De Wet Hugo

Grilgrypers 1: Die vloek van Vreesbaai


Скачать книгу

boek hard op Miek se tafel neer. Hy kyk vinnig op. Dis ’n mollige meisie met rooi krulhare en ’n spikkeleier-sproetgesig.

      “Dankie,” sê hy en die meisie glimlag breed.

      “Dankie, Sumari,” sê juffrou Botha. “Miek, as jy enige hulp nodig het, vra maar net vir liewe Sumari. Sy’s ’n engel.”

      Sumari giggel aansteeklik en die klas lag saam. Selfs Donovan snorklag terwyl hy met sy pen op die tafel voor hom krap.

      Net een persoon lag nie saam nie. Miek het haar vroeër reeds opgemerk. ’n Skaam meisie wat skuins voor hom sit. Haar bruin hare hang in haar gesig en sy stut haar kop teen haar hand met haar elmboog wat op die tafel rus. Miek kan onmiddellik sien sy luister na musiek deur haar iPod se oorfoon wat sy deur haar mou tot by haar oor bring.

      Asof sy weet hy staar na haar, draai sy skielik haar kop en kyk reguit na hom van agter die hare wat oor haar voorkop val.

      “Ek ken al die truuks,” fluister hy en beduie na die oorfoon in haar hand.

      Voor hy aan nog iets kan dink om te sê, laat die oorverdowende gegrom van ’n hond hom regop ruk! Die hele klas gil en skree tegelyk, en dan is daar vir ’n paar sekondes ’n doodse stilte. Juffrou Botha steun met haar regterarm op haar lessenaar en hou haar bors met haar linkerhand vas.

      “Goeiste,” sê sy uitasem, “dat ons nou so groot vir donderweer kon skrik.”

      Die klas bars uit van die lag en Miek voel hoe sy gesig warm word. Hy kyk rond na almal om hom. Gelukkig weet niemand hy het gedink dis iets lafs soos die monsterhond van vanoggend nie.

      “As hulle ons nou vir South Africa’s Funniest Home Videos afgeneem het, het ons seriously gewen,” sê Donovan terwyl hy sy kop skud.

      “Ek stem saam, Donovan,” lag juffrou Botha. Sy tel haar leesboek op en gaan sit op die rand van haar lessenaar. “Goed, ons moet verder lees vanaf bladsy vyf-en-twintig. Sumari, vertel asseblief vir ons wat tot dusver gebeur het. Miek, dit sal jou help om die storie te volg.”

      Miek knik en draai na Sumari. Die rooikopmeisie trek weg met ’n gedetailleerde vertelling van die eerste vyf-en-twintig bladsye – op so ’n komiese manier dat Miek amper begin lag. Sy lyk heel gaaf, maar sy’s een van daardie tipiese bondels borrelende vreugde wat moontlik later op ’n dertienjarige seun se senuwees kan begin werk.

      In plaas daarvan om na Sumari se dramatiese eenvrouvertoning te luister, gebruik Miek die tyd om sy nuwe klasmaats te bestudeer. Almal lyk heeltemal normaal, behalwe vir Donovan, Sumari en die iPod-meisie. Hulle drie is wat sy pa “karakters” sal noem. Miek glimlag. Hy hou van karakters, besluit hy, maar miskien sal hy maar liewer vir Donovan probeer vermy.

      Skielik vang iets sy oog voor in die klas. Iets roois en blinks. Koue rillings spoel oor sy lyf. In juffrou Botha se waterglas op haar lessenaar weerkaats ’n rooi kolletjie wat angswekkend baie na een van die monsterhond se oë lyk.

      Miek draai verskrik om. Is daar dalk iets vreemds iewers in die klaskamer agter hom? As daar ’n oog in die glas weerkaats, moet die oog tog iewers vandaan kom. Dan móét dit êrens in die vertrek wees. Hy kyk versigtig rond. Daar’s niks ongewoons nie. Die kinders in die banke agter hom sit steeds verveeld na Sumari en luister.

      Miek staar weer na die glas op die lessenaar. ’n Tweede rooi kolletjie verskyn. Sy lyf versteen. Dis wraggies oë!

      ’n Sagte, onderlangse geknor weerklink deur die klaskamer. Miek draai sy kop paniekerig. Dis asof dit uit alle rigtings kom, maar die res van die klas hoor dit duidelik nie. Hulle gaap net voort terwyl Sumari konsert hou.

      Die bose geknor word effens harder. Dan sien hy dit: Die monsterhond se gesig begin in die glas vorm aanneem. Die gedrog maak sy rooi, skerp-getande bek oop om te hap. Miek knyp sy oë blitsig toe … en dan lui die klok.

      Miek maak sy oë stadig oop.

      “Miek? Is alles reg?” Juffrou Botha en al die kinders staar na hom.

      Miek voel hoe hy weer begin bloos. Wat gaan aan? Hoekom kyk almal so vreemd na hom? Het hy gedroom? Geskree? Hoe lank het dit aangehou as die klok so pas gelui het?

      “Ja, Juffrou,” antwoord hy verleë, “alles is reg, dankie.” Hy kan sien sy glo hom nie.

      “Goed dan,” sê sy onseker, “julle mag verdaag vir pouse.”

      Miek vryf met sy hande oor sy gesig terwyl die kinders rondom hom opspring en raserig by die klas uitbondel. Wat de joos het nou net gebeur? Hy haal sy kosblik uit sy skoolsak en word skielik bewus van iemand wat na hom staar. Hy kyk stadig op en sien die iPod-meisie na hom aangestap kom. Sy lyk vreesbevange.

      “Wat’s dit? Hoekom kyk jy so na my …” begin hy vra, maar dan besef hy dat sy nie na hom kyk nie. Sy staar verby hom. Na iets agter hom.

      Miek gryp sy kosblik van sy tafel af en hardloop by die klaskamer uit sonder om terug te kyk.

      3

      “Ja, Pa, ek weet ek eet vis, maar ek hou nog steeds nie van die reuk nie. Dit stink.”

      Sy pa lag terwyl hulle teen die mistige kronkelpad afry na die hawe toe. “Wel, ons woon by die see en ons sal van nou af baie vars vis eet. Dis gesond.”

      “Dan sal ek maar seker met ’n wasgoedpennetjie op my neus moet rondloop terwyl Ma dit gaarmaak,” sê Miek en hy en sy pa lag albei.

      Hulle parkeer die motor in die hawe. Toe hulle uitklim, kry Miek die aaklige reuk van ou vis en hy druk vinnig sy hand oor sy neus. Sy pa lyk superopgewonde. “Kom, Miek. Dit lyk of daardie blou bootjie so pas ingekom het. Hulle sal lekker vars vis hê.” Sy pa begin met ’n drafstap in die rigting van die water beweeg en Miek loop traag agterna.

      “Mickey Mouse! Wat maak jy hier?” hoor hy skielik ’n bekende stem uit die mis kom. Hy kyk verbaas om.

      “O, hallo. Jy’s mos Donovan, nè?” vra Miek.

      “Jislaaik, daar insult jy my nou! Hoe ken jy dan nie vir Donnie na jou eerste dag in Laerskool Vreesbaai nie?”

      “Natuurlik weet ek wie jy is …” begin Miek.

      “Relax, my bru. Ek joke maar net. Kom sit, man.”

      Hy gaan sit langs Donovan op die betonmuur. “Wat maak jy hier? Het jy kom visvang?” vra hy.

      “Nee, my pa is ’n visserman. Ek wag vir hom om in te kom. Ek wil iets met hom discuss.”

      “O, oukei,” sê Miek. Wat sal Donovan met sy pa wil bespreek? wonder hy.

      “En jy? Wat bring jou na Cape Fear, soos ons locals die harbour noem?”

      “Dis ’n cool naam. Vreesbaai. Cape Fear. Dis snaaks.” Miek sug. “Ek’s hier saam met my pa. Ons het kom vis koop vir aandete.”

      Donovan skud sy kop. “Julle gaan nog lekker moeg word van vis eet hier by die seaside.”

      “Ek dink ook so,” sê Miek.

      Miskien moes hy nie vanoggend so vinnig besluit het om nie met Donovan vriende te maak nie. Teen dié tyd behoort hy al te weet ’n mens moenie iemand op sy baadjie takseer nie. Hier sit hulle nou saam op die hawemuur en Donovan is eintlik baie gaaf.

      “Donovan, as jy lus is, moet jy een of ander tyd by my … by ons huis kom k—” begin hy, maar stop dadelik toe hy Donovan se gesig sien. “Donovan?” Die seun langs hom sit versteen. Sy oë lyk glaserig met twee groot trane wat teen sy wange afloop. “Wat is nou verkeerd?” vra Miek bekommerd.

      Hy raak aan Donovan se skouer, maar sy nuwe vriend reageer nie en begin herhaaldelik te prewel: “Hulle kom. Hulle kom …”

      Miek skrik. Die monsterhond … Hy is seker wat hy vroeër gesien