nie die son wegkeer nie.” Sy strek haar uit.
Naomi verbeel haar sy hoor die vrou van genoegdoening spin.
Geert smeer haar kaal rug, haar bene en selfs die boude. Naomi hou dit gehipnotiseer dop. Waarom voel sy so ongemaklik? Oor dit so ’n erotiese vertoning is? Daardie sterk helershande wat so streel oor die vel …
Naomi vat sommer vinnig twee groot slukke van haar bier. Sy wens sy het nie ingestem om saam met die mense te eet nie. Wel, sy sal minstens sien of Geert enigsins vaardig is met braai.
Jan-Karel begin haar uitvra. “Jou vader was Merel se oorlede man se neef, nè?”
“Ja.”
“Waar woon jou moeder en vader?”
“My ma en pa het in Pretoria gewoon, maar na my ma se dood is my pa weer getroud. Hy het afgetree en hy en sy tweede vrou woon nou in Hermanus.”
“Wat was jou vader se professie?” vra Jan-Karel.
“Pappa was ’n algemene praktisyn. Mamma was ’n pottebakker. Sy het nogal bekend geraak.”
“Og, dis goed,” sê Mathilda. “Seg, waar het jy gestudeer?”
“Ek het verpleging aan die Universiteit van Pretoria gestudeer en eers daar gewerk. Toe ek by die Medihelp in Stellenbosch ’n pos kry, het tant Merel gesê ek kan hier by haar kom inwoon.”
Om so ver moontlik van Charl en sy nuwe liefde af weg te kom, dink sy met ’n steek in haar hart.
“Het jy broers en susters?” vra Mathilda.
“Een broer. Hy het Kanada toe geëmigreer.”
“Mense verlaat dié land, dan wil Geert hierheen kom,” hoor Naomi Daphne klaerig opmerk.
“Chirurge is hier ook nodig,” sê hy. Staan op. Trek sy hemp uit, loop met lang treë na die swembad en duik sierlik in die water.
Naomi kyk hoe hy heen en weer swem. Hy klim uit, nat soos ’n otter. Sy kry ’n krieweling in haar lyf as sy na die gespierde torso en lang, fris bene kyk. Sowaar, hy is ’n merkwaardige verteenwoordiger van sy spesie.
Hy spat Daphne nat en sy gil kastig vreeslik. “Wil jy nie ook afkoel nie?” vra hy vir Naomi.
“Ja, netnou miskien,” antwoord sy vaag. Dit was erg onthutsend om die vorige dag voor hom in ’n baaibroek te verskyn en te sien hoe hy haar bestudeer. Sy was so selfbewus. Ongetwyfeld steek sy af teen Daphne met haar perfekte figuur.
Hy gaan sit in die son, draai sy gesig na bo en maak sy oë toe. Naomi moet haarself dwing om hom nie aan te staar nie. Sy draai liewer weg en gesels met sy ouers.
“Ek is nou droog genoeg,” sê hy naderhand en trek sy hemp aan, maar laat dit oop hang. Hy loop na die braaiplek.
Naomi kan sien die hout is klaar reg gepak. Die rooster staan ook reg. Dwayne het alles behoorlik voorberei. Al wat Geert hoef te doen, is om die vuur aan die brand te steek, die vleis op die rooster te pak en dit te braai. Hopelik sal hy dit nie verkool nie. Sy kyk hoe hy ’n vuurhoutjie trek en die hoop hout aan die brand steek. Gou knetter dit.
“Dit moet mos eers kole maak voordat ek die vleis opsit, nè?” vra hy met ’n spottende grinnik vir Naomi. “Mens braai mos nie in vlamme nie, anders skroei dit.”
“Ja, die hout moet eers kole word.”
Hy loop by die huis in en kom weer uit met ’n bak vleis en ’n vleistang. “Jy moet maar ’n ogie hou sodat hierdie dom Hollander nie die vleis verbrand nie. Ek het lanklaas gebraai.”
“Goed, ek sal toesig hou.”
Daphne het omgedraai en lê nou met haar voorkant na die son. Sy smeer haarself vol sonroom. “Bring vir my nog ’n bier, asjeblief, lieverd,” roep sy.
“Ek is nou hier besig,” sê Geert.
Daphne is blykbaar ’n vrou wat bevele gee en verwag dat almal moet spring, dink Naomi met ’n stekie irritasie.
Sy pa staan op en skink vir haar ’n bier. Geert pak vleis op die rooster, strooi sout oor en sit dit eenkant. Hy kom kry vir hom nog ’n bier en gaan sit, sy lang bene uitgestrek. “Dis mos nou die lewe.”
Geert hou blykbaar liewer vir Daphne as die vuur dop. Deurentyd gesels hy met sy ouers. Naomi hou egter die vuur dop. “Dis nou reg vir braai, die kole is gereed,” sê sy naderhand.
Hy staan op en gaan plaas die rooster oor die vuur. Naomi stap kombuis toe en kry die bakke met koolslaai en aartappelslaai wat Dwayne in die yskas gelos het. Sy bring dit saam met skeplepels op ’n skinkbord uit en sit dit op die tafel neer. Daphne en Mathilda probeer nie eens help nie. Hulle sit net en kyk wat sy en Geert doen. Jan-Karel sal natuurlik nie help nie, hy is seker gewoond om bedien te word. Hy behandel ander mense soos personeel.
Nadat die tjops en sosaties ’n ruk lank op die vuur gesis het, sê Naomi Geert moet die rooster omdraai.
“Og, natuurlik,” lag hy. “Dit braai mos nie net aan die een kant nie.”
Na ’n ruk gaan kyk sy na die vleis. “Jy kan dit nou afhaal, dis gereed. Ek gaan haal gou ’n skoon bak.”
Sy hou die bak vas terwyl Geert die vleis met die knyper afhaal. “Spanwerk, soos in die teater,” sê hy en grinnik vir haar.
Hy is te naby, dink sy en tree verbouereerd terug.
Geert gaan die huis in en kom terug met ’n bottel rooiwyn en glase. “Ons drink seker rooiwyn by rooivleis?” vra hy. “Of verkies julle wit?”
Naomi knik. “Dis reg vir my, dankie.” Sy gaan net een glas wyn drink, vinnig eet en weer loop.
Hy skink vyf glase wyn.
“Julle moet julleself help,” sê sy. “Hier is borde en alles.” Sy gaan wragtig nie vir hulle inskep en aandra nie.
Die drie Bouwmans kry vir hulle kos en gaan sit by die tafel. Daphne kom soos ’n lui kat aangesluip. Sy gaan tog seker nie so aan tafel kom sit nie? dink Naomi, ongemaklik en vies. Die bikini is so klein, Daphne kon netsowel nakend gewees het. Tot haar verbasing gaan haal Geert die jakkie en bied dit vir Daphne aan. Sy kyk onwillig daarna, maar trek dit tog aan. Nie dat dit veel bedek nie.
Naomi sien dat sy nogal rooi gebrand is. Dié melkwit vel is nie bestand teen die felle Desemberson nie. Die room het niks beteken nie, maar dit ruik so sieklik soet dat dit omtrent die heerlike geur van die kos verdryf.
“Die vleis is prima,” sê Mathilda. “Welgedaan, Geert.”
Hy glimlag. “Wel, Naomi het gesorg dat ek dit nie verbrand nie.”
Naomi onderskep ’n giftige blik van Daphne se kant af. Die vrou is gevaarlik jaloers en besitlik. Sy sal moet oppas.
Suzy Wong en Ching Wong verskyn op die stoep en kom belangstellend nader.
“Daardie katte is hier om te bedel,” protesteer Daphne, ’n vurk vol slaai halfpad na haar mond. Sy frons lelik.
“As hulle braaivleis ruik, kom stel hulle ondersoek in,” sê Naomi. “Toemaar, hulle eet nie regtig braaivleis nie. Hulle het spesiale kos. Hulle is eintlik net nuuskierig.”
“Ag, een ou klein stukkie vleis kan nie skade doen nie,” sê Geert.
Tot Naomi se verbasing sny hy vir elke kat ’n stukkie van sy tjop af en voer hulle.
“Jy moet hulle nie aanmoedig nie, lieverd,” berispe Daphne.
Hy kyk na haar met ’n uitdrukking wat Naomi net as kil kan vertolk. “Ek hou van katte, en dié is mooies. Net omdat jý hulle nie kan verdra nie, moet jy nie verwag dat ander mense nie van hulle moet hou nie.”
Daphne stoot haar onderlip uit soos ’n stout kind wat raas gekry het. Hierdie man laat hom nie hiet en gebied nie, dink Naomi goedkeurend. Hy is nie onder dié mooi vrou se duim nie.
Mathilda