pynlik onverwags aan BH, by wie hy op die laerskoolpersoneel was solank hy ’n agterstallige graadvak inhaal. Hy sien voor sy geestesoog selfs die handtekening: BH Hougaard, met die “g” wat eindig soos die onderlyf van ’n spokie in tekenprente.
En onvermydelik skuif die wipperige seunsgestalte van Banie Hougaard sy geheue binne. Hy moet veg om die emosies wat heftig en onkeerbaar in hom opspring van sy gesig af weg te hou. Hoe bekend is hierdie geveg tog, en hoe moeg is hy daarvan. Durf hy hoop dat innerlike genesing naby is? Hoe, weet hy nog nie. Hy het nagelees, artikels afgedruk uit sy eie handboeke, uit vakliteratuur in die biblioteek.
Hy het besluit hy moet sy eie binneste stukkie vir stukkie ontleed, in verskillende situasies met water. Nie mak water, getem vir menslike doeleindes en plesier nie, maar as landmerk wat die geskiedenis deurvloei, soms deurklief. Maar al wat hy tot dusver kon vasstel, is dat hy nie ’n waterfobie het nie.
Daar lê koel spot in die vreemdeling se oë toe hy die ryloper bekyk. Baadjie aan ’n vinger oor sy skouer gehaak, hemp op die punt van uithang, sweetblink gesig, losgeraakte kuif, skoene vol stof. Darem tog iets wat koel is, dink Nelis terwyl hy dapper die blik beantwoord. ’n Fris bruin arm, oortrek met sweet en lusernstof, lê op die vensterraam. Die kakie-hempsmou is opgerol tot waar die dik boarmspiere begin wys.
“Van waar, Gehasi?”
“Net van die stasie,” antwoord Nelis met gevatheid wat hy nie voel nie. Hy is vies om dit te moet noem, want hy besef nou dat niemand te voet hier verkeer nie, veral op die middaguur.
“Jinne, en hy kan versies maak ook.” Die jong man kruis sy arms op die stuurwiel. “Jy’t nie heelpad geloop nie, dan sou jy al uitgepaas het.”
“Nee, Hans Esau het my tot by sy afdraaipad opgelaai.”
’n Spontane lagbui. “Met daai krokkie van hom?”
“Hy was die engel op my stofpad,” antwoord Nelis doelbewus hooghartig.
“So praat ’n geleerde bek mos. Kom,” sê die vreemdeling en beduie weer met die kop. “Klim in. ’n Baadjie, verdomp, waar het jy ooit gesien? En g’n hoed op sy kop nie.” Hy reik deur sy venster, gryp die baadjie en prop dit langs hom op die kussing. “Jou soetkysie kan tussen die bokse kom.”
Nelis gooi sy tas agterop en rek sy treë voor om die verbleikte rooi neus van die vragmotor. Die ding lyk of hy jou onverhoeds kan bespring. Hy sukkel met die lendelam knip van die linkerdeur.
“Dit wil nie oop nie,” roep hy na ’n rukkie bo die gedreun van die enjin.
Die kêrel grinnik toe hy oorleun en die deur oopknip. “Werk makliker van binne af,” deel hy hom gul mee. “Hier is ’n man te besig om nog stukkende goeters reg te maak.” Nelis klouterklim tot op die kussing.
Dis nou rantaf en die lorrie knikstamp half op sy eie, sonder ekstra petrol. Dis asof die gesnor en die ongemaklike rit alle begeerte tot gesels uit Nelis se gestel dryf, sodat net die vermoeidheid oorbly. Die kussing is geslyt en ’n staalveer druk teen sy rug, maar selfs dit verhoed nie dat sy liggaam verslap en willoos agteroor lê nie.
Hy voel hoe hy inskuif in die rol van blote waarnemer, traag om te reageer of selfs die geringste beweging uit te voer. Of dit in die kajuit koeler is as buite, is ’n ope vraag. Tussen hulle lê sy baadjie, met ’n werkshoed bo-op. Dit, dat die man tyd gevind het om met halwe veragting die baadjie onder te plaas, ontgaan nie Nelis se aandag nie. “Ek is Hoffman,” sê hy pligshalwe en wonder of sy trae stem enigsins hoorbaar is.
“O.” Dit klink of sy weldoener dit weet, of vermoed het, maar hy verklap niks. “En wat het vir Hoffie besiel om so skelmweg hier aan te kom?”
Nelis antwoord nie, ofskoon hy die moeite ontsien om hom te vererg. In werklikheid kan hy die ware rede, dat hy onder ’n wanindruk oor Driekolk se ligging was, nie noem nie. En dat hy ’n ophef wou vermy nie. Op hierdie oomblik lyk die gedagte aan ’n ophef egter so belaglik dat hy liewer nie daarvan wil onthou nie. Dis bedrywige mense hierdie, mense wat oorleef in ’n klipperige riviervallei waar alles van dou tot donker vermoedelik dreun en zoem. Dit kos nie veel verbeelding om die tafereel te bedink nie.
Dis asof alles ineenvloei: die son wat voel of dit laag en swaar oor die rante en vallei hang, die gesing van die kragtige hoewel verrinneweerde rooi lorrie, die reuk van petrol, sweet, lusern en pypolie, die dik bruin hande op die stuurwiel … ineenvloei in een sterk mag wat hom uitskuif, teen die kussing terugdruk.
Hy kyk weer na die man se hande, dan na sy eie: die bleek polse, blou are wat week en onbeskermd onder die huidoppervlak loop, soos uitgebleikte plante wat rigtingloos agter ’n ontwykende son aan groei. Hande wat passief gebly het toe hulle daadkragtig moes optree. Waarom, waarom, waarom?
Waarom het hy nie afgeklim, Banie Hougaard gekonfronteer, hom met visstok en al van die spruitoewer weggedwing, in die kar gegooi en huis toe gevat nie? Net omdat hy ’n klein storiedraer en bedorwe brokkie was, oor wie al die onnies ligweg gekla het? Hy, met sy ewige “pea-shooter” waarmee hy die meisietjies terg? Wat alles ontken het wanneer ’n onnie hom durf aankla? Nee, dit kan nie wees dat hy om daardie rede passief gebly het nie. Die mens is instinktief ’n redder van die mens, behalwe as sy gees kromgetrek is.
Ses maande gelede was hy ook bruingebrand, nie soos sy weldoener nie, maar bruin genoeg vir ’n dorpenaar. Miskien sal sy gesonde kleur hier terugkom, en vrede in sy gemoed ook. Op hierdie oomblik lyk dit meer as onmoontlik, lyk die rede vir sy koms misplaas en onlogies. Maar hy is jonk, hy wil nog lewe. Hy moet die vreetwurm uit sy kop uit wegkry.
Water. Die begrip het in sy brein oorheers. Hy moet gaan na ’n plek waar water is, volop water wat onstuimig kan raak.
Nou lê die blink kronkels van die rivier egter kundig versteek en hy, wat gekom het om klaarheid te kry, lê reeds soos ’n uitgewekene hier teen die warm kussing van ’n vreemdeling se meganiese rooi monster.
Hy skrik sigbaar uit sy gedagtes op toe sy ietwat brute gasheer skielik langs hom praat: “Jy sal eers saam met my moet ry om die goed by ons winkeltjie af te laai, dit maak eenuur toe. Almal rus as dit hard middag word.”
Hy praat asof hy Nelis se bestemming ken, en dit maak nie meer saak nie.
“Dis reg, dankie.”
“Ek het gaan bale aflaai by die stoor. Moes eers rusie maak oor die graad.”
Verwag die man ’n antwoord? Maar hy praat in elk geval voort, sy stem te hard, omgekrap. “Die tyd is naby dat ek vir myself ’n moerse groot lusernmeul koop. My eie lusern maal en uit die hand verkoop aan buiteboere. Dit nie eers baal nie.”
“Vindingryk,” mompel Nelis. Die onderwerp kan hom nie werklik boei nie. Daar is groter oorwegings wat in sy bloed klop.
“Dit sal my nie die liefling van die verdomde koöperasie maak nie, maar dis elke man se gouigheid.”
Nelis swyg. Die woorde “elke man se gouigheid” bly egter hinderlik vassteek.
“Dan laai ek jou met die terugkom by die skoolhuis af. Gaan jy alleen daar bly?”
Hoeveel meer vermoed of raai die man? Lyk hy na ’n geslae hond wat ’n lêplekkie op ’n ou goiingsak kom soek? “Jy raai nogal raak.”
’n Swaar lag vul die bedompige kajuit. “Sê maar net dis die bril, los al die ander goeters uit.” Hy blik skuins na die rof opgevoude baadjie. “En in my agterkop onthou ek van die nuwe skoolmister wat sal kom. Toe sien ek ’n vrinneling oor die rant sukkel.”
“Is ’n vrinneling, ek bedoel ’n vreemdeling, dan so ’n snaaksigheid hier?”
“Die kleinste kind sal al die mense hier rond vir jou by name kan opnoem.”
“Ek hoop nie my aanstaande leerlinge is so verveeld nie.”
“O, die klompie sal natuurlik eerder buite as binne wil wees. Maar sal ek sommer ’n paar van onse mense vir jou opnoem?”
Nelis wens dat die gesprek liewer wil doodloop, maar hy knik net. Hy sal immers dadelik by die samelewing moet