Moryn Hanzen

Pad na Geluk


Скачать книгу

>

      Pad na Geluk

      Moryn Hanzen

      Melodie

      Vir hartsvriendin Fransie Meiring

      & woordvriend François Bloemhof

      1

      “Is Ouma seker ons het nie êrens verkeerd gery nie?” Bekommerd frons Nina al dieper terwyl haar oë die uitgestrekte Kalaharilandskap om hulle verken.

      “Natuurlik is ek seker, my kind.” Ouma Anita buk om haar groot gehekelde handsak by haar voete by te kom.

      ’n Glimlag vorm om Nina se lippe terwyl sy aan oorlede oupa Dawie se woorde terugdink: “Jou ouma hou altoos van ’n paar goedjies by haar voete wanneer ons êrens heen ry.”

      Hoe verlang sy nie nou na oupa Dawie nie!

      “A, hier’s dit!” roep ouma Anita uit na ’n minuut of wat se gegrawe.

      Nina se oog vang die verkreukelde stukkie blou papier tussen haar ouma se goed versorgde duim en wysvinger. Haar wenkbroue trek vanself op toe sy die ietwat deurmekaar gekrabbel daarop vlugtig aanskou.

      “Is dit nou oom Chris se noukeurige aanwysings waarvan Ouma my nog heeltyd vertel?” Die Volkswagen Kewer wip oor nog ’n onverwagse hobbel in die breë grondpad wat nimmereindigend tussen die duine en veld strek. Nina vee die sweet van haar voorkop af en trap versigtig rem toe hulle uiteindelik ’n welkome kameeldoringboom langs die pad bereik.

      “Wat nou, hartjie? Moet tog nie sê ons het teëspoed met Gogga nie?” Ouma Anita loer bekommerd van agter haar bril van Nina na die motor se hittemeter terwyl sy by voorbaat met haar linkerhand na die groot waterbottel by haar voete soek.

      “Nee, Oumsie, Gogga gedra haar uitstekend. Ek dink net dit is tyd vir bene rek.” Sy loer na die stukkie papier wat haar ouma soos ’n tjek met ses nulle daarop vasklem. “En dat ons die oom se aanwysings ’n bietjie sorgvuldiger nagaan.”

      Nina maak die birre-birre-birre van haar getroue Volksie stil en sit ’n paar tellings verstom. ’n Getjir-tjir kom saam met die hittewalm deur die afgedraaide motorruite na hulle aangesweef. “Wat op aarde …?” begin sy terwyl sy die deur oopmaak en haar kaal voete vir die eerste keer kennis maak met sonwarm rooi sand. Gou pluk sy haar voete terug en staar na hulle onmiddellike omgewing asof sy dit nou vir die eerste keer werklik raaksien.

      Haar definisie van ongerep is onmiddellik uitgewis en vervang deur alles wat sy om haar sien. Sy kan selfs verwag dat ’n reusagtige maanhaarleeu enige oomblik brullend van agter ’n bos sal uitspring.

      “Wat? Die aanhoudende getjir hier bo ons? Dit is nou sonbesies, kinta. Welkom in die hartjie van die Kalahari!” Ouma Anita se lekkerkry-laggie klink op terwyl sy agtertoe strek om Nina se modieuse wit sandale op die agtersitplek by te kom. “Vat so, kinta. Hierdie wêreld speel nie met sagte voete nie.”

      Terwyl Nina die sandale aantrek, grawe ouma Anita opnuut in haar handsak. “Dè, smeer vir jou hiervan aan.”

      Selfs die bottel sonblokroom wat Nina by haar ouma aanvat, is warm. Uit ondervinding weet sy haar ligte vel raak nooit aan die son gewoond nie. Onsekerheid wil-wil haar keel laat toetrek. Was dit regtig so ’n goeie idee om die haarsalon in Cindy se hande te laat terwyl sy en haar ouma die pad vat?

      “A, ruik jy die veld?” onderbreek ouma Anita Nina se kommergedagtes. Nina is besig om haar reeds verbrande skouerknoppe en gesig in te smeer met die kokosneutgegeurde room wat alle ander reuke om haar tydelik oorskadu.

      “Dít is nou hoe ongerep ruik,” knik ouma Anita glimlaggend haar kop.

      “Natuurlik,” stem Nina saam asof sy presies weet waarvan haar ouma praat. “En dit is hoe ongerep lýk!” Sy draai haar regterkantste skouer na haar ouma sodat sy die skade wat die son reeds aangerig het, kan besigtig.

      Van die begin af was sy gekant teen die plan om haar ouma Kalahari toe te bring. ’n Koue rilling gly al langs haar ruggraat af. Die veld om hulle is wel pragtig, maar wie weet hoeveel ongediertes en goed met voelers en angels of reusagtige slagtande om elke hoek en draai, of eerder, agter elke bos en sandduin, vir ’n mens lê en wag. Met slegs ’n plaasopstal of dam en windpomp elke vyftig tot honderd kilometer binne sig, wil Nina se keel toetrek. Sy is seker dat hulle reeds verdwaal het. Moedeloosheid wil haar net oorval.

      Ouma Anita het volgehou dat Nina ook ’n wegkomkans nodig het.

      Nina haal haar skouers op en voel hoe die spanning op die krop van haar maag effens skietgee. Haar lewe in Pretoria bestaan byna net uit werk toe en huis toe. Die vakansie kan haar net goed doen.

      Sy leun oor en tel die groot koelhouer van die agterste sitplek af op. Wie weet, dalk was haar ouma tog reg. “Middagete in die Kalahari!” sê Nina met meer geesdrif as wat sy voel. Sy maak haar deur oop om die omgewing beter in te neem, maar bly in haar sitplek sit om te eet.

      “Is jy klaar spyt jy het ingestem om my te bring, Nina-kind?”

      Die onsekerheid wat hoorbaar in haar ouma se stem deurslaan, laat haar in ouma Anita se rigting glimlag terwyl sy met soveel oortuiging as moontlik antwoord: “Nooit gesien nie, Ouma. Ons gaan lekker vakansie hou.”

      Tydsaam hap sy om die beurt aan een van haar ouma se heerlike frikkadelle en ’n tamatietoebroodjie en beskou die tandmerke wat in die brood agterbly aandagtig.

      Dit is nogal moeilik om heeltemal eerlik met haar ouma te wees. Sy weet hoe nodig ouma Anita hierdie vakansie het. Al die jare wat haar ouma en oupa van hulle vriende in die Kalahari gepraat het, het verbygegaan sonder dat hulle ooit sover gekom het om te gaan kuier.

      Na oupa Dawie se dood het ouma Anita daagliks byna sigbaar gekwyn. Tot sy die brief met die uitnodiging om te kom kuier van oom Chris af ontvang het.

      Hoe bar sal haar lewe tog nie sonder haar ouma gewees het nie? Die reis Kalahari toe is die minste wat sy vir ouma Anita kan doen. Behalwe die haarsalon waarin Nina haar kan uitleef en ’n handjievol vriende, is daar niks wat haar verhoed het om aan haar ouma se wens te voldoen nie.

      Nina kyk met ’n teer glimlag na ouma Anita wat lekker sit en eet. Dit is die eerste keer in ’n lang tyd dat sy haar ouma nie hoef aan te praat om tog ’n bietjie meer te eet nie.

      Nina sug saggies terwyl sy die laaste happie brood in haar mond steek. Dalk is die vakansie tog die beste ding wat in hierdie stadium kon gebeur.

      Carl …

      Vir die eerste keer sedert hulle ontmoet het, dink Nina ernstig na oor haar vriendskap met hom. Hy is net altyd daar vir haar, sy kon nie vir ’n beter vriend gevra het nie. Boonop is hy goed versorg, en ja, ongetwyfeld aantreklik.

      Nina frons liggies. Carl se afskeidsoen was egter allesbehalwe vriendskaplik. Dit sal stiksienig van haar wees om nie te erken dat hy hulle vriendskap graag na die volgende vlak wil neem nie. ’n Romantieser een. Dit is net … sy kan nog nie besluit hoe sý daaroor voel nie.

      “Nina, waar loop my kinta se gedagtes nou weer rond?”

      Ouma Anita se bekommerde gesigsuitdrukking ruk aan Nina se hart. Sy kan haar ouma nie nog met haar eie probleme ook belas nie. Sy het swaar genoeg gekry na haar oupa se dood.

      Sy moet haar regruk. Weg met al die negatiewe gedagtes, Nina, maan sy haarself streng aan. Dink vir ’n slag aan iemand anders as jouself.

      Sy sluk aan die seer wat in haar keel vassteek. Haar ouma hoef nie te weet van al haar sorge nie. Sorgvuldig steek sy haar daaglikse probleme vir ouma Anita weg, die uitdagings wat haar soms wil oorweldig. Ondanks al haar harde werk, toon die salon steeds nie soveel wins as waarop sy gehoop het nie.

      Sy trek haar skouers agteroor. Na die vakansie sal sy weer genoeg moed en krag hê om die salon met nuwe ywer aan te durf. Haar werk is immers haar lewe.

      “Ag, Oumsie, ek sit en wonder maar net oor die pad vorentoe,” sê Nina sommer in die algemeen.

      Gaan dit bloot oor die pad tot op oom Chris se plaas Geluk? wonder sy met die kommer terug op die krop van haar maag. Sy kan maar net hoop dat Cindy die mas sal opkom terwyl sy vakansie hou. Die huur van die