in reëlmatige kliplae
anderkant die verskuiwing lê dolomiet
uit die bymekaarkom van yspens en moddermatriks
‘daar is basies drie soorte klip,’ sê hy
‘dit wat gestol het soos ysterklip en graniet
dit wat deur afsettings kom lê het
soos sandklip, skalie en moddersteen
dit wat ’n metamorfose ondergaan het soos marmer en kwartsiet’
daardie aand
skep die bot koppe vir die eerste keer lig
anderkant die tabeeboom
KAMEEGeologist to Paul Kruger in 1886‘Mr President, the conglomerate gold beds and enclosingsandstones and quartzites were sea-shore deposits formedduring the subsidence of a coastline in …’Kruger to his wife: ‘Mama, meet the gentleman who was there when God made the earth.’Thomas Pakenham: The Boer War |
6. narratief van die parkboer
oom Jakobus de Wet praat poetry
‘rondom Jerusalem is berge
hier alleen by die bokke in die veld
is ook berge
maar rondom ons is God
ek voel Hom heel aand aankom so van Akkediskloof se kant
die begin van my was by Tattasberg
bok opgepas jakkals vreet van die boud af maag toe
bobbejaan vang nie, hy vat
hy skeur oop hier by die heupe
waar hy derms trek en vreet
eers wil die myne die grond het
toe vra ek: hoe kan twee mans een vrou bestuur?
toe sê hulle: oom Jakobus julle bestuur bogronds
ons bestuur ondergronds
toe was daar die park-se-man
’n week lank het hy gesoebat om die jawoord te kry
ou trane huil hy, óú trane
maar ons sê dis onse land
hoekom moet ’n ander man ons land bestuur?
sê ek weer: hoe kan twee mans een vrou hê?
wie bestuur die vrou?
toe sê hulle: viennote – ons sal ’n viennootskap wees
toe sê ons as ons nie eers weet van park nie
hoe weet ons nou van viennoot?
toe sê hulle die erwe van ons vaders moet vir ons kinders bly
nou dit verstaan ons
ek het die volheid van die park
my kleinkind Benjamin doen die weiwerk
sy mond het my dit vanoggend gesê
self gesê hy wil ’n veeboer wees
en ek is tevrede
God het vir elkeen ’n talent ingesit
saans by die staning hoef ons nie te praat nie
ons weet waar gewei is waar gewei moet word
dis ’n goeie lewe om aan ’n kind te gee
elke kind het sy eer
laat ek dit maar sê
dis baie smaaklik om saam met ’n kleinkind te wees
hy laat jou lag
hy laat jou goed praat wat nie heeltemal toepas nie
dis goed om by ’n kind te wees
want dag en nag is jy alleen hier by die staning met Christus
julle praat
jy kan agteroor lê
en met helder oë met Hom praat
jy kan maar net kyk
want gees gewaar gees
my bokke is deetlik gelittekenmerk: swawelstert en halfmaantjie voor
winkelhaak en swawelstert by die ander oor
die staat het my ’n stoetram gegee
’n vleishouerram ’n regte prysbok
onder my bokke maak ek nooit apartheid nie
my bokke is een
dan is die seën van die Here daar
maar as ek verdeeldheid maak
is daar ’n einde’
middagoor sak die hitte tussen die koppe vas
klippe word die bloute in geblaak
by die paaltjiestaning tussen ebbehout en krie
dop oom Jakobus die dikderm om
en sprei niervet dun oor ’n tak
‘die koeltetjie is maar vlak,’ brom hy langs die afgeslagte orrobok
oor die radio op ’n blik
lees Cobus Bester die middagnuus
ek loop agter Benjamin Cloete aan as hy die bokke veld toe vat
ligvoets fynvoets stryk hy die duine oor
haii-haii klap sy sweep
die bokke sak die oewers in
jong rivierriet kriedoring rosyntjieboom
hulle’s stil gevreet
Benjamin syg sag ’n rivierwilgkoelte in
en nou? vra ek
‘mevrou kan nou ’n sluimertjie vang’
weerloos lê die rivier
oop aar in die hitte
die landskap ondenkbaar sonder die bruingroen sny
onverwoesbaar ouer as die oudste mensasem op klip
hy voed die bokke van maak en die bokke van dood
hier’s van niks te veel
hier’s van niks te bittermin
die berg aan die oorkant lyk soos iets wat lek
teen middaguur blus dit in blou
beur weg in aangetaste brons
sianied sis die vygies
en as die son uitkyk is ek daar is ek daar in lavender blue
ek kyk op my horlosie
dis twintig minute voor drie
en dit beteken absoluut niks nie
ons dommel tussen koelte en vreet en hitte
die son kantel eindelik
die rante galm van blêr soos die groot bokke staning toe kom
die vasgebinde lammertjies spook aan hulle riempies
niks so saf soos boklam
(onthou my taal)
niks so soet snoetig
fynbekkig weerloosogig soos boklam
teen die aand se kant
party kry tiet party kry vreemde tiet
dis grootblêr tot platblêr tot kleinverloorblêr
tot mofblêr tot sanikblêr tot bederfblêr
tot vererg se baasblêr
die fluweel van ’n boklam se oor