werk het?” vra Henok.
Die ou man sug effens. “Chanok, in die meer as 50 jaar wat ek Miklós se storie al aan die wêreld vertel, het dit in ’n groot mate soos my eie geword. Byna asof ek dit self beleef het.”
“Dan is dit ’n voorreg vir ons om na jou te luister.”
“Miklós, sy vrou, Margareta, en hul dogter, Zsuzsana, het in Mei 1944 in Auschwitz aangekom. Julle het die veewaens gesien waarin die mense vervoer is. ’n Mens kan jou beswaarlik die toestand voorstel van 70 tot 80 swetende lywe saamgepers in so ’n wa. Om nie te noem die stank van oorvol toiletemmers nie. Vier dae lank al op pad. Dit was die eerste transport van die sogenaamde Hongaarse Jode na Auschwitz.”
“Hoeveel mense sou altesaam in so ’n transport wees?” vra Sarah.
“Wel, daar was tot 40 van hierdie veewaens aan elke lokomotief gehaak …”
“Byna vierduisend. Kan dit wees?”
“Ja, Sará, dit kón wees. Ons weet uit ’n telegram gedateer 9 Julie 1944 wat uit Boedapest gestuur is – twee maande nadat Miklós en sy gesin in Auschwitz-Birkenau aangekom het – dat 437 402 Jode na Auschwitz gedeporteer is. Die Nazi’s het noukeurig boekgehou, weet jy?”
“Moeilik om te glo!”
Henok is nie seker of Sarah uit skok of sinisme reageer nie. Sy het dit egter sag gesê.
Yitzchak het dit in elk geval nie gehoor nie. “In ’n boek wat Miklós geskryf het, vertel hy dat daar in sy wa 26 dokters, agt aptekers, hul vroue en kinders en ’n paar ouer mans en vroue was – die ouers van sy kollegas. Almal Jode.”
Henok sis saggies deur sy tande.
“Op die stasie aangekom is die slotte van die deure oopgesluit en almal moes uit. Alles moes agtergelaat word; slegs handbagasie mog mee. Dit kon nie maklik gewees het vir mense wat so lank nie beweeg het om die meter en ’n half van die wa tot op die platform te spring nie. Mans moes hul vroue en kinders help terwyl die wagte op hulle skree. ‘Raus! Raus! Schnell!’”
“Vierduisend mense,” sê Sarah weer.
“Dit is waar Miklós dr. Mengele die eerste keer gesien het. Hy het hom so beskrywe: ’n Jong SS-offisier met blink stewels tot aan sy knieë en goue kokardes op sy epoulette. Dit was vir hom duidelik dat hy die een was wat die ander SS-manne opdrag gee. Miklós kon aan die eskulaap-simbool op sy arm sien dat hy ’n mediese dokter was. Ook dat hy in beheer van die keuring was …”
“Het die keuring dan daar op die platform al begin?” val Sarah hom in die rede.
“Die mans is onmiddellik van die vroue en kinders geskei. Enigiemand onder 14 jaar moes by hul moeders bly.”
“Dit moes geweldig traumaties gewees het,” sê Henok, “om summier van jou gesin weggeneem te word.”
“Dit was altyd ’n konsternasie. Maar die wagte het dan verduidelik dis net ’n kwessie dat hulle gaan stort en ontsmet word. Daarna sou hulle met hul gesinne herenig word. Miklós skryf dat hy in die tyd wat dit geneem het om vierduisend mense te skei, ’n kans gekry het om rond te kyk. Die eerste ding wat hy raakgesien het, het hom koud laat word. Dit was ’n enorme rooi baksteenskoorsteen, vierkantig van vorm en effens nouer aan die bopunt. Dit was deel van ’n formidabele tweeverdiepinggebou, ook van rooi baksteen, wat soos ’n soort fabriek gelyk het. Maar die skoorsteen was een wat hy nog nie tevore by ’n fabriek gesien het nie. Wat hom verstom het, was dat dit ’n kolom vlamme ’n paar meter hoog die lug in geskiet het.”
“Krematorium,” sê Henok gedemp.
Yitzchak knik. “Dit het hy byna onmiddellik besef. Hy het ook gemerk daar was ’n entjie verder nóg een. En oplaas het hy ’n derde agter die bome opgemerk. ’n Effense windjie het die rook in hul rigting gewaai en hy het geweet die mislike reuk is dié van hare en vleis wat brand.”
“O my genade,” kreun Sarah so sag dat net Henok dit hoor.
Yitzchak vee met sy oop hande die grys hare van sy voorkop af weg. Sy vingers bewe effens. “Miklós kon nie te lank wonder oor dié gesig nie, want die volgende stadium van die keuring het al begin. Mans, vroue en kinders moes in ’n enkel ry voor die SS-komitee, met Mengele as keurarts aan die hoof, verbyloop. Met ’n enkele handbeweging is die mense weer in twee groepe verdeel, sommige na links en die ander na regs. Miklós het gou agtergekom dat, behalwe die vroue met kinders onder 14 jaar, almal wat na links verwys is, hoofsaaklik ouer mense was en dié wat afgetakel, siek of baie moeg daar uitgesien het.”
“Hoe oud was sy eie dogter?” wil Sarah weet.
“Sy was 15. Hy kon sien dat Margareta en Zsuzsana na regs beduie word. Na die groep wat gelyk het asof hulle fiks genoeg is vir werk.”
“Kon enigeen nog fiks gelyk het ná so ’n reis?”
Yitzchak trek sy skouers op en beduie met sy hande. “Hoe dit ook al sy, dis hoe hulle verdeel is. Rooi Kruis-bussies het van die hoog bejaardes, dié wat ernstig siek was en gestremdes opgelaai, en het in dieselfde rigting as die links-gekeurdes verdwyn.”
“Wat het van Miklós geword?”
“Mengele het ál die dokters van die regterkantste groep gevra om na vore te tree. Daar was omtrent 50 van hulle. Hy het iemand gesoek wat aan ’n Duitse universiteit klaargemaak het, deskundige kennis van outopsies gehad het en bekend was met forensiese medisyne. ‘Jy moet onvervalste kwalifikasies hê,’ was sy woorde, “‘of anders …’ Hy het met sy hand oor sy keel beduie.”
“En dít was Miklós.”
“Dit was Miklós, Sará. Hy was die enigste een daar wat so ’n kwalifikasie gehad het. Hy moes presies uitlê waar hy studeer het, onder watter professor hy geleer het om outopsies te doen, watter owerheid hom toelating gegee het om forensiese medisyne te praktiseer, ensovoorts.
Blykbaar het sy antwoorde Mengele tevrede gestel, want hy is beveel om eenkant te staan terwyl die res van die groep aangesê is om na die kamp te marsjeer. Die linkerkantste groep is in ’n ander rigting geneem.”
Daar heers vir ’n rukkie ’n veelseggende stilte. Die kelner het met die koffiekan nader gekom en hul koppies weer opgevul.
Nadat hy ’n slukkie geneem het, praat Yitzchak weer: “Miklós vertel dat hy hom ’n paar minute byna alleen op die perron bevind het. Maar toe word die stilte verbreek deur gevangenes in gestreepte uniforms wat besig was om ál die bagasie wat in die waens agtergelaat is, uit die trokke te haal en in vragmotors te laai. Mengele het nog ’n paar opdragte aan SS-ondergeskiktes gegee, toe in sy Opel-motor agter die stuur gaan sit en vir Miklós beduie om in te klim. Hulle is deur ’n hek wat eerbiedig vir Mengele oopgemaak is die kamp in en met die middelste pad af tussen die rye barakke deur.”
“Dis nou Auschwitz of Birkenau?” wil Sarah weet.
“Birkenau. Waar julle gister laaste was en waar die krematorium was wat deur die Duitsers verwoes is.”
Sy knik.
“Hy is na die Schreibstube geneem om ingeskrywe te word.” Daar kom ’n vreemde trek om die ou man se mond. “In sy boek verwys Miklós na die mans wat daar agter ’n paar lessenaars gesit het. Almal in gestreepte uniforms en met kaalgeskeerde koppe. Hulle het intelligente gesigte gehad, skryf hy. Sonder ’n woord het hulle almal onmiddellik op aandag regop gekom.”
“’n Mens kan jou alleen maar voorstel watter professies hierdie manne voorheen beklee het. Advokate, prokureurs, dokters, onderwysers, professore.”
“Ken, Chanok, ken. Die room van Europa se Jode.” Yitzchak sug, stryk weer oor sy voorkop. “Miklós moes uiteraard al sy persoonlike details gee wat alles in ’n groot lêer vasgelê is voor hy ’n indekskaart gekry het. Daarna is hy deur ’n SS-offisier na ’n barak gebring. Hierdie keer was die aanwysing bo die ingang: Bad en Ontsmetting. Hy is volledig deursoek en moes ál sy klere uittrek. Sy kop is kaal geskeer en toe moes hy stort. Die kalsiumchloried in die water was so sterk dat hy ’n paar minute