steun van Tristan se kant af. Knik net plegtig maar moet konsentreer om nie te tevrede voor te kom nie.
“Nee, jimmel!” roep Dieter uit. “Ons probeer die man teen gewisse uitwissing waarsku en dan beledig hy ons.”
“Toemaar, ek het ’n baie sterk oorlewingsdrang,” lag Tristan en kyk spottend na Debora.
Dis ouma Debora wat weer die perke stel. “Genug! Gaan kry jy en Dieter vir ons die nagereg, Debora.”
In die kombuis kry hulle die bakke malvapoeding en roomys met warm vla.
“Vir jou en Jakob gee ek nog elkeen ’n donnerse seer inspuiting,” sis Debora toe sy die roomys aanvat.
Dieter grynslag. “Debbie, ek het netnou self dié poeding aanmekaargeslaan en ek kan dalk net besluit om nie vir jou in te skep nie.”
Dis alombekend dat Dieter Schlagerfeldt so goed soos enige vrou kan kook en bak. Wanneer dit hom pas, natuurlik. En hy sal dalk net sy dreigement uitvoer. Daarom sluk sy haar antwoord want sy is lus vir poeding, maar haar hoë hakke klik-klik op die gepolitoerde houtvloer toe sy terugstap tafel toe. Sy moet konsentreer om nie met die bak vla en al neer te slaan nie.
Die geselskap het genadiglik politiek se kant toe geswenk. Dis net haar pa wat voor hom sit en staar. Politieke praatjies is vir hom taboe. Seker ’n oorblyfsel van sy oorlogservaring. Maar oom Erik praat met ’n frons.
“Mens weet wraggies nie wat jou te doen staan nie. Nou die dag het ek ’n Indiërman met wie ek al jare lank besigheid doen, genooi om in die hotel te oornag voordat hy terugry Durban toe want dit was al baie laat. Sal daardie klein Froneman van Gansvlei dit nie hoor en my en die arme mens toetakel nie!”
“Wat het hy gesê?” vra Margot en sit haar hand paaiend op Marnitz se arm.
“Wat het hy nié gesê nie,” antwoord Erik suf. “Geskel en met die Veiligheidspolisie gedreig. Gesê ek moet my ’n slag aan die wet steur. Teen daardie tyd was Ibrahim Naidoo al by die deur uit en in sy kar om voor donker uit die Vrystaat te wees.” Die swye om die tafel swel dik. “Wel, dis seker beter om die minste te wees as om toegesluit te word. Maar dit is nou soos dit is.”
“Ag, ek wonder of hulle regtig sal,” brom Dieter rebels.
“Van watter ‘hulle’ praat jy?” vra Marnitz sag.
“Wie ook al, oom Marnitz,” sê Dieter. “Nou die dag sit ek en ou Fanjan Motse se kleinseun Thabo op die bankie in die park by die Jordaanrivier en gesels. Ek het hom raakgeloop toe die winkel skielik uit suurdeeg geraak het en ek gedink het ek sal gou by Greenberg kan kry. Toe gesels ons twee woorde met mekaar. Vra hoe dit gaan en so aan. Hy studeer mos nou vir predikant op Witsieshoek.”
“En toe?” fluister Aunt Elizabeth wat gewoonlik eerder toehoorder as prater is. Debora kyk ook benoud na Dieter se kant toe, al begryp sy maar alte goed dat hy en Thabo sekerlik net sitplek gesoek het. Want op al die bankies in die parke is daar bordjies wat sê Slegs Blankes.
“Toe nog niks, Ma,” antwoord Dieter maar sy stem is koud. “Ons het net gesels soos wat twee mense wat mekaar goedgesind is mos maar doen. Soos wat ek op universiteit met die swart studente van Turfloop ook gesels het. Hel, dis mos net …”
“Dieter!” maan oom Erik. Hy het nog altyd kru taal belet, veral aan tafel.
“Ek bedoel, hemel,” sê Dieter vroom, “dis mos net gesels. Toe kom sersant Sarelse daar verby en dreig om ons albei tjoekie toe te vat. Omdat ons wat gedoen het?”
“En toe?” Teen dié tyd sit die statige Aunt Elizabeth kiertsregop. Sy ken haar oudste.
“Ag, Mammie,” bedaar Dieter, “toe sê ek maar orraait, ek is baie jammer dat ek vir Thabo Motse gevra het hoe dit met hom gaan.” Debora sien hoe Jakob agter sy hand glimlag.
“En toe laat ou Sarelse julle gaan?” por Aunt Elizabeth verder.
“Ja wat, hy’t nie ’n saak gehad nie. En ek weet ook nie of hy nie maar nes ons voel nie. So als is nou weer orraait.”
“Oh, Dieter, dear,” sê Aunt Elizabeth sugtend, “please do not use that word. Speak either English or Afrikaans.”
“Mammie, almal sê orraait of oukei.”
“Dit maak dit nog nie reg nie,” kap oom Erik terug.
“Nes die politiek, Pa. Omdat almal Nat stem, maak dit dit nog nie reg nie. Wag maar net, julle sal sien.”
“Wie sê ons sien nie? Die vraag is wat om te doen? Dis ’n toestand en dis soos dit is.”
“Die ergste is dat dit nie net hier is nie,” probeer ouma Debora floutjies om die gesprek in ’n ander rigting te stuur, maar dis olie op oom Erik se vuur.
“Kyk, Ma, dit weet ons. Vat nou maar daai artikel in Huisgenoot so ’n paar jaar gelede, ’n ruk ná Sharpeville, as ek reg onthou. Rasseonluste by ’n hoërskool in Jacksonville in Florida. En andersyds in Philadelphia is ’n blanke seun op straat deur vier jong swart seuns doodgeskiet. Harlem in New York is ’n buurt waar niemand snags op straat wil wees nie. Die wêreld sal iets moet begin doen om mense weer in harmonie met mekaar te kry. Nee, só kan die mensdom nie aangaan nie.”
Was daar al ooit harmonie? wonder Debora en Tristan stamp liggies aan haar. Fluister by haar oor: “Moenie sinies wees nie.”
Sy kyk verstom na hom. Kan hy gedagtes lees? Sy mondhoeke lig effens toe haar oë syne ontmoet sodat sy vinnig op haar bord kyk.
Daar stol ’n swaar stilte en Debora merk dat Annalien ongemaklik voor haar uitstaar. Dieter het klaar probleme, vermoed sy. Aunt Elizabeth het haar netnou vertel Annalien se pa dien in die Volksraad. Dat die regering vanaand aan hierdie tafel bevraagteken word, staan die meisie glad nie aan nie. Aan die een kant kry Debora haar jammer. Sy het, soos vele ander mense, dalk nog nooit bewustelik oor die politiek gedink nie. Aan die ander kant kan só ’n gesprek tussen hierdie klomp haar net goed doen.
Debora se pa het toe sy op hoërskool was al vir haar gesê dat die meeste mense geen politieke bewussyn het nie. Hulle neem nooit afstand van hulself nie, het hy beduie. Sien niks werklik raak nie. En die meeste van hulle wat wel oor politiek besin, praat net hul malle maai af daaroor. En praat help nie. Jy moet leef wat jy glo.
Dit doen haar mense wel. Al sit hulle nou almal verleë oor die trant van die gesprek. En dis ’n verleentheid wat na onsekerheid en ’n groeiende gramskap toe oorhel. Want daar is dinge wat eenvoudig nie weggewens kan word nie. Daar is segregasie, daar is rasseonluste waar mense doodgemaak word en Verwoerd – al was hy hoe verkeerd – is drie maande gelede helder oordag in die parlement vermoor.
Nee magtag! het haar pa glo daardie dag uitgeroep. Van wanneer af is geweld die antwoord op alles? Moor ons mekaar nou uit? Pleks dat ons saamstaan en dinge uitpraat. Regmaak. Met nugterheid en deernis. Dis wat hierdie land kort.
Ewert het haar nog telefonies vertel hoe geskok almal oor Verwoerd se dood was en dat dit die meeste is wat hy hul pa nog in een asem hoor sê het. In die Schlagerfeldt-familie verskil ons beskaafd, het hy glo bygesê. Jy moor nie ander uit wat nie soos jy dink nie. Pa is verskriklik ontsteld, Debbie. En ons ook. Al is apartheid verkeerd. Want dis heluit verkeerd. Nee, hemel tog, dinge kan nie so aangaan nie. Dis wraak en weerwraak.
Debora sit amper sonder om asem te haal. Ewert se woorde van daardie dag weerklink in haar kop. Dit kos net ’n gesprek soos hierdie een om almal om te ellie, besef sy. Nee, die toestand in die land is allesbehalwe ideaal. Al oortuig die grootste gros wit mense hulself dat dit is. Of het oogklappe aan. Of weet werklik nie wat als onder die oppervlak broei nie. Want joernaliste kan glo nie skryf oor wat hulle alles sien gebeur nie, so word in die wandelgange gefluister. So die meeste blankes weet werklik nie presies hoe erg die graad van onderdrukking en verguising is nie. En ja, as dit nie vir haar pa se sterk oortuigings was nie, was die hele klomp Schlagerfeldts dalk ook so siende blind. Maar, so vertel haar ma altyd, Marnitz Schlagerfeldt het ná die oorlog sy broers en hul vrouens se oë oopgemaak. Hulle kyk skerp, sien raak.
“Gee