Malene Breytenbach

Geliefde heler


Скачать книгу

Jy is seker Naomi Roux?” Sy diep stem sou ’n radiokommentator trots maak. Sy glimlag is maar effens. Eintlik kyk hy haar met skerp, ondersoekende oë aan. Nie juis goedkeurend nie. So hovaardig, hy kyk omtrent teen sy volmaakte neus af na haar. So, meneertjie, jy is van dáárdie soort: arrogant en ydel.

      “Ja, ek is Naomi.” Vir wat word haar wange so warm onder sy priemende blik? “Welkom … e … dokter Bouwman. Het julle die plek maklik gekry?”

      “Ja, dankie. Ek was al voorheen in Stellenbosch. Buitendien kan mens enige plek met ’n GPS opspoor. Die reis hierheen was lank. Dis goed om uiteindelik hier te wees.”

      Hy het ’n Nederlandse aksent, maar Naomi hoor hy praat goeie Afrikaans, wat hy seker geleer het toe hy as uitruildokter by Tygerberg gewerk het.

      “Geert, lieverd, kom help my tog,” klink ’n jong vrou se stem met ’n sterk Nederlandse aksent uit die motor.

      Naomi kyk verbaas in die rigting van waar die stem kom. Geert Bouwman draai om, loop om die voertuig en maak die oorkantste passasiersdeur oop. Daar moes mos drie mense gekom het, maar nou is daar vier. Wie is dié vierde een?

      Sy hoor die vrou lag, sien haar om die motor loop. ’n Lang, slanke blondine met ’n beeldskone gesig, spierwit vel, ’n kort geel rok waaronder ongelooflike mooi bene uitsteek, goue stiletto’s en goue juwele aan haar polse, hals en ore. Sy lig haar linkerhand om die son uit haar oë te keer en iets blits aan haar vinger. ’n Reusediamant!

      Naomi staar verstom. “Welkom, mense,” kry sy uit.

      Vir wat kyk die mense haar so krities aan? Sy moes dalk meer moeite met haar voorkoms gedoen het. Sy het haar nie juis opgetert nie. Haar hare is in ’n poniestert, haar sonrok is gekreukel en sy dra plat sandale. Meteens is sy bewus dat sy redelik eenvoudig moet voorkom.

      “Dis my vader en moeder, Jan-Karel en Mathilda Bouwman,” sê die lang blonde man. “En dit is my verloofde, Daphne van Meerlevoort.”

      Verloofde! Boonop ’n onverwagte gas.

      “Bly te kenne,” sê die deftige ouer vrou.

      “Dag,” sê die pa. Dis by hom wat die seun sy ongelooflike oë geërf het, sien Naomi. Hy is korter as sy seun, maar is steeds ’n aantreklike man. Lyk baie na tant Merel. Sy helderblou oë bekyk haar van kop tot tone asof hy wonder uit watter onderdorp sy ontsnap het.

      Sy kry ’n rillinkie van wrewel.

      “Dag,” sê die skoonheid in die geel rok. Koel en nie juis vriendelik nie, haar blik eintlik net so hovaardig soos Jan-Karel Bouwman s’n.

      Naomi voel soos ’n beskeie, vaal skooldogter teen dié goue godin, al is sy agt-en-twintig en het sy gewoonlik ’n redelike mate van selfvertroue. Die mense lyk na snobs. Hulle houding affronteer haar regtig.

      Sy plak ’n gedwonge glimlag op haar gesig. “Aangename kennis,” jok sy en skud hul hande. Geert Bouwman se groot, warm hand vou om hare. Dis asof sy getoor word. Haar balans wankel ’n oomblik. Ag toe nou, Naomi, raas sy met haarself, hy het seker dié uitwerking op die meeste vroue. Boonop probeer hy nie eens vriendelik wees nie. Sy skerp lapis lazuli-oë kyk dwarsdeur haar.

      Kon hy nie die bedagsaamheid gehad het om hulle vooraf te waarsku dat hy sy verloofde wil saambring nie? Ag nou ja, dis nie haar huis nie en sy is nie die een wat besluit wie mag kom kuier en wie nie. Tant Merel het seker nie geweet dat dié verloofde saamkom nie, want sy het niks van Daphne van Meerlevoort gesê nie.

      Die sexy skoonheid gaan seker by Geert wil slaap?

      “Kom gerus in, julle is seker moeg na die reis.” Sy stel Noekie voor en Noekie kyk net so verbaas na die onverwagte gas.

      “Mejuffrou Van Meerlevoort is natuurlik baie welkom,” sê Naomi. Sy kyk van die blondine na Geert Bouwman, wat haar steeds onthutsend noukeurig staan en betrag. “Ons het ongelukkig ’n kamer met enkelbeddens vir dokter Bouwman …”

      “Dis reg so,” val hy haar in die rede. “Julle kan ’n afsonderlike kamer vir Daphne gereed maak. Ek is jammer ons het julle nie gewaarsku nie, maar sy het skielik besluit om saam te kom.”

      Naomi kan nie glo hy dring nie aan dat sy sexy verloofde by hom slaap nie. Miskien is hy ’n briljante geneesheer, maar ’n koue vis? Konserwatief? Sy kan skaars dink dat ’n man soos hy preuts sal wees.

      Daphne van Meerlevoort vly haar teen hom aan. “Ek kan nie alleen in Amsterdam agterbly terwyl jy maande lank hier in Suid-Afrika is nie, lieverd,” sê sy koketterig. “Ek sal mos gans te veel verlang.”

      ’n Golf van irritasie spoel deur Naomi. Vir wat oorreageer sy nou so? Sou sy nie ook so gevoel het as dié ongelooflike mooi, macho man aan háár behoort het nie? ’n Mens sal hom nie onder jou oë wil laat uitgaan nie. Die vroumense lê seker oral en gedurig by hom aan. Dit kan meer van ’n las as ’n bate in ’n verhouding wees. Sy wéét watter probleme ’n aantreklike voorkoms kan meebring.

      “Noekie, ons sit juffrou Van Meerlevoort in die derde gastekamer. Sodra ons die bagasie ingedra het, moet jy asseblief daardie bed gaan oortrek.”

      Daphne van Meerlevoort kyk streng na Noekie. “Maak net asjeblief gou met die kamer. Ek wil stort en skoon aantrek. Jy sal vir my klere moet stryk.”

      “Ja, juffrou.”

      Naomi vang Noekie se oog en sien haar lippe word dun.

      “Wat kan ek dra?” vra Naomi.

      Geert Bouwman haal ’n skootrekenaar uit die kattebak. “Net dit, asseblief. Ek sal Daphne se tas inbring en dan myne. Dis te swaar vir iemand anders om te hanteer.”

      “Wat? Is hier poese?” sê Daphne van Meerlevoort skielik, ’n ergerlike frons op haar mooi gesig.

      Naomi skrik vir die woord, maar kry onmiddellik lag. Tant Merel het haar vertel die Nederlandse woord vir “kat” is “poes”. Sy hoor Noekie saggies proes. Hopelik kom die Nederlanders dit nie agter nie.

      Suzy Wong kom rustig oor die stoep gedwaal en gaan staan by die trappe, stert in die lug om met haar groot groen oë na die mense te staar. Ching Wong kom ook nader.

      “Hier is twee Persiese katte,” sê Naomi. “Hulle is skoon en soet en sal julle nie pla nie.” Hopelik nie.

      “Ek is allergies vir poese,” protesteer Daphne. “Hou die goed net ver weg van my af.”

      Naomi moet op haar lip byt om nie hardop te begin lag nie. Sy durf nie na Noekie kyk nie.

      “Dis tog kampioene, hè?” sê Mathilda Bouwman. “Heel skoon. So wit soos sneeu.”

      “Ja, hulle is chinchillas – skoukatte,” sê Naomi. “Die wyfie gaan een van die dae kleintjies kry, maar moenie bekommer nie, hulle bly by my en behoort nie by julle slaapkamers te kom nie.”

      Daphne hou haar neus vas. “Ek sou so hoop.”

      “So, gaan daar klein katjies gebore word terwyl ons hier is?” vra Mathilda Bouwman, met meer belangstelling as afgryse.

      “Ek skat so,” sê Naomi.

      “Ek hou nie van diere in die huis nie,” sê Jan-Karel Bouwman bars. “Dit hoort buite.”

      “Dis pedigree-katte, Vader,” sê Geert Bouwman. “Sulke diere bly nie buite nie.”

      “Gmf,” reageer sy pa vies.

      Ag, hemel tog, die mense kla reeds en hulle het nog nie eens hul voete in die huis gesit nie. Naomi draai na Noekie. “Gaan sit asseblief vir Suzy Wong en Ching Wong agter uit.” Sy knipoog vir haar.

      Noekie lyk asof sy sukkel om haar lag te hou. Sy tel ’n kat onder elke arm op en loop die huis in.

      Faan, die tuinman, staan eenkant en toekyk. “Kom jonge, kom help aflaai,” beveel Jan-Karel.

      2

      Naomi neem die ouer Bouwmans met die trappe op na die luukse gastesuite