bang nie.
’n Groot, donker figuur spring skielik uit die miswolk voor hulle. Lisa gil hard en Miek skrik so groot dat hy terugtree en op sy agterstewe beland. Donovan breek homself.
Toe Miek tot verhaal kom, is Lisa al besig om hom op te help. “Donovan, jy’s ’n idioot!” skree sy vies.
“Julle twee losers het lekker geskrik, nè?” Nie Miek of Lisa lag nie. “Oukei, oukei … ek kan sien Edward en Bella is nie nou in die mood vir my nie. Dan verdwyn ek maar weer … like mist in the morning sun … maar net nie in Vreesbaai nie, hoor. Hier kan die son maar skyn soveel as wat hy wil, die mis gaan nie verdwyn nie.”
Donovan begin hardloop. Net voor hy deur die mis verswelg word, skree hy: “Watch out! Ek maak julle netnou sommer weer skrik!”
Sy kekkellag verdamp in die geraas van ’n groep jonger kinders wat verby Miek en Lisa hardloop en ook in die mis verdwyn.
Miek maak keel skoon. “So as ek mag vra,” begin hy en probeer om nie te nuuskierig te klink nie, “waaroor is jy gestres? Jy’t genoem dat …” Miek dink. “Anye?”
Lisa begin lag. “Enya.”
“Jy’t gesê Enya se musiek help jou om te relax.” Hy skud sy kop. “Relax? Waarom?”
Lisa sug diep en dit lyk of sy na die regte woorde soek. “Ek het … uhm … ’n kondisie.” Sy kyk vinnig na hom en dan weer stip voor haar.
“Is dit ernstig? Of wil jy nie daaroor praat nie?” vra hy huiwerig.
“O nee,” keer Lisa gou, “dis nie ’n kondisie wat ’n dokter spesifiek gediagnoseer het nie. Dis net iets wat ek weet … dat ek dit het.”
Miek sien Lisa weet hy verstaan nie waarvan sy praat nie.
Sy hou op met stap en draai na hom. “Oukei, Miek. Ek gaan nou iets baie persoonliks met jou deel.”
Verskillende emosies weerkaats in Lisa se oë. Wat wil sy nou eintlik sê? Hulle begin weer aanstap.
“Jy moet my belowe jy sal niks wat ek jou nou gaan vertel met enigiemand bespreek nie,” sê Lisa ernstig.
“Ek belowe, Lisa,” sê hy en knik.
“Dankie.” Sy druk ’n haarsliert agter haar oor in en sug diep. “Ek sien en hoor goed.”
Miek se hart begin woes in sy keel klop. Praat sy van die monsterhond? Hy wil dadelik sê hy weet presies wat sy bedoel, maar die woorde stol in sy keel.
Lisa vat aan sy arm. Sy lyk bang. “Ek sien en hoor dit oral. By die huis. By die skool. In die strate. Oral!”
Miek voel hoe die vel op sy arms saamtrek in hoendervleis. Lisa kom dit agter en los sy arm. Haar oë rek. “Gister in die klas het ek dit wéér gesien … en ek het gewonder of jy nie ook het nie. Jy’t met glaserige oë daar gesit terwyl Sumari oor die leesboek gepraat het. En toe die pouseklok lui, het jy erg deurmekaar gelyk. Dit was tóé dat ek dit gesien het. Hy was agter jou.”
Miek sluk swaar. “Wat het jy gesien, Lisa?”
Haar oë skiet vol trane en sy vra verbaas: “Het jy hom nie ook gesien nie?”
Hy skud sy kop. “Wie?”
Lisa vee oor haar wange en snik. “’n Nar … met skerp tande.”
6
Miek stap by die kombuis in terwyl Lisa se woorde deur sy kop maal. Waarvan het sy gepraat? ’n Nar met skerp tande? Hy’t gedink sy sou iets van die monsterhond sê. ’n Bose nar klink angswekkend genoeg om hom te laat wakker lê, maar op sý bangmaakskaal kom dit nie naby ’n massiewe hond met gloeiende rooi oë en vlymskerp tande nie.
Hy gaan sit by die kombuistafel. Daar’s weer daardie kriewelrige gevoel dat hy dopgehou word. Skielik gryp iets sy bene vas en hy skop onwillekeurig daarna terwyl hy opspring en sy knie hard teen die tafel stamp.
Sy vyfjarige sussie klim al snuifend onder die tafel uit en haar oë word tranerig.
“Jy’t my geskop!” skreeu sy en hardloop huilend na haar kamer.
Miek is dadelik spyt. Hy weet sy het maar net met hom probeer speel. Hy sal haar nooit aspris seermaak nie. Maar op die oomblik voel hy te verslae oor wat Lisa hom vertel het om te gaan kyk of sy sussie oukei is.
Sy ma kom by die kombuis ingestap. “Wat het nou gebeur? Hoekom huil Jana?”
“Sy’t onder die tafel gesit om my skrik te maak en toe ek opspring, het sy per ongeluk seergekry,” antwoord hy en laat sy kop moedeloos in sy arms sak.
Sy ma frons. “Toemaar, sy sal oukei wees,” sê sy en kom sit oorkant hom. “Maar wat’s fout met jóú, Miek?” vra sy bekommerd. “Ek kan sien jy’s nie jouself nie.”
Miek kyk op na haar en skud sy kop.
“Uit daarmee,” dring sy ma aan. “Ma’s weet wanneer hulle kinders hulle nodig het.”
“Ma sal nie verstaan nie,” sê Miek en trommel gespanne met sy vingers op die kombuistafel.
Hy kan sien sy ma se kop werk nou oortyd. Dis hoe haar gesig lyk as sy besig is om ernstig oor iets te dink. Sy gee ’n suggie en kyk hom direk in sy oë.
“Miek … word jy geboelie?” vra sy kalm.
Miek rek sy oë. “Nee, Ma! Glad nie,” antwoord hy en sien hoe sy ma haar asem verlig uitblaas.
“Goed, oukei dan. Ek het gehoop dis nie dit nie. Maar wát is dit dan?” Sy sit haar hand op syne. “Jy weet mos jy kan my enigiets vertel.”
As hy haar nie nou gaan vertel nie, sal hy dalk nooit weer die moed hê nie.
Hy sug diep.
“Ma, ek hoor en sien … goed.”
Hy weet sy ma is die tipe ouer wat hard probeer om oopkop en ondersteunend te wees. Hy byt sy lip en wag vir haar reaksie.
“Wat hoor en sien jy?” vra sy sagkens.
Miek huiwer. “’n Hond,” antwoord hy en voel hoe sy ore warm word.
Sy ma knik stadig. Hy weet presies wat nou in haar kop aangaan. Sy dink hy stres nog oor die hond wat hom gebyt het toe hy vier jaar oud was. Hy wil haar vertel sy’s verkeerd, maar dit gaan dinge net erger maak as hy nou sê hy dink hy word deur ’n monster geteister.
Sy ma vryf haar hande, ’n diep plooi tussen haar wenkbroue. “Miek,” begin sy saggies, “ons sal vir jou hulp kry …”
Miek sit vinnig regop. “Ek’s nie mal nie, Ma!”
Sy ma gryp sy hande vas. “Natuurlik nie, my kind. Ek sal dit nooit dink nie. Jy’s net onder geweldige druk met die trekkery én die nuwe skool.”
Miek kreun gefrustreerd. Hy wil eintlik by die kombuis uithardloop, maar hy dwing homself om stil te sit.
“Luister,” gaan sy ma voort terwyl sy sy arm vryf, “ek het toevallig vanoggend in die Vreesbaai Herald ’n advertensie gesien van ’n sielkundige wat spesialiseer in kinder- en tienerbehandeling. Dit sal mos nie skade doen as jy hom een of twee keer gaan sien nie. Wat sê jy?”
Miek is nie lus om na sy ma te kyk nie. Hy’s kwaad, maar nie seker of dit vir homself, vir die nuwe dorp of vir sy ma is nie.
“Doen dit vir my, asseblief,” sê sy pleitend.
Miek glimlag stram. Hy weet sy ma bedoel goed. Dit sal nie nou help om haar te ontstel nie.
“Oukei, ek sal daaroor dink,” sê hy.
Sy ma staan op. “Dankie, my