kry ’n mens die antwoord vanuit die mees onverwagse oord.”
’n Skyfie tamatie het intussen uit Nina se toebroodjie in die sand langs die motor geval en binne ’n paar sekondes ontdek die eerste mier dit, steek hy huiwerig vas en loop dan ’n draai daarom. Dan verskyn ’n koringkriek met sy potsierlike lyf en lang bene op die toneel en verorber die onverwagse en welkome maaltyd met smaak.
Nina kyk verstom toe hoe sy lyf al dikker word. Sy wonder wat sal gebeur as háár stukkie tamatie, haar salon, deur een of ander reus waaroor sy geen beheer het, verorber moet word. Wat sal sy doen? Om vir ’n salaris by ’n ander haarsalon te gaan werk, sal nie genoeg wees om haar en haar ouma se lewenskoste te dek nie. Die ou twyfel wil haar maar net nie laat staan nie.
“Kyk bietjie daar anderkant jou, kinta.” Ouma Anita wys in die rigting van ’n nabygeleë sandduin.
“Ag, Oumsie! Dit is so oulik, ’n hele meerkatfamilie!” roep Nina opgewonde uit. Dit is die heel eerste keer dat sy meerkatte in lewende lywe sien en sy glimlag van oor tot oor, die kommergedagtes vir eers opsy geskuif.
Kiertsregop staan hulle daar in gelid, van groot na klein.
Nina gryp haar digitale kamera, klim suutjies uit die motor en mik versigtig in die meerkatte se rigting sodat hulle nie moet skrik nie. Ek wens ek het meer tyd om aan hierdie stokperdjie te wy, dink sy verlangend terwyl sy aan die kameralens verstel om die skatlike diertjies op die sandduin so duidelik moontlik in fokus te kry.
“Nou wie sal dít nou wees?” hoor sy ouma Anita sê, maar Nina het oë net vir die meerkatte wat lyk of hulle poseer vir ’n glanstydskrif se voorblad.
Dan hoor sy dit ook: Perdepote op die grondpad, raai sy, voordat sy die kamera laat sak en haar kop in die rigting van die ritmiese geluid draai.
Sowat vyftig meter agter hulle in die pad kom ’n ruiter op ’n vosperd aan.
’n Man. ’n Groot man.
Hoekige skouers laat sy kakiehemp span, sien Nina. Dit is moeilik om die ruiter se gelaatstrekke in die skadu onder sy breërandhoed te eien.
Nina draai om en bêre haar kamera weer agterin die motor, meteens skaam omdat sy so na die vreemdeling staar. Selfbewus oor haar wit halternekrok wat na die lang rit maar verkreukel daar uitsien, stryk sy ’n paar keer met haar hande daaroor terwyl sy orent kom.
Sy skud die sand uit haar wit sandale en stap tot agter die motor.
Die ruiter en sy perd is nou naby.
Weer stryk sy oor haar rok. Verbeel sy haar of volg die man se oë elke beweging van haar hande oor die gekreukelde materiaal?
Sy wag hom in. Uiteindelik ’n lewende siel wat vir hulle kan sê of hulle dalk in hul peetjie in verdwaal het, dink Nina dankbaar. Dat die man besonder lank moet wees, is baie duidelik nog voordat hy van die perd se rug afklim.
Ouma Anita gee een kyk na die man op die perd met sy oë stip op Nina gerig en klim terug in die motor met die flou verskoning dat sy vir hulle koffie wil ingooi.
Met ’n flink beweging gly hy van die perd se hoë rug af. Nou staan hy slegs ’n paar treë van Nina af. Hy streel liggies met ’n groot, songebruinde hand oor die perd se neus en gee met gesag ’n bondige opdrag: “Bly!”
Dan laat hy die teuels heeltemal los terwyl die dier gehoorsaam bly staan.
Nina wens meteens hy wil die hoed afhaal. Sy brand van nuuskierigheid om sy oë in die helder sonlig te kan sien. Sal hulle ook so donkerbruin wees soos die bietjie hare wat moedswillig om sy ore krul, soos die dagoudbaard wat sy hoekige ken beklemtoon?
Dan gee hy ’n groot tree in haar rigting en lig ’n gespierde arm. Hy haal sy hoed af en steek sy hand na haar toe uit, terwyl sy warm, bruin oë vraend in haar groenes rondsoek.
“Ian Nell,” rasper hy in ’n diep stem. ’n Glimlag haak baie effens om sy een mondhoek en verdwyn weer net so vinnig.
Sy groet hom met die hand. “Nina,” antwoord sy op die vraag in sy oë. “Nina du Toit.”
Skielik kan sy aan niks meer dink om vir die aantreklike man te sê nie. Sy wil vir hom die rigting na Geluk vra, maar haar tong het geknoop. Sy haal diep asem. Waarom tog so kortasem? Dit moet die hitte wees.
Verleë trek sy haar hand terug en buk in ’n desperate poging om te kyk wat so skielik van haar ouma geword het.
Ian skeur sy oë van haar af en buk langs haar sodat hy ook die ouer vrou in die Volksie kan sien.
Ouma Anita is steeds besig om koffie te skink.
Nog nooit in haar lewe was Nina al so intens bewus van iemand se teenwoordigheid soos dié van die stewige, lang man met sy kop hier naby hare nie. Selfs die heel aantreklikste man van wie sy al die hare gesny het, die bes geboude mansmodel wie se hare sy al vir ’n vertoning moes stileer, is almal niks in vergelyking met die een langs haar nie. Dit is net asof hierdie man iets uitstraal … ’n Teenwoordigheid … Nina kan haar vinger eenvoudig nie daarop lê nie.
Sy kom weer orent en sien hoe die man se oë ’n skakering donkerder word terwyl hulle oor haar kaal, sonvernielde skouers en effense lae hals gly. Selfbewus druk sy teen haar hals.
Wat sou hy nou eintlik van hulle wil hê? Hy daag hier op in die middel van nêrens en bekyk haar asof sy ’n prysetiket op haar kop het. Wat makeer sy? Waarom sou ’n vreemde man waarvan sy niks meer as sy naam weet nie, haar hart skielik laat fladder?
Wag ’n bietjie, hy het gesê sy van is Nell. Oom Chris is mos ook ’n Nell …?
Ian maak keel skoon. “Ek het jou Kewer voor my in die pad gewaar,” sê hy terwyl hy met sigbare moeite van die hand teen haar bors af wegkyk, maar toe dwaal sy oë sommer na haar lippe wat, besef Nina meteens, effens oop is.
Sy pers haar lippe gou op mekaar.
Hy lig sy verkyker ter verduideliking, maak weer keel skoon en bekyk die tamatierooi Kewer met meer aandag: Oral oor die bakwerk is groot swart kolle geverf.
“’n Regte lieweheersbesie,” fluit hy sy opregte verbasing uitgerek tussen sy tande deur.
“Hei, haar naam is Gogga, moet dit asseblief nie vergeet nie,” kry Nina dit reg om haar Kewer so ongeërg moontlik aan hom voor te stel. “En daar binne sit ouma Anita wat baie lus gekry het vir koffie in hierdie versengende hitte van julle.” Nina glimlag op na hom.
Sy effense glimlag is terug, dié keer ’n bietjie breër.
Ian knak sy knieë weer en kyk na waar ouma Anita sit terwyl hy haar reghelp: “Dit is nog allesbehalwe versengende hitte, uh … Nina du Toit. Wag maar totdat die kwik ver anderkant die veertig grade gaan draai, of nog erger, wanneer dit aan die vyftigs raak, dan praat ons weer. En dit is ook nie óns hitte nie. Die Kalahari behoort aan niemand nie; dit daag eenvoudig die een geslag na die ander uit om hom te probeer tem.”
“Word dit regtig nóg warmer as nou?” keer sy terug na die temperatuurkwessie. Nina voel hoe haar hare klam aan haar nek vasklou. As dit regtig nog warmer as op hierdie huidige oomblik word, hoop sy die plaas het ’n reuseswembad en baie digte skadubome. Én lugverkoeling oral in die huis, anders gaan die vakansie ’n marteling wees.
Uiteindelik het ouma Anita haar skielik oorweldigende dors vir koffie geles en klim sy met twee bekers uit om kennis te maak. Met ’n breë glimlag kom sy om Gogga gestap en gaan staan langs Nina. “Anita du Toit, aangename kennis.”
“Ian Nell, aangename kennis, tannie Anita,” kom dit sonder huiwering van Ian. Lagplooitjies vorm om sy oë en kuiltjies speel skielik alkante van sy mond terwyl hy na een van die bekers wys. “’n Man sal mos daaraan gewoond kan raak om so met koffie in die veld bederf te word.”
Nina se oë is vasgenael op sy lippe toe hy dit effens tuit om die koffie koud te blaas en ’n slukkie te vat.
“Ek en oupa Chris wag al van vroegoggend af op julle koms,” sê hy met sy broeiende donker oë op Nina.
2