in hierdie kring selfs kragtiger as Ouma se “Genug!”. Die familie het oor jare heen geleer as Marnitz dít sê, is die bedoeling dat ’n streep nou dadelik getrek moet word.
“Finish en klaar,” voeg Dieter skaars hoorbaar by.
Marnitz staan op. “Goeienag, almal. Môre is daar twee mangeloperasies en wie weet wat nog. Dankie, Elizabeth en Ouma, en almal. Wel te ruste.”
“Gaan jy nie koffie drink nie?” por ouma Debora. Marnitz buk net om haar op die voorkop te soen. Maar ouma Debora sit haar voet neer. “Nein, Marnitz! Ons sluit nie só ’n aand sonder musiek af nie!”
“Beslis nie,” ondersteun Jakob haar. “Ek gaan my viool kry. Of hoe, oom Erik?”
“Natuurlik, ja.” Erik se kop is duidelik nog by die amper hittige gesprek. Maar hy staan ook op om solank agter Marnitz aan sitkamer toe te stap dat hulle hul instrumente kan stem. Catherine gaan ook want sy is die een wat op die klavier begelei. En Jakob beduie dat hy en Ewert vanoggend vroeg al met die viool en fluit geoefen het aangesien hy mos vir sy bruid in die kerk gaan speel.
Die vroue en ook Tristan dra fluks borde en bakke terug kombuis toe. Net toe Debora die borde in die wasbak gepak het, draai sy om om Tristan vlak agter haar te sien. “Speel jy dan nie ook nie?” vra hy sag.
Sy skud haar kop. “Nee, daardie talent het my en Wena en ook vir Dieter verbygegaan. Hy kan nie eens noot hou nie.” Sy laat sak haar stem: “Nes Aunt Elizabeth. Hulle bly selfs in die kerk liewer stil. Vorm net die woorde met hul lippe.” Sy kom agter dat sy asemrig praat en haar hande wil beef, sodat sy hulle haastig agter haar rug hou. Tristan se wenkbroue lig maar hy swyg beleefd.
“Kom, laat ons gaan.” Sy stap vinnig gangaf sitkamer toe en hoor sy voetstappe agter haar aankom. In die ruim vertrek is daar nog net plek oor op die tweesitplekbank naby die deur. Debora is genoop om haar op die kleiner bank tuis te maak met Tristan knus langs haar ingepas. Sy kan die roering van sy lyf voel soos wat hy asemhaal.
Die Schlagerfeldt-orkes, soos hulle gou in die familie bekend gestaan het, speel vanaand ekstra mooi. Marnitz laat sy tjello, wat maar altyd hier in die ou huis by die Bechstein-klavier staan, sing. Erik en Jakob se viole speel roerend saam. Dis manne wat mekaar en hul musiek goed ken. Ewert se fluitklanke sweef ver bo die ander musiek. Hulle begin by Mozart en Beethoven, dan Rodgers en Hammerstein en toe lekker popliedjies van Elvis soos “It’s Now or Never” en “Are You Lonesome Tonight?”. Tot ouma Debora, wat vroeër skepties oor hierdie Elvis-kêrel was, se regterskoen tik-tik lustig op die maat daarvan.
“Jammer hier is nie plek om te dans nie,” sê Tristan toe hulle klaar is en klap saam met die ander hande.
“O, ons dans baie op die stoep,” antwoord Dieter en kyk vir Annalien. Maar dié is duidelik nog omgesukkel oor die politiek en haar glimlag is strak.
“Ons sal nog ’n aand of wat op die stoep dans,” belowe oom Erik. “Spesiaal, voordat Jakob die strop om die nek gaan kry.”
Aunt Elizabeth begin dadelik beplan. “Dit sal een aand ná volgende week moet wees. Dan is Kersfees verby en sal ek heerlike vrugtepons maak om ons af te koel. Mens dans jou skoon warm op die gladde stoep. So lovely.”
Debora gee haar ’n drukkie en lag. Aunt Elizabeth glip altyd terug na Engels as sy nou regtig opgewonde raak. Ook oom Erik raak speels aan sy vrou se koper hare, wat slegs enkele grys stringe vertoon.
Toe Debora saam met haar pa en ma wil terugstap huis toe, hou Jakob haar terug. “Wag, Debbie, ons jongklomp gaan eers afstap dam toe. Dis ’n lieflike aand.”
“Ek moet môre assisteer, Jakob,” protesteer Debora.
“Ag wat, ek moet ook assisteer,” sê Tristan luiters. “Die stappie kan ons net goed doen.”
“Ja, die bloedsomloop en so aan, ou nig,” lag Dieter. “Dit sal help dat jy jouself nie raaksny nie.”
Soos gewoonlik word Debora kinderlik vies vir Dieter maar gee hom net ’n kyk. Besluit dat dié vieswordery vir haar twee neefs seker in haar gene moet wees want sy kry dit oor al die jare heen nie afgeskud nie. So lekker as wat hulle drie saam kon speel, so opruiend kon en kan hulle baklei. Nietemin, sy is lief vir dié twee. Al sal hulle al drie ongetwyfeld aan hul graad van volwassenheid moet werk. En nou, besef sy moeg, is sy hoogdrawend en pedanties. Sy stap swyend saam met die bondel jonges by die tuinhekkie uit en af met die klipperige stofstraat. Agter haar hoor sy hoedat Annalien fluisterend aan Dieter torring om liewer huis toe te gaan. En sy glimlag wrang. Sy ken haar neef. Hy vat dinge net tot op ’n punt.
“Nou toe kom,” sê hy hardop sodat die ander omkyk. “Ek vat Annalien gou huis toe. Ek sien julle netnou.”
Die meisie staan verleë toe almal groet maar sy glimlag darem. “Baie dankie vir die aand.”
Toe hulle ver genoeg weg is, skud Jakob sy kop. “Ek het mos geweet dié ding gaan nie werk nie.”
“Politiek?” fluister Debora toe hy en Tristan weerskante van haar inval.
“Ja, te veel partypolitiek kan ’n verhouding knak. En Annalien verstaan dit nie so mooi nie.”
“Hoe so?” vra Tristan met ’n laggie.
Die aandbries trek koel vingers deur Debora se hare en sy glimlag tevrede. Hoe het sy hierdie streek se speelse oostewind gemis. “Ja, hoe dan?” por sy ook, meteens heel op haar gemak.
“Wel,” sê Jakob, “’n verhouding is mos vol politiek. Maar dié tussen mens en mens, as jy dít nie verstaan nie, hoe gaan jy onderlinge verskille oor landspolitiek oorbrug?”
“Goeie vraag,” sê Debora. Tristan antwoord nie, stap net stilweg saam. En sy kan haar dit verbeel, maar sy dink sy hoor hom sug.
Die ander giggel en gesels en loop al hoe vinniger met die klipperige afdraand langs. Hulle stap by die hekke van die dorpsdam in en al op die klam grasperk tot aan die oewer waar die bosluisvoëls nou onrustig in die wilgers roer. Spatsels sterlig lê op die stil water. In die verte steek die toppe van die Maluti’s swart af teen die middernagblou van die ruim.
“Dis lieflik,” sê Tristan amper verlangend. “Mens sal hier wil bly.”
“Ja,” antwoord Debora en Jakob tegelyk.
Die jonger klomp raak rusteloos, besluit om terug te stap want Catherine het van die kondensmelkkoek beloof wat Dieter juis gisteraand met die oog op Annalien se besoek gebak het. Glo ’n nuwe resep wat maak dat dit en Ouma se beroemde gemmertert met room van Debora en Seuns se rakke af vlieg.
“Liewe hemel,” sê Debora. “Julle het dan nou net borde vol geëet.”
“Dis amper ’n uur gelede,” brom Ewert.
Tuis drom almal op die agterstoep by die witgeskropte houttafel saam. Bokant hulle hang paraffienlampe wat die donkerte sagkens wegstoot. Hier word die reuseboord se perskes en appelkose elke somer geskil deur elkeen wat lank genoeg aan’t huis vertoef. Nou is die tafel skoon. Die energieke Catherine beveel almal om te sit terwyl sy koffie maak.
Dieter kom net betyds om toe te kyk hoedat die vars laagkoek gesny word. “Net waarvoor ek lus is.” Hy klink vrolik maar lyk verslae. Toe almal se oë op hom is, sê hy: “Annalien is geskiedenis.”
“Finish en klaar?” lag sy suster asof sy dit gewoond is dat hy so gou van mense geskiedenis maak.
Dieter knik bot.
“En nou?” vra Jakob. “Wie gaan saam met jou strooi?”
“Ag, ou Debs, natuurlik. Wie anders sal ek nou vra?”
Debora vat solank die geurige sny koek by Catherine aan. “Praat jy van my?” vra sy vies.
“Ja. En moenie vanaand moeilik wees nie.” Hy kyk haar stip aan. “Asseblief.”
“Goed, dan praat ons later.”
Tristan neem die skinkbord met koffie by Catherine en hou vir Debora.
“Nie