verg rugstyfmaak. Sy is sommer vies vir haarself. Waarom is sy so vatbaar vir sy manlikheid? Hoe kan sy so swak wees? Sy sien dat Daphne se hare reguit gemaak is en in ’n ligblonde waterval om haar kop hang. Mathilda Bouwman se grys hare is styf gestileer, nie een haar uit sy plek nie.
“Hallo, julle twee lyk mooi,” sê sy om haar ongemak te verdoesel.
“Dank je wel,” sê Mathilda glimlaggend.
Daphne vat egter aan haar hare en trek aan ’n stukkie, haar gesig fronsend geplooi. “Dis nie so goed soos waaraan ek gewoond is nie, maar nou ja, ons is in Afrika, hè.”
Naomi moet haar ergerlikheid sluk. Natuurlik sal dié vrou fout vind en die “derdewêreldstandaarde” beklemtoon.
“Og nee, dit lyk tog heel leuk,” berispe Mathilda. “En die haarkapper was heel professioneel, die salon deftig. Merel sal tog nie by ’n tweederangse plek laat hare versorg nie.”
Daphne trek net haar een mondhoek af.
Naomi kyk hoe die mans reageer. Jan-Karel lyk vaagweg geïrriteerd, maar dis niks nuuts nie. Geert is besig om haar noukeurig te beskou asof hy nie gehoor het wat Daphne sê en ook nie omgee nie. Hy dra ’n donkerblou kniebroek en ligblou hemp wat sy oë se kleur beklemtoon. Sy bene is wel nie bruingebrand nie, maar fris. Daar is sandale aan sy groot voete. Waarom moet die man tog so onmoontlik aantreklik wees? Sy kan hom skaars direk aankyk.
Sy voel ’n vreemde fladdering in haar onderlyf –wat sy met mening onderdruk. Sy mag nie, wíl nie so op die man reageer nie.
Hy staan op. “Wat drink jy?”
Naomi gaan sit op ’n stoel en kyk na die drank. “Ek sal van daardie sauvignon blanc neem, asseblief.”
Hy skink vir haar. “Dankie,” sê sy, maar kyk by hom verby.
“Geert vertel ons jy is ’n verpleegster,” sê Jan-Karel met geboogde grys wenkbroue wat Naomi die indruk gee dat hy nie veel van dié beroep dink nie. Woede begin in haar binneste opborrel.
Sy moet haarself dwing om koel en kalm te antwoord: “Ja, ek is ’n teatersuster.”
“Is jy lief vir jou werk?” vra Mathilda, vriendelik-belangstellend.
“Baie lief. Ek weet ek help my medemens. Dis nie sommer net vir my ’n werk nie, dis veel meer.”
“Og, dis nou iets wat ek nooit sou wou doen nie,” sê Daphne neerhalend. Haar rok se hals is so laag dat Naomi nie kan help om daarna te staar nie.
“Waarom nie?” vra Naomi. Sy moet haar groeiende ergerlikheid omtrént sluk.
“Dis so ’n vuil werk – bedpanne en mense skoonmaak en medisyne gee …”
Nou vlam Naomi se wange vuurwarm van woede en verontwaardiging. Om sommer so in die gesig gevat te word, vertel te word dat haar werk eintlik minderwaardig en op bediendevlak is, is een van die ergste beledigings wat sy nóg ervaar het. Sy is skoon sprakeloos.
“Liewe hemel, Daph, jy het totaal die verkeerde idee van wat Naomi doen,” sê Geert bars. “Sy is ’n teatersuster, ’n peri-operatiewe verpleegster wat mense soos ek bystaan tydens operasies. Sy moet tog heel kundig wees en het sekerlik meer as net basiese verpleegkwalifikasies behaal. Sy moet pasiënte assesseer en seker maak alles verloop reg. Sy moet in moeilike omstandighede met alle soorte pasiënte kan werk. Dit vereis emosionele stabiliteit, kritiese denke, mensvaardighede en stamina. Dis nie mense was en bedpanne omruil nie.”
Nou is Daphne ook bloedrooi. Naomi se mond gaan oop van verbasing oor Geert se berisping. Hy verdedig haar sowaar.
“Die chirurg fokus op die prosedure en die verpleegster fokus op die pasiënt,” gaan hy voort. “Verpleegsters soos Naomi herinner chirurge aan veiligheidsmaatreëls, gee ondersteuning én werk met die pasiënte en toerusting. Sonder hulle sou ons skaars behoorlik kon funksioneer.”
“Hulle moet sterk genoeg wees om ook ure lank te staan en konsentreer tydens chirugiese prosedures,” sê Mathilda. “Naomi lyk wel nie na ’n amasone nie, maar ek vermoed sy is sterk.”
Naomi glimlag vir Geert se ma en kan nie help om dankbaar na hom te kyk nie. As hy so praat oor die rol van teaterverpleegsters, sal dit nie moeilik wees om saam met hom te werk nie, al lyk hy andersins so arrogant en vol van homself.
Is hy regtig so arrogant soos sy haar verbeel? Of is sy net bevooroordeeld omdat hy so verstommend aantreklik is en sy veronderstel dat hy baie van homself moet dink? Hy is vol verrassings.
Daphne lyk so afgehaal dat Naomi haar amper jammer kry. Geert het haar voor almal kortgevat en sy moet seker verleë wees.
“Julle is bereid om heeltyd met bloed en ingewande te werk,” sê Jan-Karel en trek sy mondhoeke af.
“Nou ja, as dit nie vir mense soos ons was nie, het Vader aan appendisitis gesterf,” sê Geert so bruut dat Naomi skrik.
’n Stilte daal dig en ongemaklik oor hulle. Jan-Karel lyk asof hy op sy tande kners. Naomi wag vir hom om iets snydends terug te sê, maar hy doen dit nie. Hy is behoorlik tereggewys.
“Ek sien ons braai vanaand,” verander sy die onderwerp. “Dwayne gaan julle met heerlike kos verras.”
Mathilda glimlag. “Ja, die mans sal die gemarineerde biefstuk geniet. Ek en Daphne is nie sulke groot vleiseters nie, maar dit sal tog leuk wees.”
Mathilda en Geert gesels oor wat hulle in Suid-Afrika sien en oor Geert se nuwe werk. Jan-Karel sit fronsend en luister. Daphne is dikbek. Drink net en sê nie ’n woord nie. Naomi luister na die gesprek.
“As jy dan nou moét chirurg wees, sou ek dink jy moet eerder daar in Amsterdam werk,” sê Jan-Karel suur. “Jy moet locum en klaarkry en terugkom Nederland toe.”
“Ek wil nie net ’n deftige dokter vir ryk mense in Amsterdam wees nie, Vader. Ek wil elders in die wêreld ook werk. Dis goed om soveel ondervinding moontlik in verskillende omstandighede op te doen.”
Jan-Karel kyk weg. “Gmf.”
Dit klink vir Naomi asof dié pa nie slegs dink sy seun moenie in Suid-Afrika praktiseer nie, maar nie eens wil hê dat hy hoegenaamd die beroep van chirurg beoefen nie. Terwyl Geert dit duidelik maak dat dit vir hom nie oor geld en aansien gaan nie, maar ’n roeping is. Dit beïndruk haar regtig.
“Jan-Karel, schat,” sê Mathilda waarskuwend en kantel haar kop effens na Naomi se kant. Sy wil natuurlik nie hê hulle moet onenigheid voor haar wys nie.
“Dis tog veel beter om in Nederland …” begin Daphne, maar Mathilda frons vir haar ook en sy bly stil.
“Ons het dit al hoeveel keer bespreek. Julle weet wat ek dink, en dis finaal,” sê Geert streng.
Naomi luister met belangstelling, maar hulle begin oor ander dinge praat.
“O, dit is so pragtig hier, met die berge en die groot akkerbome langs die strate,” sê Mathilda. “Dis geen wonder Merel het hier gebly nie. En dis geen wonder dat jy so graag hierheen wou kom nie, Geert.”
“Maar dié dorp is tog klein,” sê Jan-Karel suur.
“Stellenbosch is nie so groot soos ’n Europese stad nie, maar ek is bekoor deur die omgewing,” sê Geert. “Ek wil saam met Lood gaan bergklim en duik en genoeg son kry. Hy gaan ons uitneem op sy boot wat in Gordonsbaai vasgemeer is. Hy het ook ’n woonstel by die hawe. Ons sal daar kan gaan kuier.”
Daphne kikker ietwat op. “Dat klink goed.”
Dwayne begin braai en heerlike geure kom na hulle aangesweef. Naomi sou dit geniet het as sy nie so ongedurig was nie. Daar is ’n soort spanning in die lug. Sy voel heeltyd asof sy geweeg en te lig bevind word. Wel, miskien nie in alle opsigte deur Geert nie. Hy hét darem haar beroep verdedig. Hy skink ook vir haar nog wyn. Die mense praat oor plekke, dinge en mense van wie sy niks weet nie en sy wens sy het nie saam met hulle kom eet nie.
Uiteindelik kom roep Dwayne hulle tafel toe. Naomi