo nie dit sal raadsaam wees nie. Sy is doodmoeg en uitgeput.”

      Hy vertel die ou dame hoe hy Ronelle vroeër in trane aangetref het, van haar ontboeseming oor haar eensaamheid hier op Braca, en sluit af met: “Laat haar dus maar slaap, Tia.”

      “Hier in die stoel?” wil die ou dame weer weet.

      “Nee, my liewe tia Maria, nie hier in die stoel nie,” glimlag hy goedig. “Ek gaan ons kleine Ronella na haar bed toe dra, waar sy gemaklik en rustig kan slaap.”

      ’n Ondeunde trek verskyn meteens in sy oë toe hy die ou dame aankyk en lighartig vervolg: “Sy sal natuurlik ’n aanval van histerie kry wanneer sy vanmiddag ontwaak en verneem dat dit señor Duque is wat haar na haar bed toe gedra het. Ek kan haar so duidelik voor my geestesoog sien. Sy sal haar vlammende hofie trots in die lug ruk en met ’n dierbare, kille stemmetjie sê: ‘Dit was regtig onnodig, señor Duque. Die stoel was gemaklik genoeg vir ’n middagslapie.’”

      Toe kom hy orent, neem Ronelle saggies in sy arms en dra haar versigtig na haar bed toe. Hy lê haar ewe versigtig op die bed neer en verwyder dan haar skoene. ’n Lang ruk staar hy stil en met gemengde gevoelens af na die slapende meisie se bekoorlike gelaat. Toe draai hy om, verlaat die kamer en trek die deur saggies agter hom toe.

      5

      Dis byna halfvier toe Ronelle eindelik ontwaak. Die glasdeure wat op die balkon uitloop, is nog steeds oop en sy is onmiddellik bewus van haar vreemde omgewing. Maar stadig dring die gebeure van die dag tot haar deur en dan wonder sy met ’n ligte frons hoe sy hier op die bed beland het. Haar hoofpyn is gelukkig nou iets van die verlede en sy besluit om dadelik op te staan.

      ’n Driekwartier later is sy gebad en in ’n fraai, kleurryke somersrokkie en bypassende gemaklike skoentjies geklee. Sy is nog nie vertroud met die binnekant van die kasteel nie, maar sy weet darem hoe om die hoofingang te bereik – en dit is per slot van rekening al wat vir haar van momentele belang is. Sy wil ’n rukkie wegkom van al hierdie kosbare weelde wat haar omring, weg na die prag van die natuur wat buite lok en wink.

      Haar voetstappe is byna geruisloos op die sagte, dik donkerrooi traploper wat die trappe bedek. Liggies, grasieus stap sy met die trappe af en eindelik bereik sy die hoofingang. Etlike tellings betrag sy die goddelike weelde van blommeprag wat die voorste binnehof versier. Dan besluit sy om hierdie blommewoud van naby te gaan verken.

      Die ergste hitte het nou afgeneem en Ronelle kuier sorgeloos in die tuin rond. Sy bereik die groot blougeteëlde swembad en is meteens bewus van die bekende figuur wat met lang, grasieuse hale na haar kant toe aangeswem kom. ’n Oomblik wonder sy of dit nou van haar verwag word om dadelik pad te gee. Hier op Braca word gemengde swemmery mos nie toegelaat nie. Maar dan ontwaak een van die talle duiweltjies in haar en sy neem doodluiters net daar op die rand van die swembad plaas.

      Hierdie preutse Duque, besluit sy, gaan sy nog ’n lekker streep trek in hierdie einste swembad … Ja, en ook nie later as môre nie. Haar groen oë vonkel by voorbaat toe sy dink hoe lekker sy die man uit sy waardigheid gaan skok en hom só terugbetaal vir ’n paar vernederings wat sy al van hom moes verduur het!

      Diago, wat haar reeds langs die swembad opgemerk het, kom nou vinnig na haar toe aangeswem, daar waar sy doodluiters langs sy kamerjas en sandale sit, met haar knieë opgetrek tot onder haar ken en haar arms gemaklik om haar bene geslaan.

      Hy swem tot voor haar, hys hom op totdat hy met gevoude arms op die rand van die swembad rus en kyk ondersoekend op in haar ondeunde oë wat nou van innerlike pret vonkel.

      “Jy lyk sprankelend en wonderskoon, señorita,” sê hy met ’n skewe glimlaggie. “Ek veronderstel jy het goed gerus.”

      “Ek het, dankie,” glimlag sy terug. “Maar hoe ek in my slaap op die bed beland het, is vir my ’n groot raaisel. Ek het nooit geweet dat ek in my slaap loop nie.”

      “Nee, jy loop gelukkig nie in jou slaap nie, pequena,” voeg hy haar met ’n tergende glimlaggie toe. “Ook maar goed, anders sou jy my nagmerries besorg het … Terloops, ek het jou na jou bed toe gedra.”

      “Dankie, maar dit was regtig nie nodig nie, señor Duque. Die stoel was gemaklik genoeg om ’n uur of wat in te slaap –” begin sy, maar hy val haar met ’n sagte laggie in die rede toe hy sê: “My naam is Diago, Ronella.”

      “Nou goed, señor Diago …”

      “Laat die ‘señor’ en ‘u’ maar staan, pequena, en noem my slegs Diago,” help hy haar goedig reg. “Ons is nou mos weer vriende, nie waar nie?”

      “Ja, op die oomblik is ons weer vriende,” stem sy saam en vereer hom met een van haar betowerende glimlaggies. “Maar hoe lank hierdie vriendskap gaan duur, weet ek nie. Seker maar net totdat ek weer die een of ander oortreding begaan en ek my opnuut vererg vir julle preu … ek bedoel, nougesetheid –”

      “Sê maar ‘preutsheid’, Ronella,” val hy haar glimlaggend in die rede. “Dit is tog wat jy wou sê – trouens, ek verkies dat jy altyd volkome eerlik en reguit met my moet wees, maak nie saak wat jy aangevang het of wat jy wil sê nie.”

      “Leuentaal, oneerlikheid en onsedelikheid is nie deel van my swakhede nie, Diago,” lig sy hom ernstig in. “Al dink jy ook ek gedra my onsedelik omdat ek in bikini-baaipakkies swem …”

      “Ronella!” roep hy sag, geskok uit, en sy donker oë boor in hare. “Goeie hemel, waar op aarde kom jy aan sulke onsin?”

      Sy haal haar skouertjies onverskillig op en antwoord ewe bedaard: “Ek het dit maar afgelei uit ons argument van nou die middag, en ek moet sê ek het glad nie gevlei gevoel nie.”

      “Ek vrees jou afleiding van my argument was hopeloos foutief,” verklaar hy met ’n groot erns onderwyl hy haar streng aankyk. “So ’n gedagte het nog nooit, nie eens vaagweg, by my posgevat nie.”

      Haar oë glimlag nou weer in syne toe sy sag sê: “Dankie, Diago, ek is bly dat jy darem nie so sleg van my dink nie. Ek weet ek is ’n impulsiewe skepsel en ek begaan baie oortredings, maar nie súlke oortredings nie. My oortredings beskou ek as klein sondetjies en glad nie eens die moeite werd om my hoof oor te breek nie.”

      “En wat presies noem jy nou eintlik ’n klein sondetjie, Ronella?” vra hy versigtig en kyk haar behoedsaam aan, want van iemand met Ronelle se temperament weet ’n mens nie aldag wat om te verwag nie.

      Maar laasgenoemde lag slegs dat haar pragtige tande wit skitter en verklaar ongeërg: “Wel, as ek byvoorbeeld nou, sommer met klere en al, hier langs jou induik en jou tot ’n wedloop na die ander kant van die swembad uitdaag, of een oggend in een van my bikini-baaipakkies saam met die klomp mans by die strand gaan swem, of een middag met ’n kortbroekie by die saal opdaag om die orrel te bespeel, of –”

      “Genoeg, pequena,” maak hy haar dadelik stil, met ’n ietwat bleek gelaat. “Dit