draf met die klipperige grondstraat voor hulle uit. Gelukkig kan hulle goed genoeg sien in die lig van die volmaan. Petronel klem haar birthing bag styf vas.
Die man wag by die oop voordeur toe hulle daar aankom. “My vrou is baie swak,” sê hy. “Ek het klaar kookwater reg. Wat het Miss nog nodig?”
“Handdoeke,” sê Petronel. “Bring ’n skottel met kookwater. Gooi koue water in die lampetbeker. En ek het baie lig nodig. Poppie, bring jou toorts.”
Die vrou is ’n klein, bleek bondeltjie in die bed. Dit lyk asof sy reeds dood is, maar die volgende oomblik laat ’n sametrekking haar liggaam opkrul en sy bulk soos ’n bees.
“Lig hier, gou!” Petronel het die komberse reeds oop en die lakens af. Sy lig die vrou se bene op en dwing haar knieë oop. “Die baba kroon al, ons is net betyds.”
Die kraamtoneel in die swak verligte kamer met net ’n lendelam ledekant en ’n paraffienkis vir pakplek speel soos in ’n rolprent voor Poppie af. Sy self is ’n onbelangrike byspeler, terwyl Petronel die ster is. Haar hande werk sekuur en vinnig; sy weet presies wat om te doen. Maar die hoofrol word vertolk deur die moeder. Sy lê in die middel van die bed en sagte kermgeluide ontsnap uit haar mond. Is sy reeds te swak om iets meer uit te kry? In die deuropening van die eenvoudige kamer huiwer die man.
Petronel roep skielik uit: “O, Heiland, sy’s te klein!” Voor Poppie se geskokte oë gryp sy ’n skalpel uit haar sak om ’n insnyding te maak.
Oomblikke later verskyn die swart koppie en kort daarna glip die bebloede babatjie uit. Petronel hou die kindjie stewig aan die voete vas. Dis ’n dogtertjie, ’n skoppende, skreeuende, pers wesentjie.
“Hier’s ons nuwe siel,” sê Petronel en hou die baba na Poppie uit. “Draai haar saggies in ’n handdoek toe en lê haar op haar ma se bors neer. Ek bind net gou die naelstring af.”
Poppie kan haar oë nie van die kind in haar arms wegskeur nie. Dis die mooiste dingetjie wat sy nog ooit gesien het. Haar hele wese reik uit na die mensie in haar arms. Sy wil huil oor wat nog alles vir hierdie kleinding op aarde wag, al die vreugde en teëspoed.
Sy lê die baba op haar ma se bors neer. Suiwer moederliefde straal uit die moeë vrou se oë. Dan is dit tog al die pyn en bloed werd, dink Poppie, as ’n vrou met so ’n kosbare lewetjie beloon word?
“Nog handdoeke!” sê Petronel.
Poppie gee dit aan en Petronel druk dit onder die vrou in. Sy sit haar hand op die vrou se buik en druk saggies totdat die nageboorte uitkom en sy dit behendig in ’n skottel opvang. Eindelik kom sy regop, haar hand teen haar rug gedruk. “My rug is morsaf. Maar ek dink sy sal dit maak.”
Dit lyk asof sy vir die eerste keer bewus raak van die vader. Sy draai om en roep: “Kom in, Mister! Moenie net daar by die deur staan nie.”
Poppie lig met haar flits na sy kant toe. Hy klou doodsbleek aan die deurkosyn vas asof hy dit moet regop hou en sy skouers ruk. Sy kry hom so jammer dat sy na hom toe loop en haar arm om sy skouers sit. “Kom verwelkom jou dogter. Het jy al ooit iets gesien wat so perfek is?”
Die man val op sy knieë langs die bed neer. “Ek het gedink ek gaan jou verloor,” sê hy gesmoord vir sy vrou, sy kop teen haar bors gedruk. “As jy … Jy weet ek kan nie sonder jou nie.”
Sy sit haar hand teen sy wang. “Kyk hoe lyk ons baba,” sê sy sag en trek die handdoek weg van die verkreukelde gesiggie.
Poppie staar na die drie so saam in die kol lig wat die lamp op die bed gooi. Dís waaroor dit eintlik gaan, dink sy. Dis wat sy ook eendag, as die Here wil, gaan beleef. En een ding weet sy: sy sal hierdie aand nooit vergeet nie.
Sy help Petronel om op te ruim, die bed skoon oor te trek en die baba te was en te versorg. Toe die kindjie weer teen haar moeder se bors lê, soek die mondjie en begin sy eindelik tevrede suig.
“Daarsy, Mr Naudé,” sê Petronel, “alles is reg. As jou vrou pyn het, gee vir haar van hierdie pille. Oudokter behoort weer môre terug te wees. As Mister oor enigiets bekommerd is, kom roep vir my of vir Oudokter. En baie geluk met die dogtertjie. Dit was vannag die Here se wil dat sy moes leef.”
Hy sê nie ’n woord nie, maar die manier waarop hy Petronel se hand druk, is oorgenoeg bewys van sy dankbaarheid. Van betaling is daar skynbaar geen sprake nie.
Terwyl hulle terugstap losieshuis toe, babbel Poppie aanmekaar oor alles wat gebeur het. “Jy’s ’n goeie vroedvrou,” sê sy vir Petronel. “Ek het nie gedink die vrou gaan dit maak nie.”
Hulle bereik die voordeur en sy stoot dit oop. “Wat het van jou verkoue geword?” vra sy oor haar skouer. “Jy’t nie een keer gesnuif nie.”
’n Geskuifel agter haar laat haar omdraai, net betyds om Petronel te vang toe sy inmekaarsak.
“Lukas! Corrie! Kom help,” skree sy benoud.
Hulle is gou by, Lukas in ’n kort nagrok met ’n mus op sy kop en Corrie in ’n verkreukelde flennienagrok met ’n ewe gekreukelde gesig.
“Jy kan maar gaan,” sê Corrie vir Lukas toe hulle Petronel in die bed het. “Ek help gou vir Poppie om haar uitgetrek te kry.”
Petronel kreun en haar oë gaan oop. “Wat het gebeur?”
“Jy’t uitgepass,” sê Corrie.
Hulle trek vir Petronel skoon nagklere aan. Toe Corrie teruggaan kamer toe, voel Poppie aan Petronel se voorkop. Sy is vuurwarm. Dit was seker die verkeerdste ding om haar in die naglug uit die bed te dwing, maar as dit nie vir haar was nie, het die ma en haar baba sweerlik vannag gesterf.
Poppie gooi water in die waskom en begin haar vriendin met ’n nat waslap afspons. Sy krap in die birthing bag rond totdat sy pille kry wat gemerk is vir koors, en hou Petronel regop dat sy dit kan sluk.
Nog vir lank hou sy aan om die waslap koud te maak en op Petronel se kop te lê totdat die lap weer warm is. Sy skuif die meisie se nagrok op en spons haar lyf af, vryf met die waslap oor haar arms en help haar selfs een maal om die kamerpot te gebruik.
Geleidelik begin die koors bedaar. Oplaas trek sy vir Petronel ’n droë nagrok aan en gooi haar toe met komberse. Sy gaan haal ’n deken in haar kamer en bring die res van die nag op die stoel langs Petronel se bed deur.
Sy is wawyd wakker, want sy het lanklaas soveel emosie in so ’n kort tydjie beleef. Die bevrediging dat sy kon help om ’n nuwe mensie in die lewe te bring, die feit dat sy geweet het hoe om teenoor die pa op te tree. Om te dink dat sy nie vreesbevange weggehol het van die geboorte nie! En ook dat sy geweet het hoe om Petronel se koors af te bring.
“Baie dankie vir jou hulp,” sê Petronel die volgende oggend toe sy wakker word. “Ek voel baie beter, maar vandag bly ek in die bed. Wat van jou? Sal Mr Segal jou die dag afgee?”
“Nee wat, ek het genoeg geslaap. Ek moet net gou gaan was.”
Petronel druk Poppie se hand. “Jy het ’n natuurlike aanleg, weet jy dit? Jy het kop gehou met my, en ons het laas nag twee lewens gered.”
“My plesier.”
Poppie trek die deur agter haar toe en bly ’n oomblik in die gang staan. Sy het lus en huppel die paar treë tot by haar kamerdeur. Wanneer laas het sy so gelukkig gevoel?
Anna: Laatste se veldslae
1899–1900
Dit lyk of oorlog onafwendbaar is. Al hoe meer Britse troepe begin op die grense van die twee Boererepublieke saamtrek. Gaan die ultimatum aan Groot-Brittanje – dat hulle hul troepe binne 48 uur moet onttrek – werk?
Die burgers is reeds op pad na die westelike front; alle mans tussen die ouderdomme van sestien en sestig is krygspligtig. Ook Grootpan se mans staan op vertrek, bandelier oor die skouer, mauser op die saalboom. Die saalsakke is styf gepak met beskuit, biltong en droëwors.
Laatste se ou blouskimmel, Pronk, is in ’n