De Wet Hugo

Grilgrypers 1: Die vloek van Vreesbaai


Скачать книгу

      

      De Wet Hugo

      DIE VLOEK VAN VREESBAAI

      Illustrasies deur

      Shân Fischer

      Human & Rousseau

      Vir my ouers, Johann en Ria

      De Wet Hugo

      1

      Sweet drup van Miek se voorkop af en brand in sy oë. Hy hou op hardloop en rus met sy hande op sy knieë. Sy asem jaag en en sy keel is droog. Waarom sy pa nou juis so vroeg in die oggend wou kom draf, weet hy nie. Dalk sodat hulle later meer tyd sal hê om die laaste bokse uit te pak?

      “Pa!” fluisterskree hy. “Wag vir my!”

      Hy begin verder in die donker, mistige straat afstap. Sy bene voel soos jellie. Hy’s spyt hy’t die hele wintervakansie niks geoefen nie. Al die ouens sal seker baie fikser as hy wees. Onderveertien-rugby kan erg kompeterend wees, veral as jy in graad sewe in ’n gekombineerder hoër- en laerskool op ’n klein dorpie is. En boonop het hy nou ’n agterstand teenoor die ander spelers omdat hy in die middel van die seisoen nuut by die skool gaan begin.

      “Vreesbaai,” sê Miek hardop.

      Wat ’n verskriklike naam vir ’n kusdorpie wat juis so onheilspellend lyk – met die digte mis wat oral hang! Die gedagte aan die mis en die dorp se naam maak hom onrustig. Maar sy pa en ma dink glad nie die mis is vreemd nie. En natuurlik ook nie die eiendomsagent wat hulle nuwe huis aan hulle verkoop het nie!

      Sy en sy ma gesels sonder ophou oor watter blomme en plante die beste sonder sonlig groei. En al wat sy pa heeltyd sê, is hoe lekker dit is om by die see te bly, terwyl hy die seelug diep deur sy neus intrek en uitblaas. Grootmense kan soms regtig weird wees.

      “Pa!” roep Miek weer, hierdie keer effens harder.

      Hy hoor voetstappe nader kom. “Dankie tog …” sug hy verlig. Maar die voetstappe stop skielik in die miswolk voor hom. Miek vee die sweet uit sy gesig terwyl hy sy oë op skrefies trek om ’n figuur in die mis te probeer uitmaak.

      Dan hoor hy dit. Iets wat hom nog altyd van vrees laat vries het. Dis ’n hond wat knor. ’n Kwaai, groot hond! Dit kom vanuit die struike in die tuin links van hom. Maar alles lyk doodstil, nie eens ’n blaartjie roer nie. Miek dwing homself om te ontspan. Na ’n paar sekondes van asem ophou, begin hy versigtig verder stap.

      Dan hoor hy dit weer! Hierdie keer van die regterkant af. Dit klink soos ’n hond wat gereed is om aan te val. ’n Hond wat lus is vir bloed!

      Miskien sal dit beter wees om eerder terug te hardloop huis toe, besluit hy. Maar net toe hy wil omdraai, sien hy twee helderrooi kooltjies wat deur die mis gloei.

      “Wat is dit …?”

      Sy oë rek. Die kolletjies vuur is besig om stadig nader te kom … Hy hoor skielik iets wat klink soos ’n massiewe hond wat van agter op hom afstorm, maar toe hy omvlieg, is daar niks.

      Miek soek weer in die mis na waar hy die rooi kolletjies sien gloei het. Sy hartklop hamer in sy ore. Die twee blinkrooi kolletjies is nou duideliker. Dis oë! Stadig begin die gedaante van ’n reusagtige groot hond voor hom sigbaar word. Die gedierte is so groot soos ’n mannetjiesleeu!

      “Pa!” skree Miek benoud. “Pa, waar’s jy?”

      Die gedrog voor hom wys sy tande en begin moordlustig te blaf. Miek tree terug en die ondier spring vorentoe en storm op hom af. Daar is geen manier om te ontsnap nie. Miek hurk in die middel van die straat en gooi sy arms oor sy kop. Toe hy opkyk, is die monsterhond ongeveer twee meter van hom af, en hy sien die tande wat soos lang, skerp messe uit die rooi tandvleis groei en na hom hap. Hy knyp sy oë toe en begin skree.

      Hy voel niks. Na ’n paar sekondes maak Miek sy oë oop. Het die monster hom heel ingesluk? Of is hy dood? Miek kyk verskrik om hom rond. Dis weg. Die hond het verdwyn. Hy staan stadig op.

      “Wat’s fout met jou?” Dis sy pa wat deur die mis aangehardloop kom. “Hoekom skree jy so, Miek?”

      “Hier was …” Miek bedink homself. Hy weet sy pa sal kwaad wees as hy hoor Miek het hom verbeel daar was ’n monsterhond. Toe Miek vier jaar oud was, het ’n rottweiler hom aan sy been gebyt en sedertdien is hy vreesbevange vir honde – groot én klein. Sy pa dink natuurlik hy moes al lankal sy simpel vrees oorkom het.

      “Hier was ’n wat?” onderbreek sy pa sy gedagtes.

      Miek voel hoe sy gesig warm word. “Niks. Ek het gedink ek het iets in die mis gesien.”

      “Hemel, Miek. Jy’s dertien jaar oud. Té oud om jou te verbeel jy sien spoke.”

      “Nie ’n spook nie, Pa, ’n …” begin hy, maar sy pa val hom in die rede.

      “Wat sal ons nuwe bure dink as die Lourense hulle al die eerste oggend wat ons in Vreesbaai woon wakker skree?” Sy pa lag en sit sy arm om Miek se skouers. Miek glimlag verleë. “Kom ons gaan huis toe,” sê sy pa.

      Toe hulle naby die huis is, begin sy pa hardloop. “Laaste in die huis is ’n vrot pampoen!” Hy spring oor die tuinhekkie en verdwyn by die voordeur in terwyl Miek skaamkwaad nader stap. Hoe kon hy toelaat dat sy verbeelding so met hom weghardloop? Nou dink sy pa al weer hy’s ’n bangbroek.

      Buite begin dit nou lig word, maar die son word steeds agter digte mis bedek. Miek stap deur die stil tuin en gaan sit op die trappie by die voordeur om sy hardloopskoene uit te trek. Is Vreesbaai regtig áltyd mistig en bewolk soos wat die mense sê? wonder hy.

      Hy staan traag op en strek sy arms bo sy kop om die styfheid in sy skouers te verlig. Net toe hy die drie trappies na die voordeur begin klim, slaan sy hele liggaam in hoendervleis uit. Hy het die vreemdste gevoel dat iemand hom dophou … Miek draai stadig om. Dan hoor hy iets wat sy bloed laat stol. ’n Onaardse geluid. ’n Gróót hond wat baie aggressief knor! Sy oë soek wild deur die mistige tuin. Maar hy sien niks.

      2

      “Miek Lourens,” antwoord hy half senuweeagtig.

      “Soos in Mick Jagger?” vra juffrou Botha.

      “Nee, dis M I E K,” spel Miek sy naam.

      “Dis ’n ongewone spelling, maar baie oorspronklik. Ek hou daarvan,” sê juffrou Botha.

      “My naam is eintlik Mikhael,” verduidelik hy, “maar almal noem my sommer net Miek. Dis korter.”

      “O ja. Dit maak sin. En het jy boeties of sussies wat ook nou nuut hier by ons in die skool is?” vra die onderwyseres.

      “Ja, Juffrou,” antwoord Miek, “ek het ’n sussie in graad R. Sy’s vyf.”

      “Wel, Miek, baie welkom hier by Laerskool Vreesbaai en ek glo jy en jou sussie sal sommer baie gelukkig wees hier by ons.”

      Miek is bly sy nuwe onderwyseres is jonk en vriendelik. Sy’s baie mooi ook.

      “Reg, graadsewes,” gaan juffrou Botha voort, “haal asseblief julle leesboeke uit.”

      Miek kyk rond en sien hoe al die kinders ’n boek uit hulle skoolsakke haal. Net een seun ignoreer die instruksie.

      “Jy ook, Donovan,” sê juffrou Botha ferm.

      “Ja, oukei, Juffrou!” reageer die seun geïrriteerd. “Ek sál mos nou. Moenie altyd so wees nie.”

      Juffrou