om die lewetjie wat besig is om bult te maak in haar lyf.
Vreemd, daar is so baie mense op hierdie plaas, maar sy voel die naaste aan iemand wat nog nie eens gebore is nie. Haar eie moeder het sy skaars geken. Die opgekropte liefde wat sy op Gertjie wou uitstort, was tevergeefs. Haar vader se liefde moes sy deel met baie ander kinders. Sy is lief vir hulle, maar nou dra sy haar eie kindjie onder haar hart.
Sy neem haar voor: Sy gaan altyd aanhou lees en leer, miskien nog slim word soos Gertjie. Eendag wil sy hierdie kind vertel van verre lande en van mense wat verrassende dinge regkry. Haar kind se grense moet verder strek as haar eie. As dit ’n dogter is, sal sy haar leer hoe om met fyn stekies te borduur. As dit ’n seun is … Wel, Laatste sal die finale sê hê oor hoe hy sy seun wil grootmaak, maar sy sal die tyd wanneer hy klein is gebruik om haar stempel af te druk. Hulle het so lank vir hom gewag.
Moeder Hannie piep haar behoorlik op. Sy het nuwe aansien in die oë van haar skoonsusters. Laatste is meer dikwels tuis. Haar beker loop oor.
Op 5 Julie 1898 word Anna vyf-en-twintig. Hulle seuntjie word daardie lente op ’n koue maar pragtige sonskyndag gebore. Aia Mietie is ’n bekwame vroedvrou.
Wanneer die perfekte klein mannetjie oplaas in Anna se arms lê, sê Mietie: “Hy lyk nes sy pa.”
Sy naam sal Willem Michiel wees, vernoem na sy oorlede oupa Steenkamp, maar hulle noem die kleinding Wimpie.
Al wat Anna se geluk bedreig, is die oorlogswolke wat reeds op die horison saampak. As daar in die Zuid-Afrikaanse Republiek oorlog uitbreek, sal die Oranje-Vrystaat verplig wees om te gaan help, want die twee Boererepublieke het ’n verdedigingsverdrag gesluit. Hoe sal die Boerevolk tog vaar teen die magtige Britse oorlogsmasjien? En wat sal van húlle word?
HOOFSTUK 4
Die ouvrou wys haar hoe
1936
Hein se werk by die magistraatskantoor bring hom in aanraking met Louis Weichardt se Gryshemde. Dié is geskoei op die lees van Adolf Hitler se Stormtroepe, verduidelik Hein een aand in die Van Zyls se voorhuis.
Lukas vra uit en dit word algaande vir Poppie duidelik dat Hein se simpatie ook by die Gryshemde lê. Hy praat met gloeiende bewondering van Hitler en hoe beïndruk hy met die Nazi’s se nasionalistiese strewe is.
Dan was Sussie Anna tog reg, besef Poppie. Hein se weersin in Mr Segal het sy oorsprong in Hitler se idees oor die Jode en rassuiwerheid. Sy kruis haar arms voor haar bors en bly eerder stil terwyl die mans verder politiek praat. Netnou begin sy en Hein voor Lukas stry, en hoe sal dit nou lyk? En sê nou Lukas stem nie met Hein saam nie, en dink daarom minder van hom?
Petronel sien seker dat sy omgekrap is, want sy knipoog vir haar en trek haar mondhoeke af om te wys dat die onderwerp haar ook nie aanstaan nie. Dit laat Poppie opstaan en vir Petronel wink om saam te kom kombuis toe. Die mans kyk nie eens op toe hulle uit die vertrek loop nie.
Hulle gaan sit by die skoongeskropte kombuistafel. “Sjoe, dis bedompig,” sê Petronel. “En hoor hoe rammel die onweer. Ek hoop net daar’s nie ’n baba wat besluit dis vannag die tyd om aan te kom nie.”
“Hoe het dit gebeur dat jy ’n vroedvrou geword het? Ek het altyd gedink julle is almal sulke gesette, geharde ‘ouvrouens’, moederlik en bekwaam. Tantes wat nie nonsens duld nie. Maar jy is so … fyn.”
“Dis juis op die plaas waar ek …” Petronel bly ’n oomblik stil. “Nee, om diere te help het later gekom. My moeder is oorlede ná die geboorte van my boetie. Kraambedkoors.” Sy sug. “Weet jy wat dit is?”
Poppie skud haar kop. “Ek het al daarvan gehoor, maar ek weet nie wat die oorsaak is nie.”
“Dis ’n akute, dodelike koors. Baie, seker amper ’n kwart van alle nuwe moeders, sterf daaraan. Die ergste is dat dit meestal vroue is wat normaal geboorte geskenk het. Ek was by my moeder toe sy gesterf het, sy’t my gevra om mooi na my broertjie te kyk. Haar lyding was onbeskryflik. Ek was net elf. Om haar só te sien gaan …” Sy sluk, vee oor haar oë.
Poppie sit haar hand op Petronel s’n. “Siestog, jong.”
“Ewenwel, dit het my laat besluit ek gaan eendag vrouens help. Al kan ek niks doen aan kraambedkoors nie, wil ek hulle met die geboorte bystaan en seker maak dat hulle ook daarna versorg word.”
“En het jy toe jou boetie grootgemaak?”
“Ja, aanvanklik. Hy is ’n liewe seun. Maar my pa is ’n paar jaar later weer getroud. My stiefma is baie goed vir hom. Toe my pa hoor wat ek wil doen, het hy my aangemoedig om lamtye op die plaas te help. En as ’n koei moes kalf, was ek altyd by.” ’n Sagte glimlag verdryf die hartseer uit Petronel se gesig. “Kraam is maar kraam, het hy altyd gesê. ’n Moederdier ly net soveel as ’n mensma.”
“Jy kan darem met ’n mensma kommunikeer. Of maak dit alles juis erger – die feit dat sy kan praat?”
“Dis erger aan die een kant, maar dis ook beter. Met ’n baba voel jy magteloos omdat die kind nie kan sê waar dit pyn nie. Met ’n vrou weet jy presies wat haar emosies is. Maar dit maak dit nie makliker om die moeder te verloor nie.”
Dan het sy en Petronel dit ook in gemeen, dink Poppie, dat hulle sonder moeders moes grootword. Die Liewe Vader was goed vir haar dat sy Senekal toe kon kom. In Petronel het sy ’n wonderlike nuwe vriendin. Oudokter het net die hoogste lof vir haar en die dorpsmense steun swaar op haar. Watter tyd van die dag of nag ook al, Petronel is altyd bereid om te gaan, of sy nou moet voetslaan of fietsry.
Later, nadat Hein almal ’n goeie nagrus toegewens het, stap Poppie saam met hom buitentoe. Hy het weer met sy pa se kar kom kuier. Dis laat, en sy wil nagsê en gaan inkruip, maar Hein soebat dat hulle ’n ent moet gaan ry. Ná sulke opruiende politieke gesprekke is hy altyd meer katools. Om ’n ent te gaan ry is kodetaal vir ’n opsittery in die kar, want hy het selde geld vir petrol.
“Hierdie ding van jou en die Jode …” sê sy toe hulle in die kar klim, en sy probeer om nie aanvallend te klink nie. “Jy ken tog vir Mr Segal. Toe ek hier begin werk het, wou hy my eintlik agter die kruidenierstoonbank gehad het, maar toe ek vra of ek in die klereafdeling kan werk, het hy dadelik ingestem. Hy het ’n goeie hart. Party van die boere skuld hom baie geld, maar as hulle noodsaaklike goed moet koop, skryf hy dit maar altyd weer op die boekie. Ek het nog nooit gesien dat hy iemand in nood wegwys nie. Wat het hy jou al aangedoen?”
Hein lag, maar dit klink meer soos ’n snork. “Ai, Poepie, wie het jou aangestel as kampvegter vir die haakneuse? Julle Nienabers is dan ook Kristene, hoekom is jy so partydig vir ’n Jood? Hulle is teen God, almal weet dit.”
“Dis nie waar nie! Hulle het dan hul eie sinagoge. Hulle aanbid God net op ’n ander manier as ons, maar dit beteken nie hulle is goddeloos nie. Moenie so lelik van hulle praat nie. En moenie vir my kom staan en Poepie nie! Jy weet ek haat dit.”
“Hulle is volksvreemd, om die minste te sê.” Sy stem is bars. “ ’n Spul Kommuniste, die hele lot. Ek kan my ore nie glo dat jy so pro-Brits is nie.”
“Gaan blaas doppies, man. Ek is die laaste mens wat ’n Engelsman se agterent sal lek. My mense het in die Engelse Oorlog geveg, jy weet dit.”
“Dan behoort jy dit nog beter te begryp. Duitsland wil die beste staat in Europa en in die wêreld word. Wat is fout daarmee? Ons Afrikaners het presies dieselfde drang, ons wil ’n Republiek word. Kan jy dit nie verstaan nie? Dis tyd dat ons onafhanklik raak van die Engelse, en met Hitler gee Duitsland ons die geleentheid om die Britse juk af te skud.”
Haar wange brand van ergernis. “Jy bedoel ons gaan Hitler se Bruinhemde na-aap? Die jeug opsweep? Wat het Engeland in elk geval met Duitsland uit te waai? Of met die Jode?”
“Dink jy Brittanje gaan hande gevou sit en kyk wat Duitsland doen? Natuurlik nie! Hulle dink dis hulle reg om orals kolonies te stig. Hulle wil die hele wêreld inpalm.”
“Dis nie te sê dat ek aan die Engelse se kant is net omdat ek nie die