jou rusie maak nie, maar daar is dinge wat ek as hoof van my familie en hierdie gemeenskap nie durf oorsien of ignoreer nie. My pligte is veelvoudig, en benewens al die ander dinge moet ek ook vir my familie, sowel as vir hierdie gemeenskap, as voorbeeld dien. Jy verstaan dus wat my posisie is, nie waar nie?”
Ronelle knik en sê na ’n oomblikkie nog duidelik neerslagtig: “Maar waarom moet almal nou juis so uiters nougeset en konserwatief wees?”
“Omdat dit ons gebruike is, señorita,” antwoord hy nog steeds sag en ernstig. “Die goeie señor professor het jou tog seker al vertel dat ons ander gebruike volg as julle daar in Suid-Afrika?”
“Ja, my vader het,” kom dit sag. “En dis om daardie rede dat ek hier so hopeloos ontuis voel en haastig is om na my eie land en mense terug te keer. Ek glo nie ek gaan hier bly totdat my vader sy proefnemings voltooi het nie. Ek dink ek moet maar liewer na Nuwejaar saam met my broer vertrek en daar by hom op die plaas kuier totdat my vader se werk hier voltooi is.”
“Ek sien,” sê hy half ingedagte, onderwyl hy saggies met sy duim oor haar kneukels streel. “Jy is dus haastig om van ons af weg te vlug …”
“Om van jul konserwatiewe gebruike af weg te vlug, señor,” help sy hom toonloos reg en draai haar gesig dan weer na die verre horison. “Ek is aan ’n ander leefwyse gewoond en sal nooit hier kan aanpas nie. Ek wil ook so gou moontlik met my musiekonderrig begin, want dit is in elk geval waarvoor ek in die buiteland gaan studeer het.”
“Ons begryp almal dat jy aan ’n ander leefwyse gewoond is, señorita,” laat hy bedaard en geduldig hoor. “Ek verwag ook nie dat jy jou in een dag hier sal kan aanpas nie. Ek verwag slegs bereidwilligheid van jou, die versekering dat jy in alle erns sal trag om jou by ons gebruike te probeer aanpas.”
“Ek vrees ek kan u niks belowe nie, señor; trouens, ek maak nooit enige beloftes wat ek moontlik nie kan nakom nie. U en die gemeenskap van Braca sal my dus moet aanvaar soos ek is. Dit sal in elk geval net vir ’n paar weke wees.”
Etlike oomblikke betrag die edelman haar met ’n stil, peinsende blik. Toe los hy haar hand en sê ewe saaklik: “Ek het die diensmeisies vroeër versoek om al jou persoonlike besittings in te pak. Ek vermoed dat hulle die taak reeds afgehandel het en dat alles gereed is vir ons vertrek na die Quinta –”
“Ek sal na middagete gereed wees om … om na u Quinta te vertrek, señor,” val sy hom onseker in die rede.
Daar is so ’n wanhopige, verlore uitdrukking in haar altyd laggende oë dat selfs die Duque, wat soms verhewe bo enige menslike emosies skyn te wees, dit moeilik vind om haar teen te gaan.
Maar hy is die Duque, Diago de Velira Cervantes, en is nou vir haar veiligheid ook verantwoordelik; daarom sê hy dan ook dadelik: “Ek vrees ek kan jou nie hier alleen laat nie. Die goeie señor professor het jou met die grootste vertroue in my sorg gelaat, dus is dit my plig om toe te sien dat daar niks tydens sy afwesigheid met jou gebeur nie. Jy sal derhalwe nou saam met my na die Quinta moet vertrek, señorita.”
Maar Ronelle skud slegs haar mooi, glansende hoof. “Ek sal gaan wanneer ek gereed is, señor.”
“Ek sal die diensmeisies nou dadelik gaan sê om sorg te dra dat alles oor ’n halfuur gereed is vir jou vertrek –” begin die hertog, maar Ronelle val hom haastig in die rede.
“Ek is nie van die diensmeisies afhanklik nie, señor Diago. En ek herhaal: Ek sal na u Quinta vertrek sodra ek gereed is. Gaan en geniet maar eers u gebruiklike siësta. Daarna sal ek gereed wees om te gaan.”
“Ek doen nooit mee aan ons gebruiklike siësta nie, señorita,” help hy haar met groot verdraagsaamheid reg. “En ek herhaal: Ek laat jou nie alleen hier bly nie.”
“Maar ek is mos nie alleen nie, señor,” skerm sy weer. “Hier is twee diensmeisies in die huis, en daarbenewens glo ek ook nie dat iemand my hier helder oordag sal kom molesteer nie.”
“Dit maak nie saak nie, señorita. Vir my eie gemoedsrus verkies ek om jou sonder versuim onder my eie dak te besorg,” hou hy onverstoord vol, op die oog af geduldiger as die Bybelse Job. “As jy dus nie gereed is om nou te vertrek nie, sal ek genoodsaak wees om hier te wag totdat jy wel gereed is.”
“Ek vrees u sal te lank moet wag, señor,” maak sy weer beswaar, vasberade om so gou moontlik van die hertog ontslae te raak. Sy voel al juis soos ’n opperste swakkeling omdat hy haar in so ’n hewige tranebui hier aangetref het. Sy het inderdaad ’n paar uur nodig om oor hierdie dag se vernedering te kom. “Ek wil na middagete eers ’n rukkie gaan rus,” begin sy weer.
Maar die edelman gee haar geen geleentheid om meer te sê nie.
“Ek stem volkome saam. Jy moet inderdaad gaan rus. Jy is hopeloos uitgeput en vermoei. Maar jy gaan nie hier rus nie, señorita, jy gaan in my kasteel rus.”
Ronelle wil net weer teëstribbel, maar dan merk sy daardie koue, onverbiddelike uitdrukking in sy oë, wat sy tydens ’n soortgelyke gesprek ook by hom opgemerk het, en sy weet intuïtief dat hy nou net soveel van haar geskerm en besware verdra het as wat hy moontlik kan verduur.
Daarom sê sy ietwat versigtig: “Ons sal dan na middagete vertrek. Verskoon my, asseblief. Ek wil net die huishoudster in kennis stel dat ons ’n gas vir ete het.”
Sy kom haastig orent en wil net wegstap, toe die hertog haar onverwags aan die arm neem en vierkantig voor haar kom staan. Etlike tellings kyk hy haar met donker, smeulende oë strak aan; toe kom sy stem sag, onheilspellend sag: “Dit is absoluut onnodig, señorita. Soos ek reeds gesê het, ons vertrek aanstons en sal middagete in my kasteel nuttig. Alles is tuis vir jou koms gereël.”
Voetstappe word vanuit die huis gehoor en die Duque verwyder sy hand terstond van Ronelle se arm.
Die volgende oomblik verskyn Lena en Sofie op die stoep met Ronelle se tasse wat hulle sonder meer na die Duque se motor toe neem.
’n Sweem van ’n glimlag raak aan die een hoek van Diago se mond toe hy met innerlike voldaanheid sê: “Wel, ons kan seker nou gaan. Dit lyk in elk geval of alles gereed is. Lena sal toesien dat die huis skoongemaak en sorgvuldig gesluit is, en daarna die sleutel aan my besorg … Kom, señorita.” Hy buig sjarmant. “Laat my toe om jou die trappies af te help.”
Hy neem haar arm en help haar versigtig met die trappies af, kompleet asof sy ’n oue van dae is. Daarna help hy haar weer met die grootste sorg toe sy in die motor klim, plaas die tasse agter in die voertuig en neem dan sy plek agter die stuurwiel in.
Onderweg na die Quinta is Ronelle besonder stil en teruggetrokke. Met ’n onstuimige gemoed besef sy dat sy nou onherroeplik in hierdie heerssugtige man se mag is en dat sy tydens haar verblyf in sy kasteel noodgedwonge na sy pype sal moet dans. Sy dink aan doma Maria en sy wonder of die ou dame nou veronderstel is om haar duenna te wees en of die ouer vrou haar nou soos haar skaduwee gaan volg.
Hierdie troostelose vooruitsig stem Ronelle nog meer mismoedig. Dis ook nie lank nie, of sy is bewus van ’n kloppende hoofpyn wat haar behoorlik koorsig laat voel.
Toe hulle eindelik deur die indrukwekkende ingangsboog ry en in die voorste binnehof stilhou, trek Ronelle haar asem verras in. Die grootte van hierdie fabelagtige gebou slaan byna haar asem weg. Dit lyk vir haar inderdaad na ’n kasteel met sy sierlike dik pilare, lang kruisraamvensters, geteëlde stoep en sierlike balkon, wat drie kante van die gebou omring. Die voorste deel van die binnehof is kunstig geplavei met dofglimmende mosaïek, nog in Moorse styl. Oral pryk bloeiende wit en pienk frangipani, terwyl bloureën en bougainvilleas in verskeie skakerings teen kunstige traliewerke en pilare oprank. Reuse-blombakke met uitheemse potplante is oral te sien. Die geheel lyk soos ’n kleurryke blommewoud.
Omtrent vyftien meter van die voorstoep af pryk ’n kunstige spuitfonteintjie in die vorm van ’n enorme wit skulp, en aan die regterkant van die gebou glim ’n luukse swembad met ’n hoë duikplank … seker die Duque se toevoeging tot die eeue oue kasteel, dink Ronelle. Dan is sy meteens weer bewus van die kloppende hoofpyn wat haar nou erger begin teister.
“Jy is ontsettend