of the Living toe die groep volledig uit Jode bestaan het. Hy het wel hierdie keer daarin geslaag om ’n toer met ’n beperkte getal van 25 mense te bespreek, maar die grootste deel van die groep is Amerikaanse toeriste wat nogal luid op alles kommentaar lewer.
Miskien is hulle ook nie só lawaaierig nie, dink hy skuldig. Dis meer dat Sarah se reaksie hom senuagtig maak.
Agter ’n groot netjiese grasperk waar dig beblaarde bome lang skadu’s gooi, kry hulle die eerste gesig van die bruin siersteengeboue met hul rooi teëldakke. Hulle stap langs die omringende hoë heinings wat bolangs elektries bedraad is. Toe hulle deur die hek gaan, lê die lang rye baksteenbarakke voor hulle.
“Ek het altyd gehoor dit was sulke bedenklike strukture waarin hulle die mense aangehou het, maar hierdie is goed geboude dubbelverdiepingkasernes!” mompel Sarah en kyk hom amper verwytend aan.
Die gids het haar egter gehoor en sy verduidelik vinnig dat hierdie die barakke van Auschwitz I is. Voor die oorlog was dit die Poolse weermag se kasernes. Auschwitz II en die Birkenau-vrouekamp se voorafvervaardigde geboue was eintlik vroeër perdestalle wat opgerig is tydens die stryd teen die Sowjetunie. Maar van dié geboue is daar nog net ’n paar oor in Birkenau. Die Nazi’s het bykans alle bewyse vernietig voor hulle gevlug het. Die barakke wat hulle hier besigtig, is behou en dien nou as die museum.
Hulle stap verby die eerste klomp enkelverdiepinggeboue na die groter kasernes verder aan. By een van hulle neem die gids die toergroep na binne. Toe hulle met die breë trappe na bo gaan, weerklink hul voetstappe hol op die barre sement. Buite was die sonnetjie al redelik warm, maar hier binne slaan die koue teen hul bene op. Een van die toerlede giggel senuagtig.
“Creepy,” sê iemand.
Henok dink rillend aan hoe dit moes gewees het tydens die langdurende Poolse winters wanneer die temperatuur ver onder vriespunt gedaal en dit hewig gesneeu het.
Hulle kyk na die primitiewe waskamers van sement en staal, en die oop rye toilette sonder enige verskansing vir selfs die geringste privaatheid. Henok merk sydelings hoe Sarah haar onderlip vasbyt. Hy weet hoe belangrik privaatheid vir haar is. Maar hy weet van beter as om ’n opmerking daaroor te maak. Hy voel self hoe sy hart saamtrek aan die gedagte hoe verskriklik dit vir die vroue moes wees.
Verslae staan die groep in die vertrek waar die hare van die mense wat vergas is in yslike stapels lê.
Dan kom hulle by die vertrek gewy aan die duisende kinderslagoffers van die Holocaust. Daar is groot swart-en-wit-foto’s, klere en ander aandenkings. Dit val Henok op dat ’n toeris, die ma van twee jong kinders, hul skouers impulsief styf vashou. Haar kneukels slaan wit deur.
Die herinnering aan sy eie klein Patrick wat in die afgryse van Kassinga gesterf het, kom weer by hom op. Die seuntjie in die rooi jassie en steweltjies is meteens voor hom. So geweldig dat hy sy oë toeknyp.
Hierna is daar die kamer wat die onmenslike verhongering in die kamp uitbeeld. Uitgeteerde liggame met hol oë kyk na die kamera. Die aangrypende beeldhouwerk van ’n vel-en-been-mens laat sommige in die groep beskaamd hul oë neerslaan.
Later staan hulle voor een van die groot vertoonrame waaragter half verroeste blikke van soveel jare gelede in ’n enorme stapel lê.
“Zyklon B-houers,” verduidelik die gids.
“Dit is waarmee die mense vergas is?” vra iemand.
Die gids kyk af. “Dis reg,” sê sy sag.
Dan is daar die raam waaragter tientalle gebedsjaals met die wit en blou of wit en swart bane en tossels aan die some opgevou lê. Die lig wat deur die klein venstertjies bo in die muur val, laat die syagtige voue sag glim. Henok se keel brand so geweldig dat hy met sy vuis teen sy mond druk om sy emosies te beteuel.
Hy voel Sarah aan sy arm druk. “Is jy oukei?”
“Nee,” prewel hy.
Sy vat sy arm stywer vas en toe hy na haar kyk, sien hy dat sy bleek is.
Hy skud sy kop. “Dis goed,” sê hy gedemp, maar voel magteloos hoe sy oë vol trane skiet. Hy draai weg van haar af en stap agter die groep aan.
Die gids se blik ontmoet syne vir ’n oomblik. Hy sien deernis daar. Miskien besef sy hy is ’n swart Jood.
Die volgende uitstalling is veel meer ontstellend, maar Henok het nou weer sy emosies onder beheer. Hy kyk stil na die lang ry vertoonvensters waaragter tallose kunsledemate, krukke, opgeboude skoene, metaalrugstutte en elke ander moontlike hulpmiddel te sien is. Die groep het byna heeltemal stil geword. Selfoonkameras flits gedurig.
“So báie?” vra ’n tiener in die groep.
“Meer as ’n miljoen en ’n half mense het hier gesterf,” herinner die gids haar.
Toe hulle al aanstap, bly Sarah nog ’n rukkie staan.
Hulle loop langs die chaos van honderde bekertjies, teepotjies en kommetjies van emalje; langs die massas kamme en borsels; verby die berge skoene van elke denkbare soort.
Elkeen van hulle was aan iemand se voete wat hulle nooit weer sou aantrek nie, dink Henok. Hy sien ’n paar fyn sandaaltjies en wonder hartseer hoe jonk die draer daarvan moes gewees het. Skaars ’n tiener seker, anders het sy nie by dr. Mengele se keuring verbygekom nie.
Die versameling brille bring duidelik by die groep groot emosie op. Henok merk gesigte met trane op die wange. Die luidrugtigheid wat hom vroeër in die dag geïrriteer het, het heeltemal stil geraak.
Agter die volgende lang vertoonvenster met stapels bagasie, koffers en tasse van elke vorm en grootte wil iemand by die gids weet waarom elke bagasiestuk so opmerklik met wit ink gemerk is.
“Die mense is aangesê om ál hul bagasie duidelik met naam en adres te merk sodat hulle weer hul besittings sal herken wanneer hulle uit die ‘stortkamers’ terugkom.”
“Maar hulle het mos nie weer teruggekom nie,” sê die seuntjie vir sy ma.
Sy slaan haar arm om sy skouer en skud net haar kop.
Henok merk ’n kleinerige leerkoffer heel voor waarop in groot wit letters geskryf staan: Klara Sara Goldstein, Rote Kreuz-Gasse 5. Hy byt sy onderlip vas en kyk nie na Sarah nie.
By die volgende vertoonvenster hoor Henok sy vrou haar asem skerp intrek. Babaklere. ’n Fraai wit satynrokkie en truitjies met patrone in gebrei. Piepklein skoentjies. ’n Aangetrekte pop waarvan die kop af is. Sarah kyk hom bleek aan, haar mond weerloos van ellende, maar sy sê niks nie. Hy voel na haar hand, maar sy druk dit vinnig in haar broeksak.
Hy besef sy veg teen die ontroering wat haar wil oorweldig en hy dwing nie aanmerkings op haar af nie.
Eindelik is hulle buite en adem almal verlig die vars buitelug in. Voor hulle strek die lang ry barakke aan elke kant van die pad uit.
Henok se binneste trek benoud saam toe hy besef die gids is met hulle op pad na Blok 11 toe. Hy neem Sarah aan die arm en kyk af in haar gesig.
“Is jy moeg?” is ál wat hy kan dink om sy emosie te formuleer.
“Nee!” sê sy vinnig, maar toe verslap haar mond effens. “Dis baie interessant.”
Hy haal diep asem. “O.”
Voor hy iets verder kan sê, begin die gids oor haar mikrofoontjie praat.
“Dis die berugte Blok 11,” sy wys na die wit geverfde nommer by die ingang. “Auschwitz I se gevangenis. Die gevangenes van Auschwitz I en van Birkenau is hierheen gebring om gestraf te word vir wat die Nazi’s as ernstige oortredings beskou het. Dinge soos sabotasie in die Auschwitz-fabrieke of poging tot ontsnapping. Politieke gevangenes van buite die kamp is ook hier aangehou terwyl hulle verhoorafwagtend was. Die Gestapo se hof was in hierdie gebou.”
Sy neem die groep linksom die gebou. Hulle gaan staan voor ’n muur wat tussen Blok 10 en 11 loop. Teen ’n groot gedeelte van die muur is kranse gelê.
“Dit is die muur van die dood,” sê sy. “Hier is