Louisa du Toit

Louisa du Toit Omnibus 11


Скачать книгу

dat hier nie ’n vader in die huis is nie, my kind. En wat van die jare wanneer daar droogte of hoogwater kom en dit vat ons oesie weg? Dan sit jy halfgeleerd iewers, en ek en Arno ly saam honger.”

      Die herinnering aan haar redelik vroeë weduweeskap het Leen se beproefde metode geword om Nida se toekomsideale aan bande te lê. Maar vir Boel Meyer keur sy ook nie goed nie; wat wil sy dan vir haar dogter hê?

      Toe Nida Boel se ma in haar vertroue neem, het Bella aangebied om die nodige geld rentevry aan haar voor te skiet. “Daarmee koop ek jou sommer om dat jy as my geleerde skoondogter terugkom,” het sy laggerig gesê.

      Het Bella dan regtig groot geld, het Nida gewonder, en moes terugdink aan die diamantstorie. Sy het dit nogtans vir haar ma genoem, en moes die kortaf antwoord verneem: dat ’n kind van haar nie met skelm geld sal gaan leer nie. Leen was so ontsteld dat sy met ’n dosis rooilaventel kamer toe is.

      Toe sy aand se kant nie uitkom nie, was Nida tog bang dat haar ma al die tyd gif gedrink het. Sy is huiwerig soontoe, maar Leen was lewendig. En steeds kwaad. Nida was maar ’n matriekdogter en nog optimisties genoeg om te dink dat sy haar ma se denke kan verander.

      “Goed, Ma,” het sy gesê, “ek sal vir tant Bella sê sy kan haar geld hou. Ek sal maar hier bly en eendag met Boel trou, dan is ek tog altyd naby Ma.”

      Dit was ’n slim set, want sy wis toe al dat haar ma niks van Boel hou nie. Sy self het geen oorweging aan so ’n moontlikheid geskenk nie. Ander seuns, aantreklike seuns in haar klas aan wie sy nie so onromanties gewoond as aan Boel was nie, het destyds haar aandag in beslag geneem. Haar ma het dit egter ernstig opgeneem, maar dit was verre van haar om haar te laat troef.

      “Dan kom jy tog in besit van die skelm geld,” het sy nydig gesê, “en ek hoop nie jy probeer ooit daarvan gebruik vir my begrafnis nie. As Arno my nie kan begrawe nie, is ’n armebegrafnis goed genoeg.”

      “Nou is Ma onbillik.” Haar ma veg met stomp wapens, maar Nida het nie die woordeskat en durf gehad om dit tuis te bring nie. Dit was die einde van daardie saak, en die begin van die besef dat jy tevergeefs vir Leen Thirion probeer teengaan as sy van ’n saak oortuig is.

      Nida het sedertdien vir haar ’n eie wêreld van uitlewing geskep binne die beperkte omstandighede waarin sy haar bevind: werk vir oom Gert, help haar ma in die huis. Kuier ’n bietjie by ou skoolmaats op die dorp, lees baie. Af en toe uitgaan saam met Boel, bloot vriendskaplik, sodat dit die stug atmosfeer wat daarna tuis heers, nie eintlik werd is nie.

      Die feit dat sy saam met Boel gesien word, skep buitendien seker die indruk dat sy vir niemand anders beskikbaar is nie. Nie dat sy daarna hunker nie, want sy is tevrede met sy geselskap. Sy begin trouens vermoed dat dit meer as tevredenheid is wat sy voel wanneer sy by hom is.

      En tog sluimer daar diep iewers die drang om eendag nog hier weg te gaan en haar vermoëns beter te ontwikkel.

      Waar die ruising van die rivier andersins onopgemerk by haar verbygaan, luister sy vanmiddag opsetlik daarna. Vir die eerste keer in ’n baie lang tyd registreer dit by haar, en dit na aanleiding van Hoffman se uitvraery.

      So, dink sy byna wrokkig, net so hou Grootrivier haar gevange hier aan sy oewer. Nes haar ma, met geldige aansprake en ’n aanhoudende geluid op die agtergrond.

      En ’n vreemdeling soos Hoffman kom hom vrywillig hier vestig. Of is hy hierheen uitgeskuif, omdat iemand hier nodig is en hy elders aangejaag het? Hoe min weet hy nog van Grootrivier, min genoeg dat die ruising hom kan boei. Hy sal die volle prentjie nog leer ken, die omvang van hierdie rivierbestaan. Grootrivier met die koel lawing van sy wisselvallige water. Die ganse, omvattende begrip van sy onstuitbare vrugbaarheid – met sy verraderlike kronkels en sy groen hier tussen die kleurlose rante.

      En dat ’n mens eintlik vry is en tog hier bly. Want as sy werklik eerlik wil wees, moet sy erken: sy sou kon weggaan, ver weg, en haar ma sou niks daaraan kon doen nie. Die gebondenheid is haar eie keuse. Hoeveel sterker sal die binding nog moet word tot sy eindelik, dalk teen haar wil en buite haar toedoen, wegbreek?

      En waarom dink sy so vreemd? Sy laat die laaste geskilde, ontpitte perskehalwes in die emmer soutwater plons. Môre is dit Woensdag, die middel van die week. Daar sal vars gekookte perskes en vla vir nagereg wees.

      Sy skrik toe Boel se gestalte om die huis se hoek kom.

      “En hoe skrik jy dan vir my, Nieds? Ek het sommer geraai jy sit op die stoep, grootvoor se kant. Ek het mos gesê ek kom nog vanaand ’n lekker klapsoen haal, onthou jy nie?”

      “Waarvoor nou weer?”

      “Vir ou Gert se goed wat ek van die dorp af gebring het.”

      “Dan moet oom Gert jou mos die klapsoen gee.” Sy voel in die noute. Boel moenie lol om die vriendskap verder te voer voor sy daarvoor gereed is nie. Sy kry die indruk dat hy haar soos ’n stuk vee as sy eiendom wil brandmerk.

      “Ek het eintlik geskrik vir wat jy dra,” ontwyk sy. Sy het ook. Want in die hitte dra hy die onderwyser se baadjie, van beleë tweed.

      “Hy’t dit toe nooit gevat nie.”

      “Jy het dit ook so te sê weggesteek.” Sy verwyt haar dat sy dit ten minste moes onthou het. Die man is vreemd en ontheem, sy gedagtes verstrooid.

      “Hoe lyk ek?” Boel draai in die rondte met arms na weerskante uitgestrek. Die baadjie is vir hom te knap en hy lyk lagwekkend.

      “Soos oom Gert se voëlverskrikker. Trek uit, dis andermansgoed.”

      Boel, swetend, worstel gewillig die baadjie van sy lyf af. Nida vou dit ligweg op en sit dit eenkant neer, vas van plan om dit self by die eienaar terug te besorg. Boel spot met Hoffman, en sy voel nie dis reg nie. Hoffman is allermins bespotlik. Dis waar dat hy te skraal en te bleek en totaal vreemd is, maar sy bly bewus van die sterk persoonlikheid wat tot haar gespreek het.

      Sy weerstaan die versoeking om aan die baadjie te snuffel. Sal dit, behalwe na die sweet en son en stof van vandag, ook ruik na ou boeke en kers? Dalk verslane vroueparfuum?

      “Waar’s ou Leen, loer sy ons deur die voorvenster af?”

      “Praat sagter, Boel, my ma is nie doof nie.”

      “Jy is reg. Sê net iets van Bella Meyer, dan hoor sy elke woordjie.” Hy klink vies.

      “Ag, Boel, dis tog nie iets nuuts nie. Moet dit liewer nie ophaal nie.”

      “Nee, dis nie nuut nie. Maar kan ek daaraan gewoond raak? Moet ek oorloop van liefde vir haar terwyl sy my ma nie kan verdra nie?”

      “Nee, jy kan seker nie; maar ek hou darem van tant Bella. Help dit nie?”

      “Ja, ja, so effens.” Sy het hom nog nooit so gedemp hoor praat, so vol deernis, of hom so weerloos gesien nie. Daar is weinig mense wat van Boel hou, omdat hy nie omgee watter indruk hy skep nie. As hulle hom maar kon sien soos sy hom nou sien, sy deernis hoor. Hy staan by sy ma, omdat min ander mense by haar staan.

      Hoe vreemd dat Boel van alle mense hierdie gevoelens by haar uitlok. Sy is eintlik redelik rasioneel, hou nie van weekheid of bejammering nie. Die lewe deel maar aan almal sy houe uit, aan sommige net met meer vertoon.

      Sy kyk in sy oë en wens dat sy hierdie oomblik sag kon toevou en diep wegbêre omdat dit so seldsaam is. Sy sou hom selfs nou graag die soen wou gee wat hy kastig kom soek het, maar nie ’n klapsoen nie. Nee, ’n liefdesoen. Die woorde wat hy vanmiddag daar bo by die skoolhuis gesê het, kom terug tot haar, warm en vol intieme belofte: dat hy ook uit voeling is met skoolsake, en of hulle nie iets daaraan kan doen nie.

      Sou hy dit bedoel het? ’n Soort bedekte huweliksaansoek, soos mens dit van hom kan verwag?

      Daar was nie toe tyd om daaroor na te dink nie, omdat Hoffman haar aandag in beslag geneem het. Sy het haar voorheen daarvan weerhou om in dié rigting te dink, en Boel het hom ook danig ongeërg gehou. Toe hy vanmiddag die woorde sê, het dit ’n vonk in haar laat ontspring. Om ’n ma te wees, met kleintjies met ’n pa wat vir haar en hulle versorg. Haar eie huis waar sy knus lewe en bemin word. Om te praat van