Ronella. As jou voete gly, kan jy maklik ’n arm of ’n been breek.”
Sy woorde is nog nie koud nie, toe gly Ronelle se voete wel.
Maar sy breek gelukkig nie ’n arm of ’n been nie en beland slegs tussen die golwe met klere en al.
Diago skrik so groot toe Ronelle skielik van die rots af tuimel dat hy met een kragtige sprong bo-op die lang, plat rots staan.
Gelukkig val Ronelle skuins by die plat rots verby, binne-in die water, en doen dus geen letsels op nie. Die edelman is bleek van die skrik en toe haar rooibruin hoof eindelik deur die oppervlakte van die water breek, is hy dadelik by om haar met ’n helpende hand uit die bruisende golwe te kry.
Hy sê egter nie ’n woord terwyl die reddingsproses aan die gang is nie. Toe Ronelle eindelik veilig, hoewel druipnat, langs hom op die rots staan, breek sy toorn oor haar weerlose, nat hofie los.
“Ek moes van beter geweet het as om so ’n impulsiewe, voortvarende en onverantwoordelike persoon soos jy hier tussen die rotse los te laat, Ronella,” sê hy kil en dan boor sy vlammende oë in hare. “Kan jy dan niks reg doen sonder dat ’n mens jou hand vashou nie? En is dit ’n voorbeeld van hoe moeilik jy die wêreld vir my gaan maak tydens jou vader se afwesigheid?”
Ronelle het self ’n yslike skok weg en voel nog half deur die wind, maar hierdie kille aantygings bring haar dadelik tot verhaal.
Nou vlam haar oë ook toe sy hom vernietigend aanstaar en diep onthuts toevoeg: “Almal is nie so wonderlik volmaak soos jy nie, señor Diago. Maar laat ek jou dít vertel: Ek wil nooit in my lewe so volmaak soos jy wees nie. Wat pas gebeur het, was ’n blote ongeluk, iets wat enigeen kan oorkom. En as jy dink ek maak die wêreld vir jou moeilik, sal ek my sonder versuim uit Braca verwyder –”
“Jou vader sal nie toelaat dat jy Braca alleen verlaat nie, señorita,” val hy haar streng in die rede.
Maar Ronelle is bitter ontstoke en troef hom dadelik met ’n ysige stemmetjie: “Ek is mondig, señor, en het nie my vader se toestemming nodig nie. My lewe is my eie om daarmee te maak wat ek wil. Derhalwe laat ek my nie voorskryf wat ek moet doen en wat ek nie moet doen nie. En as ek my nek hier op die rotse gebreek het, het dit nog niks met jou te doen nie. Dit sou mý nek gewees het, en nie joune nie.”
“Tog hou jou vader mý verantwoordelik vir jou veiligheid,” begin hy weer.
Ronelle gee hom egter geen geleentheid om meer te sê nie, want weer val sy hom met ’n kwaai stem in die rede: “Moet jou asseblief nie oor my veiligheid kwel nie, señor. My vader hou my alleen daarvoor verantwoordelik – en nie slegs tydens sy huidige afwesigheid nie, maar selfs al sedert die dag toe ek na Europa vertrek het.”
Diago wil haar nog vertel dat hierdie eiesinnigheid en koppigheid van haar grootliks te wyte is aan haar selfstandige verblyf in Europa, en dat haar vader inderdaad ’n groot fout begaan het toe hy haar destyds alleen na die buiteland gestuur het. Maar dan merk hy dat sy nog steeds druipnat voor hom staan en dat die seebries opmerklik koeler geword het.
“Kom,” sê hy, nou ietwat meer genaakbaar, en neem haar ferm aan die arm. “Jy het alreeds te lank met jou nat klere hier in die koel bries gestaan. As jy nou nog longontsteking ook moet opdoen …” Hy breek sy sin af en verbleek merkbaar. Die gedagte dat Ronelle dalk longontsteking mag opdoen, laat hom meteens yskoud word, want dit is presies waaraan sy moeder drie jaar gelede beswyk het.
Hy dra haar half van die rots af en toe hulle eindelik weer op die strand staan, trek hy sy baadjie haastig uit en versoek haar sonder enige omhaal van woorde om dit dadelik aan te trek.
Ronelle wil nog teëstribbel, hom vertel dat sy puntenerig is oor wie se baadjie sy aantrek, maar dis asof die duiwel self in die man gevaar het. Die volgende oomblik vou hy haar behoorlik toe in die baadjie, raap haar op in sy gespierde arms en begin haastig in die rigting van sy motor aanstryk.
Sy skop en raas beurtelings, in ’n wanhopige poging dat hy haar moet neersit sodat sy self kan loop. Maar die Duque hou hom doof vir die kabaal wat sy opskop. Al wat vir hom van momentele belang is, is dat sy so spoedig moontlik ’n warm bad neem en in die bed kom. Want as sy moet siek word, moontlik nog longontsteking opdoen, sal hy homself nooit vergewe nie. Hy moes haar lankal teruggeneem het na die kasteel sodat sy dadelik kon verklee het. Ja, hy moes nie met haar daar op die rotse gestaan en argumenteer het nie. Hy weet tog al hoe eiesinnig en koppig sy is.
Dis ’n bitter ontstoke Ronelle wat ’n rukkie later in die Duque se motor klim. As sy nie met haar nat hare en klere so pateties daar uitgesien het nie, sou sy die man sweerlik na sy peetjie gestuur het en met die voet geloop het. Maar nieteenstaande haar omgekrapte gevoelens, besef sy dat dit onvanpas sal wees om met hierdie nat gewaad deur die dorp te stap.
Dis waar, sy moes glad nie toegelaat het dat hy haar op hierdie uitstappie vergesel nie. As sy alleen was, sou sy eenvoudig in die motor geklim en huis toe gery het en daar sou hoegenaamd geen opskudding gewees het nie. Maar sy het in elk geval ’n les geleer. In die vervolg ry sy alleen, dis te sê as doma Maria nie wil saamry nie. Maar die Duque weer saampiekel …? Nooit!
In stilte ry hulle terug na die Quinta, elkeen besig met sy eie gedagtes – die Duque s’n vol selfverwyt, Ronelle s’n broeiend en stormagtig.
Dit is ’n verbaasde doma Maria wat hulle tuis begroet. Dog nadat Diago die ongelukkige voorval aan haar verduidelik het, sê sy slegs met ’n besorgde stem: “Ek hoop sy het nie ’n ernstige koue opgedoen nie, Diago,” en begeef haar toe na Ronelle wat alreeds besig is om van haar nat klere ontslae te raak.
Die ou ondeunde vonkeling is egter terug in doma Maria se oë toe sy Ronelle se kamerdeur agter haar toestoot en die meisie, wat nou in haar kamerjas geklee is, met ’n glimlaggie aankyk en sag sê: “Ek vrees jy het Diago geweldig laat skrik, Ronella. Het jy al ’n warm bad geneem?”
Ronelle skud haar hoof ontkennend. “Carmelita is besig om my badwater in te tap,” sê sy, en vervolg dan met ’n stormagtige blik op die ou dame gevestig: “Van Diago moet u liewer nie met my praat nie, doma Maria. Ek is baie vies vir hom en ek wil niks van hom weet nie. Dis ook die allerlaaste keer dat hy my ooit op ’n uitstappie sal vergesel. In die vervolg ry ek alleen. En hy moet dit net waag om my te keer!” Sy sê egter nie wat na so ’n optrede van die Duque sal gebeur nie, maar die gevaarlike lig in haar oë voorspel niks goeds vir hom nie.
Nadat Ronelle ’n warm bad geneem het, sorg doma Maria dat sy dadelik bed toe gaan en verlaat toe die meisie se kamer.
En hier waar Ronelle nou met geslote oë lê en peins oor die dae wat sy nog noodgedwonge onder die onuitstaanbare Duque se dak sal moet vertoef, voel sy meer lus om maar liewer op te pak en na die naaste lughawe te vertrek, waar sy ’n vliegtuig na Johannesburg kan haal.
Om te dink dat ’n mens so ’n kabaal kan opskop oor so ’n ou nietigheidjie! dink sy vies, en vererg haar sommer opnuut vir die bekrompe edelman.
Daar is ’n ferm kloppie aan haar kamerdeur, maar Ronelle voel nou al weer so diep ontstoke dat sy haar nie eens verwerdig om haar oë oop te maak nie toe sy saggies uitroep: “Binne!”
Dis natuurlik Carmelita, dink sy, wat my die een of ander duiwelsdrek te drinke bring om alle moontlike koues die nek in te slaan. En om die ou dame se ontwil sal ek dit natuurlik maar drink. Sy is tog ’n gawe ou dame en ek hou nogal baie van haar …
“Slaap jy, Ronella?” hoor sy meteens ’n heel bekende stem hier langs haar bed sê. Haar oë vlieg oop en die volgende oomblik kyk sy vas in Diago s’n wat haar nou kalm en bedaard betrag – só bedaard, asof sy toorn nog nooit in sy lewe hoog gevlam het nie.
“Nee, ek slaap nie,” sê sy stuurs, “maar ek wens nou dat ek wel geslaap het.”
Hy ignoreer haar stuursheid en die laaste helfte van haar sin, trek vir hom ’n stoel langs die bed en neem daarop plaas. Ewe bedaard haal hy ’n goue sigaretkoker uit sy sak, vra haar toestemming om te rook, en steek dan ’n sigaret aan. Etlike sekondes rook hy in stilte, onderwyl hy haar berekenend betrag.
Toe vra hy sag en besorg: “Hoe voel jy,