gesê? En hoe hard?
Hy voel dankbaar oor die lang vermiste, doodnormale gevoel van verleentheid wat warm in hom opstoot sodat hy dit tot in sy nek kan voel.
5
In die dik geel lig van laatmiddag stap Nida die entjie na Bella Meyer toe, sowat ’n kwartier met die voetpad teen die grootvoor. Sy word, soos altyd saans, omhul deur die afkoelende geur van modder en groenigheid.
Tussen hulle en die Meyers is daar slegs een huis, feitlik leegstaande, slegs ’n deeltjie bewoon deur die huurder, oom Salie Steenkamp, sommer “Stinkham”; dis fonetiese assimilasie, het sy op skool geleer, soos Thirion wat Tierjon word. Die fluks, stil oom bewerk die besproeiingserf pragtig, die landerye ’n plesier vir die oog; hy gaan net naweke na sy gesin op die buiteplaas, waar hy weens droogte en teenslae uitgeboer het.
Die volgende werf is dan Boel-hulle s’n, lowergroen beplant deur Bella met die groen vingers. Boel sê sy ma kan ’n blikbeker onderstebo plant, dan skiet dit wortel.
Nida weet dat sy weer eens sal jok, vir Bella sal sê: “My ma stuur groetnis.” En Bella sal maak of sy dit glo. Deur die jare het sy geleer om haar besoeke aan Bella Meyer met skuldgevoel te paar. Sy het daaraan gewoond geraak, maar dit bly nietemin pynlik, veral noudat sy volwasse is. Sy hou van die vrou; sedert haar vroegste kinderjare was sy lief om weg te glip, “bietjie soontoe op te loop”.
Die Meyers was “inkommers”, nie oorspronklike setlaars nie. Nogtans was Boel nog jonk genoeg vir Driekolk se skool. Alles wat Boel as jongste kind in die huis geniet het, is so ongemerk met haar gedeel, lekkernye gebêre tot sy kom, ’n fyn afgewerkte poprokkie hier en daar. Een keer ’n kundige laphoedjie. “Net ’n sirkel,” het Bella tevrede uitgelê toe dit so mooi op Nida se kop pas. “En dan rondom die bol ingetrek. Hoededraad om die rantjie styf te laat staan.” En ’n oorgetrekte knoop reg bo-op die kroontjie om dit af te rond, het Nida ingenome gesien. Dit was blommetjieslap, en sy het baie mooi gevoel toe sy tuis daarmee aankom. Haar ma het bloot gekyk, niks gesê nie. Dit ook nie laat verdwyn, wat maklik sou wees nie. Dit het net per abuis saam met die witgoed in bleikmiddel beland en fleur en kleur verloor.
Soos Nida ouer word, moes sy na elke besoek feitlik terugsluip met die vooruitsig om verantwoording te moet doen. Hoe goed onthou sy daardie onderonsies wat eintlik maar kruisverhoor was. “Was jy weer by die Bella?” Altyd “die” Bella, om afstand te skep of minagting te kenne te gee.
“Sy’t my laat roep, Ma.” ’n Ligte leuen. Boel sou dalk net by die skool sê, eers by Driekolk en later op Roosville: “My ma sê sy het jou lank laas gesien.”
Leen se klagtes was altyd min of meer: “Mens kuier mos tog nie op die hitte van die middag nie”, of: “Wat het die Bella dan beter as wat jy in jou eie huis het?” Of: “Watse gunste en gawes het jy nou weer gaan bedel?”
“Dis … dis sommer ’n ou poprokkie wat sy my gegee het.”
“Hmf. Splinternuut gemaak, kan ek sien. Was Boel ook daar?”
“Ja, Ma; hy help tant Bella boontjies kerf om in te lê.”
“Watter soort jongetjie sit oordag in die huis? Jou broer moet maar werk. Ja-nee, jou broer moet maar werk.”
Laasgenoemde was ná Nida se pa se dood. Dit sou nie help om te verweer dat Boel maar net nie ’n sukkelaar soos Arno is nie. En dat die Meyers nie te suinig is om werkers te huur nie.
“Arno het nie tyd vir nonsens nie. Hy het nie ’n pa nie; hy moet werk.”
“Boel het ook nie ’n pa nie, langer as Arno al.”
“Maar hy het dik geërf. Het jy nog nooit gewonder hoekom nie?”
“Diamante?” het Nida gewaag. “Hoekom het Pa dan nie ook maar met diamante geld gemaak nie? Dit behoort aan niemand nie, dit kom uit die grond. Soos lusern. Was Pa net te bang?”
“Jy weet nie wat jy praat nie. Dis ’n kwessie van tronksit.”
Die versetspel het mettertyd subtieler geword. “Vir wat sit jy jou strooihoed op?” Nida het lankal die kappie-juk afgewerp.
“Ek gaan sommer ’n entjie stap, Ma.”
“Stap dan lande se kant toe, dan vat jy vir Arno ’n koffietjie saam.”
“Ek wou nie so ver stap nie; ek het nog huiswerk.”
“Nou gaan doen dan eers jou huiswerk. Plig voor plesier, sê ek altyd.”
“Watter plesier, Ma? In ons huis? Ma speel seker.” Nida was eindelik groot genoeg om te kritiseer, en verbaas om te vind dat haar ma ’n mate van kritiek toelaat, solank sy die laaste woord het.
Toe Nida matrikuleer en by oom Gert in die winkel begin werk, het sy openlik te werk gegaan, soos op ’n Saterdagmiddag: “Ma, ek stap bietjie oor na tant Bella toe. Het Ma ’n boodskap of iets?”
“Van wanneer af laat ek en sy mekaar iets weet?” En, grimmig: “Jy moet oppas. Mense kan begin dink dat jy agter Boel aan loop.”
“Laat hulle dink wat hulle wil, Ma. Ek weet wat ek weet.”
Toe Boel werklik begin flikkers gooi, het sy versigtig geword. Sy was nie ryp vir sy attensies nie. Sy sou Bella net besoek as sy weet Boel is Roosville toe, of elders. Sy en Bella kon nou volwasse geselskap voer.
Die afgelope agt dae was nogal besig, met die onderwyser se koms en die losiesstorie. Daar was eers die vinnige reggryp van die buitekamer. Verder het sy ongemerk toegesien dat haar ma die vleis sag genoeg stowe en behalwe die styselkos (altyd mielierys of stampmielies of rys of koring), darem ten minste nog een bykos het. Vir slaai is daar ’n opslagtamatiestoel. By oom Gert se winkel is aartappels te koop, en Leen druk nogal graag pampoenpitte in die grond.
Maar dis nou reeds ’n paar dae sedert sy van Boel verneem het dat sy ma olik is. Vanmiddag lyk dit of sy kan wegglip soontoe. Sy is reeds tuis van die werk af, maar die son sit nog hoog. Haar ma het vir Arno koffie weggebring. Om Arno te versorg, sy koffie self weg te neem, sy skoene skoon te maak, sy skeergoed te bêre, is meer as blote roetine. Dis ’n gewyde ritueel elke dag, wat noodwendig gepaard gaan met die neurie van ’n hallelujalied. Hoeveel kere het sy haar ma sien afkoers na die lande, platkappie op die kop, skottelgoed in die doek. Elke duik in die aluminiumketeltjie vertel ’n hoofstuk van die verhaal van Leen Thirion se liefde vir haar seun. Nog nooit was dit iemand anders beskore om met ’n parslap naby Arno se kerkpak te kom of sy kouse op te vou nie.
Nida was nooit daarop afgunstig nie. Sy was te gewoond aan Arno se waarde as onontbeerlike man-in-die-huis, die een wat die skoorsteen laat rook. Sy moet dan ook toegee dat hy ’n harde werker is, al is hy nie iemand met vergesig nie. ’n Mens moet hom die krediet gee dat hy besig is om ongemerk sy eie jeug en kanse op ’n huwelik op te gee ter wille van sy ma en suster.
Sy self sal haar potjie kan krap, maar wat sou haar ma sonder Arno gedoen het? Haar ganse lewe en belange en toewyding sirkel om hierdie stukkie grond wat sy saam met haar man help tem en opbou het, toe hulle nog beginners was. Nou is die pa weg en die seun is groot, en Arno vorm die siel en kern van die bestaanslewe hier.
Vanmiddag sal haar ma lank by Arno talm, want daar wag nie pligte tuis nie. Nelis Hoffman se motor het in die dorp aangekom, en hy het gesê dat hy saam met Dewald ’n geleentheid kry om dit te gaan haal. Hy sal dalk daar eet, en Leen moenie vir hom aandete hou nie.
Dit nou na gisteraand se telefoonoproep wat hom laat uitroep het: “Jy het wát?” So hard dat die geslote middeldeur dit nie genoegsaam kon demp nie.
Daarna, so weet sy, het hy met sy suster gesels en aan tafel allerlei familienuus aan haar, haar ma en Arno kom oordra. Maar die klank van sy stem in daardie ontstelde uitroep kan sy nie vergeet nie. Soos sy oë, die middag toe sy en Boel hom by die skoolhuis afgelaai en hy hulle so verlore agterna gekyk het. Hy is nie ’n onvertroebelde man nie. Wat anders sou hy hier kom doen, as wegvlug van iets, of wil kom genees? Sy studie, glo. Meer tyd, minder buitemuurs. Dit klink alles flouerig. Dis meer as vertroebeling, dis ware leed.
Sy