Louisa du Toit

Louisa du Toit Omnibus 11


Скачать книгу

van die rivier, eintlik, met brûe verbind. Party eilande gaan deur as dorpies.”

      “Alles draai maar eintlik om die rivier?”

      “Hoe anders? Dis besproeiing. Luister mooi, dan hoor jy die waterpompe. En kyk daar …”

      Nelis volg sy handgebaar en anderkant die besproeiingsgrond en die groen ruigtes van die rivier sien hy die oranjerooi van die eerste Kalahari-duine.

      Hy voel dat hy hierdie man in sy vertroue kan neem wat die drukkende vraag in sy gemoed betref. “Die water in die krane, dis so troebel,” sê hy ernstig, byna somber, asof dit ’n kwessie van lewensbelang is.

      Dewald lag nie, soos ’n ingewyde dalk sou wou doen nie. “Wees dankbaar daarvoor,” sê hy, “want dis ’n teken dat die rivier so effentjies afgekom het. Watertjies bygekry het. Laas week dié tyd was hy baie na aan staan. En weet jy wat dit sal beteken?”

      “Ek kan raai. Maar ek moet bieg, ek voel vuiler as voor ek gebad het.” Hy is skaam om te erken dat hy nog nie daarvan wou drink nie. Nida se glas koel water, helder deurskynend daarby, kon sy ergste dors les.

      “Die tenk is vanmôre volgepomp.” Dewald beduie na die gemesselde tenk op die betonblok anderkant die skoolgebou. “Die modder sal self afsak as dit ’n rukkie gestaan het.”

      “Dit verklaar dan hoekom die druk in die kraan nogal sterk is.”

      “Ja wel, soos die water in die tenk sak, sal die krane begin sukkel. Dan kla jy maar in my koers, en ek kommandeer weer een van die ouers.”

      Die gesprek loop ’n oomblik lank dood, en Dewald Venter benut die geleentheid om die onmiddellike kwessies ter sprake te bring.

      “Jy ry nou eers saam met my om te gaan eet,” sê hy, “en môre kan ons jou bagasie op die stasie gaan kry. Het jy die nodigste hier?”

      “O ja. En ek weet dis jou kosbare werkstyd, ek waardeer dit alles.”

      “My plesier. Soos jy sien, is hier ’n bietjie huisraad.”

      “En tot kombuisgoedjies,” vul Nelis aan. Bont, maar bruikbaar.

      “Ek weet hier kort ’n yskas. Ons het ’n orige een, maar nie groot nie. Paraffien, as jy daarmee sal kan werk. As dit ook tot môre kan wag?”

      “Môre sal doodreg wees,” reageer Nelis gretig. “Ek sal tot dan regkom.”

      “My vrou sal vir jou kosgoedjies saamgee vir vanaand en môreoggend.”

      “Baie dankie, ek is bra onvoorbereid.”

      “Jy het nie dalk aan losies gedink nie?”

      “Etes miskien, maar ek sien die meeste huise is net te ver.” Sy ander voorbehoude deel hy liewer nie. “Die mense werk ook almal hard en wil vir seker nie met ’n loseerder opgeskeep sit nie.”

      “Jy lyk nie na ’n veeleisende ou nie. As my eie Jane nie haar hande so vol gehad het nie … Behalwe die kinders, pas sy my verswakte pa op en die oubaas order haar goed rond.”

      “Dankie, ek verstaan heeltemal. Sy klink die goedheid vanself.”

      “O, sy is. Nou, kom ons ry.”

      Op pad is dit duidelik dat Dewald vol is van iets wat hy moet opper. Dan laat hy hoor: “Om die eerlike waarheid te sê, iemand het reeds aangebied om jou te loseer.”

      “O so. En wie weet dan al van my?”

      “Mevrou Thirion; ek dink jy het reeds haar dogter ontmoet.”

      “Dis reg.” Nelis voel ietwat afgehaal. Hulle het pas die vaal huis van die Thirions verbygesteek, en nou die winkel. Dewald bly ondertoe af teen die grootvoor.

      Dis dan seker deur bemiddeling van Nida Thirion dat die aanbod gerig word. Sy het beslis nie die paadjie vol duwweltjies laat word nie. Hy wens hy het haar liewer nog nie ontmoet nie, dan kon hy nie dink dat sy uit bejammering of pligsgevoel optree nie.

      Dis asof Dewald sy gedagtes raai: “Mevrou Thirion het gebel net voor ek na jou toe gery het. Skoon uitasem, bang sy vang my nie meer tuis nie. Jane moes my van die bakkie af inroep.” Hy gee weer sy dralende laggie: “Ek was nogal verbaas, sy is ’n eenkant mens. Weet nie of sy die geldjie nodig het nie. Haar boeke is duister om te lees.”

      “Ek sal daaroor dink,” beloof Nelis terwyl hulle stilhou voor Dewald se huis, een van die laastes voordat die rantjies verder wes oorneem. Hy weet nie wat om van die aanbod te dink nie. Dis vir hom bra halsoorkop. Mevrou Thirion moes dus vir Dewald gebel het pas nadat haar dogter tuis kom eet en vertel het. Voordat Boel vir Nida weer vir die namiddagskof by die winkel kom oplaai het?

      Hy probeer die saak eers na sy agterkop toe skuif. “Dink jy dit sal reg wees as ek môre haar aanbod opvolg? As ek al my besittings by my het en kan beraam hoe ek sal regkom?”

      “Dis goed, ek sal haar so laat weet. Vind eers jou voete in jou eie plek. Partykeer het ’n mens bietjie alleenheid nodig.”

      Wat ’n uitsonderlike man, dink Nelis. Hy voel dat hy reeds een vriend het. Boel tel nie, en Nida … wat is haar motief? Jammerte? Of het sy niks met haar ma se aanbod te doen nie?

      Soos Dewald sê, dis goed dat hy die eerste aand alleen in die skoolhuis is. Die skemeruur kan ’n aanduiding gee of sy lewe daar draaglik sal wees. En dit kan weer afhang van presies hoe hard die rivier in die diepste holtes van die nag raas; of dit hom lok en boei, en of dit hom dalk tog verskrik en afstoot.

      3

      Die vreemde dag sleep verby en om kwart oor vier kom Nida, vroeër as gewoonlik, van die winkel af. Sy dra haar liggeel strooihoed. Dit beskut haar nie net teen die son nie, maar ook teen moontlike blikke van wie haar ook al sou wou dophou. En laat sy maar erken, sy dink spesifiek aan Nelis Hoffman daar bo in die skoolhuis.

      So gou sy kan, sit sy op die toegerankte stoepie en perskes skil. Sy hoor die troebel water in die grootvoor spoel. Binne dae sal die nuwe water weer afsak en helder word. In ’n emmer soutwater gegooi, kan haar ma môreoggend die perskes kook en bottel.

      Dis blote verbeelding dat dit hier koeler is as elders. Die digte klimopplant keer die skrapse wind juis weg. Haar hande en voorarms voel reeds jeukerig, en sy kom agter hoe die hitte saam met die irritasie onder haar vel broei.

      Met afgetrokke aandag laat sy die geskilde perskehalwes in die emmer plons. Die vlesige pit wat sy na ’n klein, handige worsteling eenkant het, word apart opgegaar. Fyngestampte perskepit word gebruik om die troebel water in die balie mee af te sak. Die water in die sementdammetjie is nie altyd vars genoeg vir drinkdoeleindes nie, daarvoor word water uit die grootvoor daagliks in twee emmers gehaal.

      Sy wonder met ’n klein glimlag wat Hoffman van die perskepit-gebruik sal sê. Hy sal dit ook maar moet aanleer. Hy het so half ontsteld gelyk toe die dreuning van die rivier ter sprake kom. Of miskien het hy net ontredderd gevoel toe hulle ry en hom agterlaat, ’n allenige gestalte teen die rant. Hoe kaal is die skoolwerf. Niemand het ooit daaraan gedink om ’n boom te plant nie.

      Daar was ’n soort onbeheerbare flikkering van sy ooglede agter die swartraambril, asof in nabootsing van die deinende hittegolwe. Hy behoort ’n sonbril te kry, of dan selfverdonkerende lense. ’n Hoed ook, of uit die son bly.

      Sy voel baie seker dat dit hy is wat haar ontstem het, en sy kan nie sê waarom nie. Is sy maar net te ongewoond aan enigiets of -iemand wat die vasgelegde roetine versteur? Of sou dit wees, en sy voel byna verlig om aan so ’n moontlikheid te dink, dat hy haar onverwags herinner het aan die dinge waaraan sy graag deel sou wou hê? Geleerdheid, die opgaar van kennis wat weer aan ander oorgedra word. Sy sou baie graag wou skoolhou.

      Dit was een van die argumente waarmee sy tydens matriek haar ma probeer oortuig het: dat sy die een of ander tyd ’n aanstelling op Roosville sal kan kry. Wie weet, dalk, hier op Driekolk self? “Weer by Ma en Arno in die huis bly.” Dit was nie haar begeerte nie, want dan is sy terug onder haar ma se oog en hand. Maar dit kon haar ma help oortuig.

      Leen