Meyer.”
Nelis ervaar ’n tikkie binnepret. ’n Meer gepaste naam kan jy kwalik bedink. Hy kyk sydelings na die vol, effens sinnelike mond, die gevulde wange. Tog straal daar ’n ruwe, onweerstaanbare manlikheid van hom uit. Gelukkig, darem, het BH Hougaard se beeld gewyk die oomblik toe die vreemdeling begin praat. Behalwe die swaar kop, is daar niks verder wat hom aan BH herinner nie. “Aangename kennis,” sê hy.
“Aag, skei uit met die manierlikheid, skoolmister.” Hy beduie na die strepie huise. “Jy kan nie almal op een slag sien nie. Dis sewentien huise met hulle erwe, so al teen die grootvoor af.” Hy kyk skuins na Nelis asof hy weet dat dié verkeerd sal verstaan. “’n Erf is nou nie ’n skwêr tuintjie soos julle dorpenaars dit verstaan nie. Dis ’n lap grond wat bewerk word, etlike morg.” Hy beduie: “Daar ver regs, oos, steek my en ou Bella se huis uit. Dis my ma. Sien jy, die groen werf? En ek is baie lief vir ou Bella, hoor.”
Was dit verdedigend? Hou almal dalk nie van “ou Bella” nie? Nelis merk op dat “ou Bella” se huis, sover hy kan sien en soos Boel tereg sê, ’n lowergroen werf het. Ander is kaal, soos die huis reg onder hulle, daar waar die pad vurk. Bar is ’n beter woord, met uitsondering van ’n yslike kameeldoringboom by ’n buitegeboutjie. Maar hy voel hom tot hierdie gestrooptheid aangetrokke. Geen voorgee of versierings om te ontken dat dit eintlik halfwoestyn is nie. Hy sal wel nou-nou hoor wie daar bly. Dis die naaste huis aan die skool, feitlik regoor, net met ’n steil stappie teen die rant af.
Want Nelis het reeds die twee klein gewitte geboutjies op linkerhand gesien, maar hy het voorlopig anderpad gekyk. Nou voel hy skerp teleurstelling deur hom vloei. Hy moet aanvaar dis sy bestemming. Vanaf die rant se kruin kon hy dit netnou nie sien nie. Dit lê teenoorgesteld van die ander huise, geskei deur die grondpad. Nie eers naastenby aan die soom van die pad nie. Ver van die waterkanaal, wat nog te sê die rivier of “die drie kolke”. Kaal tussen die klippe. Geen koelteboom eers nie. Hy gru effens as hy dink hy moet alleen daar bly. Hy is nie ’n kuddedier nie en hou van sy privaatheid. Maar verkieslik nie fisiek eenkant nie. Hy hou van mense naby en om hom. Alleen wees is reg, maar nie eenkant nie.
Boel volg sy blik. “Ja, dis jou koninkryk. En hier reg voor ons waar die pad vurk, sit ou Leen Thirion se plek.”
Dis die kaal werf met die enkele wyd spreiende boom.
Regoor die huis draai Boel links en ry weswaarts met die knikkerige stofpaadjie. Dis asof hy ekstra stof oor “ou Leen Thirion” se werf probeer opwerp. Dan voeg hy by: “Tog nou net jammer haar dogter is my meisie. Eendag wou ek haar nog sê dat sy net myne is, maar dalk moet ek nou opskud.”
Is dit ’n dreigement? Ek soek nie jou meisie nie, Meyer. Ek het vir Reinet, ek was net te versigtig, of onnosel, om met haar te trou en haar saam te bring. Jy sien, Meyer, daar het iets gebeur wat my ’n skaduwee maak van die man wat ek was.
Hulle steek ’n wingerd verby wat nie huis het nie. “En hier is ons winkel,” hervat Boel. “Ek is ’n aandeelhouer. Jy sal nou-nou sien hoekom ek so sê.”
Die winkel is skynbaar net ’n handelspunt, met Driekolk Algemene Handelaar in tuisgeverfde letters teen die muur. Die tradisionele reuk van velle, koffie en seep, beeld Nelis hom in. ’n Plek waar jy tussenin basiese benodigdhede koop sonder om dorp toe te ry.
“Behoort eintlik aan ou Gert Smit. Mankpoot en befoeterd. Was ook ’n lusernboer, maar hy het uitgeboer. Die ander spul, laer af teen die grootvoor, hoef jy nie nou al te ken nie.”
Nelis is dankbaar. Die enkele name drywe reeds rond in ’n groot onbekendheid. Trouens, dit lyk asof alles wat hy rondom hom aanskou, kan losraak en saam met die deinende hittegolwe in die lug ronddrywe. Hy is oorvermoeid en oorspanne. En in sy lewe het hy nog nooit so warm gekry nie. Binne die pype van sy langbroek voel sy bene lou en klewerig.
Hulle ry deur die oopgegooide draadhek wat toegang tot die winkelwerf verleen. Boel spring uit en laat sy deur sommer oophang. “Wil jy ook af? Ek gaan ’n paar woorde met iemand besonders gesels solank die goed afgelaai word.”
Nelis hunker na die beskutting van ’n dak, al is dit net vir ’n rukkie. Daarby is hy nogal nuuskierig. Kan die iemand besonders die meisie wees? Wie anders? Hy klim ook uit en maak seker hy los die deur half oop, gedagtig aan die steeks knip.
“Nieds!” roep Boel luid naby die ingang. Nelis staan langs hom, volg sy blik en sien die meisie wat by die toonbank met papierwerk besig is. Dis skemerig binne. ’n Waaier wentel in die lae plafon, so traag dat Nelis hom die stofdeeltjies op die vlerke kan verbeel. Dan tog elektrisiteit? Of net vir diegene wat kans sien vir die koste om dit aan te sluit?
Sy maak vir eers of sy Boel nie raaksien nie. “Nieds,” roep hy weer. “Middag, Nieds.” Hy sê eintlik “marrag”, ietwat oordrewe asof hy die geldigheid van sy streeksuitspraak aan die vreemdeling wil demonstreer.
“Ja, dag, Boel. Ek sal oom Gert sê jy het sy goed gebring. Hy sal met jou regmaak.” Sy kyk nou op. Haar oë flits verby hom na Nelis. Sy knik eers net. Hy is bly dat sy nie ’n vertoon van die ontmoeting maak nie. Is dit nie juis wat hy wou verhoed nie? Hy sou nogtans graag haar hand wou druk. Hy kan nie net soos ’n semelpop daar bly staan nie.
“Nie eers ’n botteltjie koeldrank om dankie te sê nie?”
“Jy weet oom Gert laat nie net vat nie. Betaal eers. Maar ons het koue water,” besluit sy, kom agter die toonbank uit en loop na ’n yskas met ’n ronderige deur. Die winkel is skemerig. “Het jy toe begin wegry?” vra sy sonder omkyk.
“Ja, die eerste vrag, maar al weer met ’n bakleiery met ou Alf Schutte. Dan glo te klam. En die bale lê nog my land vol soos die dom hoenders op ou Leen se werf.”
“My ma se hoenders het meer verstand as jou lusernbale,” wys sy hom tereg.
Nelis voel beïndruk, nie soseer deur die gevatte opmerking nie as deur haar gedrae stem en gemaklike manier. Onbedreig, dis die woord. Sy haal ’n glasbeker water uit. Hy weet dis koel. Dit moet wees, om verligting te bring vir sy tong wat soos kladpapier voel. Hy moet halfpad gedehidreer wees.
“Kyk hier,” sê Boel, “wat ek vir ons langs die pad opgetel het. Sal ons hom hou?”
Sy sit die water op die toonbank neer en stap nader. Nelis kom agter dat haar bewegings net so beheers en afgerond soos haar stem is. Haar geel linnerok is mouloos en eenvoudig. Sy is nie veel korter as hy nie. Slank van bou. Daar is ’n band met die kleur van skilpaddop wat die blondbruin hare uit haar gesig hou. Origens is dit in ’n soort bol gedraai en vasgesteek, vir koelte in die nek. Haar verskyning in hierdie warm, sweetharde werklikheid is verfrissend. En tog is sy doodgewoon, maak selfs ’n ietwat ongeërgde indruk, met die sjarme van onopgesmuktheid.
“U is seker die nuwe onderwyser,” raai sy sonder moeite. “Uit Wes-Kaap se koers. Meneer Hoffman, nè. Maar nou al?” Met die effense glimlag verskyn daar regop kepies langs haar mond.
“Ja, hy is die nuwe latswaaier, maar ons noem hom sommer Hoffie,” lê Boel beslag op wat ’n gesprek tussen Nelis en die meisie sou kon word. “En Hoffie, dis Nida, die meisie wat nog nie weet sy is net myne nie. Verstaan jy nou van my aandele in ou Gert se winkel?”
Sy laat haar nie uitlok nie. “Ag, Boel, jy hou jou tog weer so snaaks. Goeiemiddag, meneer Hoffman.”
“Hoffie,” dring Boel aan. Hy klink selfs ergerlik omdat sy hom teenstaan. “’n Meneer sou beter geweet het as om te voet oor die rant te stap. Ou Dowe-Hans het hom darem glo van die stasie af opgelaai. So, nie meneer nie.”
“Nelis,” tree die nuwe aankomeling tussenbeide. “Net Nelis.” Hy bied haar nou sy hand. Haar vingers is nie koel of warm nie, net reg. Noudat sy oë aan die skemerigheid gewoond raak, kan hy sien dat haar oë iets soos grysbruin is.
“Dalk later, ek bedoel die voornaam,” besluit sy. “Maar welkom, nietemin.”
“Ek sou darem dankie sê vir die guns wat ek vir jou en ou Gert gedoen het. Wat van ’n lekker klapsoen, Nieds? Vanaand, by jou huis?”
“Sal