vraag.
“Ek sal nou dadelik vir Dewald gaan bel,” belowe sy. “Daar’s seker geen telefoon in die skoolhuis nie, en buitendien is dit dalk tog toegesluit.”
“Dan sal ek maar moet inbreek,” probeer Nelis die kwessie verlig. “Of buite sit en wag tot hy hopelik kan kom oopsluit.”
Toe hulle teen die skuins, klipperige werf stilhou, kom ’n skoonmaakster juis met besem en stoflap om die hoek gestap. “Hulle maak darem nou al skoon,” kondig hy onnodig aan en probeer die verligting uit sy stem hou. “Dan sal dit oop wees.”
“Dis Komien,” sê Nida. Sy, Boel en die skoonmaakster roep ’n ingewyde groet oor en weer. Almal hier ken vir almal.
Oomblikke later staan hy op die grond met sy tas in die hand. ’n Groot eensaamheid dreig om hom te oorweldig. Hier sing net sonbesies. As daar tog ’n ander geluid van verwelkoming ook was. Want Boel het nie die lorrie se enjin afgeskakel nie en die geluier doof die ver gedruis van die water uit.
In ’n spytige oomblik dink hy: hy moes geswig en vir Reinet saamgebring het, as sy vrou. Sy kan haar korrespondensie-studie vanaf die mees afgeleë plek voortsit; as sy dan wil, want danig gemotiveerd is sy beslis nie. Dis egter nie veel meer as ’n desperate gedagteflits nie. Die tyd was vir hulle twee saam immers nie ryp nie.
Dan voel hy dat hy móét vra, om sekerheid te kry. “Die dowwe geraas van water,” vra hy meer aan Nida as aan Boel, want laasgenoemde sit reeds met sy hand gereed op die rathefboom. Hy is haastig, ’n man wat in die werk staan en nie onderbreek wil word nie. Toe Nelis se sin halfpad strand, voltooi hy dit so goed hy kan: “Mens kan dit nie nou hoor nie, maar … dis seker die drie watervalle waarvan ek gehoor het?” Hy beduie slapweg noordoos.
Sy kyk vlugtig na Boel, vraend. Dan verhelder haar gesig: “O, jy is reg, ja. Ons is al so gewoond daaraan dat ons dit nie meer hoor nie. Ons sal jou tog eendag gaan wys hoe die rivier daar bo oor die rotsblokke stort. In die nag as die wind draai, hoor ’n mens dit beter.”
Maar moet ek dit duideliker hoor? “Hou dit nooit op nie?” vra hy ademloos en sy oë boor dringend in hare.
Hy sien die stadige lig van verwondering in haar blik en besef dat sy stem te heftig was.
Dis Boel wat antwoord: “As die rivier baie leeg is, ja. Of as dit hoogwater is. Solank ons die geraas hoor, is ons tevrede. Dan is ons hele wêreld reg.”
Hulle hele wêreld, ja. Maar syne?
Hy probeer kalm voorkom. Maar toe hulle wegry, met ’n laaste belofte van haar dat Dewald dadelik gebel sal word, weet hy dat Nida Thirion die onsteltenis in sy houding moes gewaar het.
2
Die uitgetrapte grondwerf is bekend onder Nida se voete.
Dis al ’n paar jaar dat sy elke werksmiddag so inkom. In die winter is dit ’n heerlike stappie heen en weer winkel toe, meestal sonnig. Somertyd is dit lastig, maar sy het ’n liggeel wyerandstrooihoed vir die doel, almal ken dit so. Haar ma wil ook nie bra skik vir die hoofete in die aand nie. Sy hou van haar twee kinders om haar middagtafel. Dis die hoogtepunt van haar dag.
Die werk wat Nida by oom Gert se winkel doen, is soms sieldodend, bied nie veel uitdaging nie. Daar kom dae wat sy slegs ’n bottel paraffien en ’n paar brode verkoop. Dis vir haar egter ’n uitkoms van die dodelike sleur van die lewe tuis, en dis ’n eie inkomste. Sy kan daar sit en lees as haar werk klaar is.
Aanvanklik was daar nog opstand omdat sy nie kon gaan studeer nie. Indien nie universiteit of kollege nie, dan die een of ander praktiese kursus. Toe haar ma daarteen vasskop, wou Nida ten minste elders gaan werk. So ver moontlik, aanvanklik: Kimberley, De Aar, selfs die Kaap.
Haar ma het met swaar swye die proses van aansoeke gevolg. Elke keer as daar ’n positiewe moontlikheid opduik, het Leen haar ligweg begin verwyt, totdat Nida die aansoek opgeskeur of laat weet het dat sy nie meer belang stel nie.
Mettertyd sou sy tevrede wees om net maar ’n betrekking te kry op Roosville, hulle eintlike dorp. En dan nog die hope losies betaal, het Leen Thirion weer begin toe die skoolraad ’n kantoordame soek en Nida besluit om navraag te doen.
“Hoekom gesels jy dan nie maar met oom Gert Smit nie? Vandat sy been die abses gehad het, sukkel hy maar om oor die weg te kom. Hy kan sekerlik nie meer alles by die winkel hanteer nie.”
“Dan kan sy vrou mos help.”
“Die stomme mens is so sieklik.”
“Ek sien nie dat oom Gert te veel sukkel nie, Ma.”
“Dan kyk jy teen jou oogvelle vas.” En, by wyse van troefkaart: “Boekhou was jou beste vak. Oom Gert behoort te weet. En handig is jy ook. Nie lui nie. Dis net dat jy eerder lees as werk.”
Dis al wat sin aan my lewe gee, Ma. Maar sy sê dit nie hardop nie. Oplaas was daar weinig wilskrag oor om teen die prikkels te skop. Soms wonder sy of sy billik teenoor haarself gehandel het deur aan haar ma se besitlikheid toe te gee. Nou is sy reeds in ’n dodelike groef en sal dit meer as moed kos om daarvan weg te breek. En die drang is veral die afgelope jaar of twee nie meer baie sterk en lewend nie. Sy begin dink dat haar geluk tog hier lê, in besondere sin by Boel Meyer.
Met ’n vertroude beweging neem sy die vasgespykerde garetol wat as vatplek dien in haar los hand. Die gaasdeur skuur oop oor die holgetrapte drumpel. Die huis is so gebou dat die agterdeur pad se kant toe wys. Almal hier rond gebruik tog maar hulle agter- eerder as voordeure.
Sy kyk om en waai vir Boel voordat die vragmotor met sy afstootlike rooi kleur aanry. Enigiets behalwe rooi, het sy gesê toe Boel haar raadpleeg oor ’n paar moontlike tweedehandse vragmotors. Sy moes hom beter as dit geken het, want hy kies toe juis die rooie.
Die volgende oomblik is sy in die kombuis met die dampswaar, broeiende hitte. Reuk van kookkos en houtvuur en verslane vlieëgif. Sy sit die kardoes op die tafel neer. Uit die skemer eetkamer hoor sy reeds die klank van mes en vurk. Slegs in wintertyd of saans as die stoof afgekoel het, eet hulle by die kombuistafel. Met ’n mate van selfverwyt dink sy daaraan: sy moes Hoffman huis toe genooi het. Dit is etenstyd. En bowendien het hy so verlore gelyk toe hulle ry. Dit was meer as dit; sy kan dit nie plaas nie, ontnugtering of verlatenheid of wat ook al. Sy sprekende blik agtervolg haar, hoewel hy min gepraat het. Wat kom hy, ’n jong alleenman, hier in die afgeleënheid soek? Of kom hy net verkenning doen, voorbrand maak, dalk oorreding uitoefen, voor mevrou Hoffman agterna kom? Hy dra geen trouring nie, maar dit sê niks. Is hy ooit gesond … so bleek?
Sy moes hom genooi het, sy moes. Dit was trouens openlik onbeskof van haar om dit nie te doen nie. As haar ma meer buigsaam was, sou sy dit nog kon waag. Maar die kringetjie van hulle huishouding is so eng: ’n stukkie vleis vir elk, een stukkie ekstra as Arno dit dalk sou vra. Anders kry hy dit met aandete. Nagereg op Woensdag, Sondag, Krismis en verjaarsdae, so seker as wat daar drie rotskolke bo in die kloof is.
Elke dag is ’n koorsagtige klein stryd om den brode, ’n gewoel en geskarrel wat oploop na die klimaks van middagete. Om ’n tafelgas te hê, is ’n gebeurtenis wat voorafgegaan word deur eindelose berekening en beplanning. Sy ken die drukte wat ’n onverwagte gas kan meebring, wat te sê nog die onderwyser.
Half skuldig dink Nida daaraan dat sy, wat haar verhouding met haar ma betref, die weg van die minste weerstand leer volg het. Soms grens dit aan onreg, soos in die geval van die vreemdeling wat nou sonder kos daar bo teen die rant sit.
Sy wens dat sy dit vir Boel in die oor kon fluister om hom uit te nooi. Tant Bella is tog anders, meer beweeglik in haar leefwyse.
Om haar woord gestand te doen en haar gewete te paai, bel sy heel eerste vir Dewald Venter. Die foon is in die kombuis. Sy draai die slingertjie vir twee kort luie en een lange. Hy is gelukkig tuis vir die gebruiklike paar uur se rus oor die ergste hitte. “Julle onderwyser het gekom,” deel sy hom mee. “Ek en Boel het hom afgelaai, hy sit hoog en droog daar bo teen die rant.”
“Dis vir jou ’n ding. Vir wat kom hy nou al? Ek het gelukkig juis van gister af binne laat skoonmaak, daardie wegloopjuffrou