dít die huis waarvan Ouma gepraat het?” Nina skeur haar oë met moeite van Ian weg.
Haar ouma knik ingenome.
“Maar hier is dan nie eens bome nie.” Nina se oë fynkam die toneel voor haar en neem ’n groot wit huis in met ’n goed beplande tuin bestaande uit ’n wye verskeidenheid vetplante en plaveisel wat kunstig uitgelê is. Aalwyne vorm die middelpunt van dié eienaardige tuin.
Langs die huis is ’n lang stoep waar ingeboude betonsitplekke ’n wye halfmaan vorm met ’n braaiplek langsaan. ’n Hele bos kannas groei teen die kant van die huis, en Nina vergaap haar aan die blomme se rooi vlammetjies. Aan die ander kant van die huis staan darem ’n enkele witgatboom, perdestalle en die motorhuis. In die yl skadu van die boom lê ’n besonderse vet boepenshond …
Of, nee, wag, dit is g’n hond nie! Toe hulle langs die huis stilhou, het die dier opgespring en nuuskierig nader gedraf.
“Tjoppie, gedra vir jou!” kom dit bevelend van Ian.
Tot Nina se verbasing gehoorsaam die massiewe vark dadelik en kom na Ian toe, wat die teuels van sy perd oorhandig aan ’n jong man in ’n blou oorpak wat vriendelik groet. Die vark kom staan soos ’n wafferse werfbrak by Ian. “Daar’s hy, dit is mos nou ’n soet ot,” gesels Ian terwyl hy hard agter die dier se ore krap. Die vark snork en steun van pure genot en stoot-stoot met die snoet teen Ian se been wanneer hy ophou krap. “Genoeg, Tjoppie!”
Dadelik gehoorsaam Tjoppie en loop lui-lui na die skaduwee aan die kant van die huis. Daar slaan sy soos ’n os neer en rol heen en weer op die grond.
Ian kyk Tjoppie met ’n glimlag agterna. Elke dier op hierdie werf erken beslis sy gesag. Nina is seker haar mond hang oop van verwondering oor al die eerste indrukke.
’n Ouerige, lang man kom by die voordeur uitgestap met ’n piepklein skaaplammetjie al blêrende op sy hakke.
Ouma Anita stap hom tegemoet en hulle soengroet mekaar in blye weersiens. Trane van aandoening dam in Nina se oë op terwyl sy kyk hoe haar ouma en oom Chris mekaar omhels en vir ’n lang ruk so bly staan. Dit moet ’n wonderlike dag vir hulle wees om mekaar na al die jare weer te sien. Hulle was glo baie na aan mekaar as jong mense en het mekaar sedert haar ouma en oupa getroud is, nooit weer gesien nie, net af en toe gebel of ’n brief in die pos gegooi.
“Kom ek stel jou voor aan my oupa,” sê Ian.
Saam loop hulle tot by die ander twee. “Oupa, dis tannie Anita se kleindogter, Nina. Nina, dis nou my oupa Chris.”
Nina hoor die onverbloemde trots in Ian se stem terwyl haar hand wegraak in die ouer man s’n. Oom Chris moes voorwaar besonder aantreklik in sy jong dae gewees het, besluit sy terwyl sy na hom kyk. Hy staan steeds fier en regop, terwyl sy grys hare nog dig om sy kop kartel.
“Het ek jou nie gesê Nina sal ’n skoonheid wees nie, ou seun? Net soos haar ouma,” lag oom Chris. “Maar kom laat ons julle bagasie aflaai. Julle vergaan seker al van die dors.”
“Nooit nie, Oupa. Ons het skaars ’n kwartier gelede heerlike groot bekers egte moerkoffie in die veld gedrink,” antwoord Ian met ’n glimlag in ouma Anita se rigting.
Hy draai om en begin van die tasse uit die motor haal.
Nina help met al die kleiner, los items wat rondlê na die ure lange rit vanaf Pretoria. Sy buk by die linkerkantste voordeur en Ian aan die ander kant.
Hy vat nog ’n kleiner tassie in sy groot hande vas en kyk in Nina se rigting. “Ek hoop jy het ander klere saamgebring as net daardie soort rokke,” sê hy met die frons skielik terug tussen sy oë.
“Natuurlik het ek,” snip sy terug. “Of dink jy dalk ek gaan heeltyd só hier in die gramadoelas rondloop?”
Ian buk om die bagasie langs die motor neer te sit, en Nina kan nie anders as om te bewonder wat sy aan die ander kant van die motor sien nie. Sy voel hoe ’n warm gloed deur haar trek toe hy omkyk.
“Wel, dis goeie nuus. Want hierdie gramadoelas, soos jy dit noem, kan nogal ongenaakbaar met ’n sagte velletjie wees. Ek dink jy het meer as genoeg sonlig vir een dag gehad, Nina. Kom, laat ons jou in die huis kry.” Effens gesteurd wonder sy of sy nou soos die perd en die vark agter hom moet aantrippel toe hy sy stem so dik maak.
“Is daai perd van jou ook ’n wyfie?” Nina kyk op na Ian wat meteens vassteek en uitbars van die lag.
Haar maag draai behoorlik toe sy na die kuiltjies langs sy mond staar. In haar gedagtes sien sy vir Carl. Hy lag eintlik baie min. En beslis nooit so uitgelate soos Ian nie.
“’n Wyfie, sê jy?” Hy proes nog ’n maal hard en skud sy kop voor hy weer verder loop.
“En wat is miskien so snaaks daaraan dat ek wil weet of jou perd ook ’n wyfie is?”
“Ook ’n wyfie? Hoeveel ander wyfies het jy al hier teëgekom, meisie?” kom dit met ’n ingehoue lag wat sy oë laat blink.
“Wel, Tjoppie is ’n wyfie, dink ek, en die perd …? Wel, ek is nie seker nie. Ek het … Wel, ek het nou nie juis opgelet nie.” Nina voel hoe sy tot by die punte van haar ore rooi word, maar sy wil ook nie heeltemal soos die stadsjapie klink wat sy eintlik is nie.
“Oukei, dan!” Dit is duidelik dat Ian sy lag met moeite inhou. “Tjoppie is ’n varksog, so, volpunte vir jou oplettendheid daar.” Die oordrewe artikulasie van die woord varksog, bevestig haar vermoede dat sy so pas haar naam met ’n massiewe plank geslaan het. “En Bles,” hy bulder weer kliphard van die lag, “wel Bles is ’n hings. Een wat nie daarvan sal hou dat jy of enigiemand anders wonder of hy ook ’n wyfie is nie.”
Langsaam onthou sy: O ja, ’n sog en ’n beer. ’n Merrie en ’n hings. Wanneer laas het sy hoegenaamd aan hierdie soort woorde gedink? Hoekom sake onnodig kompliseer met soveel verskillende terme vir die manlike en vroulike vorm van die verskillende dierespesies?
“Wel, ek het jare gelede ’n mannetjieskat gehad. En ek het laas op TV ’n perd gesien. Ek kan nie onthou of dit ’n merrie of ’n hings was nie. Ek is ’n haarkapper, nie ’n plaasvrou nie.”
“So dan is jy ’n haarkapper?” Ian kyk af na Nina wie se kop skaars tot by sy skouer kom.
“Ja, en ’n stilis. Nadat ek klaar geleer het, het ek ’n jaar in ’n salon gewerk voordat ek my eie plek twee jaar gelede oopgemaak het met ’n sommetjie geld wat oupa Dawie aan my bemaak het.” Nina loer sydelings na Ian wat lyk of hy diep nadink.
Hy staan terug sodat sy voor hom by die huis kan instap.
Oukei, niks fout met grootmeneer die Kalahariboer se maniere nie, glimlag Nina. Sy stap met al die grasie waartoe sy in staat is voor hom uit, steeds skaam omdat sy haar flussies probeer slim hou het.
“Maar as jy jou eie haarsalon bedryf, kan jy seker nie negentien of twintig wees nie?” hoor sy Ian verbaas agter haar uitroep, asof hy dit pas besef het.
Sý, nogal ’n skrale negentien, twintig?
Nina steek so skielik in haar spore vas dat Ian trompop teen haar rug bots voordat hy tot stilstand kom. “Wat bedoel jy miskien, twíntig? Ek word oor ’n paar maande drie-en-twintig!”
Die kennismaking met Ian se harde, manlike liggaam het haar opnuut van haar ewewig beroof. Sy trek sy reuk diep in. Dan is dít hoe ’n boer ruik? Pure man. Net son en veld en …
“Naeltjies.”
“Ekskuus?” vra Ian slegs ’n paar sentimeter bokant haar regteroor sodat die hoendervel verraderlik oor haar arms uitslaan.
“Het julle naeltjies in die huis?” is die enigste logiese vraag waaraan Nina kan dink. “Ek verbeel my ek ruik naeltjies.”
Vir ’n paar tellings knyp sy haar oë toe. Hoekom tog altyd sê wat sy dink? Die warm, kolkende gevoel is weer terug agter haar eie naeltjie, iets wat sy netnou vir die eerste keer in haar lewe so intens ervaar het. As sy haar oë lank genoeg toehou, sal sy haar maklik kan verbeel sy